Met reis word die inpak makliker. Jy begin
in jou gedagtes al die klere sien waar dit moet lê in die tas. Die verskillende
sakkies met zippies word toegemaak: medisyne, pilletjies, parfuum,
tandeborsels, waspoeiers ...
Boeke in 'n aparte handtas met skootrekenaar.
My gids neem my lughawe toe en by die
geldwisselaar probeer ek geld omruil om die wisselkoers te probeer bepaal.
Helaas geen geluk. Hy het nie geld om te ruil nie. Stadig, rustig met geen
sorge nie bepaal hy die koers. Niks jaag hom nie. Nou begin my ou self ontwaak.
Ek raak haastig.
Kanselleer die transaksie na 'n halfuur se
soektog van die jongeling op sy sel. Vlieg terug en bly sowat drie ure op die
lughawe waar ek transaksies afhandel, klere en kos koop en dan huiswaarts keer
per skommelbus.
"Are you back, Priscilla Queen of the
Desert?", vra 'n kollega telefonies. Nee ek is in die vlees terug; in die
gees nog nie.
Elke nag droom ek van die Namib. In een
droom is daar 'n gids wat beloof ons sal wildsvleis kry môre. 'n Herhalende
droom. Ons ry lang ente oor duine.
Dan ontvang ons wel die beloofde vleis.
Ek lees Kleinboer klaar en dink oor Koos
Kombuis se resensie waar hy dit vergelyk met Brink se Die ambassadeur in die ondersoek na ras. Sekerlik tog Kennis van die aand? ( Boekresensie/ Hierdie huis deur Kleinboer | LitNet. Besoek 6 Augustus 2017).
Vir dae staan die tas in die slaapkamer,
onuitgepak. Klippe van die Etosha en Namib lê op die bedkassie. In die kombuis
is daar klippe uit Peru. Op die vensterbank uit Japan.
Die Japannese ruimte: volledig anders as
die Namib. Vinnig, modern, elektronies ...
In tempels ervaar jy wel stilte ...
Die bullettrein (sinkansen) wat jou vervoer
in 'n oogknip.
Sopas ontvang ek Ernst F. Kotzé se Afrikaans-Japannese woordeboek (Research
Institure for Languages and Cultures of Asia and Africa. Tokyo University of
Foreign Studies, 2016).
Wat 'n boek is dit nie!
As ywerige woordeboekleser vergaap ek my
aan die kundigheid (inleiding in sowel Afrikaans as Engels) oor uitsprake,
oornames, tyd, woordordes en wat nog.
Woordeboek
is soos horlosies: die slegste is beter as niks, en van die beste kan nie
verwag word om presies reg te wees nie - aldus
Samuel Johnson (xxx).
Die liefde met haar
‘n Mount Fuji hoog met sneeu
koud, bitter ysig
maar binne waar niemand sien
‘n sluimerende vulkaan
*
haal die sinkansen
oor die ver Japan vreemd
ek wis bepaald nie
hoe alles sou duur en duur
in ‘n reis andersoortig
*
die maan skyn nou hier
‘n laggende vet Boeddha
oor my wit futon
jou son skyn buite hoopvol
oor ons leë dubbelbed
*
‘n valentynsdag
bring vele kubersoene
te kus en te keur -
kies vir jou ‘n soen perfek
onbreekbare internet
*
van Nagasaki
tot Kyoto, Osaka
Hiroshima, Tokio -
klink poësie alreeds op
in hierdie vreemde name
*
eens was ons liefde
koestersag soos ‘n duifveer –
nou net ‘n onthou
van ‘n skoolseun se kettie
laat bloedbevlekte merke
*
Saterdagaand één
op ‘n plattelandse dorp
dra ek saam met my
na plekke waar vervulling
‘n fata morgana bly
*
Sondagoggend sing
Callas haar liefdesberou
soos daardie Carmen,
die liefde ‘n stiergeveg
met hartstog, haat, dood en rou
(Uit: Ruggespraak.
Protea, Pretoria. 2002)
Ek begin lees aan Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo (Tafelberg)
en lees 'n asemsnakkende mooi passasie oor Japan raak.
Daar is 'n DVD by die Japannese woordeboek
wat beteken jy kan in Japan luister na korrekte uitsprake van woorde. Hierdie
boek beklee 'n ereplek in my shosai (studeerkamer).
Ek skryf verder in die komende dae oor
hierdie rooi woordeboek.
© Joan Hambidge