Resensie | Corné Coetzee – nou.hier. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13 780798176200
Resensent. Joan Hambidge
Om in die
oomblik te wees. Die hier-en-nou. Waarskynlik vir die Westerling die moeilikste
eis denkbaar. Of ons verlang nostalgies terug na wat was; of ons hoop dat môre
’n beter dag sal wees, en so glip die oomblik tussen ons vingers deur. En dit
is hierdie spanning wat die Tibettaanse boek van die dood behandel (van
die 8ste eeu alreeds met ons), wat Corné Coetzee in haar eenvoudige, dog ryk
verse ontgin. Eenvoudig, oop, maar nie simplisties nie!
Ons weet
immers (via William Blake) dat die eenvoudigste verse die grootste diepte kan
verraai.
Die motto is
uit Karel Schoeman se vertaling van ’n Ierse vers, te wete die “Die
oggendgesang van St. Ceallach”:
Wees gegroet, skone oggend, wat soos ’n vlam oor die aarde val
Die eerste
afdeling, “Nymphae gloriosa”, is nie toevallig nie. ’n Mens sien veral hierdie
waterlelies in die Ooste en die bundel sluit met ’n reeks oor Siddharta.
Boonop moet
dooie blomme gereeld verwyder word van dié lelies wat in die winter dormant
bly.
Die digter
bedien haar van ironie, en in die openingsvers (“Bruide kyk”) is daar alreeds
’n ontnugtering aantoonbaar: Hoekom huil die vrouens? ’n Mens dink hier
onwillekeurig aan Rachelle Greeff se Die rugkant van die bruid wat
eweneens die pynlike verkilling registreer: die huwelik of die jong meisie
droom wat nie “waar” is nie. Hierdie bundel registreer dan die droom wat
langsamerhand uitloop op ontnugtering, roerend beskryf in “Oktobermaand se
bruide”:
By die hek begin November se giftige maanblomme
soos engele met swaarde knop maak.
En hierdie
“vernugteringe” en “on-waarhede” word in gedig ná gedig aan die kaak gestel –
sonder ’n omhaal van woorde. Soms praat sy via Antjie Krog (soos in
“aljanderbos”); ander kere, soos in “Kombuis”, is daar ’n Eybers-aanslag. (Die
vers vra ’n saamlees met “Huisvrou”, ’n vers deur vele vrouedigters al
geparodieer.)
Die lot van
vroue: verkragting, desillusie in huwelike en ontkenning, word sober en sterk
aangespreek.
Die
oos-wes-tuis-bes-gegewe word op sy kop gekeer.
Coetzee is die
meester van die wrang slot en in “Moenie mors nie” (69) word die netjiese
moeder teenstellend in die herinnering geroep:
het ma nou rus vir ma se siel
alles ordelik, spiksplinterskoon
die baldadige wurms eindelik weg
elke been bedees op sy plek
In die
slotreeks, “Die leemte in die kern”, gee sy ’n beeld van die lewensloop van
Siddharta Boeddha en uit die oogpunt van sy moeder en vader. Daar is ook ’n vers
van Jasju, sy vrou wat ’n volgeling word. Die moeder se kontrak is een van
“been en bloed” en ons vind onthoubare reëls soos: Die pyn klou soos ’n kind om
my nek (93).
Die vers oor
Tenzin Palmo is lieflik. ’n Mens kan waarskynlik nie na ’n vers oor die Boeddha
kyk sonder om Keanu Reeves in herinnering te roep uit die rolprent Little
Buddha van Bernardo Bertolucci (1993) nie.
Hierdie
uitstekende reeks maak die leser bewus van hoe fyn die bundel werk met tyd.
Nou-hier, toe/dan. In “Besoek” word die ouer op ’n Sondagmiddag in ’n ouetehuis
besoek:
Op die bedkas die verslete
Bybel en die Westclox.
Dié steek vas op halfses,
winterskemeruur.
’n Gedig dra
ook die titel-tyd, en onderafdelings (soos “Hierdie tyd”, “Saadskiet”) aktiveer
die gang van sake; soos die beeldverse oor Siddharta reïnkarnasie impliseer.
Die kritikus
M.L. Rosenthal het op ’n dag beweer dat belydenispoësie met lyding
(“suffering”) te make het. Hierom is dit vreemd dat Coetzee in ’n nawoord
ontken dat die gedigte outobiografies is en in die geval van die
Siddharta-verse nie biografies nie. Ironies genoeg bevestig sy dalk juis
hiermee die teenoorgestelde?
Dit is ’n
besonderse debuut – met gedigte wat jou soms ontstig en aan die keel gryp oor
die eerlikheid daarvan, soos in die brutaal eerlike “Ons ken mekaar se holtes”.
Woorde wat wapens word; huweliksmaats wat mekaar ongesiens (ongehoords!) kan
beseer tussen ander.
Die digter is
behendig. Sy het die vermoë om ’n slot te skryf wat jou soos ’n vuishou tref. Die
bundel lewer skerp gender-kommentaar en sosiale kommentaar (“Gaia” en
“Platipuspaddas”, waar die menslike kondisie via paddas beskryf word).
Die refrein
van eensaamheid, van verdriet, van buite die orde leef, kom in vers ná vers aan
bod:
Hoe sal ons ons gang gaan
so troosteloos en sonder siddering?
Ek het begin met ’n verwysing na die spanning tussen Oosterse en
Westerse denke. In “Jogaklas” word hierdie binariteite goed vasgevat in die
slot:
’n Ongegronde, aardwye droefheid.
Ek het nie eens ’n kleinkind nie.
Ná die laaste ohm
voel ek beter,
ry huis toe
en weerstandloos
klik ek skakelaars
vir ligte, TV, maal,
voor warm bad en bed.
Hierdie bundel
het dieselfde eerlikheid, oopheid en weggesteekte verwysings as Jeanne Goosen
se onbesonge, beeldskone Elders aan diens (Genugtig!, 2007).
Die voorblad
van Nou, hier is baie slim: die suburbia-huisies en bo in die wolke die
Boeddha wat bo alles sweef. Dié Coetzee-digter máák magic, soos sy iewers
skryf:
Hoogsomer
Wat sou ons gemaak het
as ons geweet het,
daardie volmaakte Februariemiddag,
dat die laaste vy ryp geword het
en die eerste blaar
sel vir sel sy skeidingslaag begin bou het?
’n Mens is tog geen vyeboom nie
’n Mens kon tog plan gemaak het
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike
vergunning van Rapport)