Resensie |
Douglas Reid Skinner – Liminal. uHlanga, 2017. ISBN 978-0-620 -76256-4
Resensent: Joan Hambidge
I
Blue Rivers (2012), Heaven - New
Selected Poems (2014) en die vertaling van Valerio Magrelli se verse
(saam met Marzo Fazzini) is van hierdie digter se werk die afgelope paar jaar.
Liminal, sy sewende versameling, het pas by
uHlanga verskyn.
Dit word
bemark as metatekstueel, metikuleus, gevoelvol. Inderdaad. (Announcing/ Liminal, by Douglas Reid Skinner — uHlanga. Besoek 13 Augustus 2017).
Dit is
waarskynlik tersaaklik om die hele kwessie van liminaliteit (Van Gennep se
term) en die kwessie van die tussentoestand te betrek. Daar is nadenke oor die
lewe, oor die digterskap, oor verspeelde kanse - en gedigte oor Venesië. Die
reisvers is per definisie 'n gedig oor liminaliteite, omdat dit iets vasvang
tussen die bekende en die onbekende; hier versus daar; belewenis én optekening.
In hierdie
verband is die lieflike gedigte oor Venesië gewoon skitterend.
Die besinnings
oor die skryfproses is onthoubaar:
A poet
... there is an old quarrel between
philosophy and poetry ...
offers no solutions
wrote Tony Hoagland,
just a “lucid diagnosis”.
But what can you do
when you're up to the neck
in a host of words
with only the shadow
of a spade to hand? (51)
Hierdie slim
ars poetica aktiveer nie alleen Hoagland se sieninge oor kanonisering en hoe
gedigte by jong mense uitgebring behoort te word nie, maar betrek ook die harde
werk wat die digkuns opeis. Dis soos spitwerk, met die keuses wat die digter
moet uitoefen voor al die moontlikhede wat tegniek en woorde inhou. Die digkuns
mag 'n filosofiese boodskap oordra, maar die werk van die digter is “spitwerk”,
met ander woorde, die soeke na konkrete beelde of metafore - “of a spade to
hand”. (Conversation/ Tony Hoagland on 'Poems That Could Save America' | PBS NewsHour. Besoek 13 Augustus 2017).
Die gedigte is
inderdaad ruminasies of meditasies oor die lewe - binne die grensruimte (die
vreemde of tydens die skryfproses) neem die digter afstand van die lewe. 'n
Drumpeltoestand, dus.
In “Twenty
years on” (39) word 'n besoek aan Venesië weergegee:
to pause,
raise a glass, and remember poetry's cause.
II
Die boek val
in vier dele uiteen. Daar is 'n besoek aan 'n biblioteek, 'n brief aan Dante en
Robert Frost - opgedra aan Patrick Cullinan, self 'n gedurfde digter. Reid
Skinner gebruik van die beeld van die “path”, 'n belangrike beeld by sowel
Dante as Frost, word hier 'n soeke na helderheid vir die spreker. “Surrounded
by mountains” word opgedra aan Gus Ferguson, geskryf tydens die
Franschhoek-fees, 'n soort villanelle (18 reëls, nie 19 nie) met die “haunting”
reël:
a plume of
smoke is rising into cloud (17)
Wat is meer
dralerig en verganklik as rook? En wat dui ook op die aanduiding van gevaar of
vuur? Dit word 'n pynlike analise van 'n vriendskap, en lesers bekend met die
werklike geskiedenis weet met welke sensitiwiteit (en deernis) hierdie situasie
beskryf word.
“Winding
tunnels” handel oor die jeug en daar is al verstommende verse oor hierdie
digter se gereglementeerde jeug geskryf: 'n hele huis met weermag-aanwysings en
kinders wat punte toegeken is vir hulle optredes. Hier gaan dit oor die “uncertain
shades of home”, die troebelhede van 'n bestaan wat die jong kind oorrompel het
en waarheen dit digter nou terugkeer in verse.
Die verse gee
nie maklik hul geheime prys nie. Dit is vernuftig gekonstrueer, vanuit
verskillende perspektiewe. Daar is dikwels 'n “irony's edge” - soos Linda
Hutcheon [1] se term lui - aanwesig in hierdie verse.
Vir haar is
ironie nie om die teenoorgestelde te uiter van wat jy bedoel nie, maar eerder
'n komplekse spel tussen die ongesêde en die gesêde; afstandneem en in-beweeg -
iets wat op Reid Skinner se bundel van toepassing gemaak kan word.
My kopie wat
voete gekry het en as ek reg onthou, het hierdie studie 'n pragtige omslag van
'n meisietjie se voete wat oor 'n afgrond hang. “Ludwig's last letter” (28)
vang hiervan iets op:
a village of thought on a summer's day,
with ordinary ideas sitting quietly
in the square, or leisurely walking
along its paved diagonals, going
steadily about their business.
Dikwels handel
verse oor soeke na oplossings, na 'n roete (“straight road”) wat die spreker
moet help om te ontsnap. Daar is vele besinnings oor die digproses en die
sterkste verse is dan gedigte oor digters, vir digters en oor die rol wat die
digkuns speel in sy eie lewe.
In die derde
afdeling is daar “Instructions for writing a poem” (47), 'n slim meta-vers, wat
die digter droom. Die droom verskil van die finale produk. Daar op die “edge of
the bed” dink hy dat hy in beheer van die skryfproses is, maar uiteindelik is
die vers se “unheimliche” aard só dat dit nie “beheer” of “gedikteer” kan word
nie. Hierom sluit dit aan by die gedig: “If you think you know how to write a
poem, think again: the poem has other ideas” (49).
Die gegewe van
obsessionele liefde (selfs “stalking”) word hier gelyk gestel aan die
skryfproses ...
Dikwels is die
skryfproses oorweldigend (die skrywer sit voor leë bladsye); ander kere word
dit “found poetry” of 'n “urban legend” wat die luisterende digter optel in 'n
kroeg.
In die vierde
en laaste afdeling word sosiale kwessies aangespreek en politieke en historiese
figure, soos Lady Anne Barnard. “History is a slaughterhouse” (63), weet ons.
Die “being
inside” teenoor die oorrompelende geskiedenis, word voortreflik beskryf in “Smoke
signals” (66).
Die digter kyk
dikwels terug na sy jeug, sy land sy verlede - maar die gedigte is opwindende
raaisels: iewers tussen nou en toe; droom en realiteit; begeerte en
ontnugtering ...
III
Reid Skinner
is woonagtig in Engeland, maar diep betrokke by die Suid-Afrikaanse Engelse
digkuns. Hy was betrokke by die Carrefour Press (1988 - 1992),
redakteur van New Contrast en tans mede-redakteur van Stanzas.
Hy vertaal ook Afrikaanse digters na Engels en as redakteur is hy
voortdurend bewus van “nuwe stemme” en “nuwe strominge”. (Woorde wat Weeg/ Joan Hambidge - Lady Gaga (Translated by Douglas Reid Skinner) [Poem]. Besoek 13 Augustus 2017).
Ook hierdie
dubbelposisie (digter/redakteur; Engeland/Suid-Afrika) is 'n liminale posisie.
Die bundel is
mooi uitgegee met 'n voorbladontwerp van die digter se suster, Cleone Cull.
[1] Hutcheon,
Linda. 1994. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. London
and New York: Routledge.