A Doll’s House - Teksverwerking en regie deur Christaan Olwagen. Produksie:
Roelof Storm
Resensent: Joan
Hambidge
Bokmål: Et
dukkehjem. Oor hierdie belangrike teks van Henrik Ibsen wat vir die
eerste keer in 1879 opgevoer is, is daar al geweldig baie geskryf. Dit is
eweneens ‘n teks wat verskillende kreatiewe reaksies ontlok het – soos ‘n 1973
filmweergawe met Claire Bloom wat weer op haar beurt ‘n outobiografie in 1998
geskryf het oor haar huwelik met Philip Roth: Leaving Doll’s House.
Christiaan Olwagen
Olwagen is ‘n talentvolle regisseur en ek het my reeds
uitgelaat oor sy teks Dogma en sy
verwerking van Tsjekof se Die seemeeu.
Beide uitstekende tekste wat uitmuntende akteurs wat reg laat geskied aan die
onderskeie tekste.
Op Dinsdag 15 Maart is ek by die openings-aand by die
Baxter-teater. Verskeie teaterkenners en –resensente het groot gewag gemaak van
hierdie produksie. Daar is verskeie akteurs en bekendes in die gehoor: staande
ovasie, applous, dreunsang toe die aktrise Jennifer Steyn as Nora Helmer met
haar rugsak van die verhoog af hardloop en ontvlug deur die teatergangers na
die agterste deur. ‘n Baie insigryke kommentaar oor die spel tussen werklikheid
en fiksie. Brecht se Verfremdungseffekt dus; ons het net ‘n teaterspel vir ‘n oomblik
“waargeneem” … dis nie werklik nie.
Jennifer Steyn
Die teks is ‘n verwerking van die oorspronklike met ‘n verwysing na Barbie. In die advertensie-plakkaat verlede jaar, lê Jennifer Steyn dan ook uitgestal soos ‘n Barbie-pop met plastiekringe om haar enkels en arms. Soos ‘n speeding vir ‘n jong dogtertjie wat deur die Barbie-stereotiep haar gaan oorgee aan die fallogosentriese orde.
Dawid Minnaar
Dr Rank (vertolk deur Dawid Minnaar) se siektetoestand is die siekte-van-ons-tyd en dit aktiveer dus Susan Sontag se Illness as metaphor hier. Torvald Helmer word vertolk deur Martin le Maitre in ‘n onderbeklemtoonde vertolking teen die gillende, over the top-aanslag van Steyn. Kristine Linde (Anthea Thompson) en Nils Krogstad (Rob van Vuuren) omarm die gegewe as die twee byspelers wat die vonk in die vat veroorsaak.
Dr Rank (vertolk deur Dawid Minnaar) se siektetoestand is die siekte-van-ons-tyd en dit aktiveer dus Susan Sontag se Illness as metaphor hier. Torvald Helmer word vertolk deur Martin le Maitre in ‘n onderbeklemtoonde vertolking teen die gillende, over the top-aanslag van Steyn. Kristine Linde (Anthea Thompson) en Nils Krogstad (Rob van Vuuren) omarm die gegewe as die twee byspelers wat die vonk in die vat veroorsaak.
Die gegewe is pienk en luiddrugtig. Steyn as Nora dans en
disko. Sy is in gymklere en alles is pienk (en onplesierig). Ligte flits.
Musiek lawaai. Dit dreun en gil. Gemaskerde mense lewer eweneens simboliese
kommentaar op die ramp wat hom hier mag afspeel.
Ons weet egter Nora word “gered”. Sy gaan nie selfdood
pleeg nie en haar man gaan haar vergewe. Maar in die daad van vergifnis, ervaar
sy haar gevangenskap in ‘n huwelik van uitsigloosheid waar sy bloot ‘n
besitting was. Hierom vlug sy.
Henrik Ibsen in sy studeerkamer
Ek kan nie akkoord gaan met die applous nie. Dit is nie
meer Henrik Ibsen nie. Ook nie Naturalisme nie.
Karakters is uitgesny uit die teks (die kinders, die portier
wat ‘n Kersboom aflewer, die bediende …)
Soos wat Nora ‘n handtekening vervals het in die teks, is
hierdie produksie soos dit nou daar uitsien, ‘n vervalsing van die
oorspronklike teks wat werk met implikasie, sosiale kommentaar oor die rol van
die vrou binne ‘n manlik-gedomineerde gemeenskap.
Daar word nie ‘n brief met die verlossende boodskap
afgelewer nie. Ons beleef nou implikasie van boodskappe wat agter ‘n kodewoord
opgesluit lê op ‘n komputer of selfoon.
“We must come to a final settlement, Torvald. During eight
whole years. . . we have never exchanged one serious word about serious things”
is die kernwoorde van Nora wanneer sy besef dat sy vir sowel haar man as vir
haar vader net ‘n speelpop was.
‘n Vrou wat dalk met hierdie woorde nie langer ‘n blote
besitting wil wees nie en haar eie vroulike agentskap wil ondersoek?
Word die implisiete en sterk gekodeerde feministiese
boodskap van hierdie produksie ondermyn deur die banale seksuele aksies van die
hoofkarakter?
Die gehoor het dikwels ook op onvanpaste plekke
handegeklap. ‘n Minder teatrale, histeriese produksie sou oortuigend gewees
het. Soos dit nou daar uitsien, is daar die klankie van ‘n misogonistiese
sub-teks in die produksie.
Die geraas van die akteurs se mikrofone soms, het die
produksie gesteur, en die aanslag was te oordadig.