I
War and Peace, die
2016 televisiereeks van die BBC, het ek op my rekenaar bestudeer. Dit is gebaseer
op Leo Tolstoi se beroemde en klassieke roman Oorlog en vrede en gee uiteraard ‘n gekondenseerde weergawe van die
komplekse roman.
Hierdie reeks is waarskynlik een van die mees tydige
tekste wat sterk resoneer met die politieke onrus en omwentelinge wat ons tans
beleef. Dit is aan die begin gesitueer in Rusland in die jaar 1805 en die
verandering in die Russiese geskiedenis tydens die Napoleontiese oorlog. ‘n Tyd
van prinse en landhere, van ‘n spanning tussen dienskneg en landheer teen die
doek van groot politieke omwentelinge.
Teenoor die groter politieke en sosiale onrus, is daar die
kleiner menslike dramas. Liefde, verraad. Ouers wat kinders laat trou met iemand
van aansien (en dus met geld) teenoor ‘n kind wat hom hierteen verset en in
liefde glo.
Wanneer die knorpot Prins Nikolai Bolkonsky (vertolk deur
Jim Broadbent) sy seun dwing om vir ‘n jaar van sy geliefde weg te bly, beland
sy in die kloue van ‘n emosieswendelaar. Andrei kan Natasha se indiskresie nie
vergewe nie en ná sy dood is dit die goeie Pierre wat haar versorg en met haar
trou. Pierre kom tot inkeer: hy vind begrip by die Vrymesselaars wat hom leer
ander mense te dien en weg te beweeg van eie behoeftes. 'n Mens mag net wraak
neem, word hy geleer, as jou wraak die vyand tot ander insigte bring.
Die reeks wys ook op die verhouding tussen baas en slaaf,
die konsep van lyfeienis en uiteraard is die genderdiskoers geweldig belangrik
in hierdie film. Vrouens is onderdanig aan mans. Hulle word verneder en weet
niks nie (Bolkonsky snou sy dogter dit toe) en 'n vrou wat 'n seksuele
oortreding begaan word verwerp deur die gemeenskap. Nastasha dra swaar aan haar
"ontugtige" verhouding met die pierewaaier wat haar verlei. Pierre se
losbandige vrou, Helene, word weens haar buite-egtelike swangerskap verminder
deur die Russiese gemeenskap. Vroue wag op mans en hul identiteit word deur hul
mans se status bepaal. Sy sterf ook tragies aan ‘n oordosis; waarskynlik omdat
sy nooit buite haar eie behoeftes kan beweeg nie. Sy is ook die een wat haar
broer Anatole voorstel aan Natasha in ‘n bose verleidingspel, wel wetend dat hy
reeds getroud is.
II
In dieselfde tydperk wat ek hierdie ongelooflik aangrypende
reeks bekyk, gee ek lesings oor Bahktin (1895 - 1975) en begryp ek vir die
eerste keer die volle betekenis van die begrip liminaliteit of oorgang. Hierdie
reeks wys op die oorgang van die ou orde na die nuwe wêreld waar alle mense as
gelykes behandel word. Die chronotoop (te wete tyd en ruimte) van die film word
eg weergegee. Al hierdie konsepte staan
opgeteken in David Lodge se Modern
Criticism and Theory: A Reader (1988). Dis kostuums is tydsgetrou (in
hierdie opsig is dit 'n periodedrama) en die herkenbare Russiese stede word
oortuigend uitgebeeld. Varke en hoenders loop deurmekaar op 'n plasie. 'n
Besoeker aan die Russiese landskap sal die Hermitage herken.
Ofskoon die fokus die verhouding tussen Pierre, Natasha en
Andrei behels, is dit polifonies in aanbod. Die kyker word blootgestel aan die
mores van die tyd en verskillende sub-verhale is merkers van hierdie verhaal.
Die pierewaaier, Anatole verloor sy been in die oorlog en Andrei vergewe hom.
Word Helene “gestraf” vir haar roekelose liefdesontrou?
III
Die spel van Jim Broadbent as die onredelike vaderfiguur
is uitstekend. Greta Scacchi (uitgespreek Skakki) as Countess Natalya Rostova
gee 'n besondere vertolking van 'n vrou wat saam met haar man al hul besittings
verloor en haar eie kouse moet stop. Die eens beeldskone Scacchia is in hierdie
rol oud en opgepof. Gillian Anderson daarenteen, as Anna Pavlovna Scherer is
beeldskoon en kil.
IV
Die politieke verandering word deur 'n verskietende komeet
gesimboliseer.
Die kyker ervaar die impak van hoe 'n vuur Moskou verwoes
het en die koue in St Petersburg. Veral die Veldslag van Austerlitz en Borodino
word uitstekend gekarteer. Napoleon word gefnuik deur sy onvermoë om te kan
oorleef in 'n koue Russiese winter.
Die impak van briewe (wat deur ander gelees word), kom ook
te berde. Geliefdes ontvang briewe wat ‘n diensmeisie lees sodat sy vir Natasha
kan waarsku oor die ellende waarop sy afstuur. Dit was ook ‘n tyd van die
tweegeveg.
Pierre daag Dulokhov uit tot ‘n tweegeveg omdat hy sy
vrou, die hartelose Helene wat verskeie minaars het, verlei het. Pierre is die
oorwinnaar.
Die hele reeks beweeg tussen opposisies: Rusland /
Frankryk; liefde / smart; wraak / vergifnis; oorlog / vrede.
Dit is ‘n uitstaande reeks wat hierdie kyker vir bykans
drie weke lank oor en oor gekyk het. Die spel is uitmuntend. Die film se
nougesette oorlogformasies verdien eweneens vermelding. Soos die danstonele. En
die Russies wat gesing word.
Die akteurs praat in hul gemaklike aksente – hier is geen
faux-Russies of -Frans te hore nie.