Fransi Nieuwoudt - ’n Vlerkslag van kleur. Cordis Trust,
2016. ISBN: 978-0-9922057-8-2. R140.00
Resensent: Joan Hambidge
’n Bundel soos hierdie is nie ’n nuttelose publikasie nie.
Ofskoon die doelstelling was om die Afrikaanse taal en kultuur te
bevorder, bereik dit tog hierdie doelwit op ’n indirekte manier. Dit word ’n
handleiding vir alle dosente in kreatiewe skryfwerk om presies uit te wys wat
die moets en veral moenies is van die digkuns.
Die iteratief-duratief van die digterlike hebbelikhede soos:
* die gebruik van die verhewe woord (soos ruising) of aanslag;
* die gesprek met Ingrid Jonker (done to death, verskoon die
woordspeling):
jy wat die glasskerwevan weggooibottelssoos ’n geheim in die grondkon bêre . . .;
* die gesogte beeld (“duiwe swalp ’n sinkerson”);
* die arbitrêre gebruik van leestekens;
* die flirtasie met katachrese;
* die pap eindes (“ ’n wilger by strome van rus”);
* ’n gebrek aan vorm en algehele onkunde wat verstegniek behels;
* ’n uitblertsing van emosie soos laas in die 1970’s aangetref . . .;
* verspotte samestellings (“verbronsvlerk”);
* die invoeging van ’n geleerde verwysing of woord soos impasto wat die
gedig “Verhewe” moet maak.
Die kort, haikoeagtige verse op bladsy 61 het wel moontlikhede.
’n Mens is wat jy eet. ’n Digter is dit wat sy of hy lees. Hierdie bundel
getuig van min leeswerk in die digkuns.
Dankie, Cordis Trust, dat julle so blymoedig bly vlerksleep by die
Afrikaanse digkuns. Hebban olla vogala!
Hier het die digkuns die digter uit die nes geskop.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)