Poets
travel the dark roads. - Ruth Padel
I.
My reis na hierdie landstreek begin toe ek per ongeluk wyn
mors op my paspoort: ‘n teken van geluk!
Ek reis besigheidsklas gewoon omdat dit geriefliker is en ‘n
mens nie vir dae daarna nog sukkel met jet
lag of spierpyne nie. Boonop is die kos en wyn op Singapore lugredery
onoortroffe. ‘n 2009 Château Loudenne Médoc Cru Bourgeois uit die
Bordeaux-streek troef die Taljaanse Marchesi de Frescobaldi Tenuta di Castiglioni
uit die Toskaanse streek. Beide is uit 2009 en verander ‘n mens se palaat ten
goede.
Hiermee smul jy aan Oosterse satay met uie, komkommer en ‘n
grondboontjiesous. Die salm kry net ‘n peusel van my, want ek wag die Franse
hoenderkerrie in met gesouteerde groente. Dis nie wys om garnale op ‘n vlug te
eet nie en hierom kies ek die hoenderkerrie bó die Indiese garnaalkerrie. ‘n
Wok werk nie vir my en pangeroosterde vis is te alledaags.
Hierna kies ek ‘n kaasbord met Caprini bokkaas en Forest
Hill camembert. Met ‘n klein glasie Taylor 10 jaaroud Tawny Port uit Portugal.
Dan kyk ek na die Duitse rolprent Die wit lint wat net voor die Eerste Wêreldoorlog in Duitsland
afspeel en ‘n ontstellende onthulling is van kindergeweld en –wraak, vertel
vanuit ‘n agterna-perspektief deur ‘n onderwyser wat die ruimte verlaat, maar
vir ewig daardeur verander is.
*
Toe ek Saigon binnestap, voel ek asof die landskap maar net
‘n blote herhaling van ander Oosterse landskappe gaan wees. Maar dit is nie so
nie. Die subtiele verskille tussen hierdie landskappe kan ‘n mens waarskynlik
ten beste met wyn vergelyk: die subtiele smaakverskille tussen ‘n Merlot,
Shiraz of Pinotage.
Vir my skuil daar altyd poësie in vreemde landskappe. Jy
beweeg weg van die bekende in die onbekende of voorstelling in van dit wat jy
dink jy ken of waaroor jy gelees het. Of films gekyk het. Daar bestaan immers
‘n reeks uitmuntende films oor hierdie land waaroor Žižek ook praat in The pervert’s guide to ideology [1]. Hy
verwys veral na Full metal jacket om
die betekenis van ideologie in al sy duidinge te behandel.
Ons is vier mense in die reis van Saigon tot Hanoi: twee uit
Sydney, een uit Melbourne, die uwe en ‘n gids. Vreemdelinge vir mekaar. ‘n
Moeder en dogter uit Sydney en ‘n vrou met kanker uit Melbourne. Die ouer vrou
en ek uit Sydney skiet dadelik op. Sy is van Persië oorspronklik en ons gesels
land en sand oor die Duisend-en-een-nagte, die Persiese kwatryn Omar Khayyam,
Iran en die Shaj van Iran. Sy is ‘n Direkteur van HR en ons vind ook hier
aanklank oor al die uitdagings wat ‘n mens moet oplos wanneer jy aan die hoof
van ’n organisasie staan.
Presidensiële Paleis, Saigon
Iewers in die bunker
van ‘n president se Uniegebou
hier in Saigon
wonder ek
te midde van hitte
en toeriste
waarom nog ‘n reis?
Miskien omdat ek telkens
plante uit ‘n hoogste gebou
sien spruit? Of met bewondering
toekyk hoe ‘n tuinman ‘n boom
snoei? Of die presisie van motorfietsryers
gadeslaan?
In daardie bunker
staan daar teleksmasjiene, radio’s
en ander outydse maniere van kommunikeer.
Oor die morsekodes
van verlang het ek my veelvuldig
uitgelaat, skuilgehou in ‘n gedig
teen die aanslae van insurgente.
In die draaigang
van hierdie bunker
stilgestaan in elke kamer
bundels geskryf na elke slagting.
Oor verdraaide raaisels
- ja wie het Kennedy werklik geskiet? –
en die aantal soldate uit die VSA
in strak nommers teen die muur aangeteken:
“om poësie te skryf dan
net om oorlog te maak?”
II. 12 Desember
Die eerste dag besoek ons die Notre Dame katedraal, gebou
tussen 1886 en 1890. Ons verkyk ons aan die invloed van die Franse boustyle in
hierdie netjiese stad.
Daar is nêrens ‘n papiertjie op straat nie (anders as in
Hanoi) en die bome is gesnoei soos ‘n weermagoffisier se snor.
Op die eerste dag in Saigon besoek ons ook die
oorlogsmuseum, ‘n aanskoulike weergawe van die oorlog en die impak daarvan op
die Viëtnamese psige. ‘n Klein mannetjie ry op ‘n driewiel. Hy het ‘n
oranjepakkie aan: hy is ‘n simbool van die Oranje-bom en die impak van
Amerikaanse vergelding.
Die museum bestaan uit drie vlakke. ‘n Mens word met elke
vlak al hoe meer bewus van die uitwerking van die oorlog op hierdie land. Die
foto’s is verdoemende getuienis van sewentien jaar se oorlog. Ironies genoeg is
daar ‘n uitstalling van fotograwe wat omgekom het in die oorlog. En al die
wapens wat gebruik is. ‘n Mens staan skielik in Apocalypse now, Good morning
Vietnam, Platoon en Full metal jacket. Om nie te vergeet van The deer hunter en
The killing fields nie.
Ons besoek die Reunification Palace
[2] waar
‘n Noord-Amerikaanse tenk deur die hekke gedreun het aan die einde van die
oorlog.
Die president (van Suid-Viëtnam) se woning is op die bo-vlak
‘n aanskoulike uitstalling van die rykdom. Gebou in die sestigerjare stap ‘n
mens van vlak tot vlak en sien die onderhandelinge met die Weste. Dan stap ons
af na die ondergrondse bunker. Hier is al die retro-produkte van kommunikasie:
teleksmasjiene, outydse walkie-talkies, radio’s… Hier het die president bevele
gegee oor waar die volgende aanval afgeweer moet word.
Ek neem foto’s van die kaart teen die muur en stap in die
kronkelgang waar selfs sy ou Mercedes Benz uitgestal word. Daar is ook ‘n kaart
om te verduidelik hoeveel mense het in hierdie oorlog omgekom.
‘n Reisgenoot merk op dat Kennedy waarskynlik geassasineer
is, omdat hy hierdie oorlog wou stopsit…
Daardie nag droom ek van die footage wat ‘n mens in die
museums sien: vrouens en kinders wat kennelik doodgeskiet is toe hulle op vlug
geslaan het. ‘n Dooie baba in die arms van sy ewe dooie moeder, slapend, dog
verewig in ‘n foto teen onreg.
Oorlogpropoganda van een kant af?
Mag so wees, maar wanneer ‘n mens hier stap, kan jy nie
anders as om die universele boodskap dat oorlog sinneloos is, begryp nie.
Hierna is dit middagete in ‘n restaurant waar Bill Clinton ook was. Hy staan
langs kelnerinne en glimlag sjarmant. Die Ben Thanh-mark gee ek ‘n rojale mis.
Na ‘n oggend van konfrontasie met ‘n bloedige geskiedenis,
sien ek nie kans vir shopping nie.
Dag twee. 13 Desember, Mekong-delta
Ons beleef ‘n bootvaart. Ons ry vir twee ure per bussie na
die bote en op die eiland is daar die soetste vrugte denkbaar. ‘n Klein orkessie
speel vir ons musiek met ‘n sangeres wat saamsing en beveel “Clap your hands if
you’re happy”. Ek vermy die heuningtee weens my allergie vir bysteek.
Hou maar by water.
‘n Boa konstriktor is op uitstalling en al die toeriste
storm nader vir ‘n foto-sessie met die slang gedrapeer om hul nekke.
Nee dankie, beveel ek. Ek is immers nie Nastassja Kinski
nie.
Nou is dit verder stap op die eiland. Dit laat my terugdink
aan eilandjies buite Maputo. Net so warm en soel. Met zoemende insekte wat
verby jou woer.
En dalk ook Manaus? Dieselfde plantegroei, dieselfde gevoel
van afsluiting van die res van die aarde wat net om die volgende draai
gedekonstrueer word wanneer hy ‘n T-hemp kan koop van die Hard Rock Café
Saigon.
Dan is dit weer ‘n klein vaart op ‘n skuitjie. Tussen die
liane en ongediertes vaar ons net twee mense op die skuitjie.
Dan weer op land. Ons stap na ‘n klein winkeltjie waar ek ‘n
Viëtnamese hoed koop en toekyk hoe hulle kokosneut-fudge maak.
Wanneer dit koud is, word dit opgesny in presiese stukkies
en in pienk papiertjies toegevou.
Voortaan sal ek meer respek hê vir hierdie werk.
Dag drie. 14 Desember
Cu chi-tonnels in Viëtnam
Hier beleef ‘n mens ‘n soort rekonstruksie van die tonnels
wat die Viëtnamese gegrawe het om die Yanks te fnuik.
Die park – dan: parkinstallasie – gee ‘n waarheidsgetroue
weergawe van die tonnels waarin jy kan afklim (op voorwaarde jy is klein van
postuur) en toeriste word getrakteer op ‘n video-opname van presies hoe slinks die
klein mensies was in hul stryd teen die Amerikaners. ‘n Mens stap van punt tot
punt saam met jou gids wat jou ook vra om langs die plastiekmodelle te poseer
vir ‘n foto. In die agtergrond knetter geweerskote. Teen $1 kan jy ‘n AKA kry
en ‘n skoot skiet.
Realiteitsvermaak?
Ons is vasgekeer onder die bome wat alles kloustrofobies
maak en die humiditeit is hoog.
Ek ken die geskiedenis goed. Ek weet die Yanks het
ingedreun, maar ek neem aanstoot oor die wyse waarop die gids verduidelik hoe
hierdie lokval werk en daardie een. Met ‘n foto van ‘n jong Amerikaanse soldaat
wat soos ‘n dier in ‘n gat getrap het en wie se been deur vier penne deurboor
is. Om hom staan vriende en dokters wat probeer help.
Oorlogspropoganda werk na twee kante toe. Daar is nie een
regte en ‘n verkeerde kant nie.
Op die pamflet word ‘n mens ook uitgenooi om hier te kom
kampeer met jou studente. En met jou verkyker rond te stap. By my kom ‘n ander
herinnering op. Ek is in Standerd drie en lid van die Voortrekkers. Ons het ‘n
middernagmars. Ons het deur die dag geleer om messe te gebruik, toue te knoop
en die “vyand” te oorrompel. Dit was die ou-Suid-Afrika.
Afrikaner-nasionalisme. Weerbaarheid. Ek het presies een naweek gehou, want ek
kon aanvoel in die stories wat die ooms te vertelle had, dat iets nie pluis was
nie.
In 1960 – 1975 het hier ellendige tonele afgespeel wat nou
op ‘n pamflet as “victories” uitgebasuin word.
Ons hoor hoe daar plakkies gemaak is met spore wat agtertoe
wys om die Yanks op ‘n dwaalspoor te plaas!
In die agtergrond is daar skote wat knal. Mense speel
argeloos oorlog-oorlog.
Miskien oorreageer ek na my oggend van ‘n mars deur een van
die ellendigste installasies nog.
Hier kan jy selfs ‘n soldate-rantsoen eet. Netjies verpak as
‘n toeristiese maal.
Op ‘n pamflet lees ek:
Viet Congs: North communist Vietnamese supporters of
the communist Front in South Vietnam during the Vietnam War (known in Vietnam
as the American War).
The Viet Congs fought against both the
government/military of South Vietnam and the armed forces of the United States
between 1959 and 1975. They were initially a loose grouping of guerrilla
fighters.
Quick Note: South Vietnam/South Vietnamese didn’t
want the communist takeover from communist North Vietnam, they wanted to be a
Democracy country, U.S. entered the War to stop the spread of communism and
support the democratic South Vietnam.
Hierna is dit na ‘n tempel waar Confusius-aanhangers,
Boeddhiste en Rooms-Katolieke saam aanbid.
Dit heet die Cao Dai-tempel geleë in Tay Ninh. Die geloof is
Cao Dai wat al die verskillende gelowe saamsnoer en ook die verskillende
argitektoniese aspekte van ‘n Chinese pagoda en Westerse katedraal saamsnoer.
Almal sit op die vloer. En ja, ek vind dit betredend dat
toeriste met kameras die spirituele oomblik binnedring, terwyl mense aanbid.
Dan is dit weer per bussie terug Saigon toe na ‘n ete in die
dorpie.
Die bestuurder is flink met sy hantering van die wiel.
Dikwels vermy ons ‘n ongeluk net-net en die aantal motorfietsies werk op die
senuwees. ‘n Hele gesinnetjie sommer op een fiets: Pappa, mamma en tussen hulle
staan die kleintjie met die hond agterop!
Vier ure later is ons terug in die hotel. Lan Lan 1 hotel in
die Thu Khoa Huanstraat.
Dan op pad uit.
Om vis en noedels en vark te eet.
Dag vier. 15 Desember
Ons vertrek na Danang vir Hoi An per vliegtuig. Land dan in
‘n minder soel omgewing en bekyk ‘n grot in die berg. Die gids verduidelik dat
dit die hel voorstel: mense wat met hulle na bo uitroep om hulp en dit is die
gemeenskap se plig om hulle te red uit hul ellende.
Die dorpie Hoi An is outyds en sjarmant. Indertyd genoem
Faifo, is Hoi An vandag ‘n vae herinnering van die belangrikheid as hawe tydens
die Sy-roete. Dit is vandag ‘n UNESCO bewaringsarea en ‘n mens kan vandag die
invloed van verskillende kulture sien op hierdie stad. Juis omdat dit ‘n
hawestad was het verskillende mense hier aangedoen soos Japannese, Franse,
Chinese en Portugese…
En die verskillende invloede kan ‘n mens sien in hierdie
kleurvolle stad.
Dit begin liggies te stuifreën.
Die soel hitte van Saigon lê ver agter ons.
Dag vyf. 16 Desember, Hoi An
Die pragtige ou stadjie verken ons per voet na ‘n bootvaart
van die hotel.
Orals stap mens op straat en verkoop ware aan toeriste.
Laatmiddag swem ek in die hotel se swembad. Dit heet die
Vinh Hung resort en die hotelbestuur is baie vriendelik en behulpsaam. Tweekeer
sluit ek myself uit my kamer, maar elke keer kom ‘n vriendelike persoon en red
my uit hierdie dilemma.
Tipies soos alle Oosterse swembaddens is daar ‘n kroegie wat
die swemmers bedien met drank. Daar is ‘n waarskuwing om nie te swem as jy
dronk is nie en ek probeer ten minste – so hard as wat ek kan – laatmiddag
verbete te swem om my fiksheid op te bou. Ons stap geweldig ver en die
reisgenote is shopaholics. Terwyl hulle koop, sit ek en bekyk die mense wat
verbystap. Drentel voort in hul daaglikse lewe. Orals is daar voëls in koue.
Mahjong, die Oosterse spel, is rondom al die verskillende voëlspesies uitgewerk
soos wat Confucius dit bepaal het.
Ek koop vir myself ‘n klein cyclo, ‘n pragtige speelding vir
my versameling.
In die aand word rooi lanterns opgehang wat deel vorm van ‘n
feestelike tyd.
Ons eet by ‘n pryswennende restaurant wat tereg elke prys
moes wen met sy stoomrys en vark. En
hoendersop. In hierdie sop is daar stukkies vark en seekos. ‘n Vreemde, dog
heerlike mélange.
Dag ses. 17 Desember, Hue
Die digter Juanita Louw praat van “button up your chakras”
om jou te verweer teen aanslae.
Liefdesgedig as
reisgedig:
1 Om uit te check
Ek het jou verlaat
soos uit ‘n hotelkamer
gecheck: sonder adres
of foonnommer,
boonop nat handdoeke,
‘n onopgemaakte bed
agtergelaat
met ‘n vullisblik
vol verwyte,
foltering en verset.
My tas voor die deur
en die kodenommer
van die slot (soos my hart)
nou net aan my bekend.
Bykans vergeet
om vir die ekstras
van ons liefde te betaal.
Die rekening
hiervoor
sal waarskynlik
vir altyd
onvereffen bly.
2 Deur die doeane
‘n Packlite-rugsak, handtas,
dagboek, kamera, selfoon,
beursie, rekenaar, paspoort
geskandeer
om dalk iets ongehoords uit
te wys? Soos ‘n a-ritmiese
hartklop? ‘n Onthou-virus?
Dalk ‘n verwytende klont?
Tog bly hierdie sisteem
in gebreke
om ‘n handvol verse
se metriese patroon
vas te stel.
Jambies of anapes?
Dit wis ek nie.
Weet net
jy het immer
elke gedig oor jóú
hartgrondelik verpes.
3 Zip up your chakras
In ‘n droom verskyn
jy vraend aan my:
wat het ek gedoen
om hierdie stilte
te moet verduur?
Woordeloos, ek,
net om later
my nogmaals
te verweer
teen astrale vrae
ná voltooiing
van dyn en myn.
Nou’s dit
“zip up your chakras”
soos die liedjie lui;
dog geen woundology,
geen gedig.
4 Spoorsny
‘n sms
bazoeka
deur ‘n tonnel
waar ek
skuilhou
teen jou:
weer jou af
en vee
voetspore
dood
deur ons
te delete:
nou loop
ek vorentoe
en fnuik jou
met sandale
se spore
wat agtertoe
wys.
Na vier ure se reis per bussie oor die Hai Van-pas kom ons
ongedeerd in Hue aan. Die paaie oor die berg is seepglad weens die reën. Beeste
dwaal oor die pad en die bestuurder toeter hulle weg. Te midde van die gevaar
is daar baie motorfietsryers op die pad. Argeloos oor die gevaar, lyk dit. Tog
is daar ‘n subtiele verbintenis tussen motors en motorfietsryers. Almal gee vir
mekaar ruimte. Die ryslanderye staan diep onder water. Daar word glo vier keer
per jaar rys geplant en ge-oes, maar in sulke nat weer kan hulle nie plant nie.
Die rys vrot gewoon.
Die tifone bedreig eweneens die boerderye, verduidelik die
gids. Daar is altyd waarskuwings en dan slaan almal op vlug. Die dakke word
afgewaai en almal begin van voor af. Die huise staan gatkant na die see sodat
mense se voordeure wég is van die waters wat binnekort oral alles mag stroom en
hulle ten minste kans gee om op vlug te slaan.
Dit is skielik snerpend koud. My baadjie is in my groot tas
en na die hitte van Saigon is dit dramaties nat en koud. Ek sit ‘n serp om my
nek. Gelukkig is die bussie warm.
My een reisgenoot het gister slegte nuus ontvang: haar
skoonsuster het in ‘n motorongeluk gesterf. Sy wil terugdraai, maar ons oorreed
haar om eerder die reis te voltooi. Die begrafnis is immers eers na Kersfees.
Wat kan sy nou doen aan die geliefde skoonsuster se lot?
Sy probeer vrolik bly, maar ek kan sien dat dit haar
geweldig steur. Veral omdat ek weet dat sy kanker het en hierdie reis vir haar
simbolies geweldig baie inhou.
Dink aan nou, probeer die landskap en die oomblik geniet,
praat ek haar moed in.
Ons ry deur die landskap en besoek etlike besienswaardighede
soos die Minh
Mang se tombe [4]. Hier staan lieflike beelde: primordiale diere soos
olifante en drake wat die wag hou.
Hue Khai Dinh
Hue Khai Dinh
10 000 mense het hier gewerskaf om alles so op te bou tussen
1820 – 1840.
In die Park hotel **** wag ‘n alterkasie my in. Die kroeg is
gesluit vir die aand en daar is net ‘n lobby lounge met kroegstoele en
jongelinge wat op die stoele lê en slaap.
Die ontvangsdame beweer ewe kontant ek moet maar soheentoe –
dit is die drinkgat vir die aand.
“Waar is die bestuurder?”, grom ek.
‘n Vrou kom aangestap nadat die manlike bestuurder dringend
sy selfoon moes beantwoord.
Sy maak verskoning en stuur ‘n gratis Heineken na my kamer.
Nie goed genoeg nie, dink ek. Reis is harde werk; mens moet kan uitspan.
Na ‘n rit deur berge en dale, storms en ‘n lang, vermoeiende
tog deur ‘n pagoda – met hierdie tweede gids wie se Engels baie eina is – het
‘n mens beslis lus vir iets méér “doenliks”.
Beslis in ‘n hotel met vier sterre.
Boonop is die ete hierdie aan in die Banana Flower ‘n
teleurstelling: die kos is ‘n klap voor die bek: hard gekook, smakeloos, taai…
Dag sewe. 18 Desember, Hue
Die sogenaamde Imperial City en Forbidden Purple City. Dit
word steeds gerestoureer na die aanvalle van die Amerikaners tydens die oorlog
in Viëtnam.
Ons besoek ‘n pagoda en die steil trappe loop ek sterk uit. Thich Quang Duc [5] se motor is hier te besigtig. Hy het homself in 1963
aan die brand gesteek voor sy motor in protes teen die krisis oor die regering
se vervolging van Boeddhiste.
Thich Quang Duc
Thich Quang Duc Mausoleum
Ons sien ‘n monasterium. Hier leef mense in eenvoud. Die
kombuis is aan die stowe met groentes en allerlei disse. Die reis na Hue
geskied moeiteloos. Tog – ten spyte van nog ‘n boortvaart – kan ‘n mens nie die
impak van die Viëtnam-oorlog uit jou gemoed weer nie. Laatmiddag in die reën is
ons in ‘n cyclo. Te lekker om hierdie Oosterse riksja te beleef.
Na middagete, vlieg ons Hanoi toe. ‘n Vinnige eenuur vlug.
Dag ag. 19 Desember, Hanoi
Ho Chi Minh Mausoleum
Ons besoek die beroemde mausoleum van Ho Chi Minh wat in
staatsie lê. Ek het Lenin in Moskou ook gesien. Onvermydelik dink ‘n mens aan
Mandela en mense wat enigiets sal doen om vir oulaas hul geliefde simboliese
verlosser te sien. Die toue is lank en soldate wys: haal jou hande uit jou
sakke uit, stap in gelid. Geen kameras word toegelaat nie. ‘n Mens weet: hier
moet jy beslis in jou spoor trap!
Toe ons afstap, wys ‘n soldaat egter simpatiek dat ons aan
die relings mag vashou.
O gedoente. Die vrou uit Persië kry ‘n asma-aanval en haar
spuitjie is in die bussie, omdat geen sakke toegelaat word nie. In aller yl
drafstap ek saam met haar na die bussie wat ver van die museum is vol plakkate
van die geskiedenis en hoe Oom Ho, soos hy liefdevol genoem word, almal hier
gehelp het uit hul ellende.
Hanoi is ‘n ouer stad as Saigon. Dit is nie so freneties as
Saigon met sy vele motorfietse wat om jou woer nie. Die pas is rustiger en ons
gaan tuis in die ouer gedeelte van die stad.
Die Confucius-museum is vol jong mense wat graad gekry het
in die museum rondstap met hul togas. Daar is ‘n ligte byt in die lug. ‘n Paar
dae terug was ‘n hemp letterlik van bo tot onder waternat. Nou is dit winter.
Ek verruil my plakkies vir toe-skoeisel. Daar is skielik weer ‘n serp om my
nek. Van 32 grade na 15 grade binne enkele dae!
Dag nege. 20 Desember, Hanoi na Halongbaai
Vroegoggend verlaat ons die hotel vir ‘n reis na Halongbaai.
Dis vier ure per bussie. Die pad is lank en swaar en die Viëtnamese laat onse
taxibestuurders na beginners lyk. Dis gewoon toeter en ry. En die stof waai. ‘n
Keer of wat vrees ‘n mens dis die einde, maar die behendige bestuurder weet hoe
om die aankomende verkeer te pypkan. Op pad is daar ‘n vark agterop ‘n
motorfiets vasgebind. Dit blyk ‘n lewendige vark te wees, want ek kan sien hoe
hy vervaard sy oë knipper.
“Hulle is op pad mark toe,” merk die gids emosieloos op.
Is hierdie mense wreedaards? Voel hulle niks vir diere nie?
Of is hulle gesigsuitdrukkings net ondekodeerbaar?
Langs die pad – want dit is nogal koelerig – sien ek ‘n ou
hond met ‘n woljassie aan. ‘n Ent verder sien ek ‘n kind speel liefdevol met sy
hond.
Uiteindelik kom ons by die Bhaya Classic I aan. Na ‘n
halfuur is ons aan boord en daar is verskeie uitstappies: swem in die baai,
grotte besoek, sien hoe ‘n klein gemeenskappie leef, visvang en ‘n kosles.
Die film Indochine [6] word vertoon om ons iets te vertel van die verhouding tussen hierdie land en
Frankryk.
Ek neem National Geographic foto’s van die lieflike
rotspunte. Salig, salig om op hierdie skip te rus in ‘n kabine na die afgelope
tyd se rondhardloop van pagoda tot tempel, van tempel tot toring, van toring
tot mausoleum, van mausoleum tot museum.
Vir oulaas is daar ontvangs op die wifi en sms. Dan is ons
afgesluit van enige kontak met die buitewêreld. Dit gee ‘n mens kans om te rus
en ‘n bestekopname te maak. Ek stuur verjaardagwense vir Johann de Lange.
Ek kyk na die galery foto’s wat ek geneem het en hoe dit op
sy beurt weer ‘n ander storie vertel van hierdie reis.
Daar is ‘n happy hour met die bekende een glas gratis vir
die een wat jy koop. Ek drink voortreflike wyn uit Chile.
En ek weet hoekom mense meen dat jy eers Viëtnam beleef het
as jy hierdie wonderskone baai gesien het.
Gedig
HJS
‘n Reis soos ‘n gedig
loop immer op twee vlakke.
Moord eis speurder
soos ‘n liefdesvers
jy en myn(e) opeis:
liefde word tog dood-slag?
Iewers tussen Saigon
en Hanoi op pad na
Halong-baai
pleeg die digter
‘n pleonasme rapat
soos ‘n onbebroeide eier
raak dié referensie
kant nog wal.
Ek hoor jou vra:
hoe was die landskap
in IndoChine?
Blaas my siel.
Daar is geen mirakels
of muses hier.
Niks wat Cleanth Brooks
sou behaag;
net die Japannese linguis
ter harte neem
oor gevaarlike woorde…
Dus nou náskryf in stof.
Die leser, nes die digter
word vervlaks gefnuik.
Dag tien. Hanoi
Reis is vermoeiend en aan die begin van ‘n reis – voordat
alles op jou begin inwerk – is jy gedistansieerd, selfs skepties of jy die
regte ding gedoen het. Dan begin alles inspeel en jy begin die reis op
verskillende vlakke ervaar. Teen driekwart van die reis – daar waar ek nou is –
begin jy vermoeid en onrustig raak. En dan skielik – soos met ‘n atleet gebeur
in die pylvak – kry jy nuwe energie.
Ars poetica
Ek sien ‘n man
toue knoop
om vis te vang.
Daar was glo
‘n Visser
van mense,
‘n fyn wewer
van nette,
kon broodjies
en vissies ver-
meerder:
betekenis
is jy gevang?
Of bly beeld
met toepassing
‘n netwerk:
iets tussen
handewerk
en misterieus
Idees opvang?
Dag elf. 22 Desember
Ek droom die hele nag van bekendes. In die middel van die
nag hoor ek die bure in die aangrensende kamer stry. My twee reisgenote, die
vrou uit Sydney en haar dogter, vertrek vandag. Die ander een het ons agter
gelaat en sy is op haar eie, waarskynlik reeds terug.
Ek vermy die ontbyttafel: ek haat afskeide. Hulle het my
e-posnommer. Ek eet alleen ontbyt en kyk CNN, die reisiger se kontak met die
buite-wêreld. ‘n Program oor hoeveel mense per jaar in die VSA omkom weens
wapenmisbruik, maak die ontbyt onplesierig. Dit blyk 10% meer in die VSA te
gebeur as in ander lande. Selfdood is ‘n nuwe siekte, word beweer. Daar is
selfs ‘n program oor die UK se operaskool en die ongelooflike nuwe talent wat
hier te vinde is.
Nou hier in Viëtnam en met die besoek aan al die
oorlogmuseums kan ‘n mens nie anders as om die geweld van die VSA opvang?
Invalle en aanvalle.
Aan die een kant hipergesofistikeerde intellektuele, aan die
ander kant koppesnellers.
Die reisagentskap het vir my ‘n middagtete gereël in ‘n
klein naburige restaurant. ‘n Jong kelner kom haal my en ons stap twee blokke
na die restaurant waar Kersmusiek dreun oor die luidsprekers. Ek vra hoflik vir
stilte en begin peusel aan die slaai, vis en wagtend op ‘n geroosterde
varkgereg.
Die kortstondige stilte word verbreek deur ‘n groep Yanks.
Luid. Hul gids, van hier, neem die hele vertrek oor en begin vir hulle
verduidelik wat te ete en te drinke is.
Ek kners op my tande en wuif hom nader. Verduidelik hier is
ook ander mense in die restaurant; kan hy asseblief sagter?
Hy gee bes.
Maar die stilte duur nie vir lank. Die Amerikaners begin dan
luidkeels hul menings uitbulder oor dit en dat.
Die aand is dit National Geographic wat ‘n program aanbied
oor tsoenami’s en hoe weerloos die mensdom is voor natuurrampe.
Ek kyk in my notaboek en probeer alles verstaan wat ek deur
die dag neergeskryf het.
Dag twaalf. 23 Desember
Reis is altyd aan die einde problematies. ‘n Mens begin
reeds oppak in jou kop en nou is daar vele ure voor jou. Jy is nie meer lus vir
besienswaardighede nie.
Om te reis beteken vir my ook dat jy soms net moet sit en
niksdoen. Voor die hotel is daar ‘n klein winkel en die eienaar het twee honde.
Die een slaap voor in die winkel; die ander een is aan ‘n boom vasgemaak en
grom vir verbygangers.
Ek drink die dag in. Neem alles waar. Die cyclo-bestuurders,
mense wat stap, ‘n ou man (waarskynlik 95) groet my vriendelik. Buite taal
verstaan mense mekaar ook en mense kan iets oorsein na mekaar sonder woorde.
Maar ek is skielik uit-ge-Oosters. Genoeg van die kos gehad,
die klanke, die mense, die omgewing. Ek wil terug.
Die Weste begin terugroep. Ek lees die internet en sien dat Ryan
O’Neill die Warhol-skildery [7]
van sy geliefde mag hou, ten spyte van die Universiteit van Texas se dringende
teenstand.
Ek begin peuter aan ‘n vers:
Farrah Fawcett,
‘n Charlie’s angel,
hang oor Ryan
se bed
perfek
soos net
Andy Warhol
‘n portret
kon skep.
Hulle Love story,
glo my vry,
sal niemand beny:
die engel sterf
aan kanker anaal
en in ‘n hofsaak,
net so banaal,
gestry en baklei
of O’Neill,
geprostaat-,
gevelkanker,
sy gevalle engel
uit die verderf
mag red?
Tussendeur kyk ek na ‘n DVD (The Escape artist) [8] wat sommer dadelik die gemoed lig. ‘n Lekker
speurverhaal in drie dele. Hierna gaan ek na die restaurant waar die bloedjong
sjef en die kelnerin my inwag. Ek noem haar mini-Madam (omdat sy nog jonk en
ongetroud is) en hulle lag so lekker hieroor.
“Maak vir my asseblief ‘n bord Spaghetti Bolognaise.” Hulle
begryp. Ek het genoeg gehad van Oosterse kos. Genoeg vark en vis en soja en
noedels en hoender vir ‘n leeftyd.
Sy plak ‘n glas wonderlike Viëtnamese Da Lat-rooiwyn voor my
neer. Daar kom die Spaghetti aan soos die Alibama. Ek vra vir rissies. Ek sien
hulle lag skelm.
Hulle weet egter nie hulle het met die grootste rissie-eter
op aarde te maak nie en net vir hulle plesier maak ek of my mond brand. Hulle
lag alte lekker. Die spaghetti is prima!
Die kelners hier hou ‘n mens altyd dop, terwyl jy eet.
Anders as by ons waar jy die kelners moet inwuif soos ‘n vliegtuig op die
lughawe.
Dan bedtyd. More vertrek ek.
Dag dertien. 24 Desember
So kom die afskeid dan in die Demantoid-hotel. Om 3.30 is
dit Silk Air en dan Singapore Airlines terug huis toe.
Ek kyk na al my aantekeninge en gedigte in wording: die reis
was goed vir my.
Op pad lughawe toe is daar ‘n vrou op ‘n motorfiets met twee
geglasuurde honde. Ek gril. Almal is feestelik; selfs vyf mense op een
motorfiets op ou Kersaand.
Ek tjekkereer in. Wil afklim op Johannesburg vir ‘n
familiebesoek in die Noorde, maar helaas is die verandering nie aangedui soos
ek per e-pos versoek het nie.
Ek pleit en dit gebeur.
Silk Airlines tot in Singapore- dan die lang reis terug na
1vm tot in Johannesburg. Daar is net een deur en almal stroom deur dieselfde
deur wat die ambience van besigheidsklas versteur.
Ek is ongelukkig hieroor, maar ‘n glasie Chivas kalmeer die
gemoed. Katherine Jenkins sing wonderbaarlik “You never walk alone” en ander
opera-klassieke.
Genadiglik slaap ek onversteurd: uitgestrek op die bed. Tot
brekfis. Heerlike vrugte en Post Toasties.
Johannesburg wag my reënerig in.
Dis Kersdag en al die amptenare wens jou ‘n Geseënde
Kersfees toe.
Aantekeninge:
Taal:
‘n Mens kan dikwels net uitbars van die lag oor die
wonderlike taaluitinge. Sekere klanke is kennelik onuitspreekbaar. “Fruits”
word “froosh”. S-klank kan nie. Hy verdwyn sommer.
“Smoothy” word “moothy”.
Ja, ons soek muti. Gelukkig het ek ‘n frase-boekie byderhand
wat handig te pas kom.
Kos:
Dit is waarskynlik nie ‘n onderbeklemtoning om te beweer dat
hierdie land tans voor in die ry staan met van die beste cuisine op die aardbol
nie. Vark en seekos word met groot swier saamgevoeg in ‘n rolletjie. Elke keer
dink ons: nou was dit die lekkerste ete nog. Net om die volgende keer ‘n
spyskaart te ervaar wat iets besonders is. Op hierdie georganiseerde toer is
dit ‘n vaste spyskaart met sop, vis, groente, noedels, vleis, nagereg.
Maar telkens is die verrassing groot: die sop (hoender,
garnale of groente) is iets besonders. Ek het waarskynlik van die lekkerste
varkvleis nog hier gehad; en dit sluit Venezia in.
Gebraai, gekook, gestoom in ‘n ronde potjie, in bolletjies
en rolletjies – lieflik. Hulde aan Porca!
Met stoomreis. Soms selfs vars vrugte daarop geskil soos
mango of kokoneut.
Die vrugte is soet. Waatlemoen, pynappel, nartjies…
Telkens probeer ek en Mevrou Direkteur, wat kennelik ‘n
besondere sjef is, uitwerk hoé ‘n dis tot stand gekom het.
Sy steel met haar oë.
Toegegee, om elke dag Oosters te eet, word op die duur te
veel en ons almal skaterlag toe ons by die sewende dag wil rus en pizza bestel.
Gedigte-in-wording:
III.
My hart
eens in Noord en Suid
verdeel:
‘n bloedige Viëtnam-oorlog –
stryd, opposisie
word nou én én.
Nou streef ek
na versoening
van opposisies
uiterstes,
hede word verlede,
in die ervaring
van die heuglike nou,
maintenant, now
in dit wat was
se uitspoel in windstreke
van ‘n lewensreis.
IV.
‘n Reis
nes ‘n landskapvers
eis geduld;
‘n wagtou
deur sekuriteit,
‘n ondersoekbeampte
wat ‘n tas se inhoud
gadeslaan.
V.
Plante groei bó in betonblokke:
‘n liefdesmetafoor
om die onmoontlikheid
van ons liefde te beskryf.
‘n Man snoei ‘n boom
nes oortollige beelde
en herinneringe
kil, afstandelik
uitgegooi word.
Ek vermy – soos jy eis –
om oorlog te verklaar
en in ‘n bloedige loopgraaf
stelling in te neem.
Ek beskryf eerder die lotus,
Nelumbo nucifera
en my gedig
sal bly saadskiet,
betekenis uitwaaier,
lank na my en jou vertrek.
VI.
Vir oulaas
sien ek die skemer
oor Hanoi sak:
die rooi oog
van die son
bebloed.
Ek kyk af van die boonste verdieping van die hotel Demantoid
en sien die son sak. Ek probeer dit in ‘n foto vasvang, maar helaas dit word
skielik donker.
Post mortem:
Dis moeilik om die liggaam en psige te sinchroniseer. Die
vlees is gewillig… Die psige neem helaas langer om weer hier aan te kom, bykans
soos horlosies in ‘n hotel waar verskillende tye in stede aangekondig word.
Met my terugkeer kyk ek na die bekendste films oor Viëtnam.
Ek begin met The deer hunter, [9] Michael Cimino se klassieke film met Robert de Niro en
Meryl Streep. Dit is in 1978 die eerste keer vertoon. Die herkenbare landskap
maak die film des te meer ondraaglik. Die Russiese roulette-toneel bly steeds
ontstellend en Stevie (John Savage) se reaksie van amperse waansin, beklemtoon
presies hoe wreedaardig hierdie oorlog was. Die vuil varke wat in die grond
rondkrap, is ‘n duidelike simbool van hierdie misdadigheid.
Burgerlikes word in bunkers vergas deur Viëtnamese van ‘n
ander ideologiese oortuiging – wat ons terugneem na Žižek se analise van
hierdie konsep. The deer hunter is ‘n buddy-film: vriende wat mekaar bystaan
tydens die sinnelose oorlog en ‘n vriend wat met ‘n meisie trou wat swanger is
by ‘n ander man. Russies-Amerikaanse staalwerkers uit ‘n dorpie, Clairton in
Pennsylvanië, se wedervaringe in Saigon word in ‘n drieuurlange film ontleed.
En De Niro is die “deer hunter”, die een wat die bok doodskiet, maar ook sy
vriend met ‘n gebreekte been uit die water red en op sy rug dra. En by sy
vriend se vriendin betrokke raak. Na die oorlog kan hy egter nie ‘n bok
raakskiet nie. En die Russiese roulette uit die oorlog word herhaal wanneer hy
‘n vriend teister. En ten slotte is dit ook hierdie verdoemende spel wat Nick
(Christopher Walken) se einde beteken. En by die begrafnis word “God save
America” gesing, wat terugspeel op die banier in die eerste toneel, wat die
patriotisme van die gemeenskap beklemtoon.
Die film begin met ‘n troue en eindig met ‘n begrafnis.
Die film het indertyd vyf bekronings by die Amerikaanse
Akademie ingeoes en word steeds as ‘n klassieke oorlogfilm beskou. Die Russiese
roulette-toneel het indertyd groot opslae gemaak nes die dood van een van die
akteurs aan kanker, John Cazale, wat ‘n verhouding met Streep gehad het in die
werklike lewe.
En wie sal ooit die lied Cavatina, vertolk deur John
Williams, kan vergeet uit hierdie rolprent?
Tog was daar ontstoke kritici wat die film as rassisties en
eensydig beskou het. Ek is van mening dat die ideologiese aspek van die film
juis deur die simbool van Russiese roulette gekompliseer word: geluk of
ongeluk. Die film word egter deur sy besondere akteurs gedra en die feit dat
dit gaan om die werkersklasmense wat ingesleep word by ‘n groter ideologiese
oorlog waarvan hulle nie werklik die implikasies van kon begryp nie. Walken is
indertyd bekroon, ofskoon Streep en de Niro as uitstaande akteurs van hul tyd
uitgewys is vanweë hierdie film.
Full metal jacket
[10] is
Stanley Kubrick se unieke analise van hierdie oorlog. “In Vietnam the wind does
not blow, it sucks,” waarsku die poster van hierdie aanprypende en ontstellende
rolprent. Die film is in ‘n ander sleutel gemaak as The deer hunter.
In die eerste helfte van die rolprent word die strawwe
oefenprogramme met ons as kykers gedeel – met die ideologiese subjektiwiteite.
Die wrede offisier, Gunnery Sergeant Hartman, met sy beledigings en vergrype
verteenwoordig die ideologie van die tyd, soos Žižek tereg uitwys.
Die vetseun, die outsider, maak die offisier dood na vele
vernederings en pleeg selfdood: ‘n skokkende kommentaar op die posisie van die
outsider binne die gedrewe weermagswêreld. In die tweede helfte is die Marines
in Viëtnam. Matthew Modine, ene Joker, die hoofkarakter, is die fokalisator
waardeur ons alles waarneem. Nancy Sinatra se “These boots are made for
walking” kondig die tweede helfte aan.
Die hoofkarakter dra ‘n “peace”-simbool en op sy oorlogpet
staan daar: ”Born to kill”: ‘n duideliker voorbeeld van verwarring kan die
kyker nie vind nie. Hy is oorlogskorrespondent en die kyker beleef hoe daar
gelieg word oor die oorlog.
As hy uitgevra word hieroor, bely hy sy dualiteit in
navolging van Jung.
Die musiek dekonstrueer telkens die erns en lewer kommentaar
op die uitsiglose bestaan wat oorlog inhou.
Daar is angswekkende tonele van oorlogmaak en die effek
daarvan op jong mans. Kubrick lewer ook siniese kommentaar deur die uitsprake
wat die oorlogskorrespondent maak oor die redes waarom die oorlog gevoer word.
Die soldate is naïef. In ‘n toneel word ‘n Oosterse vrou opgeveil vir seksuele
avonture – teen betaling. Hier kom ras-stereotipes na vore.
“Put a nigger behind the trigger”, merk ‘n swart soldaat
sardonies op wanneer hulle die verkeerde rigting ingeslaan het.
Wanneer hulle in ‘n lokval gelei word, tree die waansin in
en bevele word verontagsaam. Hier is dit die volle impak van oorlog wat ontgin
word deur Kubrick.
Die koppesneller saai amok.
Soldate ondersteun ‘n sterwende buddy.
Hulle is almal “broos”.
Dan blyk die koppesneller ‘n jong meisie te wees waarmee
Kubrick dwingende kommentaar lewer op hoe alle mense deel geword van die
oorlog.
Ten slotte pleit sy dat hulle haar moet doodskiet, terwyl sy
bid tot haar god.
En dit gebeur – in die slot wat ‘n mens altyd sal bybly.
Uiteindelik het Joker die “thousand yard stare” en is hy dus nou ‘n werklike
vegter.
Die gebruik van byname is opvallend: om dalk te illustreer
dat vegter ander personas – soos Cowboy of Joker – moet aanneem om te kan
doodmaak?
Die film sluit met die sogenaamde Mickey Mouse-mars.
Is oorlog uiteindelik dan net ‘n spel?
Apocalypse now [11] van Francis Ford Coppola is in 1979 bekend gestel. Die
opera-aanslag van die film is alreeds uitgewys: Wagner se Rit van die Walkuries
en die slot waar Brando uit Eliot lees en The
Golden bough en From Ritual to
Romance gewys word, aktiveer eweneens ‘n primordiale lesing van die film
wat intense vrae oor die spanning tussen die goeie en die bose. Frazer se
beroemde studie en Jessie Weston se werk, soos die digkuns van Eliot, is
belangrike sleutels vir die begryp van die film. So beskou, is dit meer as ‘n
oorlogsfilm. Dis eerder ‘n intense analise van primordialiteit en dat die goeie
die “horror” sal oorwin. Martin Sheen, Marlon Brando, Robert Duvall en Dennis
Hopper lewer uitstaande vertolkings in hierdie film wat die oorlog se waansin
uitwys. Soos die bekende opmerking:”I love the smell of napalm in the morning”
– en hierdie reuk word geassosieer met oorwinning.
Playboy girls word ingevlieg om die soldate te vermaak.
Joseph Conrad se The
heart of darkness word getransponeer na die Ooste. Die musiek van The doors
is eweneens belangrik vir die begryp van hierdie rolprent.
Coppola maak ook ‘n klein verskyning as ‘n joernalis wat die
oorlog verfilm: “Don’t look at the camera, keep on fighting!”
Die “voice over” skep ook hier distansie, afstand soos in Full metal jacket.
Dis ‘n film met geweldige intriges: Sheen se hartaanval,
stelle wat deur die weer verwoes is, Coppola se ongelukkigheid met Keitel se
aanvanklike vertolking van Willard en hierom het hy Sheen verkies bó hom,
Pacino wat nie wou meedoen nie, uit vrees dat hy mog siek word, ‘n
onvoorbereide, oorgewig Marlon Brando…
Die dokkie van Eleanor Coppola, loon die moeite om al die
probleme raak te kyk – soos dat dit ook ‘n geweldige duur film was.
Cimino, Kubrick, Coppola, ‘n geweldige triade in die
filmkuns.
Veral die volgende films word as tersaaklike rolprente
beskou deur kritici:
* Francis Ford Coppola‘s Apocalypse Now (1979)
* Oliver Stone‘s Platoon (1986)
* Stanley Kubrick‘s Full Metal Jacket (1987)
* John Irvin‘s Hamburger
Hill (1987)
* Oliver Stone’s Born on the Fourth of July (1989)
* Brian De Palma‘s Casualties of War (1989)
* Robert Zemeckis‘s Forrest Gump (1994)
Joan Hambidge
Desember 2013
Verwysings:
1. Slavoj Žižek: The pervert’s guide to ideology. DVD. [http://en.wikipedia.org/wiki/Nelumbo_nucifera. Besoek 14 Desember 2013]
2. Reunification Palace [http://en.wikipedia.org/wiki/Independence_Palace. Besoek 24 Desember 2013]
3. Cu chi-tonnels. [http://en.wikipedia.org/wiki/Củ_Chi_tunnels. Besoek 14 Desember 2013]
4. Minh Mang se tombe [http://www.vietnamtourism.com/Hue/e_pages/lt_lminhmang.htm. Besoek 26 Desember 2013]
5. Thich Quang Duc [http://en.wikipedia.org/wiki/Thich_Quang_Duc. Besoek 24 Desember 2013]
7. Ryan O’Neill die Warhol-skildery [http://www.hollywoodreporter.com/live-feed/ryan-oneal-says-farrah-fawcett-667508]
Films:
6. Indochine
[http://en.wikipedia.org/wiki/Indochine_(film). Besoek 24 Desember 2013]
8. The Escape Artist [http://en.wikipedia.org/wiki/The_Escape_Artist_(TV_series). Besoek 14 Desember 2013]
9. The deer hunter [http://en.wikipedia.org/wiki/The_Deer_Hunter.
Besoek 26 Desember 2013]
10. Full metal jacket [http://en.wikipedia.org/wiki/Full_Metal_Jacket. Besoek 29 Desember 2013]
11. Apocalypse now [http://en.wikipedia.org/wiki/Apocalypse_Now. Besoek 30 Desember 2013]
Boeke:
Collins Vietnamese
phrasebook. 2007. Londen: HarperCollins.
Ruth Padel. 2007. The poem
and the journey. Londen: Chatto & Windus.
Henning Snyman. 1983. Mirakel
en muse. Kaapstad: Perskor.