Monday, January 13, 2014

Marié Heese - Vuurklip (2014)


Marié Heese. Vuurklip. Human R Rousseau, 2014. ISBN 978 0 7981 6376 7.
Resensent: Joan Hambidge

Marié Heese het ‘n huishoudelike naam geword met haar roman Die uurwerk kantel. Vir haar Engelse roman The double crown het sy in 2010 die gesogte Statebondsprys verower vir die Beste Boek in Afrika; daarna The Colour of Power: A Story of Theodora, Empress of Byzantium en sopas het Vuurklip verskyn. Elkeen van hierdie romans is in ‘n ander sleutel geskryf: realisties, dan histories en sopas, ‘n liriese verkenning van ons verlede.

Heese is ook digter:

“Haiku for Africa” (1997)

Vultures are circling.
Just to frustrate them, I shall
Survive one more day.

Vuurklip handel oor die lotgevalle van Land- en Seestamme aan die suidkus van Afrika ongeveer honderduisend jaar gelede. En dit is dan die eerste belangrike aspek van die roman: die argeologiese navorsing waar bekende en populistiese navorsing gebruik word soos Robert Ardrey, maar ook wetenskaplike kenners soos John Parkington. Die hooffiguur, Ama, wil Storievrou en Moetievrou word soos Maouma. Hiermee aktiveer die outeur dan die lang tradisie van die magiese bestaan wat ons onder meer terugvind in Eugène N. Marais se Dwaalstories. Die transformasie van die vrou van meisie tot die Eerste Ingaan neem ‘n mens na die cantadora en Jungiaan, Clarissa Pinkola Estés se klassieke teks Women who run with the wolves. Op ‘n verdere vlak word die magstryd uitgebeeld: wie gaan Hoofman Owerste word? Dan is daar die wyse Sjamaan en die sjamanistiese aktiveer weer die spanning tussen die sienlike en Onsienlike.

Dit vertel ook van die hoofkarakter wat wegbeweeg uit die Walvisse na die Visarend, want sy word verlos van pyn.

Visarende, walvisse, elande, grootvoete, horingstampers, kolbrakke, slange en ander diere aktiveer argetipes en die Afrika-tarot. Ook die betekenis van dans word geaktiveer: gebededanse, maanbloeddanse, reëndanse en heelmaakdanse (bl. 197).  ‘n Geboorteproses word helder en konkreet beskryf en die verlies van ‘n kind sit om die hart soos ‘n blou seningdraad (278). Die agterblad verwys na die betekenis van taboe binne die gemeenskap. Dit kan op verskillende maniere vertolk word: die betreding van die grot, maar ook die beskrywing van intens-vroulike ervarings soos maanbloeddanse. Hier aktiveer die outeur Freud se Totem en taboe en die simboliese rolle wat toegeken word aan vroue binne ‘n primitiewe gemeenskap. Die oortreding hiervan lei dan tot bestraffing of verlossing uit die verdrukkende gemeenskap.

Die roman word van ‘n handige lys van karakters (en geeste!) voorsien en die teks is in vier dele opgedeel: Die steelkwaad, Die diepste grot, Die woedende boom en Agterna. Dit is ‘n roman van primordialiteit en die verwysing na walvisse en die Boek Job (as motto) rig ‘n lesing wat ónder die oppervlakte beweeg. A.S. Byatt en Sodré, Ignês se bekende studie oor psigoanalise en narrasie het handig te pas gekom om die meervlakkige struktuur van vertelling te benader. Elke hoofstuk word deur ‘n naam vergesel en die roman is dus ouktoriaal, met ander woorde, saamgestel deur ‘n redigerende, interpreterende outeur. Hier tree die werklike outeur, Heese, dan ook te slotte in en verduidelik op ‘n sinryke wyse waarom sy die spesifieke taalgebruik ontgin het. Anton Prinsloo se Annerlike Afrikaans was dan die teks waaruit sy ryklik geput het.

Hierin vra sy tereg of oermense wel oor taal beskik het (2001: A Space Odussey van Stanley Kubrick kom in die gedagtes na vore) en die skywer verduidelik wat haar aannames behels. Besoekers aan sogenaamde primitiewe of oerruimtes, soos Machu Picchu, sal dadelik snap wat Heese vir ons verduidelik. Gedifferensieerde werktuie dui immers op gedifferensieerde taalgebruik (bl. 344).

Die skrywer bely ook dat sy woorde self geskep het soos weterig, by-been, bloruil, bloman waarvan die leser die betekenis uit die konteks kan aflei. Sy verduidelik ook die gebruik van abstrakte begrippe, die gebruik van ek-vertellers en is/het in plaas van wees en hê. Moenie oor dit kopvreet nie, is eweneens ‘n goeie uitdrukking!

Dis ‘n roman wat soveel vraagstukke aanspreek, maar dit veral as storie aanbied. Dit is ‘n Vuurklip, ‘n verhaal van transformasie en besinning oor die geskiedenis, identiteit, ras en taal. Dit sit ook diegene op hul plek wat haar in ‘n polemiek ewe familiêr as Ouma Heese aangespreek het.

Dit is op ‘n besonder vernuftige wyse ook ‘n antwoord aan diegene wat deelneem aan taaldebatte en niks begryp van hoe ónlosmaaklik identiteit aan taal gekoppel is nie.

Die roman bevat ‘n uitgebreide bronnelys wat vir die navorser van onskatbare waarde is.

Dit is ‘n besondere roman van ‘n uitstekende navorser én storieverteller. Dis ‘n boek van Job tot Jung; Ardrey tot Marean; van sjamanisme tot wetenskap.

Die titel aktiveer dalk ook reïnkarnasie (“Agterna”). Hierdie skrywer gee dikwels ‘n stem aan die stemlose vrou op verskillende maniere.

En of die “suspension of disbelief” werk in hierdie roman?

Die mening is ‘n dawerende ja! Hierdie skrywer imponeer, omdat sy soos ‘n dirigent wat ‘n groot orkes begelei die bladmusiek ken en haar eie interpretasie gee van ‘n bekende simfonie.

Bronne:

Byatt, A.S. & Sodré, Ignês. 1995. Imagining characters. Six conversations about women characters. (red. Rebecca Swift). Londen: Vintage, Random House.

Estés, Clarissa Pinkola. 1992. Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman. Londen: Rider.

Perera, Sylvia Brinton. 1986. The scapegoat complex. Toward a mythology of shadow and guilt. Toronto: Inner City Books.

Prinsloo, Anton. 2009. Annerlike Afrikaans. Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal. Pretoria: Protea.

Moira Richards. 2013. Review: The Colour of Power by Marié Heese. Besoek 26 November 2013


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]