Thursday, January 23, 2014

Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - vertaal deur Johann de Lange (2013)



Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. 'n Keur deur Craig Mackenzie en  Stephen Gray, vertaal deur Johann de Lange. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-6446-7/ISBN 978-0-7981-6447-4 (epub)/ISBN 978-0-7981-6448-1 (mobi)
Resensent: Joan Hambidge

In my hoërskooljare had ons 'n Engelse onnie wat vir ons Bosman voorgelees het. Met sy voete uitgestrek op die lessenaar voor hom het hy ons jong Afrikaanse kinders voorgestel aan die unieke vertelkuns van Herman Charles Bosman. So het hy nie alleen jong kinders vir die beste van Bosman gewen nie, maar het hy ook op die spel tussen Engels en Afrikaans aan ons voorgestel. En ons attent gemaak op die ironieë in sy verhale. Nou nog kan ek Patrick Mynhardt se vertolkings onthou en hoe ons in die saal gelag het vir sy  begeesterde vertolking van "A Bekkersdal marathon".

Sopas het Johann de Lange Bosman getransporteer van Engels na Afrikaans, pragtig uitgegee deur Human & Rousseau. The best of Bosman - daardie klassieke keur van Craig Mackenzie en Stephen Gray.

De Lange is 'n kranige vertaler. Besoek gerus sy blog Kaapse paragrawe. Hy begryp dat die vertaler ook die oorspronklike vorm moet eerbiedig. 'n Sonnet moet 'n sonnet bly; 'n distigon 'n distigon.

In die voorwoord vind die leser die volgende handige biografie:

Herman Charles Bosman is gebore in 1905 in Kuilsrivier naby Kaapstad. In 1916 het die familie na die Transvaal getrek, waar hulle hulle eers in Potchefstroom en daarna, in 1918, in Johannesburg gevestig het. Nadat hy aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Normaalkollege gestudeer het, is Bosman as ’n jong onderwyser gestuur na ’n plaasskool naby Zwingli in die Marico-distrik, van wat toe die Wes-Transvaal was. Dit was daar dat hy ’n gemeenskap ryk aan storievertellers teëgekom het – baasvertellers wat wonderbaarlike stories oor die Boereoorlog en ander onvergeetlike gebeure kon vertel.
Hy sou hierdie figure later verewig in sy eie oom Schalk Lourenskarakter. Sy verblyf in die Marico is skielik beëindig toe hy gearresteer en skuldig bevind is aan die moord op sy stiefbroer tydens ’n vakansie by die familie se huis in Johannesburg. Aanvanklik is hy tot die dood veroordeel, maar sy vonnis is versag en hy het vier jaar uitgedien in die Pretoria Sentrale Gevangenis.
Ná sy vrylating in 1930 het hy as joernalis begin werk en kortverhale begin skryf. Van sy vroegste werk was oom Schalk Lourens-verhale, wat hy deurgaans geskryf het tussen 1930 en 1951, die jaar van sy dood. In 1950 het hy die “Voorkamer”-reeks begin skryf, en het altesaam ongeveer 80 van hierdie stukke geskryf. Hy het ook sporadies stories geskryf wat hy in sy eie stem, as skrywer, aangebied het; hierdie stukke is in 2000 versamel as Old Transvaal Stories. Al drie hierdie vertelmodusse word in hierdie keur verteenwoordig.
Bosman het in Oktober 1951 skielik aan ’n hartaanval gesterf. Hy het slegs drie van sy werke in sy leeftyd in druk gesien: Jacaranda in the Night (1947), Mafeking Road (1947) en Cold Stone Jug (1949), sy tronkherinneringe.

Die voorwoord situeer die verhale ook vir die leser: die Oom Schalk Lourens-verhale, die voorkamerstories en dan die laaste verhale waarin 'n skrywer as die verteller optree. Daar word ook verwys na die distillaat van die mondelinge tradisie en iets wat hierdie talentvolle skrywer baie goed kom saamsnoer in sy eie aanslag. Die boereverhaal - boeregrap - is dan ook iets wat Bosman gebruik en Aucamp se "Vir vier stemme" (Volmink, 1981) is duidelik in gesprek met hierdie tradisie waarbinne Bosman gewerk het. Anekdote, kroegverhaal, "tall story" en geskiedenis word op 'n gesofistikeerde wyse aangebied vir die leser - wat Bosman tereg modern maak. Soos Mackenzie dan opmerk:

Bosman se stories neem hierdie hele greep geskiedenis in. Sy verdieping in sy agterveldse inkleding is dus slinks bedrieglik: Sy karakters is takhare, maar hul boerse wysheid en hul skepper se vermoë om hulle tydlose kwaliteite te gee, maak dat die stories wat hulle vertel vandag nog geldig is. Bosman se blywende gewildheid vir meer as ’n halfeeu is veelseggende bewys hiervan. Mag hierdie keur van sy beste verhale sy gewildheid nog baie jare laat voortleef.   (14)

*

Die vertaling van 'n teks behoort altyd die "grein van die stem" te behou, daardie relevante term van Roland Barthes.

"Makapan se grotte" - met sy politiek-inkorrekte aanslag en oordrywing - hou 'n mens gevange. Jy kan nie glo wat jy hier lees nie en hoe jy as leser ingesleep word by 'n komplekse verhaal wat die geskiedenis (Kruger en die Trekkers) aktiveer en die rassepolitiek van die tyd. Hoe swartmense saamgeveg het. In die navrante slot - wat besonder goed deur die inleiding voorberei word, ruk Bosman as't ware die stoel onder jou uit. Dit is 'n "buddy"-verhaal en die herkenning teen die einde, ruk aan 'n mens se hart en strot.

'n Goeie prosavertaling vloei. Die teks ruk nie. Dit is nie 'n letterlike vertaling nie en die vertaler transporteer die verhaal van een taalsisteem na 'n volgende. Dit moenie soos 'n melktrein wees nie; nee, eerder die sjinkansen wat blitssnel van een stasie na die volgende beweeg. Wanneer 'n mens die bronteks met die nuweteks vergelyk, kom jy onder die indruk van De Lange se talent as vertaler. Hy hou die leser in die palm van sy hand. Jy lees 'n vertelling en jy hoor dit en ek het een van sy stories vir 'n vriend hardop voorgelees om my punt te bewys.

Die leser word inderdaad deel van die vertelkontrak:

Dit het alles natuurlik baie lank gelede gebeur, sê ons vir mekaar in Jurie Steyn se poskantoor. Deesdae is die Marico baie anders, sê ons vir mekaar. Daardie ou boere het nie die voordele gehad wat ons vandag geniet nie, sê ons. Daar was geen Afrikanerbeestelersvereniging in daardie dae nie, selfs nie die Dwarsbergvarktelersvereniging nie, en jy sou nooit ’n voortuin met flappe gesien het nie – trouens jy sou geen voortuin hoegenaamd gesien het nie (130).

Johann de Lange se vertalings van Bosman is in die kol. Ek hoor nog steeds meneer Scholtz se dralende stem en sy lagbuie.

Wat 'n skrywer was / is hy nie en wat 'n puik stuk vertaling.

Bronne:

Roland Barthes. 1977. Image-Music-Text. New York: Hill and Wang.


Boeke deur en oor Herman Charles Bosman:

Mafeking Road and Other Stories: Anniversary Edition (1998)
Willemsdorp: Anniversary Edition (1998)
Cold Stone Jug: Anniversary Edition (1999)
Idle Talk: Voorkamer Stories I: Anniversary Edition (1999)
Jacaranda in the Night: Anniversary Edition (2000)
Old Transvaal Stories: Anniversary Edition (2000)
The Rooinek and Other Boer War stories (2000)
Verborge Skatte: Anniversary Edition (2001)
Seed-time and Harvest and Other Stories: Anniversary Edition (2001)
A Cask of Jerepigo: Anniversary Edition (2002)
Unto Dust and Other Stories: Anniversary Edition (2002)
My Life and Opinions: Anniversary Edition (2003)
Young Bosman: Anniversary Edition (2003)
Wild Seed: Anniversary Edition (2004)
Homecoming: Voorkamer Stories II: Anniversary Edition (2005)
Life Sentence: A Biography of Herman Charles Bosman, deur Stephen Gray (2005)
The Complete Oom Schalk Lourens Stories (2006)
A Bosman Companion: from Abjaterskop to Zwinglideur Craig MacKenzie & Tim Sandham (2011)
The Complete Voorkamer Stories (2011)


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]