En hier is ek
dan vir die herdenking van 9/11 in my hartstad. In Tokio het ek ‘n Pakistaner
ontmoet wat ewe snedig meen dat die hele 9/11 op die rekening van die
Amerikaners geplaas moet word.
“Dit was hulle
wat die vliegtuie in die Torings ingejaag het. “Het jy ooit ‘n lys van die
passasiers gesien wat omgekom het,” vra hy grimmig. “Wel, óns het.” En ja, daar
wás bomme in die geboue...
Die dood van
JFK, Diana, ander groot gebeure word altyd omgeef deur samesweringsteorieë. Dit
maak egter nie die impak van so ‘n ramp of dood ongedaan nie. Dit bly iets wat
altyd die bewussyn van die mensdom sal verander. Ek gaan tuis in die
Millennium-hotel.
Die Groot appel,
die stad-wat-nooit-slaap nie…
Ek spring
dadelik weg op ‘n hop on-hop off
Downtown New York verby die Empire, Chrysler en die Woolworth-gebou. En
natuurlik Ground zero.
Daar is vele toeriste wat die pre-museum besoek om hulself te oriënteer rondom die gebeure tien jaar gelede. Die bouwerk aan die nuwe bakens vorder flink en die New Yorkers lyk asof hulle die ramp van hulle afgeskud het. ‘n Ewige vlam brand ter herdenking en teen mure is daar blomme en die name van slagoffers.
Die volgende dag
keer ek terug om die volledige verhaal weer op ‘n program te beluister en die
onderhoude met mense aan te hoor.
Om die twee
groot waterruimtes met foutlose watervalle gebou waar die fondasies van die
Tweeling Torings was, is ál die name van die slagoffers in brons afgedruk. Jy
moet egter ‘n internet-bespreking maak – wat ongelukkig vol is tot einde November.
Ek soek die hoogste gebou en besigtig dit van bo.
Uptown New York
het ‘n ander gevoel. Die hop on
beweeg verby Central park, die lieflike kerke tot in Harlem en draai dan weer
afwaarts. Ek stop by die Guggenheim wat ongelukkig onder rekonstruksie is sodat
‘n mens nie Frank Lloyd Wright se gebou kan op- of afwentel nie. Net die
Kandinksy’s is beskikbaar en op die boonste vloer ‘n paar pop kunswerke soos ‘n
Andy Warhol-selfportret en ‘n paar Lichtensteins. ‘n Jong kind, ek skat haar
vyftien, raak met die verbystap aan ‘n Lichenstein. Pandemonium. Die
sekuriteitsbeampte gee die ma ‘n tongloesing. Ek is sélf verontwaardig. Totdat
ek buite kom en sien dit is ‘n vertraagde kind.
© Second Lives Club
‘n Mens word
deur kundiges begelei met oorfone om die verskillende fases te begryp en hoe hy
by herhaling teruggekeer het na dieselfde skildery en daaraan bly verander het.
As ‘n mens iets
van ‘n land se kultuur wil begryp, is televisie ‘n moet. Laatnag kyk ek ‘n
program wat Bio heet waarin mense hul
grusame ervarings bely. Dan is daar ‘n popsielkundige wat celebs se drome verklaar. Ek skaterlag oor die belaglike simboliese
analises wat almal glimlaggend vir soetkoek opeet. ‘n Verwringing van Freud wat
jou lank bybly. Glip na ‘n kanaal oor die mafia in New York. En dit is, soos
Coppola se Godfather-films, ‘n
belangrike analise van hierdie sub-kultuur in NY. Vandag is hy ook wynmaker in
Kalifornië en sy Merlot is aan te beveel!
Ten spyte van
New Yorkers se nurksheid en hul onbeskaamde gebedel vir tips om elke hoek en
draai, bly dit ‘n ongelooflike stad. Ek koop drie memento’s: ‘n Zippo met
Manhattan daarop afgedruk en twee speelgoedmotors: ‘n geel taxi en ‘n polisiemotor.
Op die laaste
dag kuier ek met ‘n vriend wat vir my 'n NYPD-pet persent gee. Ons stap laatnag
van kroeg tot kroeg. Om drie laai hy my af by die hotel en stuur ‘n sms: ”Hierdie
stad wat nooit slaap nie. ‘n Mite. Alles in Greewich Village is toe.”
Die volgende
oggend hoor ek hoe ‘n man ‘n Heineken bestel voor twaalf in die hotel: ”Jammer
meneer, geen drank mag voor twaalf op 'n Sondag in hotelle bedien word nie. Dis
‘n regulasie van die stad.”
Ek verlaat die
stad met betogers by Wall Street wat betoog teen die finansiële ongerymdhede
van die land en die pynlike realiteit van geboue wat onkeerbaar aan’t verval is
weens die resessie. Mense het die stad na 9/11 verlaat…
New York, ‘n meditasie
Tydens ‘n slapelose nag in die stad-wat-nooit-slaap
flikker ‘n advertensiebord ‘n beeld van ‘n stappende
mannetjie.
Vannag onthou ek die vele mense met roet oor hul gesigte
op die Brooklyn-brug, weg van die gemaal én twee geboue.
Eers die werklike gebeurtenis, dan die vele voorstellings.
Uit verskillende hoeke afgeneem, weergegee en vermenigvuldig.
‘n Vuur bly brand ter herdenking; foto’s teen mure,
blomme, kruise, onderhoude met naasbestaandes, hou
die herinnering lewend:
pyn is ‘n slaapwandelaar
waarvoor daar geen kuur bestaan, toe of nou.
‘n Polisiepet, een paar skoene en ‘n speelding
uitgestal in ‘n museum. Net die simboliek van skoene
maak sin: om aan te stap, beweeg, woordeloos te vlug
van hierdie sinnelose daad met geen beskerming
op daardie dag, genaamd 9/11, toe hierdie stad
vir ewig en altyd verklaar word tot ongeneesbare
insomniak.
New York as gedig
Akatalektiese stad,
jy is ‘n aksie-gedig,
veelstemmig met Greenwich Village
wat resoneer met Harlem,
‘n Hudson wat terugpraat met die East.
Stad van allusies en illusies,
jy laat jou nie maklik skandeer
óf verstaan nie. Op Lexington Avenue
begryp ek iets van jou leksikale veelheid:
in Central park staan ek vol onsekerhede
oor hoé om jou in ‘n vers op te som.
Skuilplek vir haweloses en magnate: Donald Trump
hou die blinkkant bo nes die Rockefeller met wapperende vlae.
Die World Trade tans herbou; ‘n aanval so getroef.
Maar jy val my telkens in die rede,
nes ek dink ek het jou onder die buigende knie.
Grimmig weet ek jy begryp Aposiopesis of ‘n weer-begin
as digterlike handgreep. Hierdie is my apostroof,
my groet aan jou: stad wat Auden tydelik huisves,
die grote Ginsberg se fantasieë versier
en Billy Collins laat kekkel en skater by kroegvoorlesings.
Vanaf die Brooklyn-brug kyk ek terug na jou:
ek neem afskeid vir ‘n vyfde, maar nie laaste keer.
Hartstad, dwingende stad, ingewikkelde stad,
my eerste elegieë het hier ontspruit;
ek sing vanaand die Westside-Blues.
Bronne:
9/11 For A Brief Moment, We Were All Just Americans | Redhead Ranting
John Snelling.
1990. The Elements of Buddhism.
Massachusetts: Element.