Wednesday, March 6, 2013

Martjie Bosman - Landelik (2002)



Martjie Bosman. Landelik. Protea Boekehuis, 2002. ISBN 1 86919 006 8.

Resensent: Joan Hambidge

Met haar debuut in Nuwe Stemme het Martjie Bosman uitgestaan as ‘n belofte. Haar debuut, Landelik (uitgegee deur Protea Boekehuis, tans ons staatmakeruitgewershuis vir die digkuns) bevat ‘n handvol sterk, onthoubare verse.

Digters uit sulke versamelbundels wil vanselfsprekend solo-bundels publiseer. By die meeste is die beste verse reeds ge-oes; by sommige, soos Bosman, is daar egter ‘n sterk poëtikale visie en blik op die wêreld wat ‘n enkelbundel moontlik maak. Die digter kyk na die ekologie, die mens se verbintenis met die heelal. Vir ‘n debutant skryf alreeds wég van die self (‘n bonuspunt) en veral die bespiegelinge oor die heelal bewys dat die digter ook iets te sê het.

“Laaste luiperd” is waarskynlik die sterkste vers in hierdie bundel en een wat getuig van ‘n duidelike talent. Fantasie, bespiegeling en skerp sintuiglikheid kenmerk hierdie vers. Die digterlike onbewuste in hierdie bundel val uit in ‘n kartering van die letterlike en fantasmagoriese wêreld (“Soektog van die eenhoring”). Dikwels is daar nog ‘n kinderlike verwondering te bespeur en juis hierom is die wrede pyn van hierdie land vir die spreker soms onhanteerbaar.  Die Afrika-gegewe word ook aangespreek, nie met hooghartigheid nie, maar met eerbied.

Die bundel kan dan op ‘n sekere vlak ook as post-kolonialisties getipeer word, omdat hier gekyk word na die identiteit van ‘ons’ binne Afrika (“Voorgangers”). Ook word die plaasdebat behandel in “Verskroeide aarde”, “Verraad”, “Graffiti”.

In “Gastehuis” word die stand van Afrikaans en die lotgevalle  van die Afrikaner ondersoek. Dit is vir die digter ‘n ‘verworde land’ wat verander en een wat vir die ongebore kinders min troos of uitkoms bied. Op haar beste is ‘n vers soos “Aand, Sendingstasie” wat ‘n melancholie, ‘n moment vasstulp. Dit is juis dit wat verswyg word, wat van hierdie vers iets kragtigs maak.  Dieselfde geld “Dorpsbegrafnis” met sy navrante slot. Die kortstondigheid van die lewe is die “pers van bobbejaanstert”.

Die religieuse verse in die vierde afdeling soos “Paaslied” en “By die Sondagmaal”  is treffend en “Kafka in die kombuis” gee ‘n metafisiese blik op die kakkerlak.  In hierdie afdeling word die goddelike in die klein voorwerp of moment raakgesien, ‘n soort spirituele klaarheid wat alles bepaal. 

Die gestalteverse in die vyfde afdeling (soos oor Lady Anne Barnard, Isak Dinesen, Albert Schweitzer, e.a.) is onthoubaar, maar almal ewe tegnies bedrewe nie. Bosman is op haar beste as sy oor die stiltes van situasies skryf of sub-tekste ontgin. Persoonlik verkies ek haar emosionele verse bó haar intellektueel-bespiegelende gedigte.

In die sesde afdeling is daar ekologiese of omgewingsverse aanwesig, waarvan “Laaste luiperd” uittroon bo alle verse in hierdie bundel.  Soos “Voorstad” wat bo die programmatiese politiek-korrekte aanslag van hierdie afdeling staan. Gedigte werk myns insiens juis as dit die waansin agter stelsels ontgin, nie politieke of sosiale stellings probeer maak nie.

Dis ‘n gawe debuut. ‘n Strenger keurdershand kon moontlik van die mindere verse, veral aan die begin van die bundel, uitgelaat het en ‘n bietjie langer wag, kon hierdie bundel nog sterker gemaak het.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]