Marius Crous. Brief uit die kolonies. Protea Boekehuis, 2003. ISBN: 1 86919 029 7.
Resensent: Joan Hambidge
Met sy digdebuut, Brief uit die kolonies,
ondersoek Marius Crous die postkoloniale diskoers. Dit is ‘n bundel wat sterk
inspeel op Antjie Krog se Lady Anne en die wit mens se problematiese verhouding
met die kolonie-land. Die fokus is die herkenbare (Suid)-Afrika, maar uit
motto’s word daar deeglik aangesny by die groter problematiek tussen moeder- en
kolonieland.
Die bundel word ook ryklik van motto’s en
aanwysings voorsien om die leser te lei na teoretiese tekste oor die onderwerp.
Die bundel is baie mooi uitgegee met kaarte
wat ook ‘n duidelike spel met Krog se poësie aankondig en die manlike diskoers,
en dikwels ook gay-diskoers, word hier uitgewerk. In hierdie opsig is Johann de
Lange se Nagsweet met sy bruuske, grensoorskrydende en kragtige poësie die
pendant.
Die postkoloniale diskoers kan ook nie van
die postmodernisme losgedink word nie. Said, Spivak, Ngugi wa Thiong’o en
verskeie ander teoretici se sieninge van verbintenisse is hier aanwesig.
Taalbeleide en die implikasies van skryf in ‘n taal van verdrukking word in
‘vergifnis’ beskou. Om te koloniseer het eweneens effek op die taal waarin
geskryf word en op ‘n venuftige wyse word hier aandag gegee aan die implikasies
van kreolisering. Ook in ‘nag’ – met sy verwysing na Ezra Pound - word die ‘taal wat ons praat’ ondersoek. Die
kragtige ‘briewe uit die kolonies’ is op sy beurt weer in gesprek met Antjie
Krog.
Ook die gender-diskoers word aangekondig:
soms word daar uit die perspektief van ‘n vrou gepraat; ander kere uit die
posisie van die kolonis of die (gay)-man. (Soos
“man in frokkie” wat inspeel op Louw en De Lange, die ampersand en al!)
Soos in die geval van Melanie Grobler se Die tye en swye van Hester H word die
leser bewus van ‘n skisofreniese aanbod. Verskillende stemme word gehoor en
gesprekke met ander digters word gevoer. Die leser word dus bewus gemaak van
die klein verskille tussen parodie, persiflage en pastiche. In ‘uitruik’ na De
Lange steek die vers sleg af teen die oerteks. Hierteenoor is die ‘ars poetica’
(na Auden) weer gevoelig en knap.
Dit is altyd noodlottig vir ‘n jong digter
om sterker digters in sy eie taal te parodieer. Die oerteks sal sterker
uittoring en Van Wyk Louw se ‘waarskuwing’ in sy “Ars poetica” “of te misdoen
in die skoene van die grotes” sal soos ‘n kerkklok beier. Ook kan die
intellektuele aanbod van verskillende intellektuele diskoers, soos ook gesien
word uit Johann Johl se Roulet, die poësie verdring of doodmaak.
Hierdie bundel problematiseer die siening
van die outonome teks, omdat gedigte opsetlik in-skryf op reeds bekende tekste.
Die brief kan dan ook gelees word as ‘n brief aan Groot Verseboek. Destyds het
Grobler se bundel kritiek ontlok en ‘n kritikus het sarkasties na die bundel
as ’n bloemlesing verwys. Crous wil kennelik postmodernisme-in-aksie illustreer
en hierdie soort bundel het altyd teenstrydige reaksies tot gevolg.
Waar hy wel sy ‘eie stem’ laat opklink, sou
‘n mens kan praat van belofteryk. Dikwels word die verstegniese aspekte nie
genoegsaam ontgin nie en die digter is kennelik oorweldig deur sy teoretiese
kennis. Vir die aanhanger van Harold Bloom is hierdie bundel ‘n plesier om al
die angstige invloede uit te wys en die kaarte van mis- en herlesings. Ook
Bloom se seminale studie Poetry & repression raak ‘n handige gids tot die
begryp van al digterlike en psigoanalitiese prosesse wat in hierdie bundel
opgesluit is. A map of misreading van Bloom sal waarskynlik ook iets oopmaak.
Tog wens ‘n mens daar was meer van die ‘breaking of the vessels’ te bespeur en
minder van die ‘kenosis’ en ‘apophrades’ in sy terme.
Marius Crous bied vir sy leser ‘n
interessante en opwindende spel in Brief uit die kolonies. Wanneer hy hom
oorgee aan die ‘waansin van die poësie’ is daar genoeg blyke dat die digter nog
‘n belangrike bydrae kan lewer.
As hy daardie kopreis sal onderneem deur
die ‘ongekaarteerde gebied’.
Kortom: dis ‘n bundel wat die ingeligte
leser sal behaag en skepties laat. Dis ‘n ja en ‘n nee.’n Miskien en tog
wel-bundel.
Crous moet hom losmaak van Krog soos die
kolonie sig altyd losmaak van die moederland.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]