Kleinboer. Kontrei. Uitgewery Praag, 2003. ISBN 0 9584635 4 9.
Resensent: Joan Hambidge
Kleinboer se debuutroman Kontrei (met sy
plat woordspeling) geniet wye media-dekking. Moenie dat dit jou as leser
vervreem nie, want dikwels kan lesers juis boeke wat oorbelig word as ‘n soort
leesversperring ervaar. Dit was destyds die geval met Triomf.
Kontrei is ‘n belydenisroman. ‘n
Outobiografiese vertelling van ‘n soekende ek wat aan sy tweelingbroer die
storie vertel. ‘n Mens kan dit as ‘n parodiese antwoord lees op Hettie Smit se
Sy kom met die sekelmaan: Maria/Marie se analise van onbeantwoorde liefde en
haar verdrietige verliteraturing daarvan. In Kleinboer se roman gaan dit oor
besoeke aan hoerhuise en die die soektog
na die uigestelde O. Kleinboer is ‘n soort Henry Miller-figuur wat die fallus
verheerlik en die leser blootstel aan die bestaan van die soekende, wandelende
ek.
Geplaas teen die moderne Johannesburg –
Yeoville en Hillbrow – kom motorkapings, Vigs, die lewe in ‘n moderne stad,
liefdeloosheid, geweld, en al die onsekerhede van ‘n grys bestaan na vore. Die
romantitel is ironies, omdat dit ‘n soort plaas-idille wil oproep. Maar
Kleinboer woon in die stad, ofskoon hy dikwels tuin maak en filosofeer oor die
betonoerwoud waarbinne hy hom bevind en wat hom frustreer.
Hy maak ook spelfoute in hoerhuise reg en
gereelde lesers van Litnet se briewekolom sal die werklike skrywer se
beheptheid met woorde alreeds ken. Dit is dan in die eerste instansie ‘n
skrywer wat jou bewus maak van die skryfproses en soos in die metaroman dikwels
gebeur, verneem ons teen die einde dat ons die beoogde roman sopas gelees het.
Dis ook ‘n roman wat bewustelik inskryf
teen die plaaroman se kodes van die boer op die land. Hier is die boer ‘n
cruiser wat hoerhuise besoek en sy voorkeur vir swart vroue uitspel. Wanneer hy
by geleentheid emosioneel betrokke raak, ondermyn dit die hele jag(s)tog. Ook
die verhouding met sy swart huisgenoot en haar kind, wat hom Daddy noem, word
besonder goed verbeeld. Hy is die jagter, maar wanneer sý dalk ontrou mag wees,
raak hy jaloers op die man wat besoek aflê. Op ‘n deernisvolle manier word die
verhouding met die kind beskryf en die woedeuitbarstings tussen die twee
huisgenote is driftig. Sy noem hom ‘n Boer in woede en die leser word betrek by
al die pynlike misverstande in ons samelewing.
Nie alleen is dit pakkend en goed geskryf
nie, maar ek dink die leser word ook betrek by ‘n eerlike bekentenis. Wees net gewaarsku: die ‘naked I’ is dikwels
die mees gedistansieerde verteller denkbaar en hoewel ons dikwels sy fallus
sien is daar maskers en intertekste ingebou om afstand te skep. Die verwysings na die jeug is hartverskeurend
(veral die vader se reaksie op ‘n swart huwelik) en Bybeltekste verïroniseer
die huidige verloedering. Die skrywer is
dieselfde jaar as hierdie leser gebore en baie subtiele retro-verwysings kan
dus met ‘n glimlag waardeer word. Die ou en nuwe Suid-Afrika word baie slim
teenoor mekaar geplaas en die seun se opstand teen die stoere vader (wat selfs
die toiletgewoontes wou beheer om water te spaar), word knap verbeeld.
Een leser mag nooit namens ‘n ander leser
praat nie, maar ek meen die boek se krag lê in sy eerlikheid opgesluit en die
varse, nie-studeerkamer-agtige prosa wat dikwels sieldodend is nie. Hy skryf
uit sy ‘gut’. Miskien selfs verder af, sou ‘n mens speels kon aanvoer. Tog is
dit terselfdertyd ‘n slim boek vol verwysings
en sydelingse klappies. Koos Kombuis is daar; ook ander herkenbare mense word
by die naam genoem.
Dis nie ‘n boek wat jou ‘opwerk’ nie;
daarvoor is dit te slim geskryf en word te veel intellektuele kwessies soos
identiteit, taal, herkoms, die dood betrek. Ook is daar ‘n soort “sonde met die
bure” ter sprake wanneer die honde in die buurt stilgemaak moet word. Daar is
‘n blik op die absurde in die lewe: hy woon ‘n Jim Rose-vertoning by en lag vir
sy eie seksbeheptheid. Waarom “cruise” hy? Kleinboer se roman openbaar
dieselfde obsessie as wat ‘n mens in Nagsweet van Johann de Lange kry: die
opstand teen die vader, die soeke na die self, die onvermoë om die nostalgiese
jeug en die harde werklikheid te versoen dalk. Kleinboer wys meer as sy
ploegskaar.
Praag het hierdie roman gepubliseer en
gerugte doen die ronde dat Naspers dit afgekeur het. Sal daardie redakteur
asseblief opstaan en verduidelik waarom vrot, lewelose boeke bó hierdie
kragtoer verkies is? Dis nou as jy uit jou skaamte kan opkyk.
Uitgewery Praag: Posbus 3103, Dainfern,
2055
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]
I think it may be a solution to your question as to why Naspers ... if the name behind the "kleinboer" gets considered. Don't know, I think that is why. And, I don't think these subjects gives my soul any, any sort of comfort neither do I think it a speciality to philosophize about. Why not rather do a philosophical writing and say so? Again, my personal feeling.
ReplyDelete