Johnita le Roux. Een vir die Wolfskof. Lapa, 2004. ISBN:
0799 3 3315 8.
Resensent: Joan Hambidge
Een vir die Wolfskof van Johnita le Roux is ‘n pakkende roman waarin ‘n
vroueskrywer inbeweeg in die manlike domein. Die wêreld van die plaas en veral
die soldaat word hier oopgemaak. Die roman speel in 1995 af en ‘n soldaat uit
die Ou-Suid-Afrika beleef ‘n ernstige depressie. Sy vrou besoek ‘n terapeut en
die effek van sy gemoedstoestand word op ‘n openhartige wyse beskryf. Hy is onder
andere impotent en die effek hiervan op sy vrou en homself word uiters
aangrypend beskryf.
Ook roep die
verteller hulle vorige lewe in herinnering en hoe alles verander het. Die lot
van die wit man word dus hier vanuit die perspektief van ‘n vrou (‘n baie
vernuftige strategie) onder die loep geneem.
Die ervaring van die eens magtige patriarg as ‘n nou impotente (op
fisiese en geestelike vlak) is waarskynlik een van die belangrikste temas van
hierdie roman. En dit kry natuurlik ‘n ekstra dimensie omdat ‘n vrou hieraan
stem gee. Soos wat Marlene van Niekerk inbeweeg in die domein van die
plaasroman in Agaat, skryf Le Roux
oor veeboere en droogte. Dit gaan hier om die soeke na water wat natuurlik ook
geestelike energie impliseer. Die letterlike reis word ook ‘n geestelike soeke
of reis wat met primordiale krag gelaai word. Ook is die tema van die plaas ‘n
hoogs emosionele onderwerp; nes die indertydse grensoorlog en in Dine van Zyl
se Slagoffers is daar eweneens ‘n vars blik gegee op hierdie oorlog.
Een vir die Wolfskof is ‘n soort
metaroman waarin die leser ook toegelaat word in die binnekamer van die
skrywende instansie. Die grense tussen werklikheid en fiksie en tussen
historiese verlede en nou, word goed so in jukstaposisie geplaas. Ook die
verhouding tussen terapeut en pasiënt word goed ontgin en die teks word deur
Jungiaanse tekste begelei. Dit is wat my
betref die sterkste aspek van die roman, hierdie Jungiaanse en primordiale
soektog na die self. (Wolfskof dui ook op Women
who run with the wolves, teks waarin die Jungiaanse interpretasies van die
onbewuste gekoppel word aan bepaalde argetipes.)
Daar is baie vernuftige
aanwysings soos dat die uitslag van die terapie bepaal sal word deur wie die
sterkere blyk te wees in ‘n hierdie komplekse verhouding. Ek ken min romans
waarin die uitsigloosheid van ‘n problematiese verhouding so eerlik en skrynend
verwoord word. Impotensie en emosionele geweld word uitgelap in die openhartige
terapie-sessies en die leser kry ‘n verdere binneblik op dit wat vertel en
veral verswyg word. Die leser is dus by uitstek ‘n soort afloerder of voyeur
wat intieme belydenisse uit die terapie-sessies en die skryfproses meemaak. Dit
word verder gekompliseer deur die Jungiaanse verwysings. Die leser moet self al
die drade bynmekaarplaas. Uiteindelik sal jou lesing iets verraai oor jou
onbewuste suggereer die ryk-geskakeerde teks.
Lapa uitgewers bemark die boek met drie uitroepe: “’n
Moord in die familie. ‘n Antieke stukkie buit. ‘n Vloek” wat jammer is, want Le
Roux is nie meer volledig ‘n populêre skrywer nie. Sy het enorm ontwikkel vanaf
haar eerste boek, Die dagstêrwals.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]