I.L. de Villiers. Jerusalem tot
Johannesburg. Tafelberg Uitgewers, 2005. ISBN 0 634 04341 X.
Resensent: Joan Hambidge
I.L. de Villiers is ‘n besonderse digter in
Afrikaans. Hy dig, soos sy voorgangers, Totius en Sheila Cussons, oor die
religieuse dimensie. Op ‘n konkrete wyse versoen hy die metafisiese en aardse,
die kenmerkende paradoks van hierdie besinnende vers. Dit bly nie net by praat,
wonder of filosofeer nie, maar dit word ‘n belangrike ervaring van die lewe se
wonders, ontnugteringe en natuurlik, die dood.
Reeds die titel Jerusalem tot Johannesburg,
vang iets op van die paradoks in sy digkuns: van behoort tot sowel die
religieuse as die aardse. In 1981 is sy werk met die Credo-prys bekroon en De
Villiers is ‘n digter wat imponeer, veral met hierdie bundel waarin ons blyke
vind van ‘n vakman wat knap met tegniese middele omgaan, soos halfryme,
woordspelings en vorme (soos o.a. die moeilike distigon).
Die openingsgedig “Gouepoort Jerusalem” wys
op die spanning tussen verskillende godsdienste en oorlog:
Die roep van imams raas ‘n swerm spreeus
op.
Vier vaalgroen tenks rusper verby die poort,
en stop.
Die huidige politieke ongerymdhede word
verwoord in die ironiese “Klein ballade van Oom Dawid Liefie-hulle”. Die
nostalgiese aanslag, kenmerkend van die digter, word in “My straat” verbeeld
waar die digter besef:
My straat, jy’s aards en heilig, maak my
bang.
Ek is van ruimtes, iewers, en verlang.
In die tweede afdeling word die ervaring
van Johannesburg beskryf: enersyds nostalgies, waarderend; andersyds afwysend
met die verwysings na die mens se ervaring van die droogte en hoe plante verlep
in hierdie genadelose hitte waar, ironies genoeg, net die stapelia uit Afrika
kan oorleef. Die blomme – soos beskryf in “Stadsdroogte” met Totius se Trekkerswee
as interteks – vergestalt die mens se onbehae met ‘n lewe wat uitmergel en
beproef.
Die wêreld is beslis ons woning nie, word
daar saam met Totius gepraat in ‘n bundel waarin die melancholiese aanslag ook
opval. In hierdie verband is die lykdigte in die bundel pynlik: die uitkenning
van ‘n lyk en die vraag na hoekom Anne Fitzgerald Jones in Wallis gsterf het
aan ‘n gebroke hart, som sy mymerende toon op. “Graf in Wallis” praat met o.a.
Dylan Thomas saam en herskep iemand se lewe deur ‘n gedig oor die persoon,
selfs onbekend, te maak.
By die begrafnis van Cussons het hierdie digter as
predikant opgetree en dis dan duidelik hoe waarderend hy was vir haar werk en
op ‘n speelse wyse is daar ‘n vlieg wat oor sy boek loop! Die gesprek met
Cussons se gedig word uitgebrei in ‘n ander vers waar hy vra dat die geliefde
digter, wie se eensaamheid hy so begeer het, veilig by God sal aankom.
Die aktuele laat die digter ironies en
sinies reageer: in “Hierdie huis” en “Vreemdelinge verby Highveld, Londen” wys
op hoe pynlik ontheemding is vir mense wat steeds verbonde bly aan die
Afrikaanse kultuur en leefwyse. Behalwe Totius en Cussons (o.a die gesprek
tussen Abélard en Héloise!) se aanwesigheid, is daar verwysings na Olga Kirsch:
Hoe het dit skielik laat geword?
Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?
‘n Gedig soos “Op die berg” aktiveer Kirsch
se voortreflike ervaring van stilte en verlange.
In “Blitsbesoek” neem die digter afskeid
van die dorp en sy eie verlede; dit word ‘n pynlike kartering van hoé die
verlede aan ‘n mens knaag en jou vorm tot wie jy is. Dat jy dit ironies genoeg
nooit kan ontglip nie. Hierom, waarskynlik, wil die gelouterde mens eenvoudig
sterf, sonder gebaar. Net met ‘n Bybel op sy bors soos ‘n hawelose...
Daar is voortreflike satires (soos die
klein reeksie oor Afrikaans), ‘n speelse analise van die oud-redakteur in
gesprek met skilders en ‘n prag-vers oor ‘n dominee wat ‘n (half)-Chinese kind
doop en bewus word van die goddelike...
Dit spreek vanself: dit is ‘n puik bundel
waarin die lewe in al sy fasette helder en oortuigend verwoord word.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Fine Music Radio geplaas.]