Saturday, September 8, 2018

Resensie | W.L. van der Merwe - Doodmenslik (2018)

Doodmenslik - W.L. van der Merwe. Protea, 2018. ISBN 978 1 4853 0895 9

Resensent: Joan Hambidge

I

Doodmenslik is die solo-debuut van Willie van der Merwe wat in Nuwe stemme 3 gedebuteer het. Van sy verse is opgeneem in Groot Verseboek (2008).

Die buiteblad-ontwerp van Strijdom van der Merwe, “Rangskik groen takkies op verlepte blare” (Terschelling, Nederland, 2008), wil dalk suggereer dat lewe spruit uit verrotting? Dat daar na die vermolmde blare tog weer lewe kan wees; al is dit net in 'n kunswerk?

Kom ons val sommer met die deur in die huis. Dit is 'n ongelooflike debuut. Dit tref in die solar plexus. Ontnugtering oor godsdiens, politiek, afleggings (die verlede en van geliefdes) en genderpolitiek, word in sterk, sober verse beskryf.

Die programvers is die bekende gedig (“voortaan sal ek winterskemers vleilangs loop...”) wat Laurinda Hofmeyr, daardie musikale wonderkind, so treffend getoonset het.  

Die digter is 'n teoloog en doseer godsdiensfilosofie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam. Hierdie biografiese besonderheid is belangrik as sleutel vir die begryp van die religieuse verse wat sowel ontnugterend as skokkend is (altans vir hierdie leser). God word aangespreek en verwyt oor sy stilte en afwesigheid tydens Auschwitz. In hierdie verband praat hy direk met God in “reisadvies vir God” (48).

Dit is 'n bundel van die melancholie.  Daar is voortdurend 'n soeke na antwoorde; selfs 'n “helpdesk” by die universiteit kan nie help nie.

Stilte ...

Hierdie soeke word telkens gefnuik.

II

'n Gedig word in Nederlands en Afrikaans langs mekaar geplaas; waarskynlik om die dubbelbestaan van 'n hier teenoor die verlede te plaas. Daar is 'n parodie van A.G. Visser. Die digter skryf vormvaste verse. Van Wyk Louw word aangespreek in “naspel 2006” (17). Nou word die wingerd gevloek en die onreinheid van menswees beken.

Die digter eksperimenteer met vorme (soos die villanelle), en Celan se bekende “Todesfuge” (44) (wat al etlike vertalings, bv. deur Helize van Vuuren, en herdigtings in Afrikaans beleef het), word so herskryf:

Fuga in swart
na “Todesfuge”, Paul Celan

swart melk drink ons elke dag
verstik in die beker van mond tot mond
grou die dooier van die maan elke nag

soggens verskril die son tot ʼn klag
roet en as grys neer na die grond
swart melk drink ons elke dag

die dag skrikkel tot laat in die middag
ʼn brandsiek hond wat lek aan sy wond
grou die dooier van die maan elke nag

vergete die klank van kinders wat lag
die gestrikte haarlokke bruin en blond
swart melk drink ons elke dag

hoe lank moet ons nog wag?
het Hy vergeet van ons verbond?
swart melk drink ons elke dag
dood die dooier van die maan elke nag

Die bundel bevat ook besinnings oor die digterskap soos onder meer in “die laaste gedig” (9):

die laaste gedig

professore, doktore, kokkedore en ander koolore
die titel van my gedenklesing vanaand is:
“Die laaste gedig”

Ter inleiding: die laaste gedig is nog nie geskryf nie
Premis 1: die laaste gedig sal lig werp op wat onsegbaar is
en dit daarby laat
Premis 2: dit sal ʼn gedig wees sonder woorde en metafore,
beeldspraak, metrum of rym, sonder sintaksis
of lettergrepe
Konklusie: ʼn gedig sonder taal, ʼn gedig in wit
strepe op papier sonder verband of betekenis
net ʼn leesteken hier en daar wat sinjaleer:
hier is die graal van stilte in git

III

Daar is selfspot oor hoe die digter lyk as middeljarige, en hetero-erotiek word onbevange beskryf, onder meer in “peepshow in Amsterdam” (35).

In “pirates of the Caribbean, Amsterdam” (33) word die pornografiese verbeelding (via Susan Sontag) ontmasker.

Hierdie verse sal waarskynlik politiek-korrektes en sekere feministe ontstig; hierdie leser meen dis sterk, eerlike verse.

Goeie poësie is selde polities-korrek.

IV

Die aangrypendste gedigte is sy lykdigte oor sy vrou en moeder.  En die gesprek met die vader na sy dood. 

Geen mens gaan net dood nie; veral nie as hulle verewig word in lykdigte nie. (Die bundel word opgedra aan die digter se vrou, Lettie wat in 2017 oorlede is.)

Ons dans met die dood 'n pas de deux, maar hierdie dansmaat sal uiteindelik die kalklig steel. Die hier-en-nou, die oomblik is belangriker as die dogma. Hierin lê die troos en hoop (90):

Troos en hoop

jou oë is so groenig-grys
soos dennebos en tortelduif

jou hare is so bruin-verby
soos koffieboon, barlinkadruif

jou hande so deurskynend-sag
soos spinnerak of nartjieskyf

jy’s woud en waterval
brood en hanepoot
maar bowenal
in lewe en in sterwe
my laaste troos en hoop

maar dan met plaasbotter
en stroop

V

Toevallig meld Johan Myburg se Kontrafak (Human & Rousseau, 1994) hom weer aan in 'n doseerverpligting.

Hoe hierdie twee verse oor die dood praat, is opvallend: verskillend en soms ooreenstemmend.

Beide digters spreek religieuse kwessies aan. By Van der Merwe is dit sinies, selfs woedend. Beide digters worstel met metafisiese kwessies. Myburg het tereg sopas die ATKV-veertjie ontvang vir Uittogboek wat die slotvers “Kodosil” (75) verder neem.

In “Grammatika” (36) vra Myburg;

Kan krappies op papier
die lading dra as kode
vir kontak met die gode?

In “optelsom” (51) antwoord Van der Merwe:

Jesus min my
tel my op
maal my, deel my
tot ek klop

By Van der Merwe is daar vrye verse, 'n spel met die villanelle en ballade. Daar is ook 'n blik op Marlene Dumas en wyle Adriaan van Zyl. Metaverse en klein ars poeticas.

'n Bundel vir nadink en vele besinnings oor die digkuns.

Doodeerlik meen ek dis 'n belangrike debuut.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, September 6, 2018

Rubriek | Danie van Niekerk 90

Danie van Niekerk en ek loop 'n lang pad saam. As jong digter stuur ek vir hom ewe vermetel gedigte uit Skandinawië wat later in my bundel Geslote baanin 1988 opgeneem word. Hy reageer per brief en vra ek moet nog stuur.

Voor die publikasie van die bundel is ek eendag in Kaapstad en laatmiddag ontmoet ek hom in sy kantoor saam met die befaamde meneer Jürgen Fomm.

Ons sit by 'n ronde tafel in sy kantoor en hy skink vir my 'n whisky en gesels met 'n jong digter oor reis en die digkuns asof ons gelykes is. Die volgende dag gaan eet ons by Rozenhof en hy behandel my asof ek 'n belangrike skrywer is.

Ons deel twee passies, ek en hierdie gentleman: reis en goeie kos met wyn.

En ons word vriende.

Deur die jare kuier ons gereeld saam (met sy sjarmante en slim vrou Anneke) en hierdie skerpsinnige man kan in een gesprek deurdring tot die essensie van 'n saak.

Taalkwessies kom dikwels aan bod en op 'n keer vertel hy my as 'n jong aansoeker by Tafelberg Latyn as skoolvak gehad het, is hy of sy summier aangestel.

Hy het groot skrywers uitgegee en dit is algemeen bekend dat hy die manuskripte (saam met sy redakteurs) gelees het. Hoeveel skrywers het hy nie ontdek en gehelp nie! Ons dink gewoon net aan T.T. Cloete.

'n Fout sal hy bepaald oppik en jou daarop attent maak.

Sy diskreetheid is 'n belangrike karaktereienskap. By geleentheid had ek veel te segge oor 'n skrywer se gedrag wat my irriteer. Hierop reageer hy ferm. Hy wil nie deelneem aan die gesprek nie; dit was sy skrywer.

Uiteraard het ek apologie aangeteken en met waardering gedink dat so 'n soort mens dun gesaai is.

In 2002 verskyn Ruggespraak(by Protea) ek dra dit o.a. op aan hom en Anneke. 'n Klein blyk van waardering.

Ons gesels ook oor goeie films en gee vir mekaar titels deur.

Toe hy en Anneke verskuif uit hul huis in Oranjezicht na 'n aftree-oord, skenk hy sy groot plateversameling aan my. Sy kennis van klassieke musiek moet eweneens vermeld word.

In 'n brief gedateer gedateer 29 November 1987 beklemtoon Elize Botha die bedagsaamheid van die Van Niekerks (Elize Botha – gespreksgenoot – 'n brieweboek saamgestel deur Heilna du Plooy uitgegee deur Litera, 2017).

En die wonder van vriendskap.

Ek drink op jou 'n ottermaklottertjie, Danie!

© Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Tuesday, September 4, 2018

Resensie | Helen Moffett – Prunings (2016)

Helen Moffett – Prunings. uHlanga Press, 2016. ISBN 978 620 72299 5

Resensent: Joan Hambidge

I

Helen Moffett was een van die digters wat opgetree het by die McGregor-fees.

Helen Moffett het in 2009 debuteer met Strange Fruit. Haar tweede bundel Prunings het in 2016 verskyn en is alreeds in ’n tweede druk. Hierdie tweede bundel verdien nou weer aandag. Op die binneflap word dit getipeer as “tentative moments and emotions, rendered in fleeting and experimental forms”. Dit is een van daardie bundels waar ’n gedig jou raak en met elke herlees verder bekoor.

Die temas wat ondersoek word, is bekend aan die digkuns: die liefde, die dood, ’n eks-lover, besoeke aan vreemde ruimtes, die natuur (voëls en see), portretverse (lieflik oor die Sisulu’s en uitstaande oor Tatamkhula Afrika wat heet “Birthday in the Bo-Kaap”, 38), en gesprekke met die digkuns. Sy skryf eweneens oor siekte en terapie. Sy verken dus sowel die binnelandskap as die buite-landskap van die natuur. En in ‘n politieke vers “Christmas Eve, Mouille Point, 2004” (34) kyk sy na ‘n vrou wat haar voete was by ‘n kraan op die strand.

Sy beskryf die wasproses as “clumsy pavanne of hygiene” en in hierdie waarneming sien sy hoe die vrou haar hele liggaam was met koekie pienk seep; die soort wat gebruik is om stoepe mee af te was toe die spreker ‘n kind was. Die gedig sluit:

This woman, to whom
ten much-vaunted years
have brought precisely this much:

a public tap on a old whites-only beach.

In die portretvers lees die digter en Geoffrey Haresnape (eweneens ’n belangrike digter hier te lande) ’n vers vir Tatamkhulu Afrika. ’n Man wat, wanneer jy hom ontmoet het, jou bekoor het met sy onopgesmuktheid – ’n ware digter.

Tatamkhulu se gedigte mag nie “for sale wees nie, maar hyself is heeltemal bereid om geld in die vorm van pryse te vat. Speels, grappig – soos hy was, maar ernstig oor geregtigheid en die digkuns.

En die gedig eindig:

Now the stars he collected in his haversack
fly swooping and singing around his soul. (39)

II

Die voorblad deur Ellaphie Ward-Hillhorst, die botaniese kunstenaar, verraai alreeds iets van die snoeiwerk-metafoor in die bundel. Moffett se vader, ’n botanis, het met Ward-Hillhorst as illustreerder van sy boeke saamgewerk. Na haar dood het John Rourke van die Nasionale Botaniese Instituut hierdie kunswerk vir Moffett se vader gegee.

Dit is ongeteken, onvoltooi – ’n kode vir die lees van hierdie gedigte wat weifel tussen voltooiing en dit-wat-jy-nog-wil-sê.

In “Salvage” (46) word ’n gedig se reëls Derrideaans “sous rature” geplaas: iets word tegelyk behou en gekanselleer wanneer ’n mens dit deurhaal.

Pain is like provisional tax:
it's not just that there’s no escaping paying;
it’s the onerous, inexorable chore
of keeping account, nitpickingcalculating costs,
a reckoning demanding my full attention,
no matter how I shuffle the paper.

Jacques Derrida se Of Grammatology wat oorspronklik in 1967 verskyn het, en in Engels uitgawe in 1976 (vertaal deur Gayatri Chakravorty Spivak) verduidelik die konsep van iets behou en problematiseer. Die gedigte illustreer dekonstruksie en die spel tussen absence/presence.

Moffett gebruik hierdie konsep vernuftig in haar gedigte. Reëls word deurgetrek, uitgewis, maar behou: op verskillende maniere. Soms as ’n nawoord wat die gedig laat voortstu (“St. Patrick’s, Bridgetown”, 13) of in “Kalk Bay, April” (19) word die woede geskrap. ’n Tersaaklike gegewe wat wys hoe ’n gedig dikwels soomloos en rustig lyk, maar deur woede aangestig word.

Ons sien waarskynlik ook hier vir Moffett as teksredakteur in aksie, as ‘n persoon wat moet skrap en ander woorde vind.

Daar is ook humor aanwesig, soos in die beskrywing van ‘n besoek aan die Taj en goeie slotte wat dikwels ‘n ironiese wending impliseer. 

Sy skryf ‘n biografie oor die Sisulu’s en kyk ten slotte ‘n krieketwedstryd saam met hom. (Terloops, sy was mede-outeur van ‘n boek oor krieket saam met Tim Noakes en Bob Woolmer: The Art and Science of Cricket.)

III

Moffett is 'n feministiese aktivis, en vind in die gedig "Wisdom" (33) aanklank by Antjie Krog. Sy praat ook met vele mede-digters soos Gus Ferguson, Geoffrey Haresnape, Tatamkhula Afrika, o.a. 

Gaan kyk hoe spot sy met 'n liefdesvers vir die eks-geliefde. Baie slim!

In ‘n pynlike tweereëlige vers word geweldig baie geintimeer.

Thief 

For Steve de Gruchy 

What the river seizes,
it holds.  (40)

Die verdrinking van John de Gruchy se seun, bekende professor in Religieuse Studies aan UCT, resoneer ook met ander gedigte oor die dood, soos die navrante “For a Woman who Befriended Me After She Died” (43).

Hier wonder sy of daar dalk ‘n nuwe titel moet wees? Daar is immers die ironie dat die gaste by die troue kort daarna haar begrafnis moes bywoon.

IV

Die uitgewersbrief som die bundel so op:

Where do unfinished poems go – the early buds, the offcuts, all of the blooms that can't be bunched together? In this beguiling bouquet of travel poetry, diary fragments, letters, works-in-progress and retrospection, Helen Moffett offers us a rare look into the workings, misfirings and triumphs of a literary mind. A collection of tentative moments and emotions, rendered in fleeting and experimental forms.

Beter kan hierdie leser dit nie stel, behalwe dat dit in die tentatiewe, die vergete oomblik daar juis onthoubare verse ópgevang word.

Jy sien hoe sy weifel tussen wat gesnoei moet word en wat moet uitblom.

Thursday, August 30, 2018

Resensie | C.J. Driver - Before: A sequence of poems (2018)

C.J. Driver - Before: A sequence of poems. Crane River / African Sun Press, 2018. ISBN 978 1 874 915 32 4
Resensent: Joan Hambidge

I

Op Faber & Faber se webblad verneem ons:

C. J. Driver is a poet, novelist and educator. Born in South Africa in 1939, he was Master of Wellington College until 2000. His novels are Elegy for a RevolutionarySend War in Our Time, O Lord en A Messiah of the Last Days. Since 1984, he has been a Fellow of the Royal Society of Arts. (C.J. Driver | Authors | Faber & Faber).

Deur die jare het ek gereeld die naam van hierdie digter gesien en sy gedigte gelees met bewondering vir die uitstekende versbeheer. In klein biografiese notas het ek gelees dat hy sy vaderland moes verlaat weens die politiek van die tyd.

By die afgelope fees op McGregor hoor ek dan die eerste keer hoe hierdie digter sy verse voorlees. Hoe ‘n digter sy eie werk vertolk, bepaal ook hoe jy later terugkeer na die verse en geheime ontdek.
Of ‘n digter staan of sit, het eweneens ‘n impak op die betekenis van ‘n vers. Net soos digters wat hulle gedigte met musiek begelei, sing of dans. Ek verkies om te sit wanneer ek voorlees.

Driver se verse is kompromisloos en die buiteblad van ‘n gestroopte Karoo-landskap, verraai iets van hierdie verse wat ontstaan het tydens ‘n vier-weke-lange skryfrespyt in Hawthornden, Skotland.

Maar in wese het die verse lankal terug al begin broei in die digter se gemoed. Hy vertel in die voorwoord dat hierdie sekwens van gedigte jare gelede in Suid-Afrika ontstaan het toe hy nog nie die land wou verlaat nie. Dit het in ‘n droom aan hom verskyn. Maar hy was helaas te jonk om die droom in ‘n gedig te “vertaal”.

Eers dan in 2011, as ‘n volwasse mens, kry hy die onvoltooide vers uit, in ‘n ruimte sonder WiFi, geen besoekers, beperkte geselskap en ‘n streng skryfdissipline. Hier keer die geweld van die sekuriteitspolisie uit 1964 terug na hom. Hy skryf 22 verse in vier weke, ofskoon hy nog altyd ‘n stadige skrywer was.

II

Die droom klink so:

Alone, the soldier, kitbag on his back,
No rifle now the war is done, trudges
Along an empty road and into town,
The sort of town one may have lived in once
But couldn’t place as being here or there,
Not even in the logic of a dream –

Die digter sien die soldaat se gesig wanneer hy ‘n sigaret aansteek en besef dit is nie hy nie. Jungiaans gelees is hierdie dalk die homunkulus in die onbewuste, daardie innerlike persoon wat gelyk gestel word aan die meditatiewe en spirituele dimensies. C.G. Jung skryf hieroor uitgebreid in sy Alchemical Studies(1967) wat handel oor transformasie. In wese is dít die dimensie wat vir Jung onverwoesbaar is in die menslike psige; net soos die digter, ten spyte van persoonlike ellende wat hom altyd in die herinnering sal bly agtervolg, oorleef in gedigte.
Boonop gedigte wat in drome na hom kom, die dimensie van die “Unheimliche”. 

Dit is opvallend dat die gedig begin en sluit met hierdie droom met die digter wat vra:

And is the stranger in the dream myself?
Or is it what I shall become in time –
And deep time, too, with no one waiting there?
And is this me who stops to check his notes?
That light down there?
                                         Is that a door?   
(40)

Die reeks neem standpunt in teen politieke onreg en dogmas wat wat mens van jouself vervreem. In nommer 6 is daar ‘n herinnering aan ‘n skoolmaat met sy “cheerful grin” wat uiteindelik ‘n “sneer” word (14). Hy was immers deel van die polisie se vuilspel wat mense vanuit sy helikopter in die see kon smyt. In ‘n verruklike vers oor die mag van die verbeelding word daar met Coleridge en Wallace Stevens in gesprek getree ( nommer 18). In nommer 8 word die moeder in herinnering gebring, die moeder wat hom leer van seuns se stemme wat breek en die digter wat dan leer:

                                                                              And so
I learned – began to learn – that aloes had to burn
And voices break, an inkling even then
That beauty has its own fragility.    
(16)

Oor die verganklikheid van die liefde word in nommer 19 gedig. Dit heet “And Love?”

Die ervaring van die tronkbesoek word aangrypend-pynlik geskryf. Die self is breekbaar, fragiel. Jy word nie deur alleenheid gedefinieer nie; nee, jy word eerder vermenigvuldig en in stukke opgebreek (nommer 15, 25).

Hierdie gedig is ‘n dokument oor die psigiese en fisiese geweld wat jong mans aangedoen is in die ou Suid-Afrika met sy politiek van vergelding en segregasie wat nog steeds sy tol eis.

Lesers wat kyk na genderkonstruksies sal die maskuliene aard van die verse registreer (“He’s white; he’s male…”, 23), wat helaas nie broosheid verdoesel nie.

Nommer 12 is ‘n skitterende ars poetica wat die spanning tussen die kyk (“watcher”) en dit wat beskou word, analiseer (20, 21).

Dit is ‘n besonderse digbundel geskryf met ‘n vormvaste hand. Oor die argetipiese vreemdeling wat altyd verlang na ‘n wêreld waaroor hy ambivalent voel. Daardie odi et amo-gevoel, so bekend aan gedigte geskryf vanuit ballingskap oor ‘n land wat jou beseer het.

Dis ‘n bundel waar nadink en wat met elke lees sy geheime ontsluit.

Die omslagontwerp is van Steve Wolesey te siene op www.karooimages.co.za

Die bundel kan bestel word van:

African Sun Press
P.O. Box 16415 
Vlaeberg 
8018 CAPE TOWN

Monday, August 27, 2018

Rubriek | McGregor Poësie-fees (Aug 2018)

In hierdie ysige weer was daar ‘n poësie-fees in McGregor.

Verskillende digters het hier kom saamtrek. Dit is onmoontlik om op elke aspek van hierdie fees te fokus, omdat daar verskillende byeenkomste was in vertrekke en sale in die klein dorpie.

Ek is nie ‘n feesmens nie, maar hierdie onpretensieuse byeenkoms was vir my wonderlik om ‘n paar redes. Uiteraard weens die heerlike kos in die restaurant Tebaldi’s en die goeie wyn wat gevloei het.

Maar hier het ek opnuut onder die indruk gekom van Kelwyn Sole se digterlike beheer en CJ Driver (Jonty Driver) se bekoorlike bundel Before – A Sequence(African Sun Press). En ‘n oggend, op ‘n Sondag waar vier digters hulle gunsteling-verse voorgelees het.

Kom ons gesels eers oor digters se gunstelingverse. Wat ‘n digter lees, het uiteraard ‘n invloed op hoe sy / hy skryf. Douglas Reid Skinner, Michèle Betty, Stephen Symons en die uwe was aan die woord.

My gunstelinge – vir hierdie geleentheid – was Sylvia Plath se “Lady Lazarus”, “Morning Song”, Wislawa Szymborska se “Some like poetry”, Billy Collins se “Taking off Emily Dickinson’s Clothes” – en uiteraard Olga Kirsch se “Illusie”.

Plath se “Lady Lazarus” – met sy skisofreniese afstand – teenoor Collins se aanvanklike speelse vers wat eindig met die sidderende woorde:

So I could plainly hear her inhale
when I undid the very top
hook-and-eye fastener of her corset 

and I could hear her sigh when finally it was unloosed, 
the way some readers sigh when they realize
that Hope has feathers, 
that reason is a plank, 
that life is a loaded gun
that looks right at you with a yellow eye. 

Wanneer ‘n mens voor ‘n gehoor ‘n gedig voorlees en moet verduidelik waarom ‘n vers met jou praat, ontdek jy dikwels iets nuuts in die vers.

Vir my is “Morning Song” van Plath nie net ‘n vers oor die geboorte van ‘n kind nie; dis ook ‘n gedig wat jy kan lees asof dit kommentaar lewer oor die geboorte van ‘n gedig.

Morning Song

Love set you going like a fat gold watch.
The midwife slapped your footsoles, and your bald cry
Took its place among the elements.

Our voices echo, magnifying your arrival. New statue.
In a drafty museum, your nakedness
Shadows our safety. We stand round blankly as walls.

I'm no more your mother 
Than the cloud that distills a mirror to reflect its own slow
Effacement at the wind's hand.

All night your moth-breath
Flickers among the flat pink roses. I wake to listen:
A far sea moves in my ear.

One cry, and I stumble from bed, cow-heavy and floral
In my Victorian nightgown.
Your mouth opens clean as a cat's. The window square

Whitens and swallows its dull stars. And now you try
Your handful of notes;
The clear vowels rise like balloons. 

Tebaldi's

Olga Kirsch se “Illusie” is ‘n liefdesgedig – maar die liefste wat sy ylings tegemoet gaan, kan ook die leser van haar gedigte wees.

Volgens De Stadler se tesourus beteken ylings gejaagd, onbesuis, halsoorkop, pront, brandend, dringend, naarstiglik, urgent, akuut, brandend.

Is dit ook hoe sy haar leser tegemoet gaan?

Illusie

Soms as ek in die silwer skemering stap
met oë half toe, want die ligte reën
prikkel my wange, dans en trippeltrap
verby my lippe en om my oë heen,
dan sak die stilte in ’n klamme vlaag
oor alles, donkergroen en silwergrys
die denne, en ek slaan my jas se kraag
hoër om my nek. Daar’s iets wat eis
dat ek meteens met ligter tred moet gaan,
met tintelende ekstase in my bloed.
Dalk aan die einde van die lange laan
gaan ek jou, liefste, ylings tegemoet?

Hoe gedigte met mekaar praat en bymekaar aansluit, bly een van die ongelooflikste ervarings vir die leser van gedigte.

Soms is ‘n gedig klein, maar die betekenislading enorm soos Douglas reid Skinner dan tereg uitwys in een van sy gunstelingverse “To have Love” van Patrick Cullinan:

To have love and then lose it:
the white hail in the orchard
lying with leaves it has stripped
and the storm moving away.

"‘n Mens kan niks byvoeg of wegvat nie," sê Skinner. "Die gedig is perfek – die impak enorm."

Hier is Johann de Lange se vertaling daarvan:

Om liefde te hê
Patrick Cullinan

Om liefde te hê en dan te verloor:
die wit hael in die boord
lê tussen afgestroopte blare
en die storm beweeg voort.

(Vertaal deur Johann de Lange)

As ‘n mens is wat jy eet, is jy ook dit wat jy lees.

Ons sal volgende keer verder by gunstelingverse stilstaan.

© Joan Hambidge

Monday, August 20, 2018

Resensie | Rudie van Rensburg – Ys (2018)

Rudie van Rensburg – Ys. Queillerie, 2018. ISBN: 978-079-5801501

Resensent: Joan Hambidge

I

Ys is die sesde roman van Rudie van Rensburg, 'n besondere speurverhaalskrywer.

In die filmweergawe van Agatha Christie – doyenne van die speurverhaal – se Crooked House, merk 'n karakter op dat 'n moordenaar koud- of warmbloedig kan wees, sonder enige empatie of morele kompas. So 'n persoon dink veral dat die wette van 'n gemeenskap nie op hom of haar van toepassing is nie. Ons het hier "the smell of blood" wat in Ys geblaker word as "die bloedspoor is warm ..." (Crooked House (film) – Wikipedia. Besoek 19 Augustus 2018).

Die film is geregisseer deur Gilles Paquet-Brennerin 2017.

'n Teefsessie tussen Gillian Anderson en Glenn Close is prima. Bykans so goed as die een tussen Diana Rigg en Maggie Smith in Evil under the Sun

Sulke oomblikke wanneer veteraan-aktrises hulle naels wys in 'n andersins ernstige moordverhaal, is dit om lag te ontlok, wat spanning verlig én die divas toelaat om te wys hulle kán "act". Daar word waarskynlik heerlik geskaterlag agter die skerms, soos in Tomorrow Never Dies wanneer M (Judi Dench) vir James Bond (Pierce Brosnan) opdrag gee om die skobbejak se vrou, en sý voormalige minnares, te pomp vir informasie. (Moontlik ge-ad lib.)

II

Van die vasvang van die Groot Appel in woorde tot die beskrywing van 'n lyk, of hoe dit moet voel as jy agtervolg word en met 'n mes in jou been hardloop, weet die leser dat Ys deur deeglike navorsing onderlê is.

'n Amerikaanse wetenskaplike word in 'n Waterfront-hotel vermoor. Daar is 'n oud-Pollsmoor gevangene. Daar is Kassie en Rooi. En 'n man met 'n kettingsaag.

By elkeen is daar newe-intriges (wat ek nie hier sal verklap nie), maar Kassie se eks daag onverwags op by haar "ou vaalmuis". En Hasie (met sy Tinkie) word onvermydelik deel van die onderwêreld en moet sy gewete sus dat hy dit ter wille van haar moet doen. Hierdie gedeeltes is waarskynlik deur Jeffrey Dahmer geïnspireer.

Met bergies en Willie met Fortuin.

Teenoor Frankie. Pastoor. En Viking, o.a.

Met leuens en vals identiteite.

Ekologie en raspolitiek kom ook aan bod – met Shaheena wat bevele uitdeel (getroud met 'n problematiese Elton). Geweld teen vroue word goed geanaliseer en waarom vroue by sulke mans bly, word hier oortuigend verbeeld.

Kasselman is misdaadtoneelbestuurder (crime scene manager) en ons weet hoe belangrik hierdie taak is. 

Boonop is daar vingerafdrukke gelaat ... (maar hier weet die leser meer as die speurders.)

Met die FBI wat met papierlêers werk, omdat rekenaars altyd 'n digitale spoor laat.

III

Christie is die meesteres van beduimeling en beduiweling. Sy fop jou altyd met vals of te slim leidrade. (Soos 'n Latynse verwysing in 'n Engelse van.) Van Rensburg draai hierdie patroon om. Hy plaas sy leser in 'n oënskynlike posisie van mag. 
  
Ollie Viljoen is hier en die arme Kassie moet sy verslae in Engels skryf. (Nie alleen omdat die FBI dit moet lees nie, maar hier is ook implisiete sosiale kommentaar op die verengelsing van die staats- en polisiediens.)

'n Goed geplaaste interteks is Etienne Leroux se Die derde oogmet die hakkelende kaptein Demosthenes H. de Goede. Anders as die blink Stefaanse van die bedryf, haal Kassie die kromme note. Hoe hy lyk en aantrek, verklap iets van sy karakter.

Nou onlangs was hierdie leser uitermate bekoor met die Maigret-reeks waarin Rowan Atkinson speurder Maigret oortuigend vertolk (Maigret (2016 TV series) – Wikipedia. Besoek 19 Augustus 2018).

IV

Van Rensburg skryf vlot en onderhoudend. Die roman is pakkend geskryf. Bliksis!

Lucky Strike en Creme Soda. 'n Seëlversameling wat 'n kode is vir stiplees.

En daardie referaat oor "Ys"?

Rudie van Rensburg se roman klief sneeu oop soos 'n ysbreker.

Met 'n wonderlike epiloog.