Thursday, September 6, 2018

Rubriek | Danie van Niekerk 90

Danie van Niekerk en ek loop 'n lang pad saam. As jong digter stuur ek vir hom ewe vermetel gedigte uit Skandinawië wat later in my bundel Geslote baanin 1988 opgeneem word. Hy reageer per brief en vra ek moet nog stuur.

Voor die publikasie van die bundel is ek eendag in Kaapstad en laatmiddag ontmoet ek hom in sy kantoor saam met die befaamde meneer Jürgen Fomm.

Ons sit by 'n ronde tafel in sy kantoor en hy skink vir my 'n whisky en gesels met 'n jong digter oor reis en die digkuns asof ons gelykes is. Die volgende dag gaan eet ons by Rozenhof en hy behandel my asof ek 'n belangrike skrywer is.

Ons deel twee passies, ek en hierdie gentleman: reis en goeie kos met wyn.

En ons word vriende.

Deur die jare kuier ons gereeld saam (met sy sjarmante en slim vrou Anneke) en hierdie skerpsinnige man kan in een gesprek deurdring tot die essensie van 'n saak.

Taalkwessies kom dikwels aan bod en op 'n keer vertel hy my as 'n jong aansoeker by Tafelberg Latyn as skoolvak gehad het, is hy of sy summier aangestel.

Hy het groot skrywers uitgegee en dit is algemeen bekend dat hy die manuskripte (saam met sy redakteurs) gelees het. Hoeveel skrywers het hy nie ontdek en gehelp nie! Ons dink gewoon net aan T.T. Cloete.

'n Fout sal hy bepaald oppik en jou daarop attent maak.

Sy diskreetheid is 'n belangrike karaktereienskap. By geleentheid had ek veel te segge oor 'n skrywer se gedrag wat my irriteer. Hierop reageer hy ferm. Hy wil nie deelneem aan die gesprek nie; dit was sy skrywer.

Uiteraard het ek apologie aangeteken en met waardering gedink dat so 'n soort mens dun gesaai is.

In 2002 verskyn Ruggespraak(by Protea) ek dra dit o.a. op aan hom en Anneke. 'n Klein blyk van waardering.

Ons gesels ook oor goeie films en gee vir mekaar titels deur.

Toe hy en Anneke verskuif uit hul huis in Oranjezicht na 'n aftree-oord, skenk hy sy groot plateversameling aan my. Sy kennis van klassieke musiek moet eweneens vermeld word.

In 'n brief gedateer gedateer 29 November 1987 beklemtoon Elize Botha die bedagsaamheid van die Van Niekerks (Elize Botha – gespreksgenoot – 'n brieweboek saamgestel deur Heilna du Plooy uitgegee deur Litera, 2017).

En die wonder van vriendskap.

Ek drink op jou 'n ottermaklottertjie, Danie!

© Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)