Monday, August 20, 2018

Resensie | Rudie van Rensburg – Ys (2018)

Rudie van Rensburg – Ys. Queillerie, 2018. ISBN: 978-079-5801501

Resensent: Joan Hambidge

I

Ys is die sesde roman van Rudie van Rensburg, 'n besondere speurverhaalskrywer.

In die filmweergawe van Agatha Christie – doyenne van die speurverhaal – se Crooked House, merk 'n karakter op dat 'n moordenaar koud- of warmbloedig kan wees, sonder enige empatie of morele kompas. So 'n persoon dink veral dat die wette van 'n gemeenskap nie op hom of haar van toepassing is nie. Ons het hier "the smell of blood" wat in Ys geblaker word as "die bloedspoor is warm ..." (Crooked House (film) – Wikipedia. Besoek 19 Augustus 2018).

Die film is geregisseer deur Gilles Paquet-Brennerin 2017.

'n Teefsessie tussen Gillian Anderson en Glenn Close is prima. Bykans so goed as die een tussen Diana Rigg en Maggie Smith in Evil under the Sun

Sulke oomblikke wanneer veteraan-aktrises hulle naels wys in 'n andersins ernstige moordverhaal, is dit om lag te ontlok, wat spanning verlig én die divas toelaat om te wys hulle kán "act". Daar word waarskynlik heerlik geskaterlag agter die skerms, soos in Tomorrow Never Dies wanneer M (Judi Dench) vir James Bond (Pierce Brosnan) opdrag gee om die skobbejak se vrou, en sý voormalige minnares, te pomp vir informasie. (Moontlik ge-ad lib.)

II

Van die vasvang van die Groot Appel in woorde tot die beskrywing van 'n lyk, of hoe dit moet voel as jy agtervolg word en met 'n mes in jou been hardloop, weet die leser dat Ys deur deeglike navorsing onderlê is.

'n Amerikaanse wetenskaplike word in 'n Waterfront-hotel vermoor. Daar is 'n oud-Pollsmoor gevangene. Daar is Kassie en Rooi. En 'n man met 'n kettingsaag.

By elkeen is daar newe-intriges (wat ek nie hier sal verklap nie), maar Kassie se eks daag onverwags op by haar "ou vaalmuis". En Hasie (met sy Tinkie) word onvermydelik deel van die onderwêreld en moet sy gewete sus dat hy dit ter wille van haar moet doen. Hierdie gedeeltes is waarskynlik deur Jeffrey Dahmer geïnspireer.

Met bergies en Willie met Fortuin.

Teenoor Frankie. Pastoor. En Viking, o.a.

Met leuens en vals identiteite.

Ekologie en raspolitiek kom ook aan bod – met Shaheena wat bevele uitdeel (getroud met 'n problematiese Elton). Geweld teen vroue word goed geanaliseer en waarom vroue by sulke mans bly, word hier oortuigend verbeeld.

Kasselman is misdaadtoneelbestuurder (crime scene manager) en ons weet hoe belangrik hierdie taak is. 

Boonop is daar vingerafdrukke gelaat ... (maar hier weet die leser meer as die speurders.)

Met die FBI wat met papierlêers werk, omdat rekenaars altyd 'n digitale spoor laat.

III

Christie is die meesteres van beduimeling en beduiweling. Sy fop jou altyd met vals of te slim leidrade. (Soos 'n Latynse verwysing in 'n Engelse van.) Van Rensburg draai hierdie patroon om. Hy plaas sy leser in 'n oënskynlike posisie van mag. 
  
Ollie Viljoen is hier en die arme Kassie moet sy verslae in Engels skryf. (Nie alleen omdat die FBI dit moet lees nie, maar hier is ook implisiete sosiale kommentaar op die verengelsing van die staats- en polisiediens.)

'n Goed geplaaste interteks is Etienne Leroux se Die derde oogmet die hakkelende kaptein Demosthenes H. de Goede. Anders as die blink Stefaanse van die bedryf, haal Kassie die kromme note. Hoe hy lyk en aantrek, verklap iets van sy karakter.

Nou onlangs was hierdie leser uitermate bekoor met die Maigret-reeks waarin Rowan Atkinson speurder Maigret oortuigend vertolk (Maigret (2016 TV series) – Wikipedia. Besoek 19 Augustus 2018).

IV

Van Rensburg skryf vlot en onderhoudend. Die roman is pakkend geskryf. Bliksis!

Lucky Strike en Creme Soda. 'n Seëlversameling wat 'n kode is vir stiplees.

En daardie referaat oor "Ys"?

Rudie van Rensburg se roman klief sneeu oop soos 'n ysbreker.

Met 'n wonderlike epiloog.