Tuesday, September 4, 2018

Resensie | Helen Moffett – Prunings (2016)

Helen Moffett – Prunings. uHlanga Press, 2016. ISBN 978 620 72299 5

Resensent: Joan Hambidge

I

Helen Moffett was een van die digters wat opgetree het by die McGregor-fees.

Helen Moffett het in 2009 debuteer met Strange Fruit. Haar tweede bundel Prunings het in 2016 verskyn en is alreeds in ’n tweede druk. Hierdie tweede bundel verdien nou weer aandag. Op die binneflap word dit getipeer as “tentative moments and emotions, rendered in fleeting and experimental forms”. Dit is een van daardie bundels waar ’n gedig jou raak en met elke herlees verder bekoor.

Die temas wat ondersoek word, is bekend aan die digkuns: die liefde, die dood, ’n eks-lover, besoeke aan vreemde ruimtes, die natuur (voëls en see), portretverse (lieflik oor die Sisulu’s en uitstaande oor Tatamkhula Afrika wat heet “Birthday in the Bo-Kaap”, 38), en gesprekke met die digkuns. Sy skryf eweneens oor siekte en terapie. Sy verken dus sowel die binnelandskap as die buite-landskap van die natuur. En in ‘n politieke vers “Christmas Eve, Mouille Point, 2004” (34) kyk sy na ‘n vrou wat haar voete was by ‘n kraan op die strand.

Sy beskryf die wasproses as “clumsy pavanne of hygiene” en in hierdie waarneming sien sy hoe die vrou haar hele liggaam was met koekie pienk seep; die soort wat gebruik is om stoepe mee af te was toe die spreker ‘n kind was. Die gedig sluit:

This woman, to whom
ten much-vaunted years
have brought precisely this much:

a public tap on a old whites-only beach.

In die portretvers lees die digter en Geoffrey Haresnape (eweneens ’n belangrike digter hier te lande) ’n vers vir Tatamkhulu Afrika. ’n Man wat, wanneer jy hom ontmoet het, jou bekoor het met sy onopgesmuktheid – ’n ware digter.

Tatamkhulu se gedigte mag nie “for sale wees nie, maar hyself is heeltemal bereid om geld in die vorm van pryse te vat. Speels, grappig – soos hy was, maar ernstig oor geregtigheid en die digkuns.

En die gedig eindig:

Now the stars he collected in his haversack
fly swooping and singing around his soul. (39)

II

Die voorblad deur Ellaphie Ward-Hillhorst, die botaniese kunstenaar, verraai alreeds iets van die snoeiwerk-metafoor in die bundel. Moffett se vader, ’n botanis, het met Ward-Hillhorst as illustreerder van sy boeke saamgewerk. Na haar dood het John Rourke van die Nasionale Botaniese Instituut hierdie kunswerk vir Moffett se vader gegee.

Dit is ongeteken, onvoltooi – ’n kode vir die lees van hierdie gedigte wat weifel tussen voltooiing en dit-wat-jy-nog-wil-sê.

In “Salvage” (46) word ’n gedig se reëls Derrideaans “sous rature” geplaas: iets word tegelyk behou en gekanselleer wanneer ’n mens dit deurhaal.

Pain is like provisional tax:
it's not just that there’s no escaping paying;
it’s the onerous, inexorable chore
of keeping account, nitpickingcalculating costs,
a reckoning demanding my full attention,
no matter how I shuffle the paper.

Jacques Derrida se Of Grammatology wat oorspronklik in 1967 verskyn het, en in Engels uitgawe in 1976 (vertaal deur Gayatri Chakravorty Spivak) verduidelik die konsep van iets behou en problematiseer. Die gedigte illustreer dekonstruksie en die spel tussen absence/presence.

Moffett gebruik hierdie konsep vernuftig in haar gedigte. Reëls word deurgetrek, uitgewis, maar behou: op verskillende maniere. Soms as ’n nawoord wat die gedig laat voortstu (“St. Patrick’s, Bridgetown”, 13) of in “Kalk Bay, April” (19) word die woede geskrap. ’n Tersaaklike gegewe wat wys hoe ’n gedig dikwels soomloos en rustig lyk, maar deur woede aangestig word.

Ons sien waarskynlik ook hier vir Moffett as teksredakteur in aksie, as ‘n persoon wat moet skrap en ander woorde vind.

Daar is ook humor aanwesig, soos in die beskrywing van ‘n besoek aan die Taj en goeie slotte wat dikwels ‘n ironiese wending impliseer. 

Sy skryf ‘n biografie oor die Sisulu’s en kyk ten slotte ‘n krieketwedstryd saam met hom. (Terloops, sy was mede-outeur van ‘n boek oor krieket saam met Tim Noakes en Bob Woolmer: The Art and Science of Cricket.)

III

Moffett is 'n feministiese aktivis, en vind in die gedig "Wisdom" (33) aanklank by Antjie Krog. Sy praat ook met vele mede-digters soos Gus Ferguson, Geoffrey Haresnape, Tatamkhula Afrika, o.a. 

Gaan kyk hoe spot sy met 'n liefdesvers vir die eks-geliefde. Baie slim!

In ‘n pynlike tweereëlige vers word geweldig baie geintimeer.

Thief 

For Steve de Gruchy 

What the river seizes,
it holds.  (40)

Die verdrinking van John de Gruchy se seun, bekende professor in Religieuse Studies aan UCT, resoneer ook met ander gedigte oor die dood, soos die navrante “For a Woman who Befriended Me After She Died” (43).

Hier wonder sy of daar dalk ‘n nuwe titel moet wees? Daar is immers die ironie dat die gaste by die troue kort daarna haar begrafnis moes bywoon.

IV

Die uitgewersbrief som die bundel so op:

Where do unfinished poems go – the early buds, the offcuts, all of the blooms that can't be bunched together? In this beguiling bouquet of travel poetry, diary fragments, letters, works-in-progress and retrospection, Helen Moffett offers us a rare look into the workings, misfirings and triumphs of a literary mind. A collection of tentative moments and emotions, rendered in fleeting and experimental forms.

Beter kan hierdie leser dit nie stel, behalwe dat dit in die tentatiewe, die vergete oomblik daar juis onthoubare verse ópgevang word.

Jy sien hoe sy weifel tussen wat gesnoei moet word en wat moet uitblom.