Tuesday, July 11, 2023

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Kumbukumbu. ‘n Reisboek oor Kenia | Imprimatur, 2022

Johann Lodewyk Marais – Kumbukumbu. ‘n Reisboek oor Kenia. Imprimatur, 2022. ISBN 978 0 6397 4398 1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

‘n Memorieboek. ‘n Uitsonderlike boek van die digter (en historikus) Johann Lodewyk Marais se reise na Kenia. Regdeur hierdie digter se digkuns is daar ‘n bemoeienis met Afrika en meer spesifiek: Kenia. Die reisverslag is besonder insigryk met ‘n historiese gegewens wat afgewissel word met die digter se indrukke. Oor die verskille in kulturele kodes, misverstande rondom taal, onverwagse tegemoetkomende gidse en natuurlik kansvatters.

 

Die digter het grootgeword in Noordoos-Vrystaat en as skoolkind ‘n obsessie ontwikkel met Oos-Afrika.

 

Deurgaans bly die leser bewus van die digter-as-optekenaar. Wanneer hy ‘n notaboek verloor en onverwags terugvind in ‘n sakkie aan sy tas wat hy nooit gebruik nie, is die leser verlig saam met hom. Anders was ons hierdie verslag kwyt (94). So dig hy in Nomade (2014):

 

Heilige skrif

 

Die vrou wat onder die tamarinde

die Koran sit en lees, keer my vierspoor

wanneer ek buk en met my wysvinger

aan die mooi karakters voor haar wil raak.

Sy gru en hou haar hande beskermend

oor die letters wat vir haar heilig is.

“Elke ayat is wonders en tekens

en het net so uit die hemel gekom,”

sê sy en prewel Mohammed se gebod.

Deur die boomtakke en -blare teken

die son die arabeskpatrone na.

 

Die ayat hier verwys na die genommerde verse in die Koran. Dit beteken ook teken én mirakel.

 

En alle reisigers weet hoe toevallige ontmoetings ‘n hele reis (positief of negatief) kan beïnvloed.

 

Die voortdurende spel tussen belewenis en optekening (wat later gedigte word), is vir hierdie leser die belangrikste aspek van hierdie herinneringsboek, soos die titel reeds aandui.

 

Hierdie reisverslag gee vir ons ‘n kaart van die ruimte wat die reisende digter besoek. Ons beleef sy vreugdes en frustrasies. Maar dit is veral die kaarte van onthou wat hier tersaaklik is: ‘n terugreis na sy jeug op Harrismith waar hy ‘n swart taal aanleer as kind.

 

In “Versugting” (in Ondertussen, 2020) dig hy:

 

My geil, versaakte kontinent:

Iets wens olienhout groei in jou

dat alles Afrikaans sal bly

en kerk, tempel en moskee hou.

 

So met ‘n subtiele verwysing na Van Wyk Louw uit Tristia:

 

My land, my dor, verlate land:

iets wens olywe groei in jou:

dat alles klein, Latyns, gaan word

en kalk-wit kerkies bou.

 

 

II

In hierdie reisverslag verwys hy na die Mau Mau; verder terug: die invloed van die Portugese seevaarders en Vasco da Gama se besoek in 1498. Later natuurlik, die kolonisering deur die Britte en hoe besetters ryk geword het weens koffie- en teeplantasies. Out of Africa deur die Deense skrywer Barones Karen von Blixen-Finecke (in 1937) karteer politieke oorgange.

 

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Kenia uiteraard voedsel en soldate voorsien aan die Britte. En die belangrike historiese oomblik beskryf Marais ook: in 1952 was Prinses Elizabeth en Prins Philip  op besoek in Kenia toe haar vader, Koning George VI in sy slaap oorlede is. Sy is terug Engeland toe en in 1953 as Koningin gekroon.

 

Die opstande van die Mau Mau’s, Jomo Kenyatta en die opkoms van Daniel arap Moi is die ondergrond van hierdie vertelling met latere politieke woelinge.

 

Leakey is hier en die Adamson’s met ‘n uitgebreide bronnelys vir verdere lees.

 

 

III

 

Uit Johannesburg, rigting Mosambiek, Tete, Malawi dan oor Tanzanië waar hy Berg Kilimanjaro sien.

 

Mombasa en Malindi. Nairobi en Douala en Bangui …

 

Lees hierdie boek saam met Lae wolke oor Mosambiek (2003).

 

Dis in ‘n pragtige hardeband gepubliseer deur Imprimatur met mooi foto’s.

 

Kumbukumbu beteken herinnering. Die werklike reise word gesinchroniseer met die reise van die hart.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en navorser aan die Universiteit van Kaapstad.

 

Monday, July 10, 2023

Rubriek | Joan Hambidge – Vermindering | 2023

I

Wat is die regte woord vir abuse in Afrikaans? Dalk vermindering? Daardie goed gemikte hou – dikwels met ‘n glimlag – wat jou op jou plek sit.

 

Dalk is vermindering presies dat jy iemand nie gee wat hom toekom of wat hy behoef nie. Nie net is dit die klap of skop nie, maar veral die stille weerhouding van goedkeuring.

 

Alles geleer by ‘n vriend wat besig is met ‘n studie oor hierdie fenomeen wat waarsku dat die proses gemik is op die effek. Hierdie soort venyn kan net goed werk as daar ‘n gehoor is wat deel vorm van die negatiewe applouskomitee.

 

So moenie laat blyk dit raak jou nie; dan is die seile sonder wind.

 

Ons moet oorleef. Survival of the fittest. Ons moet dikwels iemand anders uit die pad vee, om self iewers te kom.

 

Is dit wel nodig? In die natuur is daar volop voorbeelde van hoé insekte transformeer om die aanvaller te kan troef. 

 

In my dae as dosent was ek telkemale bewus van hierdie soort strategie. Die sin wat alles dekonstrueer met ‘n maar.

 

Of die hoonlag wanneer iemand besig is om te gly of teenstand beleef. Te veel sarkasme, te min ironie. En ons weet wat Kissinger se siening was van akademiese gevegte.

 

Die ewige Schadenfreude so part en deel van die Akademie. In vele akademiese romans is daar nie net karaktermoord nie, maar soms ‘n werklike lyk om alles mooi saam te vat vanaf Mary McCarthy se The Groves of Academe tot Vladimir Nabokof se Pninen Kingsley Amis se Lucky Jim.

 

Die jongste voorbeeld is die onlangse Vladímír van Julia May Jonas.

 

 

II

 

Die digkuns ontgin hierdie proses, naamlik die besef dat ons uitgelewer is aan ander se meedoënlose kritiek of vermindering. Ons kyk na:

 

D.J. Opperman se gedig “Ou Matroos, Napels” (Dolosse, 1963).

 

Aan hoog geknoopte toue

wapper wasgoed tussen geboue.

 

Kinders baklei

om vullisblikke

na eetbare afvalstukke.

 

Tien mans sit gebuk

van honderde hoenders

vere en pluk.

 

Oor ‘n fornuis 

skree ‘n vrou:

“Wanneer kom jou pampiere

dat ons weer kos kan koop?”

 

Hy swyg, bal sy artritusvuis,

bedaar en staar:

vou in sy hand

die vyf seeroetes van die wêreld oop,

en – onder wapperende wasgoed – vaar.

 

*

 

Peter Sarstedt


In hierdie klassieke vers sien ons vermindering-in-aksie.

 

Die vrou praat nie; sy skree op die man wat afhanklik is van ‘n staatspensioen.

 

Hy swyg en sy weerloosheid word verder bevestig deur artritus.

 

Maar ten spyte van die ellende (bakleiende kinders, afvalstukke, die reuk van hoenders wat skoongemaak word) verlos sy herinneringe hom.

 

Die vyf seeroetes is die lyne op sy hand en die wapperende wasgoed word die seile nou.

 

Fornuis is ‘n stookplek of vuuroond. En in die sinonieme-woordeboek staan dit onder fornikasie. 

Die digter laai dus die gedig met implikasie dat die vrou moontlik geld verdien met haar fornuis.

 

‘n Besoek aan Napels is pynlik weens die armoede en ellende.

 

Peter Sarstedt se song Where Do You Go to My Lovely (1969) word geaktiveer vir hierdie leser. Die bekende gedeelte:

 

I remember the back streets of Naples
Two children begging in rags
Both touched with a burning ambition
To shake off their lowly-born tags, they tried
So look into my face, Marie-Claire
And remember just who you are
Then go and forget me forever
But I know you still bear the scar, deep inside, yes, you do

 

*

 

Hy sing ‘n lied oor haar en hy weet wie sy werklik is en waar sy vandaan kom.

 

Is dit ‘n werklike geliefde oor wie hy sing?

 

Deur die jare is daar gewonder: Sophia Loren? Die Deense aktrise en sanger Nina van Pallandt?

 

Die verskillende moontlikhede en bespiegeling word deur die komplekse lirieke ondermyn. ‘n Jet set-meisie wat aan die Sorbonne studeer het en die Aga Khan ken met ‘n skildery van Picasso is duidelik ‘n samestelling van verskillende beroemdes.

 

Boonop het Sarstedt sélf die mites aangeblaas deur te vertel dit gaan oor ‘n geliefde wat in ‘n vuur gesterf het.

 

Hy het later beken hy het gelieg.

 

Die Franse akkordion en die faux-Euoropese wals beklemtoon dat hierdie lied verskillende style naboots.

 

Nog Opperman nog Sarstedt se tekste word verminder deur die “werklikheid”.

 

As die kunswerk gekoppel word aan ‘n bepaalde insident, reis of mens word dit ingeperk. En dít is die ergste vorm van vermindering vir enige kunstenaar.

 

©  Joan Hambidge

 

 

Monday, July 3, 2023

Resensie | Konstantinos P. Kavafis - Van Alexandrië na Ithaka | Naledi, 2023

Konstantinos P. Kavafis - Van Alexandrië na Ithaka (vertLouise Cilliers). Naledi, 2023. ISBN: 978-1-77617-236-8 | 102 bladsye, R260.00

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Vertalings verruim en verryk ‘n taal. Ons kan nie sonder vertalings betaan nie. Daar is verskillende soorte vertalings: herdigtings, swak en goeie vertalings. Blote transkripsies. 

 

Uys Krige is waarskynlik een van ons grootste vertalers uit die Spaans, Frans en Portugees. Uit Duits het Gunther Pakendorf ‘n beduidende bydrae gelewer soos Daniel Hugo uit die Vlaams. Of Fanie Olivier. Naòmi Morgan en Bernard Odendaal se puik Brel bydraes uit die Frans. Op die Versindaba lewer Odendaal uitstekende vertalings van gedigte, bekend en minder bekend, uit die Duits. Helize van Vuuren uit Duits.

 

Die lys is onmeetlik lank.

 

Dit is dan ook goed om die oorspronklike teks langs die aangebode vertaling te sien. Hier sien ons dit nie, omdat min lesers Grieks ken.

 

My kennis van Grieks is eweneens beperk. Hierom word daar net op die vertalings gefokus as geslaagde gedigte. Daar is wel vergelykings gemaak met Engelse vertalings.

 

Ek lees Kafavis al vir jare en het self “Ithaka” vertaal (opgeneem in Sanctum). Johann de Lange het dit eweneens skitterend vertaal soos Uys Krige.

 

Daar is 44 gedigte opgeneem met ‘n voorwoord en verduideliking van terme in ‘n nawoord. Louise Cilliers is ‘n klassikus en sy ken dus die taal in al sy geledinge.

 

Cilliers se vertalings spreek tot hierdie leser. Met elke herlees, was hierdie leser bekoor.

 

So word hierdie boek bemark:

Verskeie van Konstantinos Kavafis se gedigte is al in Afrikaans vertaal, maar dit is die eerste keer dat so ’n groot aantal vertalings in een bundel saamgevat word, en die eerste keer dat die gedigte direk uit Grieks vertaal is. Kavafis se gedigte alhoewel meer as ’n eeu gelede in ’n verre land geskryf, spreek steeds tot mens vandag. Dit resoneer oor land en tydgrense heen. Uys Krige het Kavafis as ’n moderne praatdigter beskryf dit is asof hy op ’n gemaklike doodgewone manier met jou praat en dit kom goed oor in Afrikaans. Hierdie versameling gedigte is vir die leek sowel as die geleerde.

 

II

 

Die vertaler wys op die verskille tussen puritistiese en volks Grieks en hoe die digter telkens ‘n woord kies wat die beste pas. Sy wys verder op die mitologiese, historiese, filosofiese en homoërotiese temas.

 

Die digter is bekroon met die Medalje van die Orde van die Phoenix.

 

Sy gee ‘n kort lewensloop van die digter, gebore in Alexandrië in 1863.  Dan weens onluste in die stad, die familie se vertrek na Konstantinopel. Sy verskaf eweneens ‘n opsomming van sy digterlike loopbaan en die familie se ellendes. Hy werk vir die Egiptiese kantoor van Waterwese ten einde te oorleef vir ongeveer dertig jaar.

 

Die digter het min gereis en hy sterf op 29 April 1933 op sy sewentigste verjaarsdag.

 

 

III

 

Die toets vir ‘n oortuigende vertaling is dat dit nie soos een moet klink nie. Ek fokus vervolgens op ‘n paar verse. 

 

Verse wat melancholies is, spreek tot my. Dit wat handel oor verbode liefde. Verlange na wat wás …

 

Herinneringe soos in die slot van die gedig “Grys” (87):

 

Herinnering, bewaar hulle

soos hulle eens was, 

herinnering, bring my vanaand wat jy kan, 

al wat jy kan 

van daardie liefde van my. 

 

Die gedig “Gebed” is ‘n juweel (69). Min, spaarse woorde wat verlies en verdriet opvang met ‘n personifikasie van die Maria-beeld.

 

Gebed 

 

Die see het ’n matroos in sy dieptes ingetrek. 

Sy moeder, onwetend, neem ’n kers, 

 

steek dit aan by die voete van Maria, 

vra vir ’n spoedige tuiskoms, goeie weer – 

 

en heeltyd spits sy haar ore teen die wind. 

Maar terwyl sy bid en smeek 

 

luister die beeld, swaarmoedig en bedroef, 

wetend dat die seun op wie sy wag nie sal terugkeer nie.

*

 

“Op die skip” (78) is ‘n melancholiese terugkyk na ‘n verhouding wat ver in die verlede lê. Met herinnering wat vervaag soos ‘n potloodtekening. Betowerend ontsluit presies hoe dit was toe.

 

Op die skip 

 

Hierdie klein potloodtekening 

lyk vir seker soos hy. 

 

Vlugtig geskets op die skip se dek 

op ’n betowerende middag, 

die Ioniese See rondom ons. 

 

Dit lyk soos hy. 

Maar ek onthou hom meer aantreklik. 

Pynlik wellustig. 

Dit straal uit sy gelaat. 

Hy lyk vir my mooier 

noudat my siel 

hom uit tyd oproep. 

 

Uit tyd. 

Al hierdie dinge 

is eintlik baie oud – 

die skets, 

die skip, 

die middag.

 

*

 

“Hy verlaat die kantoor” (83) is ‘n klassieke gedig. Die verveling van die werk en die slenter aktiveer cruising bekend aan die gay-man se bestaan. In die silhoeët van die man word alles weergegee. Hier dink ‘n mens aan De Lange se gedigte waar hy ook na hierdie digter verwys.

 

Die gedig se slot is weggelaat. In die Engelse vertaling van Keely en Sherrard:

 

Quickly, secretly, so the shopowner sitting at the back
wouldn’t realize what was going on.

 

Waarom? Wou die vertaler snoei?

 

 

Hy verlaat die kantoor

 

Hy verlaat die kantoor waar hy 

teen ’n karige salaris in diens was,

’n onbeduidende pos

(sy salaris net agt pond, bonusse ingesluit).

Hy verlaat die kantoor

na nog ’n vervelige werksdag, 

die hele middag moes hy geboë sit.

Hy verlaat die kantoor sewe uur,

loop stadig uit,

slenter rustig straat af.

’n Mooi jong man, 

’n tikkie verleidelik, duidelik voluit sensueel.

Nege-en-twintig geword ’n maand gelede. 

 

Rustig drentel hy straat af

langs armoedige stegies na sy huis, 

 

verby ’n klein winkeltjie wat goedkoop

en alledaagse items vir werksmense adverteer. 

Hy sien ’n gesig daar binne, ’n silhoeët

wat hom noop om in te gaan.

Hy gee voor hy soek gekleurde sakdoeke. 

 

Hy vra uit oor die sakdoeke

se kwaliteit, die prys,

sy stem gesmoor, 

byna onhoorbaar deur hartstog. 

Die antwoord kom na hom 

in dieselfde trant,

vaag, verward, fluisterend,

kwalik ’n verborge instemming.

 

Deurentyd gaan die gesprek oor die koopware – 

maar eintlik is die doel 

dat hul hande moet raak

oor die sakdoeke, 

dat hul gesigte,

hul lippe mekaar asof toevallig nader, 

dat daar momenteel

liggaamlike kontak sou wees.

 

*

 

So klink die Engelse weergawe:

 

He Asked about the Quality

 

 

He left the office where he’d taken up
a trivial, poorly paid job
(eight pounds a month, including bonuses)—
left at the end of the dreary work
that kept him bent all afternoon,
came out at seven and walked off slowly,
idling his way down the street. Good-looking;
and interesting: showing as he did that he’d reached
his full sensual capacity.
He’d turned twenty-nine the month before.

He idled his way down the main street
and the poor side-streets that led to his home.

Passing in front of a small shop
that sold cheap and flimsy things for workers,
he saw a face inside there, saw a figure
that compelled him to go in, and he pretended
he wanted to look at some colored handkerchiefs.

He asked about the quality of the handkerchiefs
and how much they cost, his voice choking,
almost silenced by desire.
And the answers came back the same way,
distracted, the voice hushed,
offering hidden consent.

They kept on talking about the merchandise—but
the only purpose: that their hands might touch
over the handkerchiefs, that their faces, their lips,
might move close together as though by chance—
a moment’s meeting of limb against limb.

Quickly, secretly, so the shopowner sitting at the back
wouldn’t realize what was going on. 

 

Reprinted from C. P. Cavafy: Collected Poems Revised Edition, translated by Edmund Keeley and Philip Sherrard, edited by George Savvidis. Translation copyright © 1975, 1992 by Edmund Keeley and Philip Sherrard. Princeton University Press. For reuse of these translations, please contact Princeton University Press.

 

 

IV

 

“n Priester by Serapeion” ruk aan die hart. Historiese verse soos “Thermopulai” oor Klein Ignatios en Alexandrië as ‘n kruispunt van beskawings. Sy begelei ons ook deur stede en naamsveranderinge, verskillende kulture en gelowe. Die Griekse mitologie in “Achilles se perde” word voortreflik vertaal:

 

oor Patroklos, leweloos – die ewigheid in –

sy eerlose weerlose asemlose vlees

uitgewerp uit die lewe

na die groot Niks. (25)

 

 

V

 

Dit spreek vanself dat hierdie vertaling bekoor. Dit lees vlot en ontroer die leser telkemale.

Joan Hambidge 

 

Endnoot:

 

Twee vriende

na Cavafy

 

 

Hulle is minnaars soos hulle daar stap.

Hulle kan dit nie wegsteek nie.

lets aan hulle houding suggereer meer

as wat sigbaar is: die oorleun

van hulle lywe na mekaar,

‘n vertroulikheid in die kantel

van nek en skouers,

en ook hulle stap

– in pas – verraai iets

van die soort bed

waaruit hulle so pas opgestaan het.

 

Johann de Lange: Nagsweet (1991)



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)


Tuesday, June 20, 2023

Resensie | Eben Venter – Decima | Penguin, 2023


Eben Venter – Decima.  Penguin, 2023. 
ISBN 9781415210017

Resensent: Joan Hambidge



I


Hierdie roman uit die pen van die veelbekroonde skrywer Eben Venter se pen is gewoon meesleurend. Outofiksie, fabel, ‘n speurverhaal, jeugherinneringe, reisverslag én wetenskap word saamgesnoer om te skryf oor bewaring. Die megaherbivoor, die renoster, word in hierdie boek beskryf vanuit verskillende invalshoeke met talle stemme en fokalisasies.

 

Veral op ‘n taalvlak is dit ‘n boeiende roman, omdat die outeur se Afrikaans ook ‘n soort bewaringsaksie word soos die benaming van bossies: bababoudjies en lammerlat, boesmankers en vêrpis, kwaaiman en ghaap en dawidjiewortel, skryf hy op bladsy 85.

 

Name in die Groot-Karoo en die taal van sy moeder kan nooit uitgeban word nie, net soos die benaming van daardie bossies nie vernietig kan word nie. Want die name is verewig in hulle wortels, hulle lattakke en saaddoppe. ‘n Besonder belangrike kwessie, juis in hierdie dae waar Standaard-Afrikaans opnuut gekritiseer word en variëteite beskou word as tale met ‘n gelyke status as die standaard. Politieke kwessies, inderdaad.

 

Tale transformeer en is gebed in die konteks van die tyd: un gros légume of petit poisson in Frans word vandag nie meer gebruik nie, omdat die indertydse boeremilieu van Frans verander het.


Maar daardie begrippe bestaan steeds.

 

 

II

 

Decima gaan oor renosterstroping op die eerste storievlak. Maar dit gaan uiteindelik oor meer as dit: stroping, tradisionele medisyne, bewaarders, veldwagters, kansvatters teenoor mense met integriteit.

 

Selfs die renoster word aan die woord gestel. So begin die teks:

Vandag moet ek die sangoma gaan spreek. Die lug is yl met vlokke bleikgoud – vroeglente in die Oos-Kaap. ’n Polohemp met helder, dik strepe en swart jeans voel reg. Gedurende die skraal oggenduur hierdie brokke in my droom: ’n “teken hier”-vorm wat aanhoudend vervaag, ’n hand winterwit en leweloos, en die kleur blou. Niks hiervan beteken iets totdat ek by die sangoma gaan sit nie.

My ma wag op my by die eetkamertafel. Sy het gedek met ’n outydse, gehekelde tafeldoek en ’n Noritake-bord. Daar is twee goudbruin beskuite op die bord, en bitterige Nescafé in een van haar blommetjieskoppies – in dié deel van die storie is ek in Paradys-aftreeoord. Nou glip my ma se hand om die bekertjie warm melk en vou myne toe vir die ontbytgebed. Dan sê sy: Jy kan my kar vat. Ek bedank haar, ook vir die gebed wat ek beskou as ’n seëning omdat ek nie meer bevoeg is om vir myself te bid nie.

Ek maak als bymekaar vir die konsultasie, my Leica-kamera, gelaaide iPhone, notaboek, potlood en water, toe my ma my vasgryp met haar benerige, skone hand: My kind, sê sy, ek wil nie hê jy moet doodgaan voor my nie, dis al wat ek vra.

*

 

Daar is verskillende stemme of sprekers aanwesig. 

 

Saamgesnoer deur ‘n slim gefiksonaliseerde outeur met besoeke aan museums (in België) en ‘n sangoma in die Oos-Kaap. Hongkong en ander buitelandse ruimtes. Jeugherinneringe op ‘n skaapplaas ruk aan die hart. Besoeke aan die moeder in die aftree-oord is pynlik en helder beskryf. Daar is Athule Bomvane en Frankie van der Merwe, en die lewensmaat. Ross en vele ander stemme wat help vertel in ‘n soort Faulkner-agtige aanbod. Dr Heinz Mödler, onder andere rubriekskrywer, is ook hier. Hy is veral bekend vir sy insigryke rubrieke oor historiese en mediese kwessies.

 

Skrywers soos Proust, Flaubert, George Orwell, J.M. Coetzee saam met Claude Lévi-Strauss begrond die verhaal verder. En uiteraard: Eugėne N. Marais se Dwaalstories.

 

En Lucretius se siening dat geslagte tot niet gaan. En so gaan dit altyd wees (114).

 

Die voorblad van Albrecht Dürer se ikoniese renoster is treffend en aktiveer ook die vele kunsgesprekke en beskouings van die diorama. Besoeke aan België en ontmoetings met kenners analiseer die impak van die Belgiese Kongo en Koning Leopold II se kolonisering van swart mense.

 

Die sieninge en beskrywings van Roosevelt se brutale jagekspedisies en sy verminderende uitsprake oor renosters is eweneens tersaaklik nes J.M. Coetzee se belangrike studie The lives of animals (1999).

 

 

III

 

Verskillende perspektiewe: Die stropers Athule, Frankie van der Merwe, die Chinese diplomaat en die Big Boss wat alles orkestreer teenoor die wildbewaarder, Ziyanda wat weet hoe hierdie stropers werk, maak van hierdie gegewe ‘n soort speurverhaal. Klinies beskryf hoe die stropers wil geldmaak anders as die simpatieke Ziyanda.

 

Teenoor die siening van die medisinale effek van renosterpoeier word die verteller gekonfronteer met sifilis en ‘n besoek aan ‘n Westerse dokter. Die navorsers Roslyn en Leigh-Ann wat in Hongkong moet meer te wete kom oor wat ágter die skerms alles gebeur met renosterhorings en al die mites daaromheen ontmasker.

 

Die taal van die dier (vertolk deur die verteller) in Afrikaans teenoor Kantonnees en Xhosa.

 

Die hele kwessie van navorsing en etiese kwessies word subtiel aangespreek. Wat mag die navorser in ‘n studie weergee?  Wat mag uit ander dagboeke of vertellings “oorgeneem” word in ‘n roman? Hierom dan die lang lys van erkennings deesdae so opvallend in die romankuns.

 

Uiteindelik word die moeder en dier teenspelers van mekaar. Dit word ten slotte ‘n portret van die moeder wat sterf. Hoe sy vertrek en van haar waardigheid gestroop word, is eweneens tersaaklik: die dood maak ons niks, on-waardig. Die dood dan as die groot stroper.

 

Ligte wat skyn in huisies in die Oos-Kaap om die dooies te gedenk.

 

Die boek word opgedra aan die werklike moeder, Maureen Venter en die roman is voortdurend besig om die grense tussen fiksie en werklikheid uit te daag.

 

Op ‘n eerste vlak is dit die storie van Decima, getraumatiseer deur haar moeder se dood in die Groot Visrivier-park en dat diere waarskynlik meer weet as wat ons besef.

 

Elegie en ekologiese studie. Fiksie en faksie. Die waarheid gelieg met die verteller wat telkemale die perspektief verander amper soos in ‘n dokumentêre rolprent.

 

Dis ‘n asemsnakkende mooi roman. Dit betower, sleur jou mee in bykans 200 bladsye. Daar is eweneens ‘n tersaaklike bibliografie en selfs een wat versin is.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

Tuesday, June 6, 2023

Resensie | Jaco Jacobs - Die spaghettiboom | Protea Boekehuis, 2023

Jaco Jacobs - Die spaghettiboom (Illustrasies Pippa Pereira). Protea Boekehuis, 2023. ISBN: 978 4853 1325 0 | R180

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

Lydia Snyman, die uitstekende teoretikus van kinderboeke, het dikwels gesorg vir omstredenheid. Sy het wel sterk idees gehad oor die feit dat ‘n mens die kinderleser nie moet onderskat nie. En meer nog: dat ‘n kinderboek nie sommer ‘n storie is wat jy kan skryf omdat jy kinders het nie. Van haar bekendste werk is:

1968 

Die kind en sy literatuur 

1969 

Basiese kinderboeke: ’n lys vir ’n Suid-Afrikaanse biblioteek 

1975 

Die kinderverhaal as literatuur 

 

Sy was ook vertaler van klassieke kinderboeke soos Die pratende pot: ’n Deense volksverhaal deur Virginia Haviland en Die swaap en die vis: ’n Russiese volksverhaal deur Gennadij Spirin.

 

Die afgelope paar jaar het hierdie leser verskeie kinderboeke begin lees. Die buurkind, Nina se biblioteek is deur my aangevul en selwers is hierdie boeke met groot vreugde deur my gelees.

 

En tekenrolprente soos Toy Story (1995) of Japannese animasierolprente is nie net vir kinders nie.

 

A town called Panic, die 2009 mal film van Stéphane Aubier en Vincent Patar, is uiters bekoorlik. Die Cowboy, Rooihuid en die Perd (die hoofkarakters) en die fout rondom ‘n bestelling met stene is heerlik vermaaklik.

 

Hierteenoor die ernstige werk van Hayao Miyazaki se Spirited Away van 2020. Dit beskryf die fantasie van ‘n dogtertjie wat aan die slaap raak en dan in haar droom iets magistraals en ontstellends beleef. Die tienjaar oue Chihiro Ogino en haar ouers, reis na hul nuwe huis. Haar pa neem ‘n kortpad en beland voor ‘n pretpark wat leeg staan. Die kind wil nie meedoen nie en dan word dit ‘n ervaring in ‘n restaurant waar haar ouers verander in varke. Sy kan nie vlug nie. Sy ontmoet Haku wat haar teen die gevare waarsku …

 

Sy beleef verskeie vreesaanjaende dinge, maar wanneer sy wakker word, kan sy gelukkig niks onthou nie. Sy het wel die wêreld van geeste besoek, oftewel Kami in die Japannese Shinto-kultuur.

 

 

II

 

Ons dra almal ‘n kinderboek of meer in ons. Enid Blyton. Trompie en Saartjie. En later Keurboslaan en Maasdorp. Niks kom waarskynlik by Stories van Rivierplaas uit nie.

 

Die kind se fantasie of verbeeldingswêreld is dikwels ‘n plek van ontvlugting. Veral as die kind afknouery of vermindering beleef.

 

Die spaghettiboom van Jaco Jacobs (met illustrasies deur Pippa Pereira) is ‘n kleuterboek. So lui die blakerteks:

In Mika-hulle se tuin is daar 'n boom. Dit het 'n dik stam vol knoetse en knoppe en dit is die perfekte boom vir boomklim. Maar dit is eintlik nie 'n doodgewone boom nie. Party dae word die boom 'n seerowerskip. Ander dae word dit 'n besige restaurant. Sommige dae dra die boom die vreemdste vrugte, soos verfkwaste, ou sokkies of stringe spaghetti. Die boom is Mika se beste maat, tot daar op 'n dag nuwe bure intrek ... Hierdie is 'n verhaal vol verbeelding met klem op die waarde van vriendskap.

Maar dis meer as dit. Dis ‘n verstommende verhaal van transformasie en verbeelding. Kyk wat gebeur alles in die boom …

 

Margaret Atwood in haar essay “Not so Grimm: The Staying Power of Fairytales” opgeneem in Curious Pursuits (Virago, 2005) wys op die argetipes in feëverhale na aanleiding van Marina Warner se studie From the Beast to the Blonde. Plesier, lag, trane …

 

Mika en Niel. ‘n Boombiblioteek.

 

Soms ‘n seerowerskip, ander keer ‘n verhoog waar die beste sangers optree (voëltjies). Dan weer ‘n woeste, wilde pretpark. Selfs ‘n besige restaurant. Die boom dra ook vreemde vrugte soos ou sokkies, verfkwaste en natuurlik stringe spaghetti.

 

En dis dan die buurseun wat die fantasie breek wanneer hy meen in ‘n boom kan daar nie spaghetti wees nie. Dan die wending: hy word deel van haar fantasie met boeke oor monsters, meerminne, ridders en ruimtevaarders. En uiteindelik verander die boom in ‘n oertydboom …

 

En dan word haar boom ons boom met ‘n pterodaktiel met eiers wat uitbroei. 

 

Die boom is simbolies van die lewe. Dit representeer die hiernamaals. Bome is is ook ‘n konneksie tussen die aarde en die hemel. In die Keltiese kultuur word bome as voorouers gesien en hierom is dit heilig.

 

Hierdie is ‘n boek vir alle kinders en groot kinders. Jaco Jacobs is ‘n besondere talent.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)