Monday, July 3, 2023

Resensie | Konstantinos P. Kavafis - Van Alexandrië na Ithaka | Naledi, 2023

Konstantinos P. Kavafis - Van Alexandrië na Ithaka (vertLouise Cilliers). Naledi, 2023. ISBN: 978-1-77617-236-8 | 102 bladsye, R260.00

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Vertalings verruim en verryk ‘n taal. Ons kan nie sonder vertalings betaan nie. Daar is verskillende soorte vertalings: herdigtings, swak en goeie vertalings. Blote transkripsies. 

 

Uys Krige is waarskynlik een van ons grootste vertalers uit die Spaans, Frans en Portugees. Uit Duits het Gunther Pakendorf ‘n beduidende bydrae gelewer soos Daniel Hugo uit die Vlaams. Of Fanie Olivier. Naòmi Morgan en Bernard Odendaal se puik Brel bydraes uit die Frans. Op die Versindaba lewer Odendaal uitstekende vertalings van gedigte, bekend en minder bekend, uit die Duits. Helize van Vuuren uit Duits.

 

Die lys is onmeetlik lank.

 

Dit is dan ook goed om die oorspronklike teks langs die aangebode vertaling te sien. Hier sien ons dit nie, omdat min lesers Grieks ken.

 

My kennis van Grieks is eweneens beperk. Hierom word daar net op die vertalings gefokus as geslaagde gedigte. Daar is wel vergelykings gemaak met Engelse vertalings.

 

Ek lees Kafavis al vir jare en het self “Ithaka” vertaal (opgeneem in Sanctum). Johann de Lange het dit eweneens skitterend vertaal soos Uys Krige.

 

Daar is 44 gedigte opgeneem met ‘n voorwoord en verduideliking van terme in ‘n nawoord. Louise Cilliers is ‘n klassikus en sy ken dus die taal in al sy geledinge.

 

Cilliers se vertalings spreek tot hierdie leser. Met elke herlees, was hierdie leser bekoor.

 

So word hierdie boek bemark:

Verskeie van Konstantinos Kavafis se gedigte is al in Afrikaans vertaal, maar dit is die eerste keer dat so ’n groot aantal vertalings in een bundel saamgevat word, en die eerste keer dat die gedigte direk uit Grieks vertaal is. Kavafis se gedigte alhoewel meer as ’n eeu gelede in ’n verre land geskryf, spreek steeds tot mens vandag. Dit resoneer oor land en tydgrense heen. Uys Krige het Kavafis as ’n moderne praatdigter beskryf dit is asof hy op ’n gemaklike doodgewone manier met jou praat en dit kom goed oor in Afrikaans. Hierdie versameling gedigte is vir die leek sowel as die geleerde.

 

II

 

Die vertaler wys op die verskille tussen puritistiese en volks Grieks en hoe die digter telkens ‘n woord kies wat die beste pas. Sy wys verder op die mitologiese, historiese, filosofiese en homoërotiese temas.

 

Die digter is bekroon met die Medalje van die Orde van die Phoenix.

 

Sy gee ‘n kort lewensloop van die digter, gebore in Alexandrië in 1863.  Dan weens onluste in die stad, die familie se vertrek na Konstantinopel. Sy verskaf eweneens ‘n opsomming van sy digterlike loopbaan en die familie se ellendes. Hy werk vir die Egiptiese kantoor van Waterwese ten einde te oorleef vir ongeveer dertig jaar.

 

Die digter het min gereis en hy sterf op 29 April 1933 op sy sewentigste verjaarsdag.

 

 

III

 

Die toets vir ‘n oortuigende vertaling is dat dit nie soos een moet klink nie. Ek fokus vervolgens op ‘n paar verse. 

 

Verse wat melancholies is, spreek tot my. Dit wat handel oor verbode liefde. Verlange na wat wás …

 

Herinneringe soos in die slot van die gedig “Grys” (87):

 

Herinnering, bewaar hulle

soos hulle eens was, 

herinnering, bring my vanaand wat jy kan, 

al wat jy kan 

van daardie liefde van my. 

 

Die gedig “Gebed” is ‘n juweel (69). Min, spaarse woorde wat verlies en verdriet opvang met ‘n personifikasie van die Maria-beeld.

 

Gebed 

 

Die see het ’n matroos in sy dieptes ingetrek. 

Sy moeder, onwetend, neem ’n kers, 

 

steek dit aan by die voete van Maria, 

vra vir ’n spoedige tuiskoms, goeie weer – 

 

en heeltyd spits sy haar ore teen die wind. 

Maar terwyl sy bid en smeek 

 

luister die beeld, swaarmoedig en bedroef, 

wetend dat die seun op wie sy wag nie sal terugkeer nie.

*

 

“Op die skip” (78) is ‘n melancholiese terugkyk na ‘n verhouding wat ver in die verlede lê. Met herinnering wat vervaag soos ‘n potloodtekening. Betowerend ontsluit presies hoe dit was toe.

 

Op die skip 

 

Hierdie klein potloodtekening 

lyk vir seker soos hy. 

 

Vlugtig geskets op die skip se dek 

op ’n betowerende middag, 

die Ioniese See rondom ons. 

 

Dit lyk soos hy. 

Maar ek onthou hom meer aantreklik. 

Pynlik wellustig. 

Dit straal uit sy gelaat. 

Hy lyk vir my mooier 

noudat my siel 

hom uit tyd oproep. 

 

Uit tyd. 

Al hierdie dinge 

is eintlik baie oud – 

die skets, 

die skip, 

die middag.

 

*

 

“Hy verlaat die kantoor” (83) is ‘n klassieke gedig. Die verveling van die werk en die slenter aktiveer cruising bekend aan die gay-man se bestaan. In die silhoeët van die man word alles weergegee. Hier dink ‘n mens aan De Lange se gedigte waar hy ook na hierdie digter verwys.

 

Die gedig se slot is weggelaat. In die Engelse vertaling van Keely en Sherrard:

 

Quickly, secretly, so the shopowner sitting at the back
wouldn’t realize what was going on.

 

Waarom? Wou die vertaler snoei?

 

 

Hy verlaat die kantoor

 

Hy verlaat die kantoor waar hy 

teen ’n karige salaris in diens was,

’n onbeduidende pos

(sy salaris net agt pond, bonusse ingesluit).

Hy verlaat die kantoor

na nog ’n vervelige werksdag, 

die hele middag moes hy geboë sit.

Hy verlaat die kantoor sewe uur,

loop stadig uit,

slenter rustig straat af.

’n Mooi jong man, 

’n tikkie verleidelik, duidelik voluit sensueel.

Nege-en-twintig geword ’n maand gelede. 

 

Rustig drentel hy straat af

langs armoedige stegies na sy huis, 

 

verby ’n klein winkeltjie wat goedkoop

en alledaagse items vir werksmense adverteer. 

Hy sien ’n gesig daar binne, ’n silhoeët

wat hom noop om in te gaan.

Hy gee voor hy soek gekleurde sakdoeke. 

 

Hy vra uit oor die sakdoeke

se kwaliteit, die prys,

sy stem gesmoor, 

byna onhoorbaar deur hartstog. 

Die antwoord kom na hom 

in dieselfde trant,

vaag, verward, fluisterend,

kwalik ’n verborge instemming.

 

Deurentyd gaan die gesprek oor die koopware – 

maar eintlik is die doel 

dat hul hande moet raak

oor die sakdoeke, 

dat hul gesigte,

hul lippe mekaar asof toevallig nader, 

dat daar momenteel

liggaamlike kontak sou wees.

 

*

 

So klink die Engelse weergawe:

 

He Asked about the Quality

 

 

He left the office where he’d taken up
a trivial, poorly paid job
(eight pounds a month, including bonuses)—
left at the end of the dreary work
that kept him bent all afternoon,
came out at seven and walked off slowly,
idling his way down the street. Good-looking;
and interesting: showing as he did that he’d reached
his full sensual capacity.
He’d turned twenty-nine the month before.

He idled his way down the main street
and the poor side-streets that led to his home.

Passing in front of a small shop
that sold cheap and flimsy things for workers,
he saw a face inside there, saw a figure
that compelled him to go in, and he pretended
he wanted to look at some colored handkerchiefs.

He asked about the quality of the handkerchiefs
and how much they cost, his voice choking,
almost silenced by desire.
And the answers came back the same way,
distracted, the voice hushed,
offering hidden consent.

They kept on talking about the merchandise—but
the only purpose: that their hands might touch
over the handkerchiefs, that their faces, their lips,
might move close together as though by chance—
a moment’s meeting of limb against limb.

Quickly, secretly, so the shopowner sitting at the back
wouldn’t realize what was going on. 

 

Reprinted from C. P. Cavafy: Collected Poems Revised Edition, translated by Edmund Keeley and Philip Sherrard, edited by George Savvidis. Translation copyright © 1975, 1992 by Edmund Keeley and Philip Sherrard. Princeton University Press. For reuse of these translations, please contact Princeton University Press.

 

 

IV

 

“n Priester by Serapeion” ruk aan die hart. Historiese verse soos “Thermopulai” oor Klein Ignatios en Alexandrië as ‘n kruispunt van beskawings. Sy begelei ons ook deur stede en naamsveranderinge, verskillende kulture en gelowe. Die Griekse mitologie in “Achilles se perde” word voortreflik vertaal:

 

oor Patroklos, leweloos – die ewigheid in –

sy eerlose weerlose asemlose vlees

uitgewerp uit die lewe

na die groot Niks. (25)

 

 

V

 

Dit spreek vanself dat hierdie vertaling bekoor. Dit lees vlot en ontroer die leser telkemale.

Joan Hambidge 

 

Endnoot:

 

Twee vriende

na Cavafy

 

 

Hulle is minnaars soos hulle daar stap.

Hulle kan dit nie wegsteek nie.

lets aan hulle houding suggereer meer

as wat sigbaar is: die oorleun

van hulle lywe na mekaar,

‘n vertroulikheid in die kantel

van nek en skouers,

en ook hulle stap

– in pas – verraai iets

van die soort bed

waaruit hulle so pas opgestaan het.

 

Johann de Lange: Nagsweet (1991)



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)