Tuesday, June 6, 2023

Resensie | Jaco Jacobs - Die spaghettiboom | Protea Boekehuis, 2023

Jaco Jacobs - Die spaghettiboom (Illustrasies Pippa Pereira). Protea Boekehuis, 2023. ISBN: 978 4853 1325 0 | R180

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

Lydia Snyman, die uitstekende teoretikus van kinderboeke, het dikwels gesorg vir omstredenheid. Sy het wel sterk idees gehad oor die feit dat ‘n mens die kinderleser nie moet onderskat nie. En meer nog: dat ‘n kinderboek nie sommer ‘n storie is wat jy kan skryf omdat jy kinders het nie. Van haar bekendste werk is:

1968 

Die kind en sy literatuur 

1969 

Basiese kinderboeke: ’n lys vir ’n Suid-Afrikaanse biblioteek 

1975 

Die kinderverhaal as literatuur 

 

Sy was ook vertaler van klassieke kinderboeke soos Die pratende pot: ’n Deense volksverhaal deur Virginia Haviland en Die swaap en die vis: ’n Russiese volksverhaal deur Gennadij Spirin.

 

Die afgelope paar jaar het hierdie leser verskeie kinderboeke begin lees. Die buurkind, Nina se biblioteek is deur my aangevul en selwers is hierdie boeke met groot vreugde deur my gelees.

 

En tekenrolprente soos Toy Story (1995) of Japannese animasierolprente is nie net vir kinders nie.

 

A town called Panic, die 2009 mal film van Stéphane Aubier en Vincent Patar, is uiters bekoorlik. Die Cowboy, Rooihuid en die Perd (die hoofkarakters) en die fout rondom ‘n bestelling met stene is heerlik vermaaklik.

 

Hierteenoor die ernstige werk van Hayao Miyazaki se Spirited Away van 2020. Dit beskryf die fantasie van ‘n dogtertjie wat aan die slaap raak en dan in haar droom iets magistraals en ontstellends beleef. Die tienjaar oue Chihiro Ogino en haar ouers, reis na hul nuwe huis. Haar pa neem ‘n kortpad en beland voor ‘n pretpark wat leeg staan. Die kind wil nie meedoen nie en dan word dit ‘n ervaring in ‘n restaurant waar haar ouers verander in varke. Sy kan nie vlug nie. Sy ontmoet Haku wat haar teen die gevare waarsku …

 

Sy beleef verskeie vreesaanjaende dinge, maar wanneer sy wakker word, kan sy gelukkig niks onthou nie. Sy het wel die wêreld van geeste besoek, oftewel Kami in die Japannese Shinto-kultuur.

 

 

II

 

Ons dra almal ‘n kinderboek of meer in ons. Enid Blyton. Trompie en Saartjie. En later Keurboslaan en Maasdorp. Niks kom waarskynlik by Stories van Rivierplaas uit nie.

 

Die kind se fantasie of verbeeldingswêreld is dikwels ‘n plek van ontvlugting. Veral as die kind afknouery of vermindering beleef.

 

Die spaghettiboom van Jaco Jacobs (met illustrasies deur Pippa Pereira) is ‘n kleuterboek. So lui die blakerteks:

In Mika-hulle se tuin is daar 'n boom. Dit het 'n dik stam vol knoetse en knoppe en dit is die perfekte boom vir boomklim. Maar dit is eintlik nie 'n doodgewone boom nie. Party dae word die boom 'n seerowerskip. Ander dae word dit 'n besige restaurant. Sommige dae dra die boom die vreemdste vrugte, soos verfkwaste, ou sokkies of stringe spaghetti. Die boom is Mika se beste maat, tot daar op 'n dag nuwe bure intrek ... Hierdie is 'n verhaal vol verbeelding met klem op die waarde van vriendskap.

Maar dis meer as dit. Dis ‘n verstommende verhaal van transformasie en verbeelding. Kyk wat gebeur alles in die boom …

 

Margaret Atwood in haar essay “Not so Grimm: The Staying Power of Fairytales” opgeneem in Curious Pursuits (Virago, 2005) wys op die argetipes in feëverhale na aanleiding van Marina Warner se studie From the Beast to the Blonde. Plesier, lag, trane …

 

Mika en Niel. ‘n Boombiblioteek.

 

Soms ‘n seerowerskip, ander keer ‘n verhoog waar die beste sangers optree (voëltjies). Dan weer ‘n woeste, wilde pretpark. Selfs ‘n besige restaurant. Die boom dra ook vreemde vrugte soos ou sokkies, verfkwaste en natuurlik stringe spaghetti.

 

En dis dan die buurseun wat die fantasie breek wanneer hy meen in ‘n boom kan daar nie spaghetti wees nie. Dan die wending: hy word deel van haar fantasie met boeke oor monsters, meerminne, ridders en ruimtevaarders. En uiteindelik verander die boom in ‘n oertydboom …

 

En dan word haar boom ons boom met ‘n pterodaktiel met eiers wat uitbroei. 

 

Die boom is simbolies van die lewe. Dit representeer die hiernamaals. Bome is is ook ‘n konneksie tussen die aarde en die hemel. In die Keltiese kultuur word bome as voorouers gesien en hierom is dit heilig.

 

Hierdie is ‘n boek vir alle kinders en groot kinders. Jaco Jacobs is ‘n besondere talent.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)