Tuesday, July 11, 2023

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Kumbukumbu. ‘n Reisboek oor Kenia | Imprimatur, 2022

Johann Lodewyk Marais – Kumbukumbu. ‘n Reisboek oor Kenia. Imprimatur, 2022. ISBN 978 0 6397 4398 1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

‘n Memorieboek. ‘n Uitsonderlike boek van die digter (en historikus) Johann Lodewyk Marais se reise na Kenia. Regdeur hierdie digter se digkuns is daar ‘n bemoeienis met Afrika en meer spesifiek: Kenia. Die reisverslag is besonder insigryk met ‘n historiese gegewens wat afgewissel word met die digter se indrukke. Oor die verskille in kulturele kodes, misverstande rondom taal, onverwagse tegemoetkomende gidse en natuurlik kansvatters.

 

Die digter het grootgeword in Noordoos-Vrystaat en as skoolkind ‘n obsessie ontwikkel met Oos-Afrika.

 

Deurgaans bly die leser bewus van die digter-as-optekenaar. Wanneer hy ‘n notaboek verloor en onverwags terugvind in ‘n sakkie aan sy tas wat hy nooit gebruik nie, is die leser verlig saam met hom. Anders was ons hierdie verslag kwyt (94). So dig hy in Nomade (2014):

 

Heilige skrif

 

Die vrou wat onder die tamarinde

die Koran sit en lees, keer my vierspoor

wanneer ek buk en met my wysvinger

aan die mooi karakters voor haar wil raak.

Sy gru en hou haar hande beskermend

oor die letters wat vir haar heilig is.

“Elke ayat is wonders en tekens

en het net so uit die hemel gekom,”

sê sy en prewel Mohammed se gebod.

Deur die boomtakke en -blare teken

die son die arabeskpatrone na.

 

Die ayat hier verwys na die genommerde verse in die Koran. Dit beteken ook teken én mirakel.

 

En alle reisigers weet hoe toevallige ontmoetings ‘n hele reis (positief of negatief) kan beïnvloed.

 

Die voortdurende spel tussen belewenis en optekening (wat later gedigte word), is vir hierdie leser die belangrikste aspek van hierdie herinneringsboek, soos die titel reeds aandui.

 

Hierdie reisverslag gee vir ons ‘n kaart van die ruimte wat die reisende digter besoek. Ons beleef sy vreugdes en frustrasies. Maar dit is veral die kaarte van onthou wat hier tersaaklik is: ‘n terugreis na sy jeug op Harrismith waar hy ‘n swart taal aanleer as kind.

 

In “Versugting” (in Ondertussen, 2020) dig hy:

 

My geil, versaakte kontinent:

Iets wens olienhout groei in jou

dat alles Afrikaans sal bly

en kerk, tempel en moskee hou.

 

So met ‘n subtiele verwysing na Van Wyk Louw uit Tristia:

 

My land, my dor, verlate land:

iets wens olywe groei in jou:

dat alles klein, Latyns, gaan word

en kalk-wit kerkies bou.

 

 

II

In hierdie reisverslag verwys hy na die Mau Mau; verder terug: die invloed van die Portugese seevaarders en Vasco da Gama se besoek in 1498. Later natuurlik, die kolonisering deur die Britte en hoe besetters ryk geword het weens koffie- en teeplantasies. Out of Africa deur die Deense skrywer Barones Karen von Blixen-Finecke (in 1937) karteer politieke oorgange.

 

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Kenia uiteraard voedsel en soldate voorsien aan die Britte. En die belangrike historiese oomblik beskryf Marais ook: in 1952 was Prinses Elizabeth en Prins Philip  op besoek in Kenia toe haar vader, Koning George VI in sy slaap oorlede is. Sy is terug Engeland toe en in 1953 as Koningin gekroon.

 

Die opstande van die Mau Mau’s, Jomo Kenyatta en die opkoms van Daniel arap Moi is die ondergrond van hierdie vertelling met latere politieke woelinge.

 

Leakey is hier en die Adamson’s met ‘n uitgebreide bronnelys vir verdere lees.

 

 

III

 

Uit Johannesburg, rigting Mosambiek, Tete, Malawi dan oor Tanzanië waar hy Berg Kilimanjaro sien.

 

Mombasa en Malindi. Nairobi en Douala en Bangui …

 

Lees hierdie boek saam met Lae wolke oor Mosambiek (2003).

 

Dis in ‘n pragtige hardeband gepubliseer deur Imprimatur met mooi foto’s.

 

Kumbukumbu beteken herinnering. Die werklike reise word gesinchroniseer met die reise van die hart.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en navorser aan die Universiteit van Kaapstad.