Resensent: Joan Hambidge
Leonhard Praeg se roman Imitation beslaan 300 bladsye. Dit is 'n roman wat gepubliseer is deur 'n akademiese uitgewershuis en die skrywer is 'n professor in filosofie. Boonop tree dit in gesprek met Milan Kundera se beroemde roman Immortality (1990), en word ook betekenisvol opgedra aan Kundera as 'n geskenk.
Immortality vorm deel van 'n trilogie, te wete The Book of Laugher and Forgetting en The Unbeararable Lightness of Being.
Soos Kundera se roman hou dit nie by die gewone plot-konvensies nie. Dit is veral 'n roman van allusies en intertekste. Die leser word 'n toehoorder en onderrig in die betekenis van lees. Wat is lewe? Wat is dood? In Kundera se roman is daar 'n vriendskap tussen Goethe en Hemingway in die ander oord.
Praeg erken dat hy karakters en dialoog oorgeneem het - soos Professor Avenarius.
Hierdie roman begin traag, maar wanneer dit jou beetpak en jy die sleutel waarin dit geskryf is, snap, word dit 'n besonderse leeservaring. Dit bevat selfs sketse van die St Peters basilika (p. 100 -103). Hier word daar kommentaar gelewer op Our Lady of Peace in Yamoussoukro, Cote d’Ivoire, 'n nabootsing van die oorspronklike, maar groter as die eerste.
President Houphouët-Boigny het dit as 'n geskenk aan die pous gegee wat nie geweet het wat om daarvan te maak nie. Hieroor word daar boeiende kommentaar gelewer: oor die kwessie van 'n armoedige land wat sulke uitspattigheid aanbied, oor magsverhoudinge, oor hubris, en veral oor die numineuse (p. 210 - 211).
Die roman is dan uiteindelik 'n besinning oor die skryfproses en hier was Roland Barthes (1975/1977) deur (par) Roland Barthes, daardie outobiografiese roman-cum-teoretiese handleiding van nut.
Ten spyte van die "akademiese" aanslag, is dit 'n boek wat 'n mens emosioneel raak.
Kundera se roman is in 7 afdelings verdeel.
"A novel shouldn't be like a bicycle race but a feast of many courses. I am really looking to Part 6. A completely new character will enter the novel. And at the end of that part he will disappear without a trace. He causes nothing and leaves no effects. That is precisely what I like about him. Part 6 will be a novel within a novel, as well as the saddest erotic story I have ever written." (Books of the times: The Novel Re-examined In a Novel by Kundera | The New York Times | Book Review. Besoek 18 Desember 2017).
The 'imitations' of A Sentimental Journey are uniformly disastrous - turgid, farcical and insipid, skryf Iain McGilchrist in Against Criticism (Faber & Faber, 1982, 151) oor Sterne se nabootsings in Tristram Shandy. Dit is egter nie die geval hiér met die nabootsing en herskrywing van Kundera se uitstekende roman nie.
Praeg sit iets by. Hy wys hoe die skrywer
karakters kan terugbring in taal (p. 265) en hoe die menslike bestaan, dikwels een van gefnuik begeerte, is. Die omgekeerde pi is eweneens tersaaklik, so ook Oedipus te Colonus is: "What is best of all is utterly beyond your reach: not to be
born, not to be, to be nothing. But the second best for you is
- to die soon" (p. 256).
Daar is 'n bibliografie vir verdere navorsing. Ek voorspel dosente in die filosofie sal dit voorskryf. Oor die rol van die panteon onder andere. En die skrywer maak uiters subtiele opmerkings oor die rol van die moderne akademikus aan Suid-Afrikaanse universiteite - iets waarmee hierdie leser sterk kon identifiseer.
In hierdie dae van die Steinhoff-skandaal wat bewys hoe maklik alles op niks gebou kan word, is hierdie roman uiters tydig. Eweneens in 'n tyd waar die moeilik-toeganklike roman minder aandag geniet as die werklik komplekse teks.
Die boek is 'n huldeblyk aan Kundera.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)