Monday, June 10, 2024

Resensie | Corlia Fourie en Annelize van Rooyen (Samestellers) - Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories | Queillerie, 2024

Corlia Fourie en Annelize van Rooyen (Samestellers) - Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories. Queillerie, 2024. ISBN: 9780795802751 | R320, 00 Sagteband

Resensent: Joan Hambidge

 

Van die grootste skrywers het al hul hand gewaag aan reisbeskrywings. Paul Theroux se The Great Railway Bazaar(1975) bly ‘n baken in die ontdekking van vreemde, eksotiese landskappe. Ons is bekend met Graham Greene se Travels with my Aunt, met ene Henry Pulling, ‘n afgetrede bankbestuurder se ervarings saam met sy onkonvensionele Aunt Augusta op die Orient Express. Hy kry ‘n nuwe blik op die lewe (en sy ou self) danksy reis met sy amorele tante.

 

Hier te lande het Elsa Joubert Afrika in haar reisverhale ontgin. Haar soloreise deur Afrika in 1948 deur Uganda, Egipte en Mosambiek is uitstekend. En in 1997 verskyn Gordel van Smarag na Indonesië.

 

Die verskillende skrywers in Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories  vertel van onverwagse én ongewone gebeure. Snaaks, bittersoet of met “heuglike” gevolge, maar immer verrykend. Reis is op alle vlakke verre-gaande. Mary Louise Pratt verwys na die "kunste van die kontaksone" in Imperial Eyes: Travel Writing and Transculturation (1992).

 

Hier is 46 skrywers opgeneem, maar belangrike reisskrywers in Afrikaans staan nie hier nie. Die voorwoord is maar skrams en dit is vir die leser onduidelik hoekom daar op sekere skrywers besluit is. Maar dit bly immer altyd samestellers se prerogatief om te kies.

 

Die verhale word in verskillende afdelings geplaas soos  ‘n Bus vol plesier, Hoe sag wieg ons bootjie, So ry die trein, Laat die wiele rol, Vlieg hoog, vlieg ver, Verblyf, Bagasie, Ontmoetings, Onvoorspelbare weer, Bestemmings, Die tale wat ons praat.

 

Reis werk altyd met dít wat jy dink jy weet van ‘n land, sy mense en kulture en die ontdekking van ‘n wrede werklikheid. Hierom kan ‘n nuwe land jou lie maak of fop.

 

Reis is immers om te navigeer tussen dit wat jy dink jy weet en die ervaring. Dikwels verstaan jy eers die impak van ‘n land en sy mense lank nadat jy teruggekeer het. Fly now, cry later.

 

Elke skets is hoogs onthoubaar en hierdie leser fokus net op ‘n paar kwessies.

 

Sophia Kapp vertel van ‘n verlore rugsak en ‘n stryd met koerierdienste geplaas teen die argetipiese verlore silwerstuk.

 

Of die besef dat die reis belangriker is as die aankoms. Of dat die natuur altyd groter is as die mens: uitmuntend vertolk deur Michèle Meyer oor die Grand Canyon.

 

Reis het met altyd taalmisverstande te make. Of met die afwesigheid van taal. In die afdeling Die tale wat ons praat, is daar ‘n subtiele faux pas, hilaries weergegee deur Renée Rautenbach Conradie met ‘n slim slot. Kort en kragtig met ‘n blomnaam met funeste gevolge: spyker-my-by-die-tuinhekkie. Stywerug en tweezerlip Franse in ‘n diplomatieke wêreld word heerlik opgestuur in hierdie snelfiksie.

 

“Gaan julle, of bly julle?” van Louis Jansen van Vuuren herinner ons aan die waansin van Covid-inperkings en reisbeperkinge. Hier vind ons die blik van buite (Frankryk) teenoor binne (die bekende).

 

‘n Skitterende skets is die een van Gerrit Rautenbach se “Uitkamp in die Fraserburg Hotel”: nostalgies, navrant en hoé die verdwyning van ‘n afgebrande hotel nooit uit die geheue gewis kan word nie.

 

Of as jy dink dat binne ‘n vreemde omgewing word Afrikaanse geskinder nie verstaan nie, soos Anzil Kulsen tereg uitwys, is jy toetentaal verkeerd. Ons ken almal die storie van die twee studente wat ‘n mooi meisie se bates op ‘n bus in Londen in kleur en geur bespreek en haar later die aand by die Suid-Afrikaanse Ambassade raakloop.

 

En hoe mense sonder taal kan kommunikeer, met welwillendheid en liefde, bewys Erika Murray-Theron: daardie gemeenskaplike taal wat mense saamsnoer in die vreemde. Hier speel dit af in Slowakye.

 

Marita van der Vyver beskryf die greyhound-reis en die mense van die VSA perfek. Saam met Jacques Pauw reis jy deur Siberië met vodka. Annemarié van Niekerk gee ‘n raak beskrywing van hoe mens soms toevallig onder die indruk kom van menslikheid, oor aanraking:” … oor die wete dat een mens ‘n ander se weggoibekertjie kan vul met veel meer as munte”(187).

 

Of reis met ‘n ou moeder wat ‘n vriendin uit Pofadder herken wat sy jare laas gesien het, groet in vreugde, maar mekaar nooit weer sien nie. Joan Kruger in “Kakamas>*<Parys> *<Pofadder” wat dit hier raak opsom:”Ons reis in ons eie taalkokon voort” (204).

 

En Kerneels Breytenbach se skitter bydrae waar hy sy storie baseer op ander se verslae en herverpak. Oor Mamma Jane se staning en verskillende kulturele tradisies. Die stem van rede teenoor bacchantiese wellustelinge (32).

 

Humor en misverstand (Martie Retief Meiring). Stinkende reisgenote (Frederik de Jager). Bedrog (Skreeusnaaks beskryf deur Nadia de Kock). Diefstal (Annelize van Rooyen). Verkeerde stasies of treine (Erika Murray-Theron). Of aanwysings wat verlore geraak het in ‘n wonderlike smokkelstorie (Elma Potgieter geplaas teenoor Kas van den Bergh). Of ‘n paspoort wat tuis in ‘n laai vergeet is (Bettie Lambrecht).

 

Of ‘n skets wat ‘n bekende verhaal oproep soos Japie Gouws dit doen in sý weergawe van Positano. Reis dan ook deur boeke. ‘n Goeie reisbeskrywing laat jou daardie plek in al sy fasette voel en ruik.

 

Daar is uiteenlopende en hoogs onthoubare reissketse saamgesnoer in hierdie versameling: Saam na die Noorde, saam met die wa!

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)