Wednesday, October 3, 2018

Resensie | Alettie van den Heever - Stof (2018)

Alettie van den Heever – Stof: 'n kanttekening. Queillerie, 2018. ISBN: 9780795801600

Resensie: Joan Hambidge

I

Hierdie opwindende debuut het my onvermydelik teruggeneem na twee seminale besinnings oor die abjekte, Julia Kristeva se Powers of Horror: An essay on Abjection (Columbia University Press, 1982) en Rosemary Jackson se Fantasy – The Literature of Submission (Methuen, 1981).

Sowel Kristeva as Jackson werk met die idee van subversie. By Alettie van den Heever word dit reeds op ‘n taalvlak uitgespeel.

Ons lees op bladsy 11: “Ekskrementorium, ontlaswoning, opelyftoring, blertsorium, bolliewinkel, tjortstjoekie, poefsalon, poefieplaas” … “Akkieshok, drolpaleis, strontsentrum, skytgebou, kakmansion!”.

Hier is ons dan in die abjekte. Die teenoorgestelde van die konvensionele fantasie. Op die voorblad van Jackson se boek is daar 'n afbeelding van Bosch se Tuin van aardse luste, waar die abjekte en die fantasiewêreld saamgesnoer word.

Jackson – in navolging van Todorov se The Fantastic: A structural approach to a literary genre (1973) kyk na hierdie tekste wat kulturele ongemak veroorsaak. Van den Heever se werk daag immers jou leespatroon uit, en ‘n resensent, Loftus Marais, het reeds daarop gewys dat sy juis vérby die voorspelbare van die Afrikaans roman beweeg (Dié ‘drolryke’ toekomsfiksie is moeilik maar móói . . . | Netwerk24. Besoek 26 September 2018).

Jackson beklemtoon dat Eric Rabkin alreeds geskryf het dat hierdie soort teks die reëls van die konvensionele prosateks op sy kop keer (Jackson, 1981, 21).

Die sogenaamde antinomiese struktuur is relevant, omdat hierdie soort teks met die leser die spel van die onmoontlike speel.

Verder wys Rabkin op die volgende: “By foregrounding its own signifying practice, the fantastic begins to betray its version of the ‘real’ as a relative one, which can only deform an transform experience, so the ‘real’ is exposed as a category, as something articulated by and constructed through the literary or artistic text” (Jackson, 1981, 84).

Woorde word gerekonfigureer en binne nuwe kontekste geplaas.

II

Jackson kritiseer Todorov omdat hy in gebreke bly om sogenaamde unconscious discourse van hierdie genre te ondersoek. Die uncanny of das Unheimliche is uiteraard deel van hierdie soort tekste wat in Frans beskryf word as l’inquiétante étrangeté.

Freud se seminale essay is reeds in 1919 beskryf en die split of breuk in die self. Die projeksie op die omgewing of die Ander word uitgewys deur vele teoretici. 

Liminaliteite, derde ruimtes (of spasies) en ambivalensies gee juis aanleding tot kreatiwiteit – soos Homi Bhabba ook beklemtoon.

Slavoj Žiżek se analise van grieselverhale in The Pervert’s Guide to the Cinema wys ook op hierdie dualisme wanneer hy ‘n film soos Alien bespreek (Alien (film) - Wikipedia. Besoek 18 September 2018).

III

Hierdie roman wat in 2081 afspeel is sowel toekomsfiksie as distopiese roman.

Sade en uitskot. Lewe en dood. 

Amper, heet die karakter (Ampersand) &, dui op en (Ampersand - Wikipedia. Besoek 26 September 2018).

Dit is dan ook 'n logogram. 'n Belangrike kode vir hierdie roman wat jou terugneem na woorde se betekenisse.

Dis eweneens 'n ekologiese roman wat vrae stel oor die lot van die aarde.

Die boek word bemark as toekomsfiksie vir vandag. Ek is 'n liefhebber van wetenskapsfiksie in al sy gedaantes - van Asimov tot Ursula le Guin tot Frank Herbert. Met Patrick Parrinder (Science Fiction: A Critical Guide uitgegee deur Routledge in 1979) as die sinryke gids om hierdie genre te verstaan.

Die roman lewer kommentaar op ekologie. Saad moet bewaar word en Ampersand wonder wat het geword van Wakinyan. Soos in hierdie genre dan bekend is moet sy sorg dat sy die bose teenspelers uitoorlê sodat dit nie deur Meconium, 'n enklawe, se kloue  beland nie. 

Hoe nou met saad en uitskot?

Sekere sade word deur uitskot verder gedra ...

Die hoofstuktitels is rondom stof en saad en skyt – en die misvrede het my beet (264) kry ‘n nuwe betekenis binne die gang van hierdie boek.

Met die slot: Ikabod.

Die studie van Jackson neem ons weer na Foucault opmerking in Madness and Civilization en die analogie tussen waansin en fantasie. 

Ek haal haar endnoot aan uit daardie wonderbaarlike boek: “…by the madness which interrupts it, a work of art opens a void, a moment of silence, a question with answer, provokes a breach without reconciliation where the world is forced to question itself” (190).

En dit is waarmee Alettie van den Heever besig is.

Van utopie na distopie; van ekologiese besinning tot toekomsfiksie. Gender en politiek.

Die motto uit wyle Le Guin is beduidend.

“Still there are seeds to be gathered, and room in the bag of stars.” ‘n Skrywer wat al die aspekte van hierdie wêreld kan saamsnoer.

Dis 'n komplekse, slim roman wat jou laat nadink:

geen ding is duister, maar hy glans
of hou sy skittering ingesluit,
en niks is dood, en alles dans
en reik na naamlose dinge uit.

(Die swart luiperd. NP van Wyk Louw)