Monday, August 5, 2019

Resensie | De Waal Venter – Vandag is boordensvol (2019)

De Waal Venter – Vandag is boordensvol. Naledi, 2019. ISBN 9781928426851

Resensent: Joan Hambidge

I

De Waal Venter se vertaling van Pablo Neruda se verse in die versameling Vandag is boordensvol is 'n aangrypende en mooi vertaling. Uys Krige het in Spaanse dans (Human & Rousseau, 1969) Afrikaanse lesers aan die Spaanse digkuns bekend gestel van sowel die Spaanse landskap as digters uit Suid-Amerika.

De Waal Venter neem die projek verder met 'n meer uitgebreide versameling. In 'n onderhoud op die Versindaba (Onderhoud/ Vandag is boordensvol. Pablo Neruda (vert. De Waal Venter). Besoek 21 Julie 2019) erken hy tereg dat van die politieke verse van mindere allooi is. Tog is die beroemde “Alturas de Macchu Picchu”, 'n sterk politieke en historiese gedig, gepubliseer in 1947 en later opgeneem in die Canto general (1950).

Die vertaler interpreteer dan hoe hy elke afdeling sien vir die leser. 

Neruda se politieke posisie – sowel as konsul as aktivis – het hom ongewild gemaak, o.a. by Borges. Borges was meer konserwatief en het probleme gehad met Neruda se politieke standpunte.

Die film Il postino (1994) gee 'n gefiksionaliseerde weergawe van sy lewe: as minnaar, digter en held vir gewone mense. Hierdie film van Michael Radford en Massimo Troisi handel oor die besoek van die groot skrywer aan 'n Italiaanse eiland. Hy moet vlug weens politieke redes en vind asiel op 'n eiland. Hier ontmoet hy 'n posman (wat nie meer 'n visterman wil wees nie) wat verlief raak op 'n meisie en haar oorwin met die digter se verse wat hy “aanpas”. 

Die posman identifiseer met die digter se persona. Hy bewonder sy liefdesverse en sy politieke standpunte.

Ná die jongman met sy skone geliefde trou, word Neruda se ballingskap opgehef.

Mario skryf vir Neruda, maar hy kry geen antwoord nie. Maande later is daar wél ‘n brief met die versoek om al sy besittings terug te stuur na Chili. Die posman wag egter tevergeefs op 'n persoonlike brief van Neruda…

Hy maak egter opnames van die see vir Neruda, en sterf in ‘n kommunistiese opstand. Na sy dood ontmoet Neruda sy vrou en seun.

II

Ek verwys na die film Il postino omdat 'n vertaling, soos 'n film, 'n interpretasie is en op bepaalde keuses berus. Gaan die vorm behou word? Die rympatrone? Kan jy die klanke van een taal na 'n ander oordra?

Daar bestaan geweldig baie vertaalteorie.

Moet daar getrou gebly word aan die oorspronklike of moet jy die teks huis toe bring? Dis Venuti se idee.

Is digters beter vertalers? Waarom kies 'n vertaler 'n bepaalde digter? 

Die leser van 'n gedig wat nie bekend is met die oerbron nie, wil gewoon net voel die gedig dans of sing in die nuwe taal. Dit is dan ook verkieslik om die brontaal op die linkerbladsy te plaas sodat die leser dit kan vergelyk met die vertaalde weergawe.

'n Digter van statuur - soos Neruda - het gedugte vertalers en verskillende weergawes van enkele gedigte bestaan.

Die De Waal-teks kort 'n indeks en die Neruda-leser sou meer wou weet oor die keuses wat hierdie vertaler gemaak het.

Die speurende leser wil vergelyk, want elke vertaling klink immers anders. Geen vertaling is ooit volmaak nie en elke vertaling gee die duimafdruk van die vertalende digter weer.

Wat De Waal Venter wel doen, is 'n heerlike leeservaring.

So begin 'n vers:

Lief, as ek kyk na die vorm
van Amerika op 'n kaart,
is dit vir jou wat ek sien:
die hoë koperkrulle op jou kop,
jou borste, koring en sneeu,
jou slanke middel,
vinnige polsende riviere, pragtige
heuwels en prêries
en in die koue suide eindig jou voete
jou geografie van gedupliseerde goud

(“Pequeňa América” / “Klein Amerika” /, 45)

In die bekende “Ode al libro (I) / Ode aan die Boek (I)” bely Neruda:

Ek sal nie geklee gaan
in volumes nie,
ek kom nie uit versamelde werke nie,
my gedigte
het nie gedigte geëet nie,
hulle verslind
opwindende gebeurtenisse,
hulle verorber
swaar weer,
grawe hulle voedsel
uit die aarde en mense.  (66, 67).

'n Sentrale vers om Neruda se gedigte oor tamaties en uie te verstaan.

By Neruda is die digobsessie altyd aanwesig: die sillabes van water.

In “Ode a Una Castaňa en el Suelo” (“Ode aan die kastaiing op die grond”, 91) lees ons:

Deur daardie opening
het jy die wêreld gesien,
voëls
propvol sillabes,
dou sterskitterend ...

Hierdie vertaler vaar beter wanneer hy eenvoudige odes vertaal. Daar is pragtige vondse soos “En elke wond behou / die vorm van jou wond” (30).  “Ode al traje” (“Ode aan klere”, 74) verklap iets van Neruda se briljante vermoë om uit die gewone poësie binne te gaan, soos die gedig lui.

Die klere word hý:

Julle wapper en tril
in die wind
asof julle my siel is.

Die bekende “Oda ala alcachofa” (“Ode aan die artisjok”) “met sy teer hart / aangetrek soos 'n krygsman”, bly bekoor (77).

Die beroemde “El Cóndor” (“Die kondor”) op bladsy 34 is 'n ars poetica. 

By die sonnette sukkel hy om die strikte vorm van een taal na 'n ander te transporteer.  Kyk byvoorbeeld na hierdie sonnet:


En medio de la tierra apartaré
las esmeraldas para divisarte
y tú estarás copiando las espigas
con una pluma de agua mensajera.
Qué mundo! Qué profundo perejil!
Qué nave navegando en la dulzura!
Y tú tal vez y yo tal vez topacio!
Ya no habrá división en las campanas.
Ya no habrá sino todo el aire libre,
las manzanas llevadas por el viento,
el suculento libro en la enramada,
y allí donde respiran los claveles
fundaremos un traje que resista
la eternidad de un beso victorioso.

By De Waal Venter word die kompaktheid van die vers verontagsaam.

Hy sluit:

en daar waar die angeliere asemhaal
sal ons 'n kledingstuk aanmekaarsit wat die ewigheid
van 'n seëvierende soen sal weerstaan 

(“Sonnet C”, 58).

Weer eens. 'n Vertaler maak sy eie keuses. Bethany and Remy Wilkins vertaal anders as Stephen Tapscott. Of Gustavo Escobedo ...

Ek wil die dors sien
binne die sillabes:
ek wil raak aan die vuur
in die klank:

(“Verbo” / “Werkwoord”, 177).

Soos daardie posman was De Waal Venter ook bekoor deur Neruda en bring hy die gedigte huis toe. In Afrikaans.

III

Om die Canto General te lees terwyl die Urubamba verby vloei, is 'n besonderse ervaring. Ek het Chili een keer en Peru drie keer besoek. As jong digter het ek in 1990 in Verdraaide raaisels geskryf oor Macchu Picchu, en toe kon mens nog tot bo uitklim. “El condor pasa”, so mooi vertolk deur Simon & Garfunkel, het jy orals op panfluite gehoor. Later in Vuurwiel (2009) het ek weer oor hierdie landskap gedig.

Die digter Johann Lodewyk Marais het eweneens my liefde vir Neruda se digkuns aangewakker en in sy debuut Die somer is 'n dag oud skryf hy oor hierdie digter. Hierdie bundel is in 1984 met die Ingrid Jonker-prys bekroon.

In 2015 het ek die verskillende huise van Neruda in Chili besoek en gedigte het in my bundel Indeks (Human & Rousseau, 2016) beslag gekry. Die reis is opgeteken: Woorde wat weeg/ Reisjoernaal/ Chili 2015 (Deel XVIII). Besoek 21 Julie 2019

IV

Die bundel maak ongelukkig moeilik oop in sagteband wat die leesproses bemoeilik.

Naledi moet bedank word vir hierdie projek en Medpharm Publikasies vir hul borgskap.