Tsjechof
In Kaapstad.‘Seemeeu’ bied ryke stof vir besinning
Resensent: Joan Hambidge
Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Klassieke tekste is klassiek omdat daar in so ’n teks ’n kern is wat die menslike lot getrou weergee.
Resensent: Joan Hambidge
Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Klassieke tekste is klassiek omdat daar in so ’n teks ’n kern is wat die menslike lot getrou weergee.
Tsjechof, die Russiese dramaturg en
kortverhaalskrywer (1860- 1904), het begryp dat die oorgang van een sisteem of
lewenswyse na ’n ander onsekerhede oopmaak. Ons leef in die huidige Suid-Afrika
eweneens in ’n tyd van oorgange en veranderinge.
’n Klassieke teks verduur teensange en
parodieë wat binne ander kontekste die oorspronklike boodskap versterk.
Christiaan Olwagen doen met Die seemeeu
wat Pedro Almodóvar in All about my
Mother (Todo sobre mi madre)
gedoen het met A Streetcar Named Desire
van Williams. Daar word in die teks gesoek na onbedoelde “openinge” of dalk ook
na ’n rafel wat uithang sodat die weefwerk kan loskom.
Almodóvar fokus op genderspanninge wat ook
deel was van Williams se lewe. Olwagen aktiveer vroulike histerie en neurose in
sy weergawe van Die seemeeu. Hamlet
se verhouding met sy moeder kom hier na vore nes Freud se werk oor die
onderwerp.
Parodie is nie net opstuur nie; dit is
eweneens ’n stylverskynsel wat die essensie van die oorspronklike teks
herkontekstualiseer: onsekerheid, politieke onrus, die meedoënloosheid van tyd,
die primordiale verhouding tussen moeder en seun.
Die teks waaier oop na ’n moderne konteks
waarin die lyflike beklemtoon word. ’n Aktrise op ’n oefenfiets; ’n oorgewig
akteur in ’n swembroek. (Lyflikheid sou vir Tsjechof tersaaklik wees; sy
gesondheid was nie goed nie. En sy dood het eweneens al verskeie kreatiewe
reaksie ontlok.)
Tsjechof die medikus het opgemerk die mediese
beroep is sy eggenoot en skryfwerk die minnares – ’n komplekse siening oor die
rol van skryf, wat dikwels vir hom gekoppel was aan ’n oorlewingstryd, ook in
die finansiering van sy familie.
Boonop is hy modernisties in sy skryfwerk,
soos Henrik Ibsen en August Strindberg s’n was. Sy tekste se strukture moet in
hul eie terme verstaan en ontleed word.
Olwagen is in ’n post-post-moderne tydvak dan
besig met ’n aweregse antwoord. Hugh Kenner verwys na hierdie ironie as ’n hangover van ons tyd.
Alles is reeds geskryf en juis om te fokus op
die uitsigloosheid en noodlot word die Olwagen-teks ’n robuuste antwoord op die
oorspronklike een.
In sy lewe het Tsjechof satires gepleeg en
humoristiese stukke geskryf om aan die lewe te bly.
Hy sou in alle waarskynlikheid plesier gehad
het aan die wyse waarop sy teks nuwe lewe kry met ’n balans tussen satire en
erns. Misverstand, gefnuikte ambisie, melankolie, absurditeit, stiltes – die
kenteken van alle groot dramas. En in Die
seemeeu word dit tot ’n hoogtepunt gevoer. Met implisiete kommentaar op die
skryfproses wat immer vir die skrywer binne ’n groter politieke konteks as ’n
futiele, selfs nuttelose aksie ervaar word.
Wat bedui die seemeeu nie alles nie? Nina merk
op dat sy aangetrokke is tot die meer asof sy ’n seemeeu is.
En wát dit alles simboliseer, sal van kyker
tot kyker verskil. Nes die skote wat in die agtergrond opklink.
Hierdie teks neem jou terug na die betekenis
van fin-de-siècle en waarom Anton Tsjechof, sensitiewe kunstenaar wat hy was,
verstaan het dat simbole nie enkelduidig vaspenbaar is nie.
Saartjie Botha se vertaling is eweneens in die
kol. Dit vra vir verdere besinning. Wat is uitgelaat en wat is saamgevoeg?
Bronne: Cornel West: Chekhov’s Legacy (2004); Janet Malcolm: Reading Chekhov – A Critical Journey. (2004).
Die seemeeu word van 19 tot
31 Oktober in die Baxter-teater in Rondebosch opgevoer. Bespreek by 021 685
7880.