I
Wie’s bang vir Virginia Woolf?
Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Greta
Pietersen & Wessel Pretorius.
Regisseur: Christiaan Olwagen. Vertaling: Saartjie
Botha
Edward Albee se swart komedie Who’s
afraid of Virginia Woolf? is bitterswart komedie. In Christiaan Olwagen se
produksie – gebaseer op ‘n puik vertaling van Saartjie Botha –is die spieëlteks
van kardinale belang. Albee / Mike Nichols se 1966 film staan teenoor Olwagen /
Botha. Liz Taylor staan teenoor Sandra Prinsloo in ‘n kragtige vertolking van
die grensoorskrydende Martha. Weyers teenoor Richard Burton; George Segal
versus Wessel Pretorius; Sandy Dennis en Greta Pietersen.
En Afrikaans teenoor Engels; New England
teenoor (dalk) Kaapstad.
Die middeljarige egpaar se huweliksprobleme
wat rondom ‘n leuen gekonstrueer is, word afgespeel teen die jong egpaar wie se
huwelik eweneens op ‘n fantoom gebaseer is. Hierom is die jonger vrou naar. Sy
kots die hele tyd waarskynlik om te bevestig dat sy wél regtig swanger was. (En
weens die baie doppe wat sy drink.) In die pynlike onthulling is haar waarheid
eweneens ‘n verloëning van dit wat vertroulik moes bly.
Omdat Martha oortree het deur die geheim
met die gaste te deel, neem George wraak en verskillende speletjies word deel
van hierdie proses. Woord en wederwoord. Wraak en weerwraak. In ‘n speletjie
wat heet “Jag die gaste”. Die ander: ”Verneder die gaste”.
Die veen of moeras van ‘n huwelik word in
drie bedrywe afgeskil met die onskuldige teenspelers wat meedoen aan die
dronkmansgesprekke.
Alles speel af teen ‘n
“goed-beter-beste-besete”-tempo. Die valse sekuriteit van die akademiese
bestaan word ontmasker. Die ivy word van die muur afgeruk, by wyse van spreke.
Uiteindelik word die kind, daardie
verbeelde kind van George en Martha doodgemaak.
En Sandra Prinsloo as die vervalle,
histeriese, dronk Martha laat jou glo dat die ysblokkies in hul drankies hul
eie trane is.
Alle waarhede is relatief, weet ons. Soms
word daar geslaan en ‘n mens sou die teks ook as ‘n boksgeveg kon beskryf.
Almal veg met mekaar. Albee en Olwagen.
Prinsloo en Weyers. Soms loop ‘n akteur
buite die verhoog om of van agter in om te bevestig dat die reëls van die geveg
oortree gaan word.
Alles word om twee asse gebou. George
(Weyers) is historikus; Nick (Pretorius) is bioloog. Die een is oud; die
ander jonk. Geskiedenis teenoor wetenskap.
En die liedjie is ‘n mantra. Want daar
moet leuens vertel word om die vrees te besweer.
Waarvoor is hierdie mense bang?
En waarom bly hierdie drama na soveel jare
steeds relevant? Is die drama – soos vele kritici al geskryf het – ‘n
allegorie?
Wat is waar? Wat is wolhaar? Dit is
uitstekende ensemble-spel en ‘n mens sal eenvoudig nooit weer Albee kan lees of
die filmweergawe kan kyk sónder om Sandra Prinsloo se diepgrondige vertolking
van ‘n alkoholiese, seksueel-gefrustreerde middeljarige vrou te onthou nie.
Dieselfde geld Weyers as ‘n fyn sadis en ‘n doktrinêre afgeremde akademikus wat
die rektor moet beledig. Uit weerwraak.
En die twee jong spelers hou die pas vol
teen die twee gedugte figure wat al soveel keer mekaar se teenspelers was.
Prinsloo is energiek, histeries – en vervalle. Nogal ‘n uitdaging om teen haar
natuurlike skoonheid in ‘n ou vervalle “tramp” te speel.
Die agtergrond is vol subteks. Die
bokkoppe. Trofees sonder enige simboliese waarde sou ‘n mens kon opmerk.
Christiaan Olwagen © Nasief Manie
Olwagen het die uitmuntende talent om ‘n ou afgeleefde stuk vol nuwe betekenis en implikasie te laai. Dikwels met ‘n enkele vinjet of toespeling (soos in sy Die seemeeu van Tsjekof). Ons wag nou op sy interpretasie van Tennessee Williams se A streetcar named desire.
Hy begryp die taal van neurose. Die bitter
grein van verspeelde kanse. En met die vertaling van Saartjie Botha kan ‘n mens
‘n ver pad loop.
(Hierdie resensie het in Die Burger verskyn. 30.8.2015)
II
By ‘n tweede besoek aan hierdie produksie
het ander aspekte van die produksie onder my aandag gekom. Die verwysing na
Bette Davis, ‘n ikoniese filmkarakter en die sterk genderrolle wat in die
dramateks deur Albee belig word.
Die jong vrou word gesien as iemand sónder
heupe en Martha se drinkgewoontes kom eweneens onder die loep. Sy drink
aanvanklik “vroulike” drankies, maar later word dit skoon alkohol. Vroue in
hierdie stuk word as negatiewe figure uitgebeeld. Martha bely ook aan die twee
jongelinge hoe sy “per ongeluk” vir George geslaan het in ‘n boksgeveg en hom
verneder het voor sy kollegas. Boks is eweneens ‘n manlike sportsoort en ook
hier betree Martha die terrein van die manlike orde en verneder sy haar
eggenoot met wie sy getrou het. Sy het hom dus gekies; nie hy vir haar nie. Sy
is eweneens die dogter van die rektor wat haar posisie verder versterk in ‘n
verhouding wat rondom magsbasisse wentel.
George se mislukte roman wat tydens
die Walpurgisnacht-toneel onthul word, word vertel asof dit ‘n verhaal is wat
met iemand anders gebeur het … Martha weer bring dit terug na hom: die
sogenaamde ongeluk en dood van die moeder blyk op George se lewe gebaseer te
wees. In weerwraak teiken hy Honey en konstrueer ‘n verhaal oor haar lewe, sy
tweede roman wat hy skryf. Dit berus op die transgressiewe belydenis van Nick
wat vertel dat haar vader ‘n prediker was en deur mense uit te buit, ryk geword
het. Sy is dus die metaforiese goue gans wat eiers lê …
Honey is die muis wat opgeblaas het en die
munte wat uit haar vader se buik val, is ‘n metaforiese voorstelling van wat
George gehoor het.
Die spieëlteks is dus hier van belang.
Belydenis word telkens ‘n verhaal of storie wat as wapen gebruik word om mekaar
by te kom.
Van jag die gasvrou, jag die gaste tot
verneder die gasheer word daar volgehou met ‘n sadistiese spel. Hierom is
daar bloed (nie water) onder die brug en die trofees van diere teen die mure is
‘n ikoniese voorstelling van hierdie psigiese jagproses wat regdeur die teks
beweeg.
In die derde bedryf lewer Prinsloo ‘n
kragtige solo-vertoning en ‘n pynlike monoloog. Sy dans met George se baadjie
om haar en ‘n bottel in die hand. Ofskoon George haar voortdurend veminder en
reduseer tot ‘n misoes, is sy verbind aan hom. Hier lewer die dramaturg
genderkommentaar op vroue se afhanklikheid van mans wat hul domineer en
verminder. Die sogenaamde “abusive relationship” en vroue se afhanklikheid van
eggenotes ten spyte van onreg aan hul gedoen, word ontmasker. Teenoor Martha
(Prinsloo) se monoloog word die liturgie deur George (Weyers) geparodieer om
die “riool van ‘n huwelik” finaal as uitsigloos voor te stel.
Die kyrie eleison (God wees ons genadig)
betekenis niks. Daar bestaan geen genade meer nie.
Daar is geen metafisiese hoop nie. Daar is
geen redding of bestaan buite hierdie verhouding nie en die simboliese doodmaak
van die kind, bring geen redding of verlossing nie. Hierom Martha se slotwoorde
dat sy bang is …
Dit is ook relevant dat die dramateks
beweeg van ‘n Saterdag na ‘n Sondag, tradisioneel ‘n religieuse dag binne die
Christelike orde.
Vir George, die mede-professor en sy
verwoeste vrou, Martha is ook hierdie simboliese dag leeg.
Niks is soos wat dit moet of behoort te wees nie: George is net ‘n mede-professor; sy vrou is kinderloos; die histeriese Honey het ‘n aborsie gehad; Nick is impotent wanneer hy met Martha verkeer …
Die laaste speletjie, “Om die kind groot
te maak”, word eweneens vernietig deur George se brutale moord op hom.
‘n Mens word eweneens bewus van Freud se Totem
en taboe (1918) wanneer jy na hierdie teks kyk. Indien die reëls van die
samelewing oortree word, is daar bestraffing en die bokkoppe teen die mure dui
op die drie figure wat deur George geteiken is.
En ‘n mens sou ook die teks kon lees as ‘n
volgehoue spanning tussen Id, ego en superego. Dit word in die dramateks ook so
voorgestel: daar is ‘n sitkamer, daar word opbeweeg na die slaapkamer en teen
die muur is daar bokkoppe.
Die riool van die huwelik is die onbewuste
van ‘n grimmige dramaturg wat skerp en fel kommentaar lewer op die huwelik,
kinders, erflatings – en veral die wetenskap se onvermoë om ons uiteindelik uit
ons ellende te verlos. Ons is uitgelewer aan ons herinneringe, falinge, drome …
III
Agter hierdie produksie is daar Edward
Albee se teks en die beroemde filmteks met Elizabeth Taylor en Richard Burton,
'n egpaar wat self 'n stormagtige huweliksverhouding beleef het.
Die filmproduksie van Mike Nicols is 'n
sterk bekroonde teks wat in 2013 as argivale bewaringsteks vereer is deur die
National Film Registry in die VSA.
Dit is indertyd vir 13 Academy Awards
genomineer, ook in die kategorie vir beste film en vir beste regisseur.
Liz Taylor en Sandy Dennis het
onderskeidelik as beste aktrise en beste ondersteundende aktrise met die louere
weggeloop en ironies genoeg verloor dit teen A man for all seasons, wat
vandag na 'n verkeerde keuse lyk.
Bette Davis en James Mason was aanvanklik
die eerste keuse vir die rolle van Martha en George vir Jack Warner. Taylor het
ongeveer 13 kg opgetel vir die rol as die histeriese, dronk Martha.
Gehore was met die Broadway-produksie
geskok deur die vloekende taal en in die film is "God damm you"
verander na "screw you".
Die dramateks het net vier karakters,
terwyl die film 'n man en vrou van die roadhouse ook gebruik wanneer die
karakters die huis verlaat en na buite beweeg.
Die film het meer as $10 miljoen in 1966
verdien en bly steeds 'n klassieke film. En dit word in die filmgeskiedenis
beskou as die een van die min films waarin die volledige rolverdeling
genomineer is vir Oscars.
Die film is eweneens geparodieer deur Mad
en die Benny Hill-show, 'n teken van die enorme impak van die teks.
III
En wie is Edward Albee?
Awards
•
1960: Drama Desk Award
Vernon Rice Award: The Zoo Story
•
1963: Tony Award for
Best Play: Who's Afraid of Virginia Woolf?
•
1967: Pulitzer Prize
for Drama: A Delicate Balance
•
1975: Pulitzer Prize
for Drama: Seascape
•
1994: Pulitzer Prize
for Drama: Three Tall Women
•
1996: National Medal of
Arts
•
2002: Drama Desk Award
Outstanding New Play: The Goat, or Who Is Sylvia?
•
2002: Tony Award for
Best Play: The Goat, or Who Is Sylvia?
•
2005: Special Tony
Award for Lifetime Achievement
•
2005: Academy of
Achievement's Golden Plate Award
•
2008: Drama Desk Award
Special Award
•
2011: Edward MacDowell
Medal for Lifetime Achievement
•
2011: Pioneer Award for
Lifetime Achievement, Lambda Literary Foundation
•
2015: America Award in
Literature
Nominations
•
1964: Tony Award for
Best Play: The Ballad of the Sad Cafe
•
1965: Tony Award for
Best Author of a Play: Tiny Alice
•
1965: Tony Award for
Best Play: Tiny Alice
•
1967: Tony Award for
Best Play: A Delicate Balance
•
1975: Drama Desk Award
Outstanding New Play: Seascape
•
1975: Tony Award for
Best Play: Seascape
•
1976: Drama Desk Award
Outstanding Director of a Play: Who's Afraid of Virginia Woolf?
•
1994: Drama Desk Award
Outstanding Play: Three Tall Women
•
2001: Pulitzer Prize
for Drama: The Play About the Baby
•
2003: Pulitzer Prize
for Drama: The Goat, or Who Is Sylvia?
•
2005: Tony Award for
Best Revival of a Play: Who's Afraid of Virginia Woolf?
The Pulitzer Prize committee for the Best
Play in 1963 recommended Who's Afraid of
Virginia Woolf?, but the Pulitzer board, which has sole discretion in
awarding the prize, rejected the recommendation, due to the play's perceived
vulgarity, and no award was given that year.
Plays
•
The Zoo Story (1958)
•
The Death of Bessie Smith (1959)
•
The Sandbox (1959)
•
Fam and Yam (1959)
•
The American Dream (1960)
•
Who's Afraid of Virginia Woolf?
(1961–1962)
•
The Ballad of the Sad Cafe
(1963) (adapted from the novella by Carson McCullers)
•
Tiny Alice (1964)
•
Malcolm (1965) (adapted from the novel by James
Purdy)
•
A Delicate Balance (1966)
•
Breakfast at Tiffany's (adapted from
the novel by Truman Capote) (1966)
•
Everything in the Garden (1967)
•
Box and Quotations
from Chairman Mao Tse-Tung (1968)
•
All Over (1971)
•
Seascape (1974)
•
Listening (1975)
•
Counting the Ways (1976)
•
The Lady From Dubuque (1977–1979)
•
Lolita (adapted from the novel by Vladimir
Nabokov) (1981)
•
The Man Who Had Three Arms
(1981)
•
Finding the Sun (1983)
•
Marriage Play (1986–1987)
•
Three Tall Women (1990–1991)
•
The Lorca Play (1992)
•
Fragments (1993)
•
The Play About the Baby (1996)
•
Occupant (2001)
•
The Goat or Who is Sylvia?
(2002)
•
Knock! Knock! Who's There!?
(2003)
•
Peter & Jerry retitled in 2009 as At Home at the Zoo (Act One: Homelife.
Act Two: The Zoo Story) (2004)
•
Me Myself and I (2007)
•
At Home At The Zoo (2009)
Essays
•
Stretching My Mind:
Essays 1960–2005 (Avalon Publishing, 2005)
Bronne:
Who's Afraid of Virginia Woolf? (film) - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 4 Augustus 2015
Sigmund Freud. Totem and Taboo. Penguin, 1963.
Sigmund Freud. Totem and Taboo. Penguin, 1963.
© Joan Hambidge