Thursday, September 12, 2024

Resensie | Willemien du Preez – Plaas se prys | Protea, 2022

Willemien du Preez - Plaas se prys. Protea, 2022. ISBN 9781485313694, R320.00 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie boek het reeds in 2022 verskyn, maar sopas op my lessenaar beland. Te midde van soveel plaasromans geskryf deur mans, en ‘n mens dink nou onwilekeurig aan die Die Onsigbare van PJO Jonker wat by Tafelberg verskyn het, is Plaas se prys nie ‘n konvensionele roman nie. Eerder ‘n vroulike aanvulling as memoir.

 

Dii is dan ‘n soort dagboek van ‘n vrou wat die anderkant (donkerkant) van die idille beleef. Daardie ideale ruimte waarna gestreef word en gaan kyk maar na die sinonieme wat hierdie woord het:


• arkadies

• herderlik

• ideaal

• landelik

• ongerep

• onskuldig

• pastoraal

• poëties

• romanties

• rustig

• skilderagtig

• vredig

 

(Besoek 8 September 2024)

 

Die harde werklikheid tref die verteller en haar eggenoot, Liefie. Pas is die koopkontrak geteken of die ellende tref hulle. Van ‘n eiendomsagent wat hulle nie die volle waarheid vertel het nie tot stof wat oor alles draal. Werkers wat die huis moet renoveer (en allemintige kortpaaie neem) tot die dorp wat hulle as “inkommers” beskou.

 

Die leser sien alles voor die oog afspeel. Die werkers se swaar, droewige bestaan. Beskuldigings van diefstal uit die huis, wat ‘n vergissing blyk te wees tot werklike diefstal. Vriende wat onttrek en belangstelling verloor tot kinders wat raadop raak.

 

Die boek raak aan die ewige stryde in hierdie land: ras, klas en gender. En skuld.

 

Van gesondwees tot ‘n stent in die hart.

 

Die hele kwessie van die inkommer is tersaaklik, omdat inkommers altyd die bestaande orde versteur.

 

Of die gemeenskap wat reeds daar is, dwing om hul lewens weer te beskou weens die aanwesigheid van die nuwelinge.


Twee wêrelde beleef ons hier: dit wat hulle graag sou wou beleef en die harde werklikheid van ellendes. Werkers wat wil weet of hulle casual of permanent is. Die stof wat asma tot gevolg het en die hond wat koerantpapier met uitskot vreet. Liefie wat later uit sy gatsak boer en die verteller wat dink: Umsonst.

 

M.E.R. se waarnemings van Swellendam indertyd met die ryk grond wat groente en vrugte gebaar het, teenoor hierdie ruimte.  En arm mense kon eet en lewe in die indertydse Swellendam (141).

 

Ons lees oor dopluise en bolwurms. En blaaspootjie. Met die verhaal wat die verteller oorrompel (135). Deur alles neer- en op te skryf, besef sy hoe erg alles is.

 

Daar is verwysings na Monet en Colette, die Bybel en Halleluja-liedere. En Chess.

 

Van die sterkste beskrywings is oor die ellende soos wanneer die vloedwater hulle tref met ‘n dooie bees in die koringland (132).

 

Uitskotnartjies teenoor vrugte wat uitgevoer word. Die werkers wat leef met min, maar teenstand gelate aanvaar en van voor af begin.

 

Die begraafplaas wat eweneens klasseverskille aandui: nederige houtkruise met die name van die dooies met die hand geskryf. Hierteenoor ‘n Murano-glasbakkie op haar koffietafel.

 

Daar is verwysings na Mandela en politieke kommentaar. Ook daardie droom van heling en genesing en aanvaarding is tans net ‘n illusie, vér in die verskiet.

 

Ons is ons stories. Die stories wat ons vertel en die stories wat ander oor ons vertel. En hoe imkommers deel word van die gemeenskap se stories, word belig.

 

Blokkiesraaisels word ingevul. RSG en Die Burger is hier.

 

Dit lees vlot en is helder en eerlik vertel. Met ‘n motto van Sigrid Undset, veral bekend vir Kristin Lavransdatter. Undset (1882 – 1949), gebore in Denemarke, het grootgeword in Noorweë en is bekend as ‘n Noorweegse skrywer, het die Nobelprys vir letterkunde in 1928 verower. Die roman bekyk alles uit die perspektief van ‘n vrou in 3 volumes.  Sy moes ook vlug uit haar land na die VSA weens die Nazi-besetting.

 

So lui die motto:

Feelings of longing seemed to burst from her heart; they ran in all directions, like streams of blood, seeking out paths to all the places in the wide landscape where she had lived, to all her sons roaming through the world, to all her dead lying under the earth.

Die tydsaanduiding in hierdie teks maak hiervan ‘n joernaal of dagboek.

 

Dit is soos Lanie van Reenen se Net Mooi Fine (Penguin 2019) en C'est la Vie wat in 2013 by Tafelberg verskyn het, ‘n memoir.

 

Die leser word in ‘n intieme vertelling ingenooi. Deur die oog van vroue met ‘n skerp waarnemingsvermoë. En sonder skroom die mes inlê.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

 

Tuesday, September 3, 2024

Resensie | PJO Jonker - Die Onsigbare | Tafelberg, 2024

PJO Jonker - Die Onsigbare. Tafelberg, 2024. ISBN: 9780624095422 

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie bewonderenswaardige én pakkende debuut van PJO Jonker heet Die Onsigbare. Dit tree in gesprek met die plaasroman wat ‘n lang tradisie in Afrikaans beleef het. Van Bart Nel deur J. van Melle in 1936 tot huidige skrywers wat die plaas as ‘n nuwe ruimte besoek. Eben Venter en S.J. Naudé onder meer.

 

Die spinkaanplaag aktiveer eweneens Die spinkaan beampte van Sluis deur Jochem van Bruggen in 1933.

 

Hierdie roman trek ‘n streep deur die idilliese plaasbestaan. Daar is geweld en troosteloosheid. Verraad. Aanvanklike begrip tussen boere en werkers wat later verloeder. Dit is die verhaal van ene Jada, spraakstramme, wat op die plaas woon: Erfdeel. Sy ouers is oorlede en die bruin Anys is sy bondgenoot. Deur haar kry hy ‘n blik op ‘n lewe wat met stryd gepaardgaan.

 

Die besoek aan die stad (ironies genoeg wanneer hy as boer van die jaar ‘n lesing moet lewer), keer sy bestaan ónderstebo wanneer hy slaags raak met ‘n meisie-van-die-nag, wat hy later probeer red. Sy soektog terug na die stad loop op niks goeds af nie. Sy motor word gesteel en hy staan in die beskuldigdebank.

 

‘n Mens hoor en ruik die stad en plaaslewe wat opklink soos in Totius se beroemde Trekkerswee (1916) waar die vader die dogter probeer terugvind. Die vele Bybelse verwysings laai die verhaal met simboliek. ‘n Bybelse verwysing na Jesaja 49:15 help die hoofkarakter soek na die verlore en geskonde vrou.

 

Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, ek sal jou nie vergeet nie.

 

II

Die verteller laat ons die plaas sien én veral: beleef. Dit is kennelik geskryf deur iemand met ‘n eerstehandse ervaring van hoe ‘n plaas se werkinge daar uitsien.

 

Maar dis meer as ‘n plaasroman wat afspeel in die Karoo. Dit is geskryf en verpak met vele simbole (soos die wildekat en jakkalse). Die siellose bestaan van werkers geplaas teenoor die inkommer, ‘n jong dominee, deur die gemeenskap met agterdog bejeën teenoor ‘n bankbestuurder en die media wat jag maak op Jada. 

 

Dit is ‘n roman met vele Jungiaanse verwysings.

 

Jada Olivier, van die Karooplaas Erfdeel, maak die plaashek oop van sy onbewuste en word gekonfronteer met sy eie skadukant.

 

Die roman begin met Jada wat droom hy val en eindig met ‘n soort hallusinasie dat hy haar, die verlore vrou, weer sien. Die roman ondersoek verder stilte: Die Groot Afwesigheid, soos die plaasmense in die Karoo dit noem. Maar dit word ‘n simbool van die onsigbare én die ewige soeke na metafisika; na dit wat sin maak. Hierom dan die vele Bybelse verwysings.

 

Daar is verskeie sleutels in die roman wat die leser daarop attent maak dat ons hier te make het met ‘n onbetroubare karakter, ‘n outsider; een wat sy houvas op die werklikheid verloor het. ‘n Liminale proses word weergegee: tussen die harde werklikheid en drome. Daar is ook politieke kommentaar (soos die stryd teen die kommunisme, die Kubane en sonde) teenoor die gebaande weë van treine en die soektog na sin en samehang. Die hoofkarakter self is bekommerd oor sy septiese siel en gee hom oor aan fantasieë en drome. Die nuwe dominee is ‘n teenspeler en is selfversekerd. Hierteenoor ervaar ons die bruinmense se sosiale ongeregtigheid wat tot uiting kom by hul kerkdienste. Drank en verkragting kom aan bod op sowel die plaas as in die stad.

 

Bossieplaas word aangekoop, danksy ‘n goeie wolinkomste en uit Duiwelskamp neem die hoofkarakter mense in diens. Hier ervaar die leser al die ellendes van ‘n uitsiglose bestaan. Hulle leef buitekant die dorp.

 

Boereverenigings en die Jongboer van die Jaar-kompetisie is verdere sosiale merkers.

 

Struise verander in huise en die Born Free Medicinal Herbs gee agentskap aan die werkers.


Rooikatte en jakkalse word simbole van bedreiging. En die jakkalse aktiveer die Bybel.

 

En dan: die werklike verandering of wending wanneer Jada die stad besoek en Lydia ontmoet. Met ‘n droom op bladsy 140, wat net onheil voorspel. Met verwysings later na Wolraad Woltemade en Petrus. Die simbole-netwerk word behendig en ragfyn hanteer. Anys versoek dat haar hemelloon nie weggevat moet word nie (185) en tussendeur is daar bekende liedere oor die Jesus-figuur:

 

Hou maar moed

As die duiwel woed

Daar’s krag in Jesus bloed

En die duiwel weet dit goed 

(184)

 

Daar is verwysings na die lydensweg en die kruisiging; na Abraham, na Habakuk én die bloedspoor van werklike jag en die bloedspoor van Jesus.

 

Tyd in die roman word eweneens goed gestruktureer. Anys dra nie ‘n horlosie nie, maar sy weet présies hoe laat dit is. 

 

Met elke herlees besef die leser dat die tyd van die onbewuste sy eie merkers het en telkemale na vore kom op tye wat verbind is aan traumatiese ervarings in die verlede.

 

Daar is weerverslae, lyste vir die veiling van die plaas wanneer Jada se skuld te groot raak. Sy onderhandelinge met die Sjinese was helaas ‘n bedrogspul. Die skrywer se vermoë om gedistansieerd en bykans digterlik te skryf, verdien vermelding.

 

Van die sterkste beskrywings in hierdie roman handel oor die “nomads van die nights” én die ellendes wat Jada in die stad meemaak: diefstal en aanklagte. En ‘n besoek aan ‘n lykshuis was vir hierdie leser ongelooflik ontstellend. 

 

Die glasstukkies op die teer is ‘n beeld van sy beheer wat weg is. Met die gemeenskap wat alles in die pers verneem en ‘n oordeel uitspreek.

 

Die waarheid sny soos ‘n slagmes twee kante toe, lees ons. Dieselfde geld hierdie roman: plaasroman, maar ook ‘n verslag van ‘n pynlike reis ín die self ín. 

 

Die reis na Hong Kong tot in Shenzen waar hy Zhang Yin hom sal ontmoet, word beeldend beskryf. (Dus word die boek ‘n soort reisroman ook.)

 

Ons sien gedeeltes uit ‘n dagboek (geskryf met ‘n potlood) teenoor ‘n kontrak geteken met ‘n Mont Blanc-pen. Dan helaas die harde werklikheid van die prokureur: die geld is nie inbetaal nie.

 

III

Ten slotte:

 

Vir hierdie leser is hierdie boek véral ‘n Jungiaanse peregrinasieroman met die individuasie van die hoofkarakter. (Jada in die Hebreeus beteken wys.)

 

“Hy plant die kiepersolwortel langs die veepos. In geloof. Vaste vertroue op dit wat ons hoop. Bewys van dinge wat ons nie sien nie.” (301)

 

Hierdie boek moet elke leser, wat in hierdie land woon en nadink oor grondbesit, erfreg en ongeregtigheid, beslis lees. Dis meesleurend en ontstellend.  Dalk ‘n siniese antwoord op Boer soek ‘n vrou?

 

Daar is een taaipou wat met die volgende uitgawe reggestel kan word: bie in plaas van baie (343).

 

Die nuwe stem bekoor. Dis vars. Dis nuut. Komplekse idees wat konkreet verbeeld word.


Met ‘n sterk hand geskryf.


PJO Jonker © Jaco Marais

Monday, September 2, 2024

Resensie | Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers) | Naledi, 2024



Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers), Naledi, 2024. Sagteband, 123 pp, R260. ISBN 978-1-991256-88-1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Louise Cilliers se voortreflike vertaling van Ithaka in 2023 is wyd geloof. Hierdie werk van Konstantinos P. Kavafis heet Van Alexandrië na Ithaka.

 

Haar jongste vertaling is Die ses woorde van die Sigeuner deur Kostis Palamas (1859 – 1943). Palamas is tweekeer benoem vir die Nobelprys vir letterkunde. Palamas moes ook die ellende van die Duitse besetting van Griekeland tydens die Tweede Wêreldoorlog beleef. Hy is verder benoem as ‘n Griekse Nasionale digter. In sy werk vind ons verwysings na die geskiedenis, Hellenisme, en die ervarings van alledaagse mense.

 

Palamas is ‘n moderne Griekse digter wat dig oor die wedervaringe van die Sigeuners buite die mure van Konstantinopel vóór die val in 1453. ‘n Spreker word aan die woord gestel waarin die liriese, epiese en die visionêre aspekte één word.  Hier word die sogenaamde gypsies se lewens weergegee.

 

II

Hierdie leser is nie Grieks magtig nie, maar ek het na die Engelse vertalings gekyk om haar vertaalproses te probeer begryp.

 

Cilliers se vertalings wérk in Afrikaans. (‘n Swak vertaling kan jy soos ‘n home perm herken.)

“in die somber skemer van die sipresse” is daar alliterasie. Hierdie vertaler is uiters klankgevoelig.

 

Daar is vele juwele wat hierdie leser aangestip het:

die roosknop is ‘n orakel,

die sipresboom ‘n Sibille! (111)

 

*

 

Die son sak,

die son wat met skitterende baan elke kus belig het,

is aan die verdwyn.

Jy gaan onder, O son,

vir jou sal geen nuwe dag meer aanbreek nie. (91)

 

III

Daar is ook gedigte opgeneem van hedendaagse sigeuners in die addendum. Die gedigte van Raine Geoghegan is hartverskeurend oor die ellendes van hul bestaan. Wat inspeel op die bestaan van alle haweloses en migrante op aarde:

 

Ons sal tee of whisky drink, van die ou liedjies sing.

Die volgende dag word die wa en besittings verbrand.  (122)

 

Die onstabiliteit van taal (en plundering van woorde) word eweneens ondersoek.

 

Musiek is hul enigste taal.

 

Gaan kyk gerus op die Versindaba na Luan Staphorst se vertaling van Olga Kirsch se “Nevertheless” wat hy puik vertaal as “Nietemin”, ‘n lang epiese vers wat aan uitgewekenes eweneens ‘n stem gee.

 

In hierdie boek is daar ‘n handige bronnelys soos Frederic Will se vertaling van Palamas wat in 1964 verskyn het.  Die voetnote is op sigself insigryk vir die leser soos presies wat Hellenisme beteken. ‘n Idealisering van die Griekse beskawing, o.a. Griekse vuur was ‘n vlam-werpende wapen wat veral tydens seegevegte gebruik is. Die voetnote is uiters verhelderend.

 

‘n Loflike, fantastiese boek, nogmaals uit die hand van ‘n bekroonde vertaler, wat op alle vlakke jou lewe verryk.

 

Tereg het sy indertyd die vertaalprys saam met E.L. de Kock ontvang het vir die vertaling van Aristoteles se Poëtika.

 

In Lawrence Venuti se terme het sy Kostis Palamas huis toe gebring.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)