Tuesday, September 3, 2024

Resensie | PJO Jonker - Die Onsigbare | Tafelberg, 2024

PJO Jonker - Die Onsigbare. Tafelberg, 2024. ISBN: 9780624095422 

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie bewonderenswaardige én pakkende debuut van PJO Jonker heet Die Onsigbare. Dit tree in gesprek met die plaasroman wat ‘n lang tradisie in Afrikaans beleef het. Van Bart Nel deur J. van Melle in 1936 tot huidige skrywers wat die plaas as ‘n nuwe ruimte besoek. Eben Venter en S.J. Naudé onder meer.

 

Die spinkaanplaag aktiveer eweneens Die spinkaan beampte van Sluis deur Jochem van Bruggen in 1933.

 

Hierdie roman trek ‘n streep deur die idilliese plaasbestaan. Daar is geweld en troosteloosheid. Verraad. Aanvanklike begrip tussen boere en werkers wat later verloeder. Dit is die verhaal van ene Jada, spraakstramme, wat op die plaas woon: Erfdeel. Sy ouers is oorlede en die bruin Anys is sy bondgenoot. Deur haar kry hy ‘n blik op ‘n lewe wat met stryd gepaardgaan.

 

Die besoek aan die stad (ironies genoeg wanneer hy as boer van die jaar ‘n lesing moet lewer), keer sy bestaan ónderstebo wanneer hy slaags raak met ‘n meisie-van-die-nag, wat hy later probeer red. Sy soektog terug na die stad loop op niks goeds af nie. Sy motor word gesteel en hy staan in die beskuldigdebank.

 

‘n Mens hoor en ruik die stad en plaaslewe wat opklink soos in Totius se beroemde Trekkerswee (1916) waar die vader die dogter probeer terugvind. Die vele Bybelse verwysings laai die verhaal met simboliek. ‘n Bybelse verwysing na Jesaja 49:15 help die hoofkarakter soek na die verlore en geskonde vrou.

 

Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, ek sal jou nie vergeet nie.

 

II

Die verteller laat ons die plaas sien én veral: beleef. Dit is kennelik geskryf deur iemand met ‘n eerstehandse ervaring van hoe ‘n plaas se werkinge daar uitsien.

 

Maar dis meer as ‘n plaasroman wat afspeel in die Karoo. Dit is geskryf en verpak met vele simbole (soos die wildekat en jakkalse). Die siellose bestaan van werkers geplaas teenoor die inkommer, ‘n jong dominee, deur die gemeenskap met agterdog bejeën teenoor ‘n bankbestuurder en die media wat jag maak op Jada. 

 

Dit is ‘n roman met vele Jungiaanse verwysings.

 

Jada Olivier, van die Karooplaas Erfdeel, maak die plaashek oop van sy onbewuste en word gekonfronteer met sy eie skadukant.

 

Die roman begin met Jada wat droom hy val en eindig met ‘n soort hallusinasie dat hy haar, die verlore vrou, weer sien. Die roman ondersoek verder stilte: Die Groot Afwesigheid, soos die plaasmense in die Karoo dit noem. Maar dit word ‘n simbool van die onsigbare én die ewige soeke na metafisika; na dit wat sin maak. Hierom dan die vele Bybelse verwysings.

 

Daar is verskeie sleutels in die roman wat die leser daarop attent maak dat ons hier te make het met ‘n onbetroubare karakter, ‘n outsider; een wat sy houvas op die werklikheid verloor het. ‘n Liminale proses word weergegee: tussen die harde werklikheid en drome. Daar is ook politieke kommentaar (soos die stryd teen die kommunisme, die Kubane en sonde) teenoor die gebaande weë van treine en die soektog na sin en samehang. Die hoofkarakter self is bekommerd oor sy septiese siel en gee hom oor aan fantasieë en drome. Die nuwe dominee is ‘n teenspeler en is selfversekerd. Hierteenoor ervaar ons die bruinmense se sosiale ongeregtigheid wat tot uiting kom by hul kerkdienste. Drank en verkragting kom aan bod op sowel die plaas as in die stad.

 

Bossieplaas word aangekoop, danksy ‘n goeie wolinkomste en uit Duiwelskamp neem die hoofkarakter mense in diens. Hier ervaar die leser al die ellendes van ‘n uitsiglose bestaan. Hulle leef buitekant die dorp.

 

Boereverenigings en die Jongboer van die Jaar-kompetisie is verdere sosiale merkers.

 

Struise verander in huise en die Born Free Medicinal Herbs gee agentskap aan die werkers.


Rooikatte en jakkalse word simbole van bedreiging. En die jakkalse aktiveer die Bybel.

 

En dan: die werklike verandering of wending wanneer Jada die stad besoek en Lydia ontmoet. Met ‘n droom op bladsy 140, wat net onheil voorspel. Met verwysings later na Wolraad Woltemade en Petrus. Die simbole-netwerk word behendig en ragfyn hanteer. Anys versoek dat haar hemelloon nie weggevat moet word nie (185) en tussendeur is daar bekende liedere oor die Jesus-figuur:

 

Hou maar moed

As die duiwel woed

Daar’s krag in Jesus bloed

En die duiwel weet dit goed 

(184)

 

Daar is verwysings na die lydensweg en die kruisiging; na Abraham, na Habakuk én die bloedspoor van werklike jag en die bloedspoor van Jesus.

 

Tyd in die roman word eweneens goed gestruktureer. Anys dra nie ‘n horlosie nie, maar sy weet présies hoe laat dit is. 

 

Met elke herlees besef die leser dat die tyd van die onbewuste sy eie merkers het en telkemale na vore kom op tye wat verbind is aan traumatiese ervarings in die verlede.

 

Daar is weerverslae, lyste vir die veiling van die plaas wanneer Jada se skuld te groot raak. Sy onderhandelinge met die Sjinese was helaas ‘n bedrogspul. Die skrywer se vermoë om gedistansieerd en bykans digterlik te skryf, verdien vermelding.

 

Van die sterkste beskrywings in hierdie roman handel oor die “nomads van die nights” én die ellendes wat Jada in die stad meemaak: diefstal en aanklagte. En ‘n besoek aan ‘n lykshuis was vir hierdie leser ongelooflik ontstellend. 

 

Die glasstukkies op die teer is ‘n beeld van sy beheer wat weg is. Met die gemeenskap wat alles in die pers verneem en ‘n oordeel uitspreek.

 

Die waarheid sny soos ‘n slagmes twee kante toe, lees ons. Dieselfde geld hierdie roman: plaasroman, maar ook ‘n verslag van ‘n pynlike reis ín die self ín. 

 

Die reis na Hong Kong tot in Shenzen waar hy Zhang Yin hom sal ontmoet, word beeldend beskryf. (Dus word die boek ‘n soort reisroman ook.)

 

Ons sien gedeeltes uit ‘n dagboek (geskryf met ‘n potlood) teenoor ‘n kontrak geteken met ‘n Mont Blanc-pen. Dan helaas die harde werklikheid van die prokureur: die geld is nie inbetaal nie.

 

III

Ten slotte:

 

Vir hierdie leser is hierdie boek véral ‘n Jungiaanse peregrinasieroman met die individuasie van die hoofkarakter. (Jada in die Hebreeus beteken wys.)

 

“Hy plant die kiepersolwortel langs die veepos. In geloof. Vaste vertroue op dit wat ons hoop. Bewys van dinge wat ons nie sien nie.” (301)

 

Hierdie boek moet elke leser, wat in hierdie land woon en nadink oor grondbesit, erfreg en ongeregtigheid, beslis lees. Dis meesleurend en ontstellend.  Dalk ‘n siniese antwoord op Boer soek ‘n vrou?

 

Daar is een taaipou wat met die volgende uitgawe reggestel kan word: bie in plaas van baie (343).

 

Die nuwe stem bekoor. Dis vars. Dis nuut. Komplekse idees wat konkreet verbeeld word.


Met ‘n sterk hand geskryf.


PJO Jonker © Jaco Marais