Monday, September 2, 2024

Resensie | Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers) | Naledi, 2024



Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers), Naledi, 2024. Sagteband, 123 pp, R260. ISBN 978-1-991256-88-1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Louise Cilliers se voortreflike vertaling van Ithaka in 2023 is wyd geloof. Hierdie werk van Konstantinos P. Kavafis heet Van Alexandrië na Ithaka.

 

Haar jongste vertaling is Die ses woorde van die Sigeuner deur Kostis Palamas (1859 – 1943). Palamas is tweekeer benoem vir die Nobelprys vir letterkunde. Palamas moes ook die ellende van die Duitse besetting van Griekeland tydens die Tweede Wêreldoorlog beleef. Hy is verder benoem as ‘n Griekse Nasionale digter. In sy werk vind ons verwysings na die geskiedenis, Hellenisme, en die ervarings van alledaagse mense.

 

Palamas is ‘n moderne Griekse digter wat dig oor die wedervaringe van die Sigeuners buite die mure van Konstantinopel vóór die val in 1453. ‘n Spreker word aan die woord gestel waarin die liriese, epiese en die visionêre aspekte één word.  Hier word die sogenaamde gypsies se lewens weergegee.

 

II

Hierdie leser is nie Grieks magtig nie, maar ek het na die Engelse vertalings gekyk om haar vertaalproses te probeer begryp.

 

Cilliers se vertalings wérk in Afrikaans. (‘n Swak vertaling kan jy soos ‘n home perm herken.)

“in die somber skemer van die sipresse” is daar alliterasie. Hierdie vertaler is uiters klankgevoelig.

 

Daar is vele juwele wat hierdie leser aangestip het:

die roosknop is ‘n orakel,

die sipresboom ‘n Sibille! (111)

 

*

 

Die son sak,

die son wat met skitterende baan elke kus belig het,

is aan die verdwyn.

Jy gaan onder, O son,

vir jou sal geen nuwe dag meer aanbreek nie. (91)

 

III

Daar is ook gedigte opgeneem van hedendaagse sigeuners in die addendum. Die gedigte van Raine Geoghegan is hartverskeurend oor die ellendes van hul bestaan. Wat inspeel op die bestaan van alle haweloses en migrante op aarde:

 

Ons sal tee of whisky drink, van die ou liedjies sing.

Die volgende dag word die wa en besittings verbrand.  (122)

 

Die onstabiliteit van taal (en plundering van woorde) word eweneens ondersoek.

 

Musiek is hul enigste taal.

 

Gaan kyk gerus op die Versindaba na Luan Staphorst se vertaling van Olga Kirsch se “Nevertheless” wat hy puik vertaal as “Nietemin”, ‘n lang epiese vers wat aan uitgewekenes eweneens ‘n stem gee.

 

In hierdie boek is daar ‘n handige bronnelys soos Frederic Will se vertaling van Palamas wat in 1964 verskyn het.  Die voetnote is op sigself insigryk vir die leser soos presies wat Hellenisme beteken. ‘n Idealisering van die Griekse beskawing, o.a. Griekse vuur was ‘n vlam-werpende wapen wat veral tydens seegevegte gebruik is. Die voetnote is uiters verhelderend.

 

‘n Loflike, fantastiese boek, nogmaals uit die hand van ‘n bekroonde vertaler, wat op alle vlakke jou lewe verryk.

 

Tereg het sy indertyd die vertaalprys saam met E.L. de Kock ontvang het vir die vertaling van Aristoteles se Poëtika.

 

In Lawrence Venuti se terme het sy Kostis Palamas huis toe gebring.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)