Perspektief & Profiel – H. P. van
Coller, Red. Van Schaik: Pretoria, 2015. ISBN 978 0 627 03104 5
Resensent: Joan Hambidge
Die subtitel van Perspektief & Profiel heet ‘n
Afrikaanse literatuurgeskiedenis, en nie die
Afrikaanse literatuurgeskiedenis nie. Literatuurgeskiedenisse is lankal nie
meer monumente nie, maar word eerder beskou as resepsie-geskiedenis. Die hewige
polemiek in die tagtigerjare tussen Cloete en Kannemeyer het onder meer
gehandel oor die onmoontlikheid van ‘n eenman-literatuurgeskiedenis. In ‘n
sekere sin is Perspektief & Profiel
dan regstellende aksie en ‘n poging om verskillende stemme te hoor.
Onder die redakteurskap van H. P. van
Coller is Deel I in die Tweede uitgawe nou met ons.
Bekende en minder bekende literatore
het deelgeneem aan hierdie belangrike teks waarsonder geen dosent kan klaarkom
nie. Ons bekyk nou A – G (Aucamp tot Henriette Grové).
Die inleiding van die redakteur nooi
ook gesprek en kommentaar uit. Bekende skrywers wat sopas naam gemaak het, soos
Willem Anker, sal dus moet wag vir ‘n volgende uitgawe om hier gekanoniseer te
word. Ondertussen is daar pryse en resensies wat deelneem aan die kartering van
belangrike boeke.
Vir die doeleindes van hierdie
bespreking sal my fokus wees veral op die digters wat opgeneem is: Aucamp, Pirow
Bekker, Peter Blum, Boerneef, Breytenbach, Eveleen Castelyn, Jan F. E.
Celliers, T. T. Cloete, Sheila Cussons, Johann de Lange, I. L. de Villiers, I. D.
du Plessis, Louis Esterhuizen, Elisabeth Eybers, Jeanne Goosen en Tom Gouws.
Kom ons begin met die mindere bydraes:
die stuk gewy aan I. L. de Villiers deur Jacomien van Niekerk is ideologies
gelaai en bly in gebreke om die digter se lewe (en wat sy meen sy ideologie
was) te skei van sy gedigte. Waarom moet die digter die “godgegewe orde” van
die Gereformeerde teologie uitdaag? ‘n Gedig kan goed wees sonder om polities
korrek te wees.
Marthinus Beukes en Jan Buscop se
inskrywing oor Tom Gouws se aansluiting by ander geestelike digters word
uitgewys met die oënskynlike dieper dimensie wat aangeneem word (816). ‘n Hoogs
omstrede stelling, gedagtig aan die ryk mistieke verse van Sheila Cussons. Hier
word ElijahAfrica, die bedieningsnetwerk waarvan Gouws die hoof is, waarskynlik
ingelees. Gouws is ‘n geestelike digter ja, maar hy het bepaald nog nie die
hoogtes van T. T. Cloete bereik nie. En dan is daar gewis sterker bydraes.
Daniel Hugo was die regte leser vir
Aucamp se gedigte. Albei hierdie digters werk met sterk, vormvaste beginsels.
Hoekom is Aucamp so onderskat as digter? Is dit omdat ons nie wil aanvaar dat
skrywers verskillende genres ewe goed kan beoefen nie? Hugo smokkel ook vir
Ronnie Belcher hier in, daardie onderskatte speelse digter in Afrikaans.
En hoe moeilik dit is om ‘n oorsig te
skryf oor ‘n veelkantige skrywer, word bewys deur Phil van Schalkwyk se bydrae
oor Pirow Bekker. Van Schalkwyk wys dan ook daarop hoe moeilik dit is om ‘n
greep te kry op so ‘n skrywer en dat die relatief min kritiese reaksies op sy
werk hom genoop het tot ‘n nuwe inskatting. Moontlik, meen Van Schalkwyk, is
die gevarieerdheid en ingewikkeldheid van sy werk iets wat ‘n rol speel iets
wat navorsers ontmoedig? Of dalk ook sy rol as iemand wat buite modes of klieks
staan? In sy besinning gee Van Schalkwyk ‘n komplekse en geïntegreerde lesing
van die oeuvre en tree hy so in gesprek met ander kanoniseringspraktyke wat
eerder chronologies of genre-gebaseer is.
‘n Uitstekende stuk is Heinrich Ohlhoff
se lesing van Eveleen Castelyn. Dit is egter so deeglik en lank dat dit ‘n
skeefgetrekte beeld gee van haar posisie binne die kanon, my waardering vir
haar werk ten spyt.
Hierteenoor is Bernard Odendaal uiters
insigryk oor die omstrede figuur Peter Blum. Die energie in die gedigte met die
dinamiese ewewig waarin ‘n veelvoud van spannings en oënskynlike teenstrydighede
in sy poësie verduidelik dan die durende fassinasie met sy werk (374). Sy
invloed op ons digkuns is eweneens van belang.
Lina Spies skryf oor Eybers se “ritme
en struktuur”, ‘n sobere inskatting van hierdie merkwaardige digter. Sy sonder
tereg die sublieme skoonheid van Die
helder halfjaar op en wys op die ek-spreker wat in ‘n hoë mate
identifiseerbaar is met die digter. Sy lees Eybers op haar eie voorwaardes soos
uiteengesit in haar poëtika. Inderdaad ‘n simbiose van teenstrydighede.
Nico Snyman skat Jan F. E. Celliers
reg in as volksdigters en geliefde persoon vir sy lesers, terwyl Réna Pretorius
gesaghebbend skryf oor T. T. Cloete se eiesoortige ideolek en erudisie. Adèle
Nel voltooi die inskrywing uitstekend wanneer sy wys op die allotropie van sy
digkuns waarin dieselfde toestand telkens anders verwoord word. Marthinus
Beukes wys op Johann de Lange se vakmanskap en sy gesprek met ander digters. Hy
skroom ook nie om verkeerde waarnemings uit te wys nie soos Ampie Coetzee se
geringskatting van Die algebra van nood.
F. I. J. van Rensburg se bydrae oor
Boerneef bly uitstekend, nes Wium van Zyl se helder, beleë bydrae oor Sheila
Cussons, ‘n uitstaande mistieke digter en fyn beheerder van die ekfrastiese
vers neem ‘n mens opnuut terug na haar verse.
Hein Viljoen vang die komplekse
karmiljoen Breytenbach goed op.
Marius Crous skryf oor Louis
Esterhuizen en wys daarop dat hy een van die min digters is wat oor die
politieke hede en verlede dig. Hy wys op intertekstuele skakels met ander
digters.
I. D. du Plessis word behartig deur
Aucamp en B. J. Odendaal. ‘n Skrywer kan net hoop op so ‘n deeglike en oorwoë
besinning.
Die register is onvolledig en daar word
byvoorbeeld op bladsy 603 na kritici verwys wat in die bibliografie ontbreek.
Dit is ‘n tydige kompendium wat
verskillende poëtikas en leesmodelle omskryf. Vir die dosent onontbeerlik; vir
die student ‘n hulpbron.
Uiteindelik laat die werk die indruk
van ‘n groot gebou met verskillende style: outyds en modern saamgevoeg soos ‘n
mens in Chicago antwoorde en palinodes sien op Mies van der Rohe.
Volks of plegstatig, lyflik of
godsdienstig, intertekstueel of eenvoudig, sangerig of ingewikkeld, heidens of
bybels, polities of vredig: alles vind die leser hier in die digkuns wat ‘n “windharp
teen die tyd” bly.
Besliste dank aan H. P. van Coller
wat al die bouers, verwers en ontwerpers byeen moes bring.
(Lees Deel 2 vir 'n oorsig oor die prosa).
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)