Christine Barkhuizen le Roux – skynskadu. Naledi, 2015. ISBN 978 0
928316 11 7
Resensent: Joan Hambidge
skynskadu
is die derde bundel van die digter Christine Barkhuizen le Roux wat die romans Padmaker
(2010) en Getuie (2012) gepubliseer het. Twee kortverhaalbundels het ook
uit haar pen verskyn: Waar koek en wyn ontbreek (2006) en Wat die oog
gesien het (2006). Sy debuteer as digter in die jaar 2000 met die bundel
dimensie en hierna volg roset in 2006.
skynskadu
word uitgegee met 'n CD waarop die digter haar gedigte voorlees en sangers van
die gedigte sing. Hiermee word die klank-aspek van die gedigte dus beklemtoon.
Die buiteflap word deur 'n gesiene digter geskryf, Fanie Olivier, wat die
bundel tipeer as 'n herroeping van talle verledes ...
Herinnering en haar skynmaat, nostalgie,
is inderdaad belangrike dimensies in hierdie bundel. Hierom die terugkeer na
die jeug (selfs grensoorskrydende herinneringe). Daar is verse oor die ouers en
grootouers, die oënskynlike idilliese bestaan wat vol ellendes was soos meisies
in "die ander tyd" of droogte wat 'n bestaan bedreig. Onthoubaar dan
is "plaas":
plaas
huis wat agter spinnewebbe beef
tussen die veld en dynserig lug
teen die rantjie sug die somer
bid die boer om wat dan ook
'n oes is af die dam is leeg
die nuwe droogte is in sig (25)
Daar is lykdigte oor bekende digters en
die literator-biograaf, J. C. Kannemeyer. Lucas Malan, Chris Lombard, George
Weideman word onder andere gehuldig. In die gedig "refrein" (74) tree
sy onder andere in gesprek met Malan se digkuns wat uitloop op 'n slot wat die
bundeltitel aktiveer:
en ek gewaar jou by die bottende prieel
jou pen skrywend aan die refrein
dat groen die lig en donker deel
Die agste en laaste afdeling bevat
reisgedigte. Besinnings oor 'n stad, 'n besoek aan 'n museum of katedraal
aktiveer sodanige gedigte die spanning tussen land van herkoms en land van
besoek. Die spanning tussen hier en daar word uitgewerk, en hoe uiteindelik die bekende ook kan help om die onbekende vertroud te maak, soos die moeder se malvas in Granada.
Die bundel bevat reis- en lykdigte, verse
met sosiale kommentaar, jeugherinneringe, beeldverse ('n mooi een oor Abraham
H. de Vries), liefdesverse en plekgedigte. Oudword en weerloosheid word
aangespreek en hoé herinneringe aan die ongehoorde (en ongerymde) 'n hele lewe
bly verander:
: na al die jare sweer die naald
se afbreekpunte nog in my (41)
Daar is etlike besinnings oor die digkuns
via (o.a.) Rilke, Boutens en Judith Herzberg. (Waarom Rilke tog in Nederlands
aanhaal as ons Duits begryp, die goeie vertaling van Piet Thomas ten spyt?)
Tegnies vernuftig is die gedig
"onthouwerk" (38) wat oorloop in die volgende vers wat "Ma"
(39) heet. "Laaste wil" (66) kan gelees word as 'n epitaaf vir die
self waarin die wens uitgespreek word oor hoe die digter begrawe wil word. In
"operasie" (21) word die digter se weerloosheid en uitlewering aan
die kritikus, beskryf in terme van 'n operasie:
koue kamer skaars narkosegas
my jurk hang los my rug is oop (21)
Klein, maar so netjies is die volgende
gedig:
verjaardagkalender
die oopslaan van ‘n nuwe jaar
name om by te voeg name te wis
my pen weier die dik swart streep
deur wie vertrek het maar steeds is
ek stip alleen 'n potloodmerk
‘n serk vir Lucas John en George (73)
Op haar beste is die onthou- en
nostalgiese verse die skerpste in die bundel. Die reisgedigte – waarin
herinneringe o.a. aan die ouers ook sy beslag vind – is minder gefokus.
Daar word gebruik gemaak van sogenaamde
outydse woorde (waarvan ek baie hou). Die digkuns word vergelyk met die
skilderkuns soos in die programvers oor Caravaggio. Tog is dit die gestroopte,
eerlike vers wat 'n mens tref.
Die verse in hierdie bundel is toeganklik
en oop. 'n Handvol verse sal hierdie leser bybly. En die begeleidende CD bevat
mooi vertolkings van die gedigte.
Dit is 'n bundel vir lesers wat hou van
afgewerkte, dog toeganklike gedigte. Gedigte hoef nie vol intertekste en swaar
verwysings te sit om te werk nie, soos 'n literator nou onlangs opgemerk het
oor 'n bundel van Kobus Lombard op Litnet.
Daar is 'n plek vir al die
verskillende style in die huis van onse digkuns.
(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)