Monday, August 3, 2015

Antjie Krog and The Post-Apartheid Public Sphere: Speaking Poetry to Power - Anthea Garman (2015)


Antjie Krog and The Post-Apartheid Public Sphere: Speaking Poetry to Power - 
Anthea Garman. UKZN Press, 2015. ISBN

Resensent: Joan Hambidge

Oor die rol wat Antjie Krog speel as openbare figuur skryf Anthea Garman uiters insigryk.

Sy wys op die buitelandse posisie, die bekronings, die pryse, die lof van J.M. Coetzee en haar komplekse rol.

Sy neem ook Edward Said se bekende uitspraak van “speaking truth to power” as ’n belangrike uitgangspunt om Krog se rol te definieer.

Later word dit gekwalifiseer as “speaking poetry to power”, soos Alette Schoon dit klinkend opsom.

Die studie val in sewe hoofstukke uiteen. Die hele kwessie van “self” en “Othering” en om in ’n era van pyn en onmenslikheid te leef, word deeglik bespreek.

Krog problematiseer die openbare en die persoonlike dimensies van haar lewe. Die een word toenemend vervleg met die ander en kan lankal nie meer onderskei word nie.

Garman se titel van haar studie Antjie Krog and The Post-Apartheid Public Sphere:
Speaking Poetry to Power wys 
op haar ontwikkeling as jong digter en die herrie wat dit veroorsaak het, tot haar rol as aktivis en openbare intellektueel.

Daar was eweneens ’n onverkwiklike insident oor wapens wat op haar voorstoep gevind is, wat sy verwerk het tot teks in Relaas van ’n moord.

Met Krog in ’n drama in Kroonstad, skuif sy Kaap toe en doen belangrike werk by Die Suid-Afrikaan.

Krog is ’n belangrike digter. Die volledige feministiese ontwaking kan in haar tekste raakgelees word en daar is ook falliese simbole (soos Marius Crous aandui) in haar poësie.

Sy skryf immers omdat sy woedend is. Sy is Lady Anne, maar ook Dogter van Jefta. Dot Serfontein se dogter, maar ook mens, digter, politieke aktivis in eie reg. Sy skryf faksie waarin feit en fiksie vermeng word: om ons anders te laat kyk na ons werklikheid.

Garman neem verskillende soorte intellektuele wat post-1994 na vore gekom het onder die loep: die revolusionêre intellektueel, organiese intellektueel, swart intellektuele, Afrika-intellektuele, en nog meer.

Watter soort intellektueel is Krog uiteindelik?

Vir my gevoel, ’n emosionele en revolusionêre een wat visseraal omgaan met die problematiek róndom haar. Dis hoekom haar gedigte jou aan die keel gryp.

Krog is sowel digter as politieke kommentator en aktivis. Haar werke soos Country of My Skull en Begging to Be Black is hibriede tekste. Tekste waarin die digter-aktivis háár sieninge wil sien gebeur. En sy is waarskynlik gefrustreerd dat die reënboog-fantasie nie gebeur het nie  . . .

Haar onlangse lesing by die Sunday Times-prystoekenning het Krog finaal as revolusionêre intellektueel gevestig.

In hierdie lesing het sy geëis dat mense hulself moet oopstel vir armoede. Armes moet in parke kan bly; ná universiteitsvoltooiing moet jy ’n jaar gratis in jou gemeenskap diens lewer; afgetredenes moet ook hulself diensbaar stel . . .

’n Gemeenskap sal huisvesting en kos verskaf. Die verdeling van rykdom is ’n utopiese droom, ’n onuitvoerbare sosialistiese droom, omdat armoede geromantiseer word.

Waarskynlik vind ons reeds dieselfde sentimente in haar onlangse bundel Mede-wete, onder meer in die gedig “Bediendepraatjies” waar die lewensverskille tussen wit en swart só groot geword het dat ons hele lewenstyl herdink moet word.

Die ekonoom Dawie Roodt het haar reeds gewys op die onmoontlikheid van so ’n droom. Vir my gevoel behels dit ’n romantisering van armoede sónder om die praktiese implikasies van misdaad en higiëniese standaarde te verreken.


Oorkant my is ’n park. Oorkant my moes die stadsraad juis stappe doen weens geweld en misdaad.

Dit is ’n studie waarin die etiese agentskap van die skrywer en aktivis Antjie Krog onder die loep geneem word. Die implikasies van wat sy wil met haar land en hoe dit ons almal raak, sorg vir debat. Almal knetter en kook.

Onthou net: Anna is bekend daarvoor dat sy enige openbare platform sal gebruik om haar segge te seg. Onthou tog wat sy alles gesê het toe sy die Hertzogprys gewen het vir Lady Anne.

Die boek van Garman sluit af met die omstrede Rhodes Must Fall-veldtog.

Die outeur erken sy werk reeds 11 jaar lank aan haar boek oor Krog. Sy wys tereg daarop dat ’n mens standpunt moet inneem en sy wys op haar studente in Grahamstad se reaksie op studente aan die UK se optrede. Het die Waarheids-en-Versoeningskommissie niks vermag nie? Hoekom is daar nog soveel woede?

Dit is ’n studie waar ek etlike opmerkings in die kantlyn geskryf het. Maar dit is wel ’n boek wat jou laat nadink oor waar ons nou is. Kan ’n mens nog ’n spreker namens ander wees? Of moet jy ook pyn en empatie verteenwoordig wanneer jy sulke stellings maak?

Daar is nie maklike oplossings nie. Wat wel waar is, is dat ons ongekende opstand by veral swart jong mense sien en dat ons almal (links en regs) nie werklik in staat is om die nuwe diskoers te begryp nie.

Terselfdertyd sien jy ook jonges wat net na hul selfone kyk en nie eens weet wat óm hulle gebeur nie.

En vir die redakteur: Op bladsy tien word Ernst van Heerden verkeerdelik as Etienne van Heerden gesien. En Celine moet sekerlik lees Cecile Cilliers?