Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 6de uitgawe. Jana Luther, Fred
Pheiffer & Rufus H. Gouws (redakteurs).
Pearson,
2015. ISBN 9781770257009
Resensent:
Joan Hambidge
Die nuwe HAT is omvattend herbewerk en uitgebrei.
Wat ’n vreugde is dit nie! Ek
kan my nie ’n lewe as non-leksikograaf sonder woordeboeke voorstel nie. Ek lees
woordeboeke vir my plesier, net soos wat grammatika-boeke my interesseer.
Wanneer ek skryf, is daar oop woordeboeke langs my uitgestal.
In die voorwoord word die
geskiedenis van die woordeboek gegee: groot taalkundiges soos Schoonees,
Swanepoel, Du Toit en Booysen, met Francois Odendal wat later redakteur was.
Langs my bed staan Louis Eksteen se Afrikaanse
Sinoniem-woordeboek, ’n boek waarsonder geen digter kan werk nie. Nes Leon
de Stadler se Groot Tesourus van
Afrikaans waarna ek telkens terugkeer om ’n woord te tjekkereer.
Ná 2005 is Rufus Gouws die
hoofindoena met die hulp van kundiges soos Jana Luther en Fred Pheiffer. 2015
val dan saam met die herdenking van die HAT
se 50-jarige bestaan. Daar word tereg verwys na die Sisifusarbeid van die
makers wat met onverdrote ywer woorde saamstel.
Hierdie woordeboek beslaan meer
as 1 632 bladsye, met ander woorde, meer as 200 bladsye as die vorige edisie.
In 2008 het die elektroniese woordeboek sy (haar?) verskyning gemaak. Die HAT probeer om eietydse taal te karteer:
Afrikaans in geskrewe tekste, maar ook hoe dit oor die radio, op televisie en
sosiale media gebruik word.
Die omskrywings is nuttig. Soms
word die Latyn gegee en ander kere word ’n woord omskryf deur te verwys na ’n
liedjie van byvoorbeeld Lucas Maree: “Gedagtes vat my soos ’n kolk wat draai /
Deur die newels na Victoriabaai” (bl. 840).
My lees van hierdie kluif
(kluifhout is opgeneem, bl. 640) maak van my ’n kloutervis!
Of ’n intellektuele kloupoot.
Hierdie boek is soos ’n
akkordeon (genoem na die Duitse uitvinder, bl. 43) wat jy lekker kan oop- en
toetrek. ’n Trekklavier. En bekvegters (bl. 93), soos daardie rubriekskrywers
wat raas en tekere gaan, is soos ’n windbuks sonder ’n koeël. En oor belese is
daar ’n inskrywing oor ’n bekende dog skroomvallige literator wat berese is
(bl. 95); op my dag het die skoolvosse gepraat van bereisde, maar taal pas aan
en transformeer mos. Ek verkies limerick (genoem na die plek) en saxofoon
(genoem na die man); nie saksofoon!
Hoe mooi dat belladonnalelie
neffens bellettrie staan (bl. 95), want die gewoeker rondom die digkuns is
dikwels ’n giftige en morsige bedryf. Blou Bul (bl. 129) word met ’n hoofletter
gespel (en heyneke meyer waarskynlik met ’n kleinletter . . .). Maar ek wil nie
nou kanariebyter speel nie (bl. 578); eerder nadink oor kannelure (bl. 579) van
die Frans (cannelure) .
Lekker om te lees dat opslip
(bl. 933) hier is; dis immers hoe mense praat. Man, het ou Crito nie opgeslip
toe hy gedink het Jean Meiring is ’n vrou nie? Nou ja, hierdie anonieme
kritikus gaan hom seker weer opruk vir my opslagskoot!
Daar is ’n nuttige plakker
agterin met ’n kode wat jou vir ses maande gratis toegang gee tot die
aanlyn-woordeboek wat maandeliks bygewerk word. Daar is ook erkenning gegee aan
bekendes vir sitate. Akklamasie (Latyn: acclamatio, bl. 43).
My kollega Daan Hugo, die
digter, het hierdie woordeboek as pedanties, maar tog as die heel beste
beskryf. Is woordeboeke tog nie maar per definisie beterweterig nie? Om die
taalreëls vas te lê, moet tog voorskriftelik wees, nie waar nie?
’n Woordeboek, volgens hierdie
ywerige leser, is meer as ’n taaldokument. Dit is ook ’n historiese opname, ’n
stuk kultuurgeskiedenis.
Kyk maar net waar het Afrikaans
gaan “leen”. Johan Combrink, daardie groot taalkenner, het vir my as student
geleer dat taal verander en aanpas; en dat jy jou net oor anglisismes of wat
ook al kan uitlaat indien jy Afrikaans tot in die sewentiende eeu terug ken!
Op my dag het Anette Snyman, ook
’n digter, vir ons gewys hoe Boerneef se gedigte ’n kontreitaal “opteken”. Sy
het lyste en lyste woorde vir ons gegee wat ons al spelenderwys moes saamstel.
En daardie soort taalkundiges het hul ore en oë oopgehou vir veranderinge. Die
HAT se sibbes is natuurlik die WAT en Piet du Toit en Wanda Smith se Stylboek:
Riglyne vir paslik skryf. Soos Wannie Carstens se Norme vir Afrikaans.
Want woordeboeke is norme vir ’n
bepaalde tydvak. Soos modeboeke sekere haarstyle en gewoontes opvang.
En woorde transformeer omdat
mense verander.
En van byderwetsheid het die
samestellers deeglik kennis geneem, want woorde wat in puur woordeboeke met ’n
hooghartige snuif uitgegooi sou word, is hier. Soos rave en wheelie . . .
So laat ek nou ’n bietjie
wheelie: In hierdie dae wat monumente afgebreek word, wil ek voorstel: Hoe lyk
dit met ’n monument vir ons woordeboek-makers? Hier is meer as 2 miljoen woorde
“bewaar”. So, gaan hierdie taal uitsterf? Aikona. (Nguni, haikôna, bl. 42).
Hiermee my isibongo (bl. 544).
’n Taal wat so bewaar en opgeskryf word, kan nét uitsterf as almal kollektief
besluit dat dit moet sterf. En dit gaan nie gebeur nie. Te veel mense praat,
dig én sing in Afrikaans.
Ons beleef tans ’n verdere
Bybelvertaling, uitstekende boeke in Afrikaans .
Ek het by die Woordfees ’n Afrikaanse
woord geborg vir die WAT . . .
Hamboud. (Ek het die sertifikaat as bewys!)
’n Projek wat in 1926 begin is
deur professor J.J. Smith.
Gooi sout op die pessimistiese
sterte!
Komaan, Afrikaanssprekendes, hou
op om op julle se katderms te speel.
Fakala straight!
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)