Tuesday, September 12, 2023
Boekbekendstelling | Joan Hambidge - Stasies | 2023
Friday, September 1, 2023
Resensie | Annemarié van Niekerk – Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: ’n Memoir | Tafelberg, 2023 * P.P. Fourie – Ons skulde. Queillerie, 2023
Annemarié van Niekerk – Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: ’n Memoir. Tafelberg, 2023. ISBN: 9780624093596 * P.P. Fourie – Ons skulde. Queillerie, 2023. ISBN: 9780795710834
Resensent: Joan Hambidge
I
In Styles of Radical Will (1969) verwys wyle Susan Sontag, die Amerikaanse kultuurkritikus, na die sogenaamde “pornographic imagination”. By die herlees van Sontag se bekende teks Regarding the Pain of Others (2003) lees ek Annemarié van Niekerk se memoir Onder ‘n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika. Terselfdertyd ervaar ek ook die roman van P.P. Fourie wat heet Onse skulde.
Die term “pornografie van geweld” is presies dit wat ons daagliks in hierdie land beleef.
II
By Van Niekerk is dit ‘n memoir oor geweld: ‘n teks aangebied as “werklikheid”; met duidelik gefiksionaliseerde passasies en naamsveranderinge. By Fourie ‘n roman, gebed in die werklikheid wanneer ‘n mens onderhoude met die skrywer lees oor sy jeug.
Die grense tussen fiksie en werklikheid vervaag dikwels in die moderne, postmoderne en nou: metamoderne era. Vertellers gebruik en verdraai die waarheid (“die sogenaamde waarheid gelieg”) of bied ‘n teks aan as die werklikheid. Van Niekerk erken dat haar teks gebaseer is op historiese, biografiese én outobiografiese gegewens: gefilter deur die geheue en verbeelding. Ons moet dit lees as faksie. Geprekke is óf fiktief óf gebaseer herinneringe óf ontleen aan bestaande bronne, bely sy. Sekere aspekte van haar lewe is weggelaat. Uiteraard omdat dit ‘n “verhaal” word.
Beide Van Niekerk en Fourie se tekste is belangrike kommentare en kritieke op ons samelewing. Van Niekerk, gebore in Suid-Afrika en woonagtig in Nederland, gee vir ons die blik van buite. Die paradokse van liefde en geweld. Kinders wat deur ouers aangerand is met lyfstraf in die naam van liefde. Fourie kyk na die impak van alkoholisme en seksuele geheime op families. En die romantisering van kindwees wat die buitestaander-kind as ‘n leuen ervaar. Die blik van binne.
Van Niekerk keer terug na haar land van herkoms en die verwerking van die moord op Ruben en sy ma. Ons ken almal iemand in hierdie land wat vermoor is, of iemand wat iemand ken wat vermoor is.
Van Niekerk is op ‘n speurtog om die “bloedrooi hemel” te probeer begryp. Fourie – soos Agatha Christie en die Skandinawiese noir-speurverhaalskrywers – gee vir jou leidrade om moord op te los.
Jy word ‘n Hercule Poirot wat agter die moord na motiewe soek. Dikwels ‘n afgetekende of mishandelde kind wat diep trauma beleef het. Vals leidrade en afdraaipaadjies laat jou dieper soek.
Veral die filmreeks met David Suchet as Poirot word ‘n boeiende analise van emosionele vraagstukke met Captain Hastings (Hugh Fraser) en Scotland Yard Chief Inspector James Japp (Philip Jackson).
Met Poirot wat gebruiklik iets wat onder die oppervlak broei, snap. By Fourie is daar ‘n onthulling van ‘n buite-egtelike verhouding wat lei tot Simon se dood lei. Emma reis na Clarens om haar man se as te gaan strooi en ontmoet vir Vera. Hier word die leser aan veelvuldige leuens en verdoeselinge blootgestel.
By Van Niekerk is daar reise. ‘n Werklike reis uit Nederland en dan verskillende emosionele reise terug ín die tyd wat jou meestal aan die hart gryp. Die outopsie-verslae word skrynend-eerlik beskryf, nes die hofverrigtinge. Dié moord wat plaasvind in 2015 (op ‘n plaas in die Oos-Kaap) neem haar terug na haar werk aan die Universiteit van Transkei in die 1980’s. Die struggle-jare.
En haar politieke ontwaking en haar stryd met haar vader word beskryf. En haar latere verhouding met ‘n swart intellektueel en ‘n lewe in Hillbrow wat meedoënloos beskryf word, gryp aan die hart (en keel).
Die memoir wissel tussen hewige emosionaliteit en totale afstand en kilheid. Dit is geskryf in uitstekende prosa wat soms poëties word. Dat dit bekroon is met die gesogte Henriette Roland-Holst prys verklap alles. Ook die loftuitinge van kritici en skrywers onderstreep hoe belangwekkend hierdie teks is. Geskryf in Nederlands en vertaal deur Daniel Hugo.
III
Fourie bekyk geweld uit ‘n ander invalshoek. Van Niekerk se Vrouevertellers 1843 – 1993 (1994) was ‘n belangrike feministiese antologie soos latere versamelings ook. Fourie lewer kommentaar op die patriargie en toksiese manlikheid. Vaders wat seuns versmoor én psigies vermoor.
Dit is twee tekste wat mekaar komplementeer en aanvul.
“Terug op Efata hang depressie soos ‘n winterjas om my skouers”, skryf Van Niekerk op bladsy 260.
“Dalk is ons almal se lewens maar net die verhaal van hoe ons vrese verwerf”, skryf Fourie via ‘n karakter op bladsy 52.
Vrees en boetedoening beskryf met verwysings (o.a.) na Nathaniel Hawthorne se The Scarlet Letter.
Beide tekste, onafhanklik van mekaar, kyk na die lot van die vrou wat teen die patriargie opstaan. Twee boeke wat snydend kyk na kollektiewe skuld. En kollektiewe skisofrenie aanspreek, soos Van Niekerk dit klinkend beskryf (249).
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)
Sunday, August 27, 2023
Resensie | Ilse van Staden – verveertaal | Imprimatur, 2023
Ilse van Staden – verveertaal. Imprimatur, 2023. ISBN 978 0 6397 86391
Resensent: Joan Hambidge
Ver in die wêreld Kittie
Sedert haar debuut Watervlerk (2003) het hierdie digter se poësie bekoor met die veelkantige segging. Hierna volg Fluisterklip (2008), Die dood is ‘n mooi blou blom (2009) en Waar die oog van stil word (2016). Sy het ook romans en ‘n kortverhaalbundel gepubliseer. Sy is eweneens ‘n skilder. Vir haar debuut bekroon met sowel die Ingrid Jonker- as Eugène Marais-pryse.
Hierdie bundel bekyk en beskryf die hele kwessie van migrasie. Die digter as migrant word gelyk gestel aan voëls. Die titel aktiveer die veerpen en Boerneef se beroemde gedig:
Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê
In hierdie bundel is die liefde die digter se bemoeienis veral met taal en meer spesifiek: Afrikaans. Die openingsvers en die slotvers handel duidelik hieroor.
ver taal
ver in die wêreld
oor die see
ver oor die aardbol uitgetree
waar talle tale tonglepellê
spruit sprokies
word sprak gesprook totdat
anderstaliges eendag
dié taal gebroke aftelsê:
A is vir Afrikaans. (9)
Vertaal en ‘n taal wat ver is …
Heerlik speels is “aftelrympie vir immigrante”(62) waar spesifiek Afrikaanse uitdrukkings opgeskryf word met die verlange wat vlak lê.
Dit herinner aan Krog se vers:
Abecedarium vir Afrika
Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis
Buffel Bradysourus Bokmakierie Blaasopvis
Cape Cobra Cactoblastis Camembert Codlingmot
Damaralandse Dik-dik Diederik Duif Dikkop
Eekhoring Engelvis Elsie Eland
Feniks Fiskaal Flamink Fisant
Gapermossel Giraffa Gaboenadder Gemsbok
Hartebees Hiëna Hadida Hotnotsgod
Ietermago Impala iMpevu Ibis
Jakkals Janfrederik Jagluiperd Jellievis
Klaasneus Kakelaar Kwena Korhaan
Lelietrapper Leeu Lystrosaurus Likkewaan
Muskeljaatkat Mahem Manatee Maraboe
Nagmuis Nonaap Njala Ghnoe
Ouvolk Oorbietjie Otterjasie Otterjou
Pylstert Pietjoutjou Pofadder Pou
Quagga Quil snuif op Engels aan die lot
Ratel Roerdomp Rinkhals Rot
Speg Selekant Songololo Saagvlerkswael
Tiptol Tsetsevlieg Troupand Tarentaal
Uil Ungulungu Unicorn (Kalahariduin sy huis)
Vlakvark Vlindervis Vader-langbeen Volstruis
Wildebees Waaierstert Wulk Wildehond
Xhama laat in Xhosa spore op die grond
Yellowtail Yellowfinch en Yslike Ystervark
Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard
Ja alles van hier van huis en van haard
Alles wat kruip volgens suidelike kaart
Alles wat fladder, doodle of dool
Wag reikhalsend op die koms
van die Amazi-voël
(Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)
Van Staden se vers is in ‘n ander sleutel. By háár gaan dit om verlange en veral die vrees dat die taal mag uitsterf. Sy dig oor walvisse en haar aangrypende “vier gebede by seegetye in die onderland” praat met Louw se bekende gebede. Daar is ‘n gesprek met T.T. Cloete wat hier heet “oopooggebed by Sondagmiddagete” (47) en liefdesverse.
Dit is veral die klankontginning wat hierdie leser bybly soos “kamerorkes, ‘n oefening” (56) en in die volgende vers:
Slakkesibillant
slakke sit nie stil nie
hul gly eenvoudig
veellettergrepig
gesillibeerd sibilant
en onvoorspelbaar slymend
in patrone en paadjies om
in ruwe klankgrepe
liploos en voetfoutloos
tongverdraai vorentoe
los te kom
*
Sibilant is ‘n sisklank, oftewel frikatiewe konsonante; sillibeer speel in op sillabe (lettergreep). En dalk ook sibille (waarsegster)?
‘n Sentrale en hartgrypende vers is “in die museum vir ververende tale” (60) wat so eindig:
in ‘n diaroma agter vuilgevatte glas
vergaan die opgestopte eksemplare
van verveerde tale tot sillabes
en onsamehangende fonetiek lê rond
soos dons in die vertoonkas van die mond (60).
Ons migrerende digters en digters wat uit die buiteland skryf (en geskryf het), word in hierdie bundel ook aangeraak. Casper Schmidt, Julian de Wette, Breytenbach …
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)
Resensie | Pieter Odendaal – ontaard | Tafelberg, 2023
Pieter Odendaal – ontaard. Tafelberg, 2023. ISBN 9780624093930
Resensent: Joan Hambidge
I Die wêreld is wyd en vol verlange
In Pieter Odendaal se bundel ontaard, wat sopas by Tafelberg verskyn het, word vrae gevra oor herkoms, tuiswees en heengaan, soos die omslag verduidelik. Ook: waar kom ons vandaan?
Die titel is veelkantig: ontaard beteken ook dekadent; pervers. In die sinoniemwoordeboek staan daar: agteruitgaan, versleg, verbaster …
Dis ‘n ekologiese bundel wat die mens se verhouding met die natuur beskou en verskillende ruimtes word besoek: Peru, die Vrystaat, Makhanda, en Australië, onder andere. Die komplekse verhouding met grond word onder die loep geneem van ‘n jong kind wat tuin maak tot die hele kwessie van grondbesit en -onteiening.
Dis eweneens ‘n spirituele reis (terug in die tyd en in drome) waarin die verhouding met die vader (‘n boereman en ’n jagter) geanaliseer word. Die jong kind, ‘n gay-seun, probeer sy eie identiteit teenoor die vader s’n plaas. Dus manlikheid in al sy geledinge. Geliefdes is hier en herinneringe aan ‘n jeug waar die kind se kweer-gedrag bespot is, word ook beskou. Hier is werklik ontroerende verse oor hoe jong seuns wat “anders” is geboelie word soos in “scenes from a gay childhood” (16).
Daar word egter deur gedigte na ‘n ander orde beweeg. ‘n Vers oor reiniging beskryf dit uitstekend (62). Een van ‘n bewussyn dat ‘n mens jou eie identiteit kan vind en veral in die gedigte oor die Suid-Amerikaanse landskap gebeur dit.
Daar is verlatings en vrese. Pyn en ontnugtering. Maar verheldering in gedigte wat boei met ongelooflike versreëls:
kom waai my woede weg, dra my stem ver (66)
anderkant / die sandberg tease die see haar platinum hare (60)
korreltjies fake sand steek spelde in die wind (60)
as die son ons insluk
en wolke van ons maak (50)
vroemôre lê stompies soos
abandoned soene op die dek (49)
die aand / is ‘n wond vol vreesbevange sterre (23)
soos uitroeptekens van vergeet (11)
Daar is odes en lykdigte. Refreine en vrye verse. Melancholiese verse en gedigte wat getuig van vormbeheer veral in die soektog na primordialiteit. Die lykdig “ons wat agterbly” (17) is pynlik-ontroerend.
Die bemoeienis met die digkuns as kuns loop reg deur die verse. Gesprekke met Elizabeth Bishop of die maan wat soos ‘n koel, ronde gedig oor die slagveld skyn (47). Die ode aan lug – waar die woede weggewaai word – is eweneens treffend (66).
II
Hier is ‘n gedig wat die hele kwessie van die onomatopee of klanknabootsing analiseer.
freelance muse
ek maak die app oop na doomscrolling
oor nuwe variante en hotspots
profielfoto: golwende landskap stinkhoutbome
die see doer uitgeblou
wordsmith wanted
worth his weight in wood
self-aware, flame in the mirror
hoe meer tale hoe meer vreugde
meta4s 4 days
no stanzas attached
paarrym, kruisrym, vrye vers
into onomatopoeia
ek message ‘n kwatryn vol klank en beelde
groen middae, sypaadjies, stof en sweet
slaapkamervensters knetter in die wind
lywe commune tussen lakens in die goue uur
ek stort en was die droewe dag weg
wag vir my muse om sy location te stuur
Inderdaad: hoe meer tale hoe meer vreugde. Oftewel: hoe meer klanke hoe meer vreugde.
Die kwatryn is vol “klank en beelde” en die leser beleef die boodskap dus hier in die metavers.
III
Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (2018) was die digter se bekroonde debuut waarop hy voortbou. Hy is indertyd vereer met die Ingrid Jonker-prys.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)
Friday, August 18, 2023
Onderhoud | Dominique Botha gesels met Joan Hambidge | Dwarsrivier, 2021
Dominique Botha is die wenner van die 2023 Ingrid Jonkerprys vir haar debuutbundel Donkerberg (2021, Dwarsrivier).
Hieronder die onderhoud wat Joan Hambidge op 28 Augustus 2021 met die digter gevoer het oor Donkerberg.
Joan Hambidge gesels met Dominique Botha oor Donkerberg / Bloodwood
Die retoer van die verlede
is nooit op die brosjures uitgewys nie
1. Hoe het dit gekom dat jy in ‘n bundel sowel in Afrikaans as Engels publiseer onder die titels Donkerberg / Bloodwood uitgegee deur Anton Kannemeyer? Het dit iets te make met jou bestaan as hibried: Afrikaanse, Vrystaatse kind wat skoolgaan in Engels? Vertel ons iets van hierdie verskuiwing.
Die wêreld waarin ek grootgeword het was meer wit en swart, meer óf Afrikaans óf Engels as vandag. My ouers wou ons graag ‘n breër ervaring van die wêreld bied en ‘n wegkomkans uit die eng politieke siening van Christelike Nasionale Onderwys. Na laerskooljare in ‘n Afrikaanse staatskool op die Vrystaatse platteland is ek na ‘n Engelse privaatskool vir meisies in Natal.
Ek was die enigste Afrikaner in die skool. You are not like other Afrikaners….more like us….haha, die Engelse meerderwaardigheid is kostelik. Interessant hoe ‘n nuwe taal jou mond kan moeg maak. Jy gebruik jou tong op ‘n verskillende maniere na gelang van die klanke van die taal. Dit is natuurlik ‘n belangrike fisiologiese tyd vir taalverwerwing, as jong tiener is jy in ‘n oorgangsfase waar jou vlotheid van spraak vasgelê word en die veerkragtigheid van jou aanleervermoë taan. Ek het myself dus tussen tale bevind, en hulle is jaloers op mekaar. Taalsloping is ‘n dinamiese en konstante gegewe omdat die tale baklei vir heerskappy. Die een wil die ander een van kant maak, of omvorm. Om beide tale gelukkig te hou moet jy vir albei blomme aandra.
Ek het my roman Valsrivier in Engels geskryf, maar die slot het uitgeloop in ‘n treurvers roudig wat spontaan in Afrikaans ontstaan het. Ek vermoed poësie word neergelê lank voor jy nog jou eerste woorde uiter. Die klanke, geure en kleure van jou grootwordjare is die gietvorm van die verbeelding.
‘n Poolse skrywer het gesê: “Om jou moedertaal te verlaat is om haar nog inniger lief te hê.” Ek was bekoor deur die herontdekking.
2. Jou buiteblaaie – uitstaande mooi! – aktiveer Pierneef. Wat is die betekenis hiervan? Pierneef vir my is die skilder van stilte …
En vir my is Pierneef die digter van landskap, van hierdie landskap wat ek nog meer en inniger lief het soos ek ouer word. In ‘n onderhoud het die skrywer John Berger hierdie fenomeen so verwoord:
We talk about about how it is possible to love a landscape like a familiar face. For Berger, that face is the Haute-Savoie. “This landscape was part of my energy, my body, my satisfaction and discomfort. I loved it not because it was a view – but because I participated in it.”
Die leuse ‘Dig where you stand’ as rigsnoer vir skryf en lewe anker jou in ‘n plek en ‘n tydvak. Weens die dubbeldooromslag moes ek twee buiteblaaie kies. Ek het in ‘n kamer ingestap en heel terloops die twee Pierneef kunswerke langs mekaar gesien. Daar word gesê “When the student is ready the master will appear”. In hierdie geval het die buiteblaaie hulself onthul toe die bundel gereed was.
Donkerberg weergee ‘n vroeë landskapvan Pierneef, olie op bord, terwyl die Engelse omslag Bloodwood in teleskopeer op ‘n pasteltekening van ‘n treurwilg langs ‘n rivier, so tekenend van die Vrystaatse platteland.
Die Afrikaanse titel Donkerberg word ontleen uit die gedig voorbode. Daar is in werklikheid ‘n donker berg agter my huis. Die titel is dus gesetel in die konkrete, maar metafories ontplooi in die gedig en dan visueel vergestalt in die skildery. En in die donker donker huis is ‘n donker donker kamer… Die titel, buiteblad en inhoud kan gesien word as ‘n skilpop met lae van betekenis. Op ‘n soortgelyke manier dien die treurwilg as leimotief vir die elegiese verse.
Onder leiding van Anton Kannemeyer en Sean Robertson is die verskeie lae van vormgewing bymekaar gebring in ‘n esteties bevredigende objek – indien dit nie te aanmatigend klink om saam te stem dat die buiteblaaie uitstaande mooi is nie, maar darem nie deur my toedoen nie.
3. Hoe verskil die skryfproses van die digkuns met die skryf van ‘n roman?
Die roman moet aan sekere verwagtinge van die leser voldoen. ‘n Roman moet ‘n begin, middel en einde hê, natuurlik nie noodwendig in daardie volgorde nie. Stories spruit uit gedeelde ervarings in ‘n soeke na sin, en moet ‘n aantal gegewens ontplooi wat reeds gedeelde begrippe is. In prosa het jy ook die kadens van narratiewe beskrywing en dialoog. Laasgenoemde versnel die intenstiteit van die vertelling, terwyl beskrywing dit verlangsaam. Die onderbou van die roman hoef nie waar te wees nie maar wel geloofwaardig, ongeag die konteks, of dit nou in die buitenste ruimte of in ‘n hallusinasie afspeel.
Poësie werk met vervreemding. Dit raak aan die onnoembare, die misterie wat buite die omvang van woorde vibreer. Elke woord in ‘n gedig moet juis wees. En elke woord dra ‘n lading van assosiasies en veelstemmigheid. Dit is wat gedigte so dig maak, en so uitdagend om te vertaal.
Die groot verskil in die skryfproses tussen gedigte en prosa is sekerlik die lengte. ‘n Roman het karakters, dinge gebeur, maar gedigte kan ook karakters en ‘n storielyn hê, beide maak gebruik van die musikaliteit van woorde. ‘Iets’ moet gebeur in ‘n roman, ’niks’ kan net in ‘n gedig gebeur, en jy moet ‘n uitstekende digter wees om ‘die niet’ treffend en betekenisvol te weergee.
Die bekende kortverhaal “For sale. Baby shoes. Never worn.” word toegedig aan Hemingway. Dis ‘n gedig, ‘n kortstorie en ‘n roman. Enige stuk skryfwerk is onvoldoende ingekleur. Mens moet nooit vergeet dat die leser die skrywer voltooi nie.
4. Vertel iets van die elegiese gedigte. By jou is dit treurverse – wat die Engelse voorblad so aangrypend vergestalt.
Ek veronderstel dat die aanvangsreël die heersende toonaard van die bundel bepaal. Ek reis met die witduif van my oë terug na die mooiweer en warm koninkryk. Met die intrapslag dus ‘n elegiese reis, die mooiweer en warm koninkryk ‘n verwysing na die verlore jeug, die witduif van die oë wat vredig terugkyk.
Daar is treurgesange oor die dood van familie, van ‘n vermoorde buurvrou,’n lyksang vir ‘n jong meisie in die fleur van haar jeug. Klaagliedere oor die gevreesde vooruitsig van die dood van die ouers. Die verlies aan ‘n droom vir ‘n beter toekoms vir almal. En uiteindelik die dood van die broer wat herbesoek word baie jare later in die afdeling van ‘die kind wat geen perke geken het nie’. Hier weereens, word die skrywe gerig aan die oorlede persoon, soos die slot gedig uit Valsrivier wat ook in die bundel opgeneem is.
Jy is nou ‘n rooigrasvlakte
In die sterfland
Waar laatmiddae aan jou wei
5. Ou Boerewoorde kom in jou gedigte voor – wat is die betekenis hiervan: hartjiesgras, douwurm, skroefbors, nooienshaar...
Dis amper asof jy hierdie woorde in ‘n museum wil bewaar?
Dis eerder ‘steel’ uit die museum as ‘n impuls tot bewaring. Baie ou boerewoorde bestaan nog as kontreitaal, ‘n skatkis van woorde wat veral opgesluit lê in sekere ambagte en maniere van doen.
Hartjiesgras is byvoorbeeld die Afrikaanse naam vir eragrostis capensis wat algemeen voorkom op die hoëveld. As kinders het ons deur die veld geloop en die saadhuisies oftewel hartjies met die hand gestroop.
Ek dink kinders is baie ingestel op die ligaamlike. Omlope, veldsere, koorsblare, luise, skurwe elmboë, al die gruwels waarmee oor en weer geterg is. Douwurm is ‘n omloop, of roosagtige kruipseer op die vel soos beskryf in die woordeboek.
FA Venter se Kambro-kind is een van my gunsteling boeke. Ek het daar gelees van iemand wat sterf weens skroefbors. ‘n Baie treffende beskrywing van ‘n doodsangs of roggel of beklemming, al is die eintlike betekenis duister en nie elders te vinde nie.
En laastens verwys nooienshaar na ‘n endemiese plant wat in die Kaap voorkom en soos ‘n wilde bos hare verstrengeld oor ander plante groei.
6. “Voorbode” vertel iets van die verhouding met die vaderfiguur. Hoe sien jy die ouers wat telkens in jou gedigte na vore kom. Of is hulle blote argetipes?
’n Ouer vriendin het my vertel dat mens ‘n blywende behoefte het om nader aan jou ouers te kom, selfs baie jare na hul dood, en tegelykertyd so ver moontlik te probeer wegkom.
Ouers is tog die oorspronklike mitologiese figure met voete van klei, en wanneer jy self later ‘n ouer word begin jy klei trap met al jou eie onopgeloste verwyte en selfverontskuldigings. Jy is nie net in gesprek met jouself en jou ouers nie, maar ook met die generasies wat voorafgegaan het. Of is jy eintlik maar net in gesprek met jouself en die projeksie van jou skadu op ander?
Ek skryf baie oor die Pa, my pa. Ek sou hom nie as ‘n muse beskryf nie, maar eerder as ‘n karakter. Ek misbruik hom gereeld as ‘n stylfiguur. Die spesifieke kort gedig “Voorbode” is eintlik ‘n vooruitskaduing van die vader se naderede dood.
my pa word al hoe kleiner
wanneer hy uitstap om my die maanlig
op die werf te wys
soos ’n grys ster bo donkerberg
krimp hy tot
’n tuindwerg ongeverf
tussen die kannas op die werf
My oorlede broer het ‘n tuindwerg gesteel iewers op ‘n reis na nêrens, en dit vir my ma terug gebring plaas toe as ‘n geskenk. Die verlore seun is met ‘n gemeste kalf van gemengde gevoelens ontvang. Sy was ontroer deur die gebaar, maar ook afkeurend oor sy gedrag. In my persoonlike diereriem van simbole is die belaglike tuindwerg verbind met ambivalente gevoelens teenoor die broer. In teenstelling met Percy Bysse Shelley se Ozymandias met sy “two vast and trunkless legs of stone” en die inskripsie “Look on me ye mighty and despair” is die tuindwerg ‘n ietwat komieklike gedenksteen, maar met dieselfde gevolgtrekking: Alles gaan tot niet. Alles is hubris.
7. Jy skryf soel, ruige verse – wie beïnvloed jou? Watter digters het jy (ge)lees?
jou grafsteen het geswel
soos ‘n brood uit die sooie …
==
metafoor is die plofstof van skrywe
en die lendene die lont
Ek lees The Big Five in Afrikaans, asook the little five en baie van die ander.Ted Hughes, Miroslav Holub, The Encyclopedia of World Poetry, Pablo Neruda natuurlik, Gabriel García Márquez se memoir is een lang gedig. Pasolini. Ferenc Juhazh. Afrikaanse name vir blomme en voëls.
Ek hou van verse wat ek kan ruik, soos om in ‘n vertrek in te stap vol geurige tuberose (soetemaling?). Elke keer as ek ‘n nuwe boek lees wil ek soos daardie skrywer skryf. Woorde is aansteeklik. Musiek inspireer my, van Bach tot Bob Marley. Ek is egter lui.
8. Vertel iets van die politieke gedigte in jou digkuns. Jy laat jou uit oor Afrikaans en die politiek wat tans rondom alles insypel. (Bladsy 61) Daar is ook verwysings na die boereoorlog. Werkers wat aanwesiges / toeskouers is soos in ‘n Griekse tragedie …
Kommentaar.
Afrikaans is gemaak deur al die mense wat dit praat en gepraat het. ‘n Taal is ‘n gemeenskaplike sintuig. Dit behoort nie aan die Nasionale Party nie of die verlede nie. Die sogenaamde taaldebat is ‘n verskreeuing. Dit wil voorkom asof ideologie en modder rondgeslinger word eerder as ‘n oop gesprek waarin die kompleksiteite van die kwessie op ‘n genuanseerde wyse benader kan word. Mense kan of wil mekaar nie hoor of verstaan nie, al praat hulle dieselfde taal.
Indien Afrikaans op tersiêre vlak kwyn sal ‘n hele ekosisteem tot niet gaan. Dit is die hoë boom waaronder uitgewers, koerante, literators, radiostasies, skrywers, digters, kunstefeeste, skole en veel meer floreer. Dit dra by tot die ekonomie en dit neem niks weg nie. Meertaligheid is ‘n nasionale bate.
My pa se oupa het die Groot Trek meegemaak, hy was ‘n jong seun in die 1850’s. My pa onthou nog hoe sy oupa vertel het van hoe lekker die trek was. Daar is gejag, uitgespan, musiek gemaak, en om die vuur gesit. Die Boereoorlog is ook nog deel van my generasie se verwysingswêreld. My oumagrootjie was in die kampe en ek het haar geken. Ouma Miemie. Bittereinders en hênsoppers is (meestal goedgesind) in ‘n tergende luim ondermekaar uitgewys. Hierdie vertellings is aangegee deur ‘n mondelingse tradisie wat besig is om uit te sterf. Daar is soveel nuwe dinge om van te vergeet.
Ek sou sê die plaaswerkers en ons lewens was heeltemal vervleg alhoewel ons lewenservarings en vooruitsigte so uiteenlopend was. En ons kom deur generasies, gebind tot en deur ‘n stuk aarde en ‘n stuk gedeelde tyd. Dis mense vir wie ek lief is.
9. Hoekom is Eugène Marais so belangrik vir jou?
Omdat hy so mooi was? Geweet het hy is van hier? Hy was adel, hy was aards. ‘n Genie en ‘n mislukking. ‘n Prins en ‘n bywoner. ‘n Dwelmslaaf en die vader van sosiobiologie. Hy het Afrikaans staangemaak. Ek is maar een van vele wat geswig het voor sy onweerstaanbare teenstrydighede.
10. Jou broer loop reg deur jou digkuns. Is daar heling in die skryfproses? Of is dit ‘n illusie? Jung het uitgewys dat ‘n mens by herhaling terugkeer na iets totdat jy dit ten volle begryp. Gaan jy akkoord?
Valsrivier het beslis heling gebring. Die maak van iets om op te maak vir ‘n leemte – om te skep waar daar afwesigheid is – ek glo dit is die katarsis van skryf– en wanneer die persoonlike omvorm word in iets wat universeel aanklank vind, dan word dit literatuur.
My broer is altyd naby. Sedert sy dood het hy geweldig baie vir my beteken. Ek het ‘n ‘siener’ geraadpleeg net na sy dood toe toe ek amper verswelg was deur smart, en sy woorde aan my, so aangegee deur die siener, was: Ek gaan nou baie beter kan omsien na jou as wat ek gedoen het terwyl ek gelewe het.
Ek het vasgegryp aan daardie illusie en dit het my deur diep waters gedra.
Natuurlik is daar altyd nuwe geleenthede vir verwonding. Kuns is ‘nimmereindige katarsis’.
Nietzsche het mos gesê: We possess art lest we perish of the truth.
11. Jy skryf ook reisverse, liefdesgedigte en ‘n selfs ‘n kaalbas-ars poetica. Kommentaar.
Om op reis te gaan is om van jouself ontslae te raak, al is dit net tydelik, want ‘jouself’ daag altyd weer op…’n Nuwe omgewing verskerp jou sintuie, jy sien en hoor soos ‘n kind, in verwondering of afgryse. Jy verstaan nie noodwendig die nuwe milieu nie. Om ‘n vreemdeling te wees is ‘n ondervinding verwant aan die vervreemding en vernuwing wat deel is van die skryf en die aard van poësie.
Mens reis ook natuurlik na binne, en na die verlede. En die liefde, soos die dood, is ‘n diep bron van inspirasie, waaruit baie slegte en soms goeie gedigte geskep word. Daar word gesê dat die enigste werklike onderwerp in literatuur die liefde en die dood is. My kaalbas-ars poetica is maar net ‘n speelse variasie op ‘n oeroue tema:
metafoor is die plofstof van skrywe
en die lendene die lont
En in daardie slotreël lê die uitdaging van vertaling opgesluit, want die sinspeling, geimpliseer deur die versluierde rymwoord, is die sleutel tot die betekenis. (In hierdie geval vlak eerder as diep, kru eerder as verfynd.)
12. Gee ‘n gunsteling in Afrikaans en Engels, asb.
die kind wat geen perke geken het nie
jou broertjies en susters was so hartseer
soos speenkallers in die reën
nat snoete in die ysterdrukgang
van bloerige naelstring tot slagpaal
pa het in sy bakkie gesit en rook
ma het die goedkoopste kis gekies
om die volkies te wys
mens mors nie geld op dooies nie
jou kis het woekery weerspreek
sonder die donker viool van jou hart
die polsende klok van jou heroïese vreugdes
onder verhewe kruissteek van spreeukloue gestil
op ’n katafalk van planke
was jou vel groen soos jong piesangs
wat ons by die kruidenier
van madeira fruits gekoop het
hy’t nooit engels kon leer nie
wat het ons geweet van die leivore
wingerde en kantwerk van sy vaderland?
met ons skurwe hakskene, veldsere en douwurm
het ons gelag vir die porra
die ure het saffraan gesprinkel oor
die gebarste appels van jou oë
ons midas van die alledaagse
deur jou gesien het alles mooi geword
die kere toe ma soms gelukkig was
haar stem ’n geskeurde blom van sy
in die kombuis waarheen ons gewals het
met ’n mandje vol eiers en vere en skyt
om meel deur die sif te mors
niemand woon meer daar nie
die vlei fluister deur die gange
uile staan wag op niks
jou grafsteen het geswel
soos ’n brood uit die sooie
die vryheid waarna jy gesmag het
andries en sandra se oudste mooiste slimste
was ’n skag in leemte gedolwe
en ’n skuiling teen somer
ons het boxertwak gerol
om ’n pappery van nagte te blus
en dronk op jou graf gedans
’n kooltjie brand nog soms in pa se oog
fyn linte rook uit die sprokkelhout van katarakte
wanneer hy tastend deur rammelende laaie
vir zambuc, veters, kaart en transport,
die god in hom laat huil
ons strydros wat stotterend
weerligkettings
roggelend oor die aarde sleep
northern orange free state
paul botha, july 1987
come with me
to the bareback veld
along numb horizons the wind has
blown for days blown
blackening the trees between
emptying mielie fields geese are
breaking white beating
a laboured flight
into the wind the blue the thin skeletal sing
of distant telephone wires
across chill blue horizons
rest the wind sculpted thighs
neck palms of cloud
encupping a shy christfire
the once icebright sun smoothed
in the subtle wash of the wind
the wind will always draw
the substance from the sky slow flowing
erode the landscape into obscurity numbing
horizons as it combs the sand
across my huddled landscape:
come
come with me
to the bareback veld
where the wind will distilling, blow
you into me
me into you