Sunday, August 27, 2023

Resensie | Pieter Odendaal – ontaard | Tafelberg, 2023

Pieter Odendaal – ontaard. Tafelberg, 2023. ISBN 9780624093930  

Resensent: Joan Hambidge

 

I  Die wêreld is wyd en vol verlange

 

In Pieter Odendaal se bundel ontaard, wat sopas by Tafelberg verskyn het, word vrae gevra oor herkomstuiswees en heengaan, soos die omslag verduidelik. Ook: waar kom ons vandaan? 

 

Die titel is veelkantig: ontaard beteken ook dekadent; pervers. In die sinoniemwoordeboek staan daar: agteruitgaan, versleg, verbaster …

 

Dis ‘n ekologiese bundel wat die mens se verhouding met die natuur beskou en verskillende ruimtes word besoek: Peru, die Vrystaat, Makhanda, en Australië, onder andere. Die komplekse verhouding met grond word onder die loep geneem van ‘n jong kind wat tuin maak tot die hele kwessie van grondbesit en -onteiening.

 

Dis eweneens ‘n spirituele reis (terug in die tyd en in drome) waarin die verhouding met die vader (‘n boereman en ’n jagter) geanaliseer word. Die jong kind, ‘n gay-seun, probeer sy eie identiteit teenoor die vader s’n plaas. Dus manlikheid in al sy geledinge. Geliefdes is hier en herinneringe aan ‘n jeug waar die kind se kweer-gedrag bespot is, word ook beskou. Hier is werklik ontroerende verse oor hoe jong seuns wat “anders” is geboelie word soos in “scenes from a gay childhood” (16).

 

Daar word egter deur gedigte na ‘n ander orde beweeg. ‘n Vers oor reiniging beskryf dit uitstekend (62). Een van ‘n bewussyn dat ‘n mens jou eie identiteit kan vind en veral in die gedigte oor die Suid-Amerikaanse landskap gebeur dit.

 

Daar is verlatings en vrese. Pyn en ontnugtering. Maar verheldering in gedigte wat boei met ongelooflike versreëls:

 

kom waai my woede weg, dra my stem ver (66)

anderkant / die sandberg tease die see haar platinum hare (60)  

korreltjies fake sand steek spelde in die wind (60)

as die son ons insluk

en wolke van ons maak (50)

vroemôre lê stompies soos

abandoned soene op die dek (49)

die aand / is ‘n wond vol vreesbevange sterre (23)

soos uitroeptekens van vergeet (11)

 

Daar is odes en lykdigte. Refreine en vrye verse. Melancholiese verse en gedigte wat getuig van vormbeheer veral in die soektog na primordialiteit. Die lykdig “ons wat agterbly” (17) is pynlik-ontroerend.

 

Die bemoeienis met die digkuns as kuns loop reg deur die verse. Gesprekke met Elizabeth Bishop of die maan wat soos ‘n koel, ronde gedig oor die slagveld skyn (47). Die ode aan lug – waar die woede weggewaai word – is eweneens treffend (66).

 

II

Hier is ‘n gedig wat die hele kwessie van die onomatopee of klanknabootsing analiseer. 

 

freelance muse

 

ek maak die app oop na doomscrolling

oor nuwe variante en hotspots

profielfoto: golwende landskap stinkhoutbome

                      die see doer uitgeblou

 

             wordsmith wanted

             worth his weight in wood

             self-aware, flame in the mirror

             hoe meer tale hoe meer vreugde

 

             meta4s 4 days

             no stanzas attached

             paarrym, kruisrym, vrye vers

             into onomatopoeia

 

ek message ‘n kwatryn vol klank en beelde

groen middae, sypaadjies, stof en sweet

slaapkamervensters knetter in die wind

lywe commune tussen lakens in die goue uur

 

ek stort en was die droewe dag weg

wag vir my muse om sy location te stuur

 

Inderdaad: hoe meer tale hoe meer vreugde. Oftewel: hoe meer klanke hoe meer vreugde.

Die kwatryn is vol “klank en beelde” en die leser beleef die boodskap dus hier in die metavers.

 

III

Asof geen berge ooit  hier gewoon het nie (2018) was die digter se bekroonde debuut waarop hy voortbou. Hy is indertyd vereer met die Ingrid Jonker-prys.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)