Sunday, August 27, 2023

Resensie | Ilse van Staden – verveertaal | Imprimatur, 2023

Ilse van Staden – verveertaal. Imprimatur, 2023. ISBN  978 0 6397 86391 

Resensent: Joan Hambidge 



Ver in die wêreld Kittie

 

Sedert haar debuut Watervlerk (2003) het hierdie digter se poësie bekoor met die veelkantige segging. Hierna volg Fluisterklip (2008), Die dood is ‘n mooi blou blom (2009) en Waar die oog van stil word (2016). Sy het ook romans en ‘n kortverhaalbundel gepubliseer. Sy is eweneens ‘n skilder. Vir haar debuut bekroon met sowel die Ingrid Jonker- as Eugène Marais-pryse.

 

Hierdie bundel bekyk en beskryf die hele kwessie van migrasie. Die digter as migrant word gelyk gestel aan voëls. Die titel aktiveer die veerpen en Boerneef se beroemde gedig:

 

Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê

 

In hierdie bundel is die liefde die digter se bemoeienis veral met taal en meer spesifiek: Afrikaans. Die openingsvers en die slotvers handel duidelik hieroor.

 

ver taal


ver in die wêreld

oor die see

ver oor die aardbol uitgetree

waar talle tale tonglepellê

spruit sprokies

word sprak gesprook totdat

anderstaliges eendag

dié taal gebroke aftelsê:

A is vir Afrikaans. (9)

 

Vertaal en ‘n taal wat ver is …

 

Heerlik speels is “aftelrympie vir immigrante”(62) waar spesifiek Afrikaanse uitdrukkings opgeskryf word met die verlange wat vlak lê.

 

Dit herinner aan Krog se vers:

 

Abecedarium vir Afrika

 

Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis

Buffel Bradysourus Bokmakierie Blaasopvis

Cape Cobra Cactoblastis Camembert Codlingmot

Damaralandse Dik-dik Diederik Duif Dikkop

Eekhoring Engelvis Elsie Eland

Feniks Fiskaal Flamink Fisant

Gapermossel Giraffa Gaboenadder Gemsbok

Hartebees Hiëna Hadida Hotnotsgod

Ietermago Impala iMpevu Ibis

Jakkals Janfrederik Jagluiperd Jellievis

Klaasneus Kakelaar Kwena Korhaan

Lelietrapper Leeu Lystrosaurus Likkewaan

Muskeljaatkat Mahem Manatee Maraboe

Nagmuis Nonaap Njala Ghnoe

Ouvolk Oorbietjie Otterjasie Otterjou

Pylstert Pietjoutjou Pofadder Pou

Quagga Quil snuif op Engels aan die lot

Ratel Roerdomp Rinkhals Rot

Speg Selekant Songololo Saagvlerkswael

Tiptol Tsetsevlieg Troupand Tarentaal

Uil Ungulungu Unicorn (Kalahariduin sy huis)

Vlakvark Vlindervis Vader-langbeen Volstruis

Wildebees Waaierstert Wulk Wildehond

Xhama laat in Xhosa spore op die grond

Yellowtail Yellowfinch en Yslike Ystervark

Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard

 

Ja alles van hier van huis en van haard

Alles wat kruip volgens suidelike kaart

Alles wat fladder, doodle of dool

Wag reikhalsend op die koms

van die Amazi-voël

 

(Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)

 

Van Staden se vers is in ‘n ander sleutel. By háár gaan dit om verlange en veral die vrees dat die taal mag uitsterf.  Sy dig oor walvisse en haar aangrypende “vier gebede by seegetye in die onderland” praat met Louw se bekende gebede. Daar is ‘n gesprek met T.T. Cloete wat hier heet “oopooggebed by Sondagmiddagete” (47) en liefdesverse.

 

Dit is veral die klankontginning wat hierdie leser bybly soos “kamerorkes, ‘n oefening” (56) en in die volgende vers:

 

Slakkesibillant

 

slakke sit nie stil nie

hul gly eenvoudig

veellettergrepig

gesillibeerd sibilant

en onvoorspelbaar slymend

in patrone en paadjies om

in ruwe klankgrepe

liploos en voetfoutloos

tongverdraai vorentoe

los te kom

 

*

 

Sibilant is ‘n sisklank, oftewel frikatiewe konsonante; sillibeer speel in op sillabe (lettergreep). En dalk ook sibille (waarsegster)?

 

‘n Sentrale en hartgrypende vers is “in die museum vir ververende tale” (60) wat so eindig:

 

in ‘n diaroma agter vuilgevatte glas 

vergaan die opgestopte eksemplare

van verveerde tale tot sillabes

en onsamehangende fonetiek lê rond

soos dons in die vertoonkas van die mond (60).

 

Ons migrerende digters en digters wat uit die buiteland skryf (en geskryf het), word in hierdie bundel ook aangeraak. Casper Schmidt, Julian de Wette, Breytenbach … 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)