Wednesday, January 25, 2023

Resensie | Julia May Jonas – Vladímír | Picador, 2022

Julia May Jonas – Vladímír
Picador, 2022

ISBN 978 1529 080 469


Resensent: Joan Hambidge

 

Binne die lang tradisie van die kampusroman, van Mary McCarthy se The Groves of Academe (1952) tot by Pnin (1957) Nabokof of David Lodge se satires, verskyn hierdie roman: Vladímír is Julia May Jones se debuut wat sterk inspeel op J.M. Coetzee se roman Disgrace (1999).

 

Twee eggenotes in ‘n Engelse departement in die VSA. Die vrou, ‘n skrywer getroud met John in ‘n sogenaamde “oop huwelik”. Hy word aangekla van seksuele misdrywe. Sy, op haar beurt, het haar oog op ‘n nuwe aankomeling, ‘n skrywer in die departement, ene Vladímír, getroud met ‘n vrou, ook ‘n skrywer. David, ‘n voormalige lover en kollega, is nou 50 pond oorgewig.

 

Die anonieme verteller (58 jaar oud) se lesbiese dogter Sidney en haar swart lewensmaat. Beide regsgeleerdes wat Papa bystaan in sy agonie. ‘n Seksuele interlude met ‘n man lei tot ‘n swangerskap wat nuwe intrige skep. 

 

Ons beleef die hele woke-kultuur en die grense van seksuele grense (en keuses) wat voortdurend skuif. Binariteite wat bevraagteken word en nuwe seksuele identiteite geskep. Boetes op kampus as jy rook in rookvrye sones. Orals polisie; véral intellektuele polisie.

 

Begeerte dryf hierdie verhaal. Daardie psigoanalitiese konsep wat die formasie van die ego bepaal en manipuleer.  Die verteller draai die sogenaamde male gaze op sy kop en ons sien hier ‘n vrou wat ‘n man tot objek verklaar (en selfs vasbind).

 

Is die vroue-professor se man werklik ‘n grensoorskrydende figuur? Of was die jong vroue medespelers?  Is die selfmoordpoging van Vladímír se vrou werklik relevant vir die departement?

 

Ons beleef die bedompige rugstekery van die akademie, die onverbloemde jaloesie en natuurlik: kompetisie.

 

Die roman staan iewers tussen ‘n akademiese krimie (die slot is gevaarlik onthutsend gedagtig aan Rebecca) en ‘n psigoanalitiese analise. Nabokof se beroemde Cornell-lesings word vermeld en daar is kopknikke na Jane Gallop se Feminist Accused of Sexual Harassment (Duke, 1997) met vele films oor begeerte: Godard, Truffaut en Misery met Kathy Bates (1990) en natuurlik die golden oldie: Rebecca van Hitchcock (1940). The Apartment (1960) – met Shirley Maclaine en Jack Lemmon – intimeer dat liefdesverhoudings onskuldig kan wees. Billy Wilder se Some Like Hot  (1959) word so ingedra …

 

Harold Bloom gooi ‘n draai (onthou hy is eweneens aangekla (diep sug) van ontoepaslike gedrag deur daardie humorlose feminis, Naomi Wolf) in hierdie roman.

 

Erich Segal (1937 –  2010) se Love Story is glo geskryf na die skrywer, ‘n dosent aan Yale Universiteit in klassieke tale, uitgedaag is om ‘n moderne tragedie te skryf wanneer ‘n mens aan ‘n gewilde kampusstorie dink. 

 

Dis ‘n genoeglike debuut en vir hierdie leser was die roman waar die begeertes tussen al die rolspelers (en die konflik) nog nie uitgespeel is nie, beter as die laaste gedeelte van die roman.

 

Spanninge tussen karakters wat werklike vuurwerke word, is dalk ‘n poging om closure te kry in die roman. Desnieteenstaande ‘n debuut vol belofte, ofskoon die slot te maklik afloop. Veral gedagtig aan die klassieke intertekste en slim toespelings.

 

Wel slim is die kommentaar op die jong kollega se roman wat van toepassing is op die roman wat ons lees (164). En Vladímír wat weer op sy beurt die gebeure kaap en in sy roman sit en wat die kritiek as “bleak” ervaar, terwyl vroulief, Cynthia die pryse inoes met ‘n meer toeganklike boek.

Die uwe sal weer Kate Chopin (1850 -1904) moet lees om die studente se kommentaar en kritiek te kan begryp oor die wese van ‘n sensitiewe, dog feministiese vrou.

 

Sou Vladímír se vrou werklik ‘n skryfklub begin het die met die anonieme verteller wat haar eie identiteit meedoënloos onder die loep neem, wonder hierdie leser. Ons vind hier van selfplesier tot -skending; van rook en drink; van ‘n analise van die post hoc-prudery wat vroue binne die akademie van agentskap ontneem (10).

 

Wat ‘n karakter dink van D.H. Lawrence se 1928 klassiek Lady Chatterley’s Lover is hier toepaslik: wanneer daar oorgegee word aan die hartstog, is dit alles verby. Sowel vir die karakters as vir die leser.

 

Lees en onhou gerus: Love means never having to say you’re sorry!

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Tuesday, January 17, 2023

Resensie | Adriaan Potgieter - In die klipknoets van haar vuis || Sheila Cussons – Gestaltes 1947 | Hemel & See Uitgewers, 2023

Adriaan Potgieter – In die klipknoets van haar vuis. Hemel & See Uitgewers, 2023. ISBN: 978-1-998958-90-0 || Sheila Cussons – Gestaltes 1947. ISBN: 978-1-998 958894

 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

“Én die digter wat speel met vuur, want

dig is speel met vuur – “

 

Dit val nie te betwyfel nie dat Sheila Cussons een van die belangrikste digters in Afrikaans is. Haar religieuse en mistiese verse is van die grootste in ons taal. Haar ekfrastiese verse (beelddigte) is eweneens rigtinggewend. 

 

Verskeie studies is al onderneem oor hierdie digter wie se lewe deur die meeste mense onthou word. Ons dink hier aan die verbintenis met N.P. van Wyk Louw en die brandongeluk wat haar geskend het.

 

Digter, skilder én verkenner van die numineuse.

 

Sopas het In die klipknoets van haar vuis verskyn deur Adriaan Potgieter wat haar werk en lewe Jungiaans benader. Die navorser beskou die verbande veral vanuit ‘n Jungiaanse perspektief. Musiek word betrek. Hy is medikus met ‘n belangstelling in die sielkunde en letterkunde.

 

In die klipknoets van haar vuis verskyn saam met Gestaltes 1947 in een mooi band. Die leser kry ‘n ryk geskakeerde teks met pragsketse en dagboekintekeninge. Boonop gedigte. So beweeg ons van die private na die publieke; van inspirasie tot uiteindelike gedig.

 

Kritici sal waarskynlik beswaar maak en die benadering tot hierdie komplekse digter (en skilder) as reduksionisties afmaak. Hoe kan lewe, digkuns, skilderkuns uiteindelik finaal ‘n optelsom word?

 

Vir hierdie leser is die Jungiaanse benadering van Adriaan Potgieter relevant, juis omdat in die oop spasies, die in- en uitbeweeg van verskillende “gestaltes”, die leser ‘n blik kry op ‘n veelkantige kunstenaar. Later word sy Katoliek en as kind beleef sy ‘n nomadiese bestaan.

 

Hier word ‘n ander invalshoek op die verhouding met Van Wyk Louw gegee, te wete een van versaking deur die man. My gevoel – gebaseer op mense wat haar geken het in Amsterdam – is anders gekleur. Hierdie skrywer het Cussons eweneens meegemaak en het ‘n besondere blik op haar. Uit haar mond ander sieninge gekry oor die Amsterdamse tyd.

 

Maar maak dit werklik saak? Uit hierdie verbintenis het van die allergrooste gedigte ontspruit tussen ‘n Afrikaanse Héloise en Abelard. Dieselfde ambivalensies vind ons terug in die verhouding tussen Sylvia Plath en Ted Hughes waar rolspelers steeds meen dit was hoe-dit-was. En selfs Janet Malcolm kon nie in The silent woman (Alfred A. Knopf, 1994) die finale punt sit nie.

 

Met enige kreatiewe persoon bly daar altyd vraagtekens of ‘n ellips. 

 

En so sal dit altyd wees, juis omdat die kreatiewe proses nie finaal begrond kan word nie.


En as dit só was, sou almal met ‘n ongelukkige jeug kunstenaars geword het. En dit is wat Carl Gustav Jung volledig begryp het.  Jung, ‘n kenner van die onbewuste, wat nie aan tyd of plek gekoppel is nie, vorm die teoretiese basis.

 

Ons sien dit in die Gestaltes 1947 waar ervarings reeds in drome beleef word. Jung se argetipes, die animus/anima, skadu, individuasie en véral die enantiodromia (die terugbeweeg in en teen die chronologiese tyd en die aanvaarding van sikliese of irreële tyd) is te vinde in haar digkuns.

 

En natuurlik: die kollektiewe onbewuste, soos die titel In die klipknoets van haar vuis reeds aandui.


Die moord op haar broer het haar diep getref; nes die ongeluk in 1974 in die vakansiehuis in L’Estartit op twee-en-vyftigjarige ouderdom toe ‘n gasstoof ontplof het in die kombuis en haar vir ewig geskend het, fisies sowel as psigies.

 

Oor hierdie ongeluk is daar verskillende interpretasies. Feit bly staan: sy is daarna ‘n geskonde mens en skryf oorrompelende verse, veral geboekstaaf in Die swart kombuis (1978).

 

Sy had twee mentors: Opperman en Louw. Opperman het haar van raad bedien soos om die gedigte terug te hou en die buiteland te gaan verken. En goeie raad was dit bepaald, want haar debuut, Plektrum (1970), bly steeds een van die suiwerste, mees afgeronde debute in Afrikaans.

 

Haar vertaling van Borges se verhale Die vorm van die swaard en ander verhale (1981) bevestig haar vertaalvermoë.

 

In Gestaltes 1947, geskryf deur ‘n jong Cussons, verneem ons dat begeerte kosbaarder is as vervulling (33) en hoe slaap jou by die siel uitbring (34). Die tuin is pure sintuig (37).

 

Hier sien ons alles wat later uitspeel in verstommende kreatiwiteit. Die impak van die onstabiele byna sigeunerbestaan het dalk ‘n invloed gehad op haar vriendskappe met vroue (Klipknoets, 81) en hierom was mans dalk meer bestendige vriende?  Die skrywer analiseer die animus en skaduwee in haar lewe. Belangrik die analise hier van die mantelman en hoe haar seuns klein Andrétjies word.


Die inhoudsopgawe gee ‘n bepalende blik: o.a. die wilde korf, muo, mites, phoenix …

 

Dié twee-in-een verpakking is een wat hierdie leser graag aanbeveel vir alle liefhebbers van die digkuns, omdat die meeste studies aan universiteite oor Sheila Cussons in biblioteke bly.

 

Die omtoorvuur en die verwikkelde lyn van haar digkuns en bestaan, word onder die loep geneem met die honderdjarige herdenking van haar geboorte.

 

‘n Klipknoets is ‘n kluit wat uit meer klip as net grond bestaan …

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Tuesday, January 10, 2023

Resensie | Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2023

Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2022 |ISBN 978 1 4853 13, Sagteband 304 pp

 

Resensent : Joan Hambidge

 

Piet van Rooyen se roman Antraks word bemark as ‘n omgewingsvriendelike skop, skiet en donder.

 

Hierdie lokteks op die agterblad het hierdie leser se vermoede bevestig: Piet van Rooyen is besig om die draak te steek met die krimi-kultuur in Afrikaans. Is daar ‘n sub-genre wat meer aandag kry op boekeblaaie tans? Boonop meen ‘n gedugte kollega en teoretikus word hierdie tekste gelees en geresenseer asof dit ernstige literatuur is. 

 

Van Rooyen het etlike romans gepubliseer en pryse verower. Hy is ook ‘n digter. Lesers van sý romans soos Die spoorsnyer (1994), bekroon met ‘n handvol pryse, weet hy is ‘n gedugte navorser oor spoorsnyers en die San. Dieselfde geld die roman Die olifantjagters (1998) met die wêreld van jag op die magtige olifantbul Maxamesi. Ook in Gif (2001) word die komplekse verhouding tussen San en wit mense uitgewerk. In al hierdie romans is daar uitstekende antropologiese navorsing aanwesig in romans met tekstuur.

 

Die strippe-voorblad neem die leser terug na die wêreld van RP-publikasies waar die karakters in clichés praat. Ons dink hier aan Die Ruiter in Swart waar die held altyd oorwin en die boef sterf in dramatiese-geykte taal: soos hy geleef het, sterf hy (sonder genade). Verder verwys die titel Antraks na die sogenaamde Bacillus anthracis …

 

Ons het ‘n vliegtuig met ‘n besending dodelike gif wat neerstort in ‘n oerwoud. Die begin van die roman is ‘n mokerhou:

 

Oral is losgerukte takke en blare gestuif oor wrakstukke en liggame. Confetti by ‘n makabere huweliksvoltrekking voor die poort van die doderyk. 

 

En die slot: Die trop ape wat destyds hier ingetrek het, beskou die plek nou as ‘n permanente tuiste (304).

 

‘n Teks wat tussen twee ellendes vasgeklam word met baie aksie. “Die reis is meer as die eindpunt”, lui een van die hoofstuktitels en “’’n Rooi lig flits skreiend in sy kop” ‘n ander. En “Tarzan tussen die krokodille” wat ‘n jeugherinnering terugbring na ‘n Sondagkoerant se strippe met hierdie held.

 

En die name! 

 

Soekie en Lafras. Markus Jones. Luister mooi na die name. Hoofstuk-afdelings wat die verhaal raam soos “’n Onhoorbare lied van sugte” met verwysings na Tarzan en James Bond. Met pigmees en avonture in die oerwoud geskryf in oordrywing om die satiriese aanslag te beklemtoon. Daar is ‘n duidelike verwysing na die film Live and let die (1973) met Roger Moore as James Bond en Jane Seymour as Solitaire.

 

Voedoe, die okkulte, tarot word die onderbou van hierdie film.

 

En die storie?

 

Daar is slim verwysings in Antraks is wat op die bo-vlak ‘n verhaal vertel van ‘n Boeing 727 wat neerstort in Angola met ‘n gevaarlike besending aan boord. In Lubango (in Angola) oorleef net drie van die 52 passasiers. En ons sien hier ‘n politieke kode en ‘n implisiete verwysing na die Helderberg-ramp.

 

‘n Aktrise, ‘n kleuter en ‘n Angolese vlieënier is die drie oorlewendes.

 

Soekie Verster en Lafras Uys moet die “probleem” oplos. Hoe gaan hulle die gevaarlike antraks “neutraliseer”? So reg uit ‘n James Bond-verhaal waar die held (en hier heldin) die wêreld moet red van ‘n gewisse ondergang.

 

Kannibale – die hoof heet Hihatele – en ene Markus Jones, die hoof van XYZ- sakegroep is ander spelers saam met Prima, leier van die Praeter-groep. Daar is Witko, Veikko Palander, ‘n politiek-korrekte Fin (met sy deurskynende ore), JimBrown en Mongoli (gebore met Down-sindroom) sit jou reg binne ‘n James Bond-film met afwykendes as die teenspelers. Vera en De Freitas.  Normaal en abnormaal. Wit Afrikaners versus albino’s met ‘n uitermate goeie reuksintuig. ‘n Rammelende bussie teenoor ‘n luukse Pajero.

 

Die afwykendes vind ons dikwels in thrillers. Ons dink aan Nick Nak in The man with the golden gun (1974), Scaramanga (self ‘n ‘afwykende’) se handlanger in daardie klassieke Bond-film. Of die reus, Jaws te siene in die films The spy who loved me (1977) en Moonraker (1979).

 

Die vermenging van ‘n vliegongeluk – ‘n ramp – met ‘n soektog in die oerwoud. Google map is vooraf beskou.

 

Daar is verwysings na Die Bybel, Hansie en Grietjie, Kafka, Interpol, populistiese tekste, Heart of darkness, ensomeer. Die disjunksie tussen aanbod en uitwerking, só bekend aan die satire, vind ons hier.

 

“Die satire wil bespot, en deur die spot die versteurde werklikheid belig. In hierdie spot is die groteske (humor) en die absurde belangrike hulpmiddels.” Aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983).

 

Bykans asof hy dit oor Antraks geskryf het vol ironiese wendinge en ‘n korrektief op ‘n wêreld wat heeltemal absurd geraak het.

 

Hierdie distopiese roman is inderdaad polities inkorrek met verwysing na woorde soos pramme en menige woke-leser sal stik in die kamille-tee.

 

Antraks is letterlik ‘n bakterie wat vergiftig. ‘n Hoogs leesbare satire wat my weer laat kyk het na Frank Kermode se belangrike baken uit 1967: The sense of an ending: Studies in the theory of Fiction.

 

‘n Einde voorspel op vele vlakke. 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Sunday, December 25, 2022

Rubriek | Hoe lees ons? XIX | 2022

I

Een van die belangrikste Roland Barthes tekste is Mythologies wat oorspronklik in 1957 verskyn het. Sowel Annette Lavers as Richard Howard het dit vertaal. 

 

Die mite as desillusie, veral sosiale mites soos die betekenis van wyn, die gesig van Garbo, die betekenis van die Citroën en stoei (versus boks) analiseer hy as ‘n sisteem. Die stoeigeveg as spektakel eerder as mededinging of wedstryd.

 

Jonathan Culler wys in sy studie Barthes daarop dat hierdie studie die leser daarop attent maak dat letterkundige mites ‘n sosiale impak het (1983: 36). Mites funksioneer róndom valse waarhede of dit wat hy later as die doxa benoem.

 

In die voorwoord tot die 1972 uitgawe van Mythologies wys Barthes daarop dat hy die sogenaamde what-goes-without-saying wil analiseer en die sogenaamde ideologiese misbruik onderliggend hieraan wil uitwys.

 

Mite is ‘n taal. Hierdie tekste – wat hy essays noem – het oorspronklik as koerante-rubrieke verskyn in Les Lettres nouvelles en is uiteindelik in boekvorm versamel.

 

Hy sluit sy inleiding af: What I claim is to live to the full the contradiction of my time, which may well make sarcasm the condition of truth”. Geskryf in 1957.

 

Inderdaad: the Zodiacal Signs of the bourgeois universe, soos hy dit klinkend stel.

 

Ofskoon lank terug geskryf, is soveel relevant vir ons tyd: Literature as discourse forms the signifier; and the relation between crisis and discourse defines the work, which is a signification” (1972: 114).

 

Mites skep ‘n eie taal wat hy definieer as ‘n metataal wat altyd terugwys na die eerste taal, ook die werklikheid (1972: 115).

 

In hierdie nawoord “Myth today” is daar vele verwysings – direk en ingebed – na Freud en Lacan. Die mite as dubbel-sisteem. Freud word geaktiveer met verwysings na drome se latente en gemanifesteerde betekenisse en Jacques Lacan staan hier in die sogenaamde negatiewe identiteit: I am where you think I am; I am where you think I am not” (1972: 123).

 

Mite is taal gesteel en herwin. 

Mite as taalsisteem, maar mite ook as taal-diefstal.

Mites is ekonomies. Dit snoer verskillende wêrelde saam sodat die leser nuut na die wêreld kyk. Hy analiseer die gesig van Garbo en waspoeiers.

 

 

II

 

Antjie Krog se Plunder (2022) werk met so ‘n sisteem met verskillende stemme, mites (oud en modern) wat die leser moet interpreteer soos in ‘n komplekse opera.

 

Die derde afdeling werk met die Bybel en die mitologiese figure soos Baubo, uit die Griekse mitologie wat haar rok lig vir Demeter ná die dood van haar dogter, Persefone.

 

Die vloekende stem wat haar argwaan wys teen manlike oorheersing en geweld teenoor die sagte, melancholiese stem wat verlies en onteiening verwoord.

 

Die hele kwessie van stroop of plundering word ‘n metaforiese werkswyse in hierdie komplekse bundel.

 

Wie besit, wie het nie? Wie mag kyk? Wie praat namens iemand anders?

 

“want alles wat gesê word is al gesê

       is al voorheen oor en oor nooit só gesê”

(Krog: 39).


Besoek 16 Desember 2021

 

En die mite dat vroue nie mag vloek of skel nie, word hier op haar kop gedraai. 

 

Barthes wys op die ideologiese onderbou van alle tekste. Elke leser of interpreteerder hét ‘n ideologiese aanname oor tekste en die lewe.

 

 

III

 

My kopie van Barthes se studie is aangekoop in 1980 in Las Vegas, daardie stad van mitologiese tekens tydens my eerste besoek aan die VSA.

 

Teen $3.45

 

Hierdie gedig is later geskryf:

 

Las Vegas, Nevada 

 

Hier staan dobbelhuise neffens kerke 

hul plek vol en sy ry met ’n Greyhound, 

geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne. 

Met ’n achy breaky heart word die woestyn 

die perfekte back drop vir ’n down town-motel, 

waar reisigers en hoere, kortsondig vertoef. 

Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê 

die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou, 

in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn, 

nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld, 

met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel, 

hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens.

 

La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas

In die Liberace-museum verpand broer George 

handtekeninge namens die virtuose vertolker. 

’n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit. 

Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes, 

nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck. 

Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek 

na die American Dream, the greening of America: 

na dit wat soos ’n mirage in die woestyn glimmer.

 


Bronne:

 

Barthes. Roland. 1957/1972. Mythologies. Vertaal deur Annette Lavers. New York: Hill and Wang.

Culler, Jonathan. 1983. Barthes. Glasgow: Fontana Books.  

Hambidge, Joan. 2011. Visums by verstek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Krog, Antjie. 2022. Plunder. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lavers, Annette. 1982. Roland Barthes: Structuralism and after. Londen: Methuen.


© Joan Hambidge

17 Desember 2022


(Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Wednesday, November 16, 2022

Resensie | Antjie Krog – Plunder | Human & Rousseau, 2022

Antjie Krog – Plunder. Human & Rousseau, 2022. ISBN: 9780798183178. R 260.00, 126pp. 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Antjie Krog se bundel Plunder analiseer en ondersoek al die bekende temas van vrouwees – nou in hierdie jongste bundel met ‘n strenger fokus weens die gepaardgaande tyd van onrus post-Covid. Ons vind ook hier die spanning tussen die wit staar en swart staar wat die politieke dimensie aktiveer. Bekend aan haar digkuns word die magsverhoudinge in die huwelik beskou en van die mooiste en ontroerendste gedigte tref ons hier aan (“dis wanneer ek weg is van jou”, 17; “dis wanneer ek by jou is”, 18). Kleinkinders, die dood van ouers, die wegteken van die familieplaas Middenspruit teen die agtergrond van grondonteiening (“Koopkontrak”, 84), siekte, geheuverlies wat uitloop in die crescendo van hierdie bundel met “o brose aarde …: ‘n misorde vir die nuwe verbond”, 107) .

 

Musikaliteit, verstommende beelde en ‘n meedoënlose selfgesprek met die bevraagtekening van die “ek” is verdere aspekte van hierdie bundel wat ontroer en steur.

 

“die sigbaarmaking van allerlei strooptogte” (38) is ‘n sentrale vers róndom die digter wat haar speels posisioneer as kolonis. Sy gee ruim erkenning agterin van wie en waaruit sy plunder.

 

Female Fear Factory (2021) van Pumla Dineo Gqola is tersaaklik. Die vrou as gevreesde en die een wat vrees word geplaas teenoor die mitologiese Baubo wat haar genitalieë wys. Krog se Plunder is ‘n meedoënlose analise van die wit Afrikaanse vrouedigter. Hoe lank? Wie gaan eendag hierdie opgawes verstaan?

 

Haar pryslied vir Biskop Tutu ruk aan die keel, nes haar digterlike reaksies op weerloses, verskoppelinge, bedelaars. Sy bely sy glo nie in heiligmaking nie (68); tog bly die leser deurgaans bewus van gedigte as gebede – dan weer selfironie en self-ontering.

 

Die bundel is eintlik ‘n opera.

 

Voëls soos die bottergat, sperwer, slanghals, groenvlerkduif is hier aanwesig met die Vrystaatse landskap wat die ondergrond van die bundel vorm.

 

Die bundel beslaan ses afdelings: die 1e een is ars poëties in opset; die 2e begin met ‘n sterk politieke aanslag en meer spesifiek die #FeesMustFall-beweging; die 3e werk met die Bybel en die mitologiese figure soos Baubo, uit die Griekse mitologie wat haar rok lig vir Demeter ná die dood van haar dogter, Persefone; die 4e handel oor familieskap en in die 5e word die wit staar/swart staar-problematiek ondersoek. In die laaste afdeling is die mis (“o brose aarde”) die sluitstuk.

 

II

 

Die titel Plunder word op verskillende vlakke ondersoek. Strooptogte en die politieke werklikheid van grondonteiening soos die kwessie van besitreg. Die Engelse titel heet Pillage en die gedigte is vertaal deur Karen Press.

 

Die hele kwessie van stroop of plundering word ‘n metaforiese werkswyse in hierdie komplekse bundel.

 

‘n Sentrale vers is “die sigbaarmaking van allerlei strooptogte”(38):

 

*

 

as digter is my wese dié van ‘n Kolonis

ek val ander se werk binne

ek ossilleer van ekstase, bewondering

verander, teken op, neem klein aandenkinkies

want die tekste gryp my aan, landskappe tuimel

kom ek af op ‘n beeld, ‘n ongerepte kloof

ontdek ek ‘n verblindende berg

dan omhels ek, verorber, stroop

en stop my kop vol, my onderbewussyn

die oorloop verdwyn in notaboeke

want alles wat gesê word is al gesê

       is al voorheen oor en oor nooit só gesê

ek probeer byhou om bronne en oorsprong op te spoor

maar uiteindelik word die hele kelderkaboedel

                                                          kollektief verslinde buit

 

pluiings vir die verrinneweerde liggaam van latenstyd (39)

 

*

 

Agterin die bundel word bronne vermeld en digters waaruit sy “geskaai” het. Sy verwys ook na haarself en die herbesoek van veral Lady Anne is opvallend in hierdie bundel.

 

“om te roei sonder hawe” (Lady Anne Barnard ontmoet Samuel Johnson), 64 is só ‘n voorbeeld nes die meerstemmige tekste wat terugkeer na o.a. Januarie-suite.

 

Anna Jean Smith se Reading Julia Kristeva: Estrangement and the Female Intellectual (Canterbury Universiteit, 1992) vang hierdie leser se oog: die matrioska, meerstemmigheid, die chora, o.a. word so geaktiveer. Die belangrike bibliografie verskaf kodes vir die oopmaak van hierdie bundel: “skin memories”, erotiek in die Babiloniese tydvak, trauma-narratiewe, ras en representasie, black bodies versus white gazes, die evoluerende heelal, ensomeer.

 

Pyn en vreugde; die banale en die sublieme (“ons binnestes ruk deur die sublieme”, 117).


Die famieskap van die digkuns teenoor die familieskap van die werklike familie.

 

III

 

Hierdie bundel funksioneer soos ‘n opera in verskillende bedrywe.

 

Met verskillende stemme wat die leser terugneem na al haar bundels waar sy eksperimenteer met die voordrag, die pryslied en dus aansluit by die sterk orale Afrika-tradisie. 

 

Terselfdertyd is daar gesprekke met die buiteland (J.M. Coetzee en Remco Campert, o.a.), maar haar ondersoek na die “leegte van stilte” en ‘n teruggryp na haar Vrystaatse jeug (en pragtige erotiek) het hierdie leser mateloos geïmponeer.

 

Dit val nie te betwyfel nie dat hierdie bundel een van die hoogtepunte van die jaar is. Die saamdig van verskillende dimensies waar die private en die politiese saamgesnoer word.


 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, November 14, 2022

Filmrubriek | Triangle of Sadness, regiseur Ruben Östlund | 2022

Resensent: Joan Hambidge 

 

I

 

Triangle of Sadness (Frans: Sans filtre:  Sonder filters) het sopas die loket getref. Ruben Östlund se debuut as Engelse filmmaker.

 

Die film het by Cannes die gesogte Palme D’Or verower en is, wat my betref, sover die film van die jaar. Die regisseur is Sweeds en sy aweregse blik op die mensdom het ons reeds beleef in The Square (2017) en Force Majeure (2014).

 

Nou ja, Sweeds maak jou bewus van die ander meester: Ingmar Bergman wat filmtaal absoluut kon beheer. Nes Tarkofski, die Rus.

 

Die “triangle of sadness” is letterlik die vel tussen jou wenkbroue wat ‘n model kan manipuleer met emosie. (Of wat Botox mag onderdruk.) En regdeur die film word daar gefokus op gesigsuitdrukkings.

 

Hierdie film praat duidelik met Robert Altman se satire van die modewêreld Prêt-à-Porter (1994) met ‘n kopknik na Fellini. Marcello Mastroianni, Anouk Aimée is in Altman se film.


Met Kim Basinger, Julia Roberts, Sophia Loren en Stephen Rea.

 

En hierdie niksheid (en doelloosheid) vind ons in Triangle of Sadness.

 

 

II

 

Ryk mense word hier gesatiriseer. Die verhaal word in drie dele vertel wat duidelik waarsku dat jy in die hande is van ‘n filmmaker wat beheer en orkestreer. Eers in die modelle-bestaan; dan op die rykmanskip wat die twee jongelinge “gewen” het, en dan met die skip se Titanic-agtige einde en ‘n eiland waar net ‘n handvol van die passasiers oorleef.

 

Die begin: Yaya (Charlbi Dean Kriek) en haar vriend Carl (Harris Dickinson) maak rusie oor ‘n rekening in ‘n duur restaurant.

 

Dit gaan nie vir hom om die geld nie, maar genderkwessies. Hoekom moet hy betaal as hulle gelykes is? En sy vra weer: wat maak jy in my hotel op my rekening?

 

Die middel: Dan die bootreis. Dit ontspoor vinnig en die klassestryd word hier uitgewerk met die hoofvrou-oor-die-kelners, Paula (Vicki Berlin) wat met ‘n dronk skeepskaptein opgeskeep sit: Woody Harrelson op sy beste as Captain Thomas. Veral as hy saam met die Rus, Dmitri (wat kunsmis verkoop) oor die mikrofoon politieke wyshede uitslinger, terwyl die ship of fools deur die stormwaters woed. Met ‘n kaartspel waarin albei dronker word.


Wanneer die skeepskaptein onder andere uit Noam Chomsky aanhaal, is die vet in die vuur. Kaptein en Rus troef mekaar met al die clichés. Van Lenin tot Ronald Reagan.

 

Jy beleef kotsende en skytende passiers. ‘n Kopknik na Julia Kristeva se Powers of Horror (1980) en ons vrese vir die abjekte. Of die grillige.

 

Hier word almal gelyk.

 

Die einde: En op die eiland word alles op sy kop gekeer wanneer Abigail (Donny de Leon) agentskap kry.

 

Sy is nie langer in beheer van toilette nie. Sy is nou baas want sy besluit wie kry kos en water. En manipuleer die jonge Carl met seksuele afpersing. Vir kos.

 

Daar is lieflike vinjette. Die Rus, vertolk deur Zlatko Buriċ, wat oorleef en sy vrou se juwele van haar lyk afhaal. ‘n Lykskleed het nie sakke nie, weet ons.

 

Die doodmaak van ‘n donkie word ‘n woke-gesprek. Daar is analises van die swart-blik versus die witte. En ‘n tekening van die donkie op die rots met al die implikasies van grottekeninge.

 

En die vrees dat jy mag aanstoot gee. Ge-cancel mag word.

 

Visvang teenoor die diefstal van Pretzels.

 

 

III

 

En ironie is ook volop hier. Die twee rykgatte, Winston en sy vrou, vervaardig handgranate. En sterf aan hulle eie huishoudelike “brand”.

 

Carl lees Ulysses, terwyl hy in die son baai.

 

Die bekwame regisseur beheer alles met slim intertekste en toespelings na ander films (en modegiere).

 

Hy dolwe die leegheid van ons bestaan om. Uiteindelik blyk die gevaarlike eilandbestaan 'n illusie te wees. Daar is ‘n luukse hotel net om die draai; so al die leed, honger en ellende was verniet.

 

Jy kan die hyser van die strand neem na bó. Soos in ‘n James Bond-movie.

 

Charlbi Dean Kriek, wat een van die hoofrolle vertolk, is ‘n Suid-Afrikaner en vroeër vanjaar oorlede. Wanneer sy op die dek lê, sien die kyker ‘n operasieletsel.

 

Toevallig uitgestal? Of ‘n verdere kommentaar dat ons almal verwond is deur die vreemde tye waarbinne ons leef?

 

Satire werk met oordrywing (of hiberbole) en die uitwys van sothede met sarkasme en ironie. Ons lag in (h)erkenning en besweer tydelik ons vrese met die ervaring van so ‘n film wat my weer terugneem na Stanley Kramer se Ship of Fools (1965).

 

Satire stel altyd die norm teenoor die verkeerde en in die uitwys van die onaanneemlike, moet die norm sigbaar wees, aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983: 181).

 

Al dra ‘n aap ‘n goue ring …

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

 

Friday, November 4, 2022

Resensie | C. Johan Bakkes - Moer toe die vreemde in | Protea, 2022

 Resensie | C. Johan Bakkes - Moer toe die vreemde in | Protea, 2022

C. Johan Bakkes - Moer toe die vreemde in. Protea, 2022. Tweede uitgawe (eerste druk). ISBN 978 1 4853 1346 5

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

C. Johan Bakkes is ‘n geliefde skrywer van aweregse reisjoernale. Presies twintig jaar ná sy debuut verskyn ‘n bygewerkte, heruitgawe by Protea: Moer toe die vreemde in.

 

En bygewerk beteken hier terugkyk, weer kyk, en weer reis. Met ‘n naskrif telkemale: ironies, speels, melancholies. 

 

Op die agterblad is daar ‘n kwatryn van Hennie Aucamp:

 

Jy stap na Moerland toe en terug

‘n pak herinneringe op jou rug

ná sand en sweet weet jy net hoe

‘n hart kan beur na Timboektoe.

 

Timboektoe is hier dan ‘n werklike plek, maar ook ‘n plek van fantasie en droom soos ‘n groot kortverhaalskrywer dit bestendig het in Afrikaans. Aucamp, self ‘n meesterverteller van die reisverhaal, is familie van Bakkes. Sy moeder, Margaret Bakkes se kleinneef is Aucamp. Van Mevrou Bakkes se verhale is opgeneem in Wys my waar is Timboektoe (Tafelberg, 1997).

 

Bakkes kom uit ‘n skryffamilie van Hennie Aucamp, Margaret Bakkes en sy broer Christiaan skryf ekologiese verhale en stories oor sy belewenisse as indertydse veldwagter.

 

II

 

‘n Goeie reisbeskrywing is altyd gekoppel aan die reisiger se outentieke waarnemings  of indrukke. Paul Theroux se puik The Great Railway Bazaar (1975) het Asië oopgemaak lank voordat hierdie leser daardie ruimte besoek het.

 

‘n Goeie reisbeskrywing gee die negatiewe en positiewe van ‘n land weer. Ontberinge sowel as ontdekkings.

 

En opofferinge is part en deel van hierdie sub-genre. Koors, siektes, diefstalle, misverstande, vlugvertragings en wat nog. Theroux se reis het vier maande lank per trein geduur …

 

Selfs reise in luukse hotelle beskerm die reisiger net solank teen die onverwagse, wat by nabaat die reis in die onthouboek plaas. Daardie aaklige storm by die Iguasso-valle toe die hele hotel se ligte afgaan. Juis dit wat ‘n mens laat swaarkry, onthou jy agterna van ‘n reis na die vreemde. 

 

Bakkes is bekend vir sy lang hare en bangles waarmee hy self die spot dryf. Sy verskillende name som hom op: Sylvester Alone, Moses onder die Witbooise, Induku (kierie), sy safarinaam. Dit verklap dan sy aanpasbaarheid en transformasie by moeilike landskappe of situasies.

 

Ons vind wonderlike beskrywings en woorde soos pampelmoes (pomelo). En vloeibare versnaperinge is ook hier. En pampoenuur.

 

Wanneer laas het u die idioom gehoor “my pis begin bitter raak” vir moerig wees? Of kiekiekakkertjie?

 

“Moedswil” rondom onwettige wildtrofees met ‘n nurkse doeanebeampte is skreeusnaaks. Eerlik en op die man af geskryf. Amper was daar groot moeilikgeit.

 

En die opteken van so ‘n reisboek eis aantekeninge as ‘n tersyde; en dit moet reisgenote verstaan want dink dis nie werklik belangrik nie (72). Die skrywer-as-reisiger beleef dinge anders.

 

Watter plek vang hy die beste op? Vir my gevoel plekke van stilte soos by Naukluft, maar ook gewaande eksotiese ruimtes soos sy raakvat van Timboektoe. En natuurlik Kilimanjaro.

 

Die toonaard van elke reisinskrywing verskil. Hier is humor, verlies, opstand, woede wat die skrywer C. Johan Bakkes knap navigeer.

 

En die tweede reis wys altyd hoe plekke (en mense) verander het. Theroux het hieroor geskryf in sy travelogue Ghost Train to the Eastern Star (2006).

 

Die reis as pelgrimstog, die reis as blaaskans, die reis as ontdekking, die reis as soeke na die self, die reis as aflegging van die self, die reis as wegvlug.

 

Dit alles besê Bakkes.

 

Hier is ook foto’s. In die gevleuelde woorde van Susan Sontag:

The very activity of taking pictures is soothing, and assuages general feelings of disorientation that are likely to be exacerbated by travel. Most tourists feel compelled to put the camera between themselves and whatever is remarkable that they encounter. Unsure of other responses, they take a picture. This gives shape to experience: stop, take a photograph, and move on. The method especially appeals to people handicapped by a ruthless work ethic — Germans, Japanese, and Americans. Using a camera appeases the anxiety which the work-driven feel about not working when they are on vacation and supposed to be having fun. They have something to do that is like a friendly imitation of work: they can take pictures.

Nooit moet hy ophou nie. Norrevøk, soos hy self geskryf het.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)