Sunday, December 25, 2022

Rubriek | Hoe lees ons? XIX | 2022

I

Een van die belangrikste Roland Barthes tekste is Mythologies wat oorspronklik in 1957 verskyn het. Sowel Annette Lavers as Richard Howard het dit vertaal. 

 

Die mite as desillusie, veral sosiale mites soos die betekenis van wyn, die gesig van Garbo, die betekenis van die Citroën en stoei (versus boks) analiseer hy as ‘n sisteem. Die stoeigeveg as spektakel eerder as mededinging of wedstryd.

 

Jonathan Culler wys in sy studie Barthes daarop dat hierdie studie die leser daarop attent maak dat letterkundige mites ‘n sosiale impak het (1983: 36). Mites funksioneer róndom valse waarhede of dit wat hy later as die doxa benoem.

 

In die voorwoord tot die 1972 uitgawe van Mythologies wys Barthes daarop dat hy die sogenaamde what-goes-without-saying wil analiseer en die sogenaamde ideologiese misbruik onderliggend hieraan wil uitwys.

 

Mite is ‘n taal. Hierdie tekste – wat hy essays noem – het oorspronklik as koerante-rubrieke verskyn in Les Lettres nouvelles en is uiteindelik in boekvorm versamel.

 

Hy sluit sy inleiding af: What I claim is to live to the full the contradiction of my time, which may well make sarcasm the condition of truth”. Geskryf in 1957.

 

Inderdaad: the Zodiacal Signs of the bourgeois universe, soos hy dit klinkend stel.

 

Ofskoon lank terug geskryf, is soveel relevant vir ons tyd: Literature as discourse forms the signifier; and the relation between crisis and discourse defines the work, which is a signification” (1972: 114).

 

Mites skep ‘n eie taal wat hy definieer as ‘n metataal wat altyd terugwys na die eerste taal, ook die werklikheid (1972: 115).

 

In hierdie nawoord “Myth today” is daar vele verwysings – direk en ingebed – na Freud en Lacan. Die mite as dubbel-sisteem. Freud word geaktiveer met verwysings na drome se latente en gemanifesteerde betekenisse en Jacques Lacan staan hier in die sogenaamde negatiewe identiteit: I am where you think I am; I am where you think I am not” (1972: 123).

 

Mite is taal gesteel en herwin. 

Mite as taalsisteem, maar mite ook as taal-diefstal.

Mites is ekonomies. Dit snoer verskillende wêrelde saam sodat die leser nuut na die wêreld kyk. Hy analiseer die gesig van Garbo en waspoeiers.

 

 

II

 

Antjie Krog se Plunder (2022) werk met so ‘n sisteem met verskillende stemme, mites (oud en modern) wat die leser moet interpreteer soos in ‘n komplekse opera.

 

Die derde afdeling werk met die Bybel en die mitologiese figure soos Baubo, uit die Griekse mitologie wat haar rok lig vir Demeter ná die dood van haar dogter, Persefone.

 

Die vloekende stem wat haar argwaan wys teen manlike oorheersing en geweld teenoor die sagte, melancholiese stem wat verlies en onteiening verwoord.

 

Die hele kwessie van stroop of plundering word ‘n metaforiese werkswyse in hierdie komplekse bundel.

 

Wie besit, wie het nie? Wie mag kyk? Wie praat namens iemand anders?

 

“want alles wat gesê word is al gesê

       is al voorheen oor en oor nooit só gesê”

(Krog: 39).


Besoek 16 Desember 2021

 

En die mite dat vroue nie mag vloek of skel nie, word hier op haar kop gedraai. 

 

Barthes wys op die ideologiese onderbou van alle tekste. Elke leser of interpreteerder hét ‘n ideologiese aanname oor tekste en die lewe.

 

 

III

 

My kopie van Barthes se studie is aangekoop in 1980 in Las Vegas, daardie stad van mitologiese tekens tydens my eerste besoek aan die VSA.

 

Teen $3.45

 

Hierdie gedig is later geskryf:

 

Las Vegas, Nevada 

 

Hier staan dobbelhuise neffens kerke 

hul plek vol en sy ry met ’n Greyhound, 

geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne. 

Met ’n achy breaky heart word die woestyn 

die perfekte back drop vir ’n down town-motel, 

waar reisigers en hoere, kortsondig vertoef. 

Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê 

die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou, 

in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn, 

nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld, 

met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel, 

hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens.

 

La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas

In die Liberace-museum verpand broer George 

handtekeninge namens die virtuose vertolker. 

’n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit. 

Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes, 

nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck. 

Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek 

na die American Dream, the greening of America: 

na dit wat soos ’n mirage in die woestyn glimmer.

 


Bronne:

 

Barthes. Roland. 1957/1972. Mythologies. Vertaal deur Annette Lavers. New York: Hill and Wang.

Culler, Jonathan. 1983. Barthes. Glasgow: Fontana Books.  

Hambidge, Joan. 2011. Visums by verstek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Krog, Antjie. 2022. Plunder. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lavers, Annette. 1982. Roland Barthes: Structuralism and after. Londen: Methuen.


© Joan Hambidge

17 Desember 2022


(Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)