Antjie Krog – Plunder. Human & Rousseau, 2022. ISBN: 9780798183178. R 260.00, 126pp.
Resensent: Joan Hambidge
I
Antjie Krog se bundel Plunder analiseer en ondersoek al die bekende temas van vrouwees – nou in hierdie jongste bundel met ‘n strenger fokus weens die gepaardgaande tyd van onrus post-Covid. Ons vind ook hier die spanning tussen die wit staar en swart staar wat die politieke dimensie aktiveer. Bekend aan haar digkuns word die magsverhoudinge in die huwelik beskou en van die mooiste en ontroerendste gedigte tref ons hier aan (“dis wanneer ek weg is van jou”, 17; “dis wanneer ek by jou is”, 18). Kleinkinders, die dood van ouers, die wegteken van die familieplaas Middenspruit teen die agtergrond van grondonteiening (“Koopkontrak”, 84), siekte, geheuverlies wat uitloop in die crescendo van hierdie bundel met “o brose aarde …: ‘n misorde vir die nuwe verbond”, 107) .
Musikaliteit, verstommende beelde en ‘n meedoënlose selfgesprek met die bevraagtekening van die “ek” is verdere aspekte van hierdie bundel wat ontroer en steur.
“die sigbaarmaking van allerlei strooptogte” (38) is ‘n sentrale vers róndom die digter wat haar speels posisioneer as kolonis. Sy gee ruim erkenning agterin van wie en waaruit sy plunder.
Female Fear Factory (2021) van Pumla Dineo Gqola is tersaaklik. Die vrou as gevreesde en die een wat vrees word geplaas teenoor die mitologiese Baubo wat haar genitalieë wys. Krog se Plunder is ‘n meedoënlose analise van die wit Afrikaanse vrouedigter. Hoe lank? Wie gaan eendag hierdie opgawes verstaan?
Haar pryslied vir Biskop Tutu ruk aan die keel, nes haar digterlike reaksies op weerloses, verskoppelinge, bedelaars. Sy bely sy glo nie in heiligmaking nie (68); tog bly die leser deurgaans bewus van gedigte as gebede – dan weer selfironie en self-ontering.
Die bundel is eintlik ‘n opera.
Voëls soos die bottergat, sperwer, slanghals, groenvlerkduif is hier aanwesig met die Vrystaatse landskap wat die ondergrond van die bundel vorm.
Die bundel beslaan ses afdelings: die 1e een is ars poëties in opset; die 2e begin met ‘n sterk politieke aanslag en meer spesifiek die #FeesMustFall-beweging; die 3e werk met die Bybel en die mitologiese figure soos Baubo, uit die Griekse mitologie wat haar rok lig vir Demeter ná die dood van haar dogter, Persefone; die 4e handel oor familieskap en in die 5e word die wit staar/swart staar-problematiek ondersoek. In die laaste afdeling is die mis (“o brose aarde”) die sluitstuk.
II
Die titel Plunder word op verskillende vlakke ondersoek. Strooptogte en die politieke werklikheid van grondonteiening soos die kwessie van besitreg. Die Engelse titel heet Pillage en die gedigte is vertaal deur Karen Press.
Die hele kwessie van stroop of plundering word ‘n metaforiese werkswyse in hierdie komplekse bundel.
‘n Sentrale vers is “die sigbaarmaking van allerlei strooptogte”(38):
*
as digter is my wese dié van ‘n Kolonis
ek val ander se werk binne
ek ossilleer van ekstase, bewondering
verander, teken op, neem klein aandenkinkies
want die tekste gryp my aan, landskappe tuimel
kom ek af op ‘n beeld, ‘n ongerepte kloof
ontdek ek ‘n verblindende berg
dan omhels ek, verorber, stroop
en stop my kop vol, my onderbewussyn
die oorloop verdwyn in notaboeke
want alles wat gesê word is al gesê
is al voorheen oor en oor nooit só gesê
ek probeer byhou om bronne en oorsprong op te spoor
maar uiteindelik word die hele kelderkaboedel
kollektief verslinde buit
pluiings vir die verrinneweerde liggaam van latenstyd (39)
*
Agterin die bundel word bronne vermeld en digters waaruit sy “geskaai” het. Sy verwys ook na haarself en die herbesoek van veral Lady Anne is opvallend in hierdie bundel.
“om te roei sonder hawe” (Lady Anne Barnard ontmoet Samuel Johnson), 64 is só ‘n voorbeeld nes die meerstemmige tekste wat terugkeer na o.a. Januarie-suite.
Anna Jean Smith se Reading Julia Kristeva: Estrangement and the Female Intellectual (Canterbury Universiteit, 1992) vang hierdie leser se oog: die matrioska, meerstemmigheid, die chora, o.a. word so geaktiveer. Die belangrike bibliografie verskaf kodes vir die oopmaak van hierdie bundel: “skin memories”, erotiek in die Babiloniese tydvak, trauma-narratiewe, ras en representasie, black bodies versus white gazes, die evoluerende heelal, ensomeer.
Pyn en vreugde; die banale en die sublieme (“ons binnestes ruk deur die sublieme”, 117).
Die famieskap van die digkuns teenoor die familieskap van die werklike familie.
III
Hierdie bundel funksioneer soos ‘n opera in verskillende bedrywe.
Met verskillende stemme wat die leser terugneem na al haar bundels waar sy eksperimenteer met die voordrag, die pryslied en dus aansluit by die sterk orale Afrika-tradisie.
Terselfdertyd is daar gesprekke met die buiteland (J.M. Coetzee en Remco Campert, o.a.), maar haar ondersoek na die “leegte van stilte” en ‘n teruggryp na haar Vrystaatse jeug (en pragtige erotiek) het hierdie leser mateloos geïmponeer.
Dit val nie te betwyfel nie dat hierdie bundel een van die hoogtepunte van die jaar is. Die saamdig van verskillende dimensies waar die private en die politiese saamgesnoer word.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)