Sunday, August 20, 2017

Resensie | Douglas Reid Skinner – Liminal (2017)

Resensie | Douglas Reid Skinner – Liminal. uHlanga, 2017. ISBN 978-0-620 -76256-4

Resensent: Joan Hambidge

I

Blue Rivers (2012), Heaven - New Selected Poems (2014) en die vertaling van Valerio Magrelli se verse (saam met Marzo Fazzini) is van hierdie digter se werk die afgelope paar jaar.

Liminal, sy sewende versameling, het pas by uHlanga verskyn.

Dit word bemark as metatekstueel, metikuleus, gevoelvol. Inderdaad. (Announcing/ Liminal, by Douglas Reid Skinner — uHlanga. Besoek 13 Augustus 2017).

Dit is waarskynlik tersaaklik om die hele kwessie van liminaliteit (Van Gennep se term) en die kwessie van die tussentoestand te betrek. Daar is nadenke oor die lewe, oor die digterskap, oor verspeelde kanse - en gedigte oor Venesië. Die reisvers is per definisie 'n gedig oor liminaliteite, omdat dit iets vasvang tussen die bekende en die onbekende; hier versus daar; belewenis én optekening.

In hierdie verband is die lieflike gedigte oor Venesië gewoon skitterend.

Die besinnings oor die skryfproses is onthoubaar:

A poet
... there is an old quarrel between
philosophy and poetry ...

offers no solutions
wrote Tony Hoagland,
just a “lucid diagnosis”.
But what can you do
when you're up to the neck
in a host of words
with only the shadow
of a spade to hand? (51)

Hierdie slim ars poetica aktiveer nie alleen Hoagland se sieninge oor kanonisering en hoe gedigte by jong mense uitgebring behoort te word nie, maar betrek ook die harde werk wat die digkuns opeis. Dis soos spitwerk, met die keuses wat die digter moet uitoefen voor al die moontlikhede wat tegniek en woorde inhou. Die digkuns mag 'n filosofiese boodskap oordra, maar die werk van die digter is “spitwerk”, met ander woorde, die soeke na konkrete beelde of metafore - “of a spade to hand”. (Conversation/ Tony Hoagland on 'Poems That Could Save America' | PBS NewsHour. Besoek 13 Augustus 2017).

Die gedigte is inderdaad ruminasies of meditasies oor die lewe - binne die grensruimte (die vreemde of tydens die skryfproses) neem die digter afstand van die lewe. 'n Drumpeltoestand, dus.

In “Twenty years on” (39) word 'n besoek aan Venesië weergegee:

to pause, raise a glass, and remember poetry's cause.

II

Die boek val in vier dele uiteen. Daar is 'n besoek aan 'n biblioteek, 'n brief aan Dante en Robert Frost - opgedra aan Patrick Cullinan, self 'n gedurfde digter. Reid Skinner gebruik van die beeld van die “path”, 'n belangrike beeld by sowel Dante as Frost, word hier 'n soeke na helderheid vir die spreker. “Surrounded by mountains” word opgedra aan Gus Ferguson, geskryf tydens die Franschhoek-fees, 'n soort villanelle (18 reëls, nie 19 nie) met die “haunting” reël:

a plume of smoke is rising into cloud (17)

Wat is meer dralerig en verganklik as rook? En wat dui ook op die aanduiding van gevaar of vuur? Dit word 'n pynlike analise van 'n vriendskap, en lesers bekend met die werklike geskiedenis weet met welke sensitiwiteit (en deernis) hierdie situasie beskryf word.

“Winding tunnels” handel oor die jeug en daar is al verstommende verse oor hierdie digter se gereglementeerde jeug geskryf: 'n hele huis met weermag-aanwysings en kinders wat punte toegeken is vir hulle optredes. Hier gaan dit oor die “uncertain shades of home”, die troebelhede van 'n bestaan wat die jong kind oorrompel het en waarheen dit digter nou terugkeer in verse.

Die verse gee nie maklik hul geheime prys nie. Dit is vernuftig gekonstrueer, vanuit verskillende perspektiewe. Daar is dikwels 'n “irony's edge” - soos Linda Hutcheon [1] se term lui - aanwesig in hierdie verse.

Vir haar is ironie nie om die teenoorgestelde te uiter van wat jy bedoel nie, maar eerder 'n komplekse spel tussen die ongesêde en die gesêde; afstandneem en in-beweeg - iets wat op Reid Skinner se bundel van toepassing gemaak kan word.

My kopie wat voete gekry het en as ek reg onthou, het hierdie studie 'n pragtige omslag van 'n meisietjie se voete wat oor 'n afgrond hang. “Ludwig's last letter” (28) vang hiervan iets op:

a village of thought on a summer's day,
with ordinary ideas sitting quietly
in the square, or leisurely walking
along its paved diagonals, going
steadily about their business.

Dikwels handel verse oor soeke na oplossings, na 'n roete (“straight road”) wat die spreker moet help om te ontsnap. Daar is vele besinnings oor die digproses en die sterkste verse is dan gedigte oor digters, vir digters en oor die rol wat die digkuns speel in sy eie lewe.

In die derde afdeling is daar “Instructions for writing a poem” (47), 'n slim meta-vers, wat die digter droom. Die droom verskil van die finale produk. Daar op die “edge of the bed” dink hy dat hy in beheer van die skryfproses is, maar uiteindelik is die vers se “unheimliche” aard só dat dit nie “beheer” of “gedikteer” kan word nie. Hierom sluit dit aan by die gedig: “If you think you know how to write a poem, think again: the poem has other ideas” (49).

Die gegewe van obsessionele liefde (selfs “stalking”) word hier gelyk gestel aan die skryfproses ...

Dikwels is die skryfproses oorweldigend (die skrywer sit voor leë bladsye); ander kere word dit “found poetry” of 'n “urban legend” wat die luisterende digter optel in 'n kroeg.

In die vierde en laaste afdeling word sosiale kwessies aangespreek en politieke en historiese figure, soos Lady Anne Barnard. “History is a slaughterhouse” (63), weet ons.

Die “being inside” teenoor die oorrompelende geskiedenis, word voortreflik beskryf in “Smoke signals” (66).

Die digter kyk dikwels terug na sy jeug, sy land sy verlede - maar die gedigte is opwindende raaisels: iewers tussen nou en toe; droom en realiteit; begeerte en ontnugtering ...

III 

Reid Skinner is woonagtig in Engeland, maar diep betrokke by die Suid-Afrikaanse Engelse digkuns. Hy was betrokke by die Carrefour Press (1988 - 1992), redakteur van New Contrast en tans mede-redakteur van Stanzas. Hy vertaal ook Afrikaanse digters na Engels en as redakteur is hy voortdurend bewus van “nuwe stemme” en “nuwe strominge”. (Woorde wat Weeg/ Joan Hambidge - Lady Gaga (Translated by Douglas Reid Skinner) [Poem].  Besoek 13 Augustus 2017).

Ook hierdie dubbelposisie (digter/redakteur; Engeland/Suid-Afrika) is 'n liminale posisie.

Die bundel is mooi uitgegee met 'n voorbladontwerp van die digter se suster, Cleone Cull.

[1] Hutcheon, Linda. 1994. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. London and New York: Routledge.


Tuesday, August 15, 2017

Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink (2017)

Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink. Jonathan Ball, 2017. ISBN 9781868428038

Resensent: Joan Hambidge

Daar was mos eers die Weduwee Viljee en nou die Weduwee Brink, korswel 'n vriend. Hierdie memoir is 'n aangrypende verslag van liefde én verlies. En die impak wat lees en skryf op 'n skrywer se gemoed het.

Die manuskrip het 'n draai gegooi, eers by Penguin en nou by Jonathan Ball. Diegene wat tussen die reëls kan lees, sou in die vele onderhoude en voorafpublisiteit 'n versuurde verhouding opgetel het by 'n uitgewershuis. Maar kom ons laat dit daar. (Soos die interpretasie van die Rabie/Wallace-beurs en die vark en hoenderhen in Philida. Mevrou Brink skets 'n liefdevolle prentjie van haar eggenoot, wat soms nie onwennig kon wees vir 'n katterige obiter dictum nie. Jong skrywers is afgeransel in een paragraaf; die grote Karel Schoeman verniel. Maar sy is kennelik nie ingelig oor 'n lang letterkundige voorgeskiedenis nie. Gaan lees maar Vlam in die sneeu en kyk wat hy oor vriende geskryf het; sidderend erg oor Chris Barnard.)

Die memoir bevat twee foto's van die uitsonderlike fotograaf, Antonia Steyn, wat nou onlangs by die Woordfees skrywers en kunstenaars op tentoonstelling gehad het. Die foto van Karina Brink is weerloos met oë wat afkyk; teenoor die agterbladfoto langs haar minnaar, eggenoot en mentor, André P. Brink. Dit was indertyd op die voorblad van Insig en sy bely haar liefde en bewondering vir hierdie man en maak kwetsende aannames af oor hoe sy hom as 'n "meal ticket" sou sien. Uiteraard is die klein poeletjie van die letterkunde genadeloos en venynig oor 'n verhouding tussen 'n ouer, beroemde man en jong meisie.

Wanneer 'n mens dit as 'n memoir oor verlies benader, is dit 'n besondere teks. En dit is jammer dat dit op die internet as 'n skinderteks bemark word. Dit vertel hoe die sensitiewe jong Poolse meisie verlief raak, haar siening van taal, hoe 'n skrywer wat jy bewonder jou lewe kan verander, die impak van Nadine Gordimer op háár lewe as navorser, ensomeer.

Sy erken haar weerloosheid in die teks en sy bely sonder skroom: "And this is even in the world that is open and free, and the only censorship you are in danger of is your own" (60). Sy wys op die taal van smart ("unknown language", 95) wat jou eie taal onbevoeg maak. Die afdeling Grief is waarskynlik die sterkste afdeling in die boek. "In writing, I'm exorcising the demons of my past" (21) en sy verwys na die nomadiese bestaan: Pole, Oostenryk, VSA, Wallis ... op vlug - om politieke redes aanvanklik; later om verder te studeer. Sy skryf oor haar ouers, hul foute én bates, haar broer, haar lewe in 'n nuwe land sonder haar eggenoot en in 'n huis nou met 'n welige tuin ...

Vriende wat sy gemaak het en die ondersteuningsnetwerk na Brink se dood, kom boeiend aan bod, soos die gesprekke met voormalige Mevrou Brinks en Brink se kinders.

Daar word geskryf oor liefdesverraad na Brink se dood en oor 'n inbraak en motorongeluk. Daar is 'n intense besef dat sy nalatig is weens die trauma.

Niemand is meer bedrewe om agter woorde te skuil as juis 'n skrywer nie (15); tog skil sy die verskillende lae van haar bestaan af vir die leser wat sien hoe sy pyn en verlies navigeer. Met hierdie boek lewer sy bewys dat sy wel kan skryf. Hierdie kritikus was minder entoesiasties oor haar debuutroman, Invisible Others (2004) as hierdie memoir wat in 'n sirkelgang beweeg. Jy weet reeds die man is oorlede en alles stuur af op daardie onafwendbare slot, die dood van Brink op 'n KLM-vlug.

Dit is 'n teks wat saampraat met Clarissa Pinkola Estés se 1992 publikasie Women who Run the the Wolves (kyk hier spesifiek na die ongesnoeide tuin en die gesprek met die dooies.) Wat hierdie boek ook duidelik bewys, is dat herinneringe en 'n sterk verbintenis ná die dood van 'n geliefde bly voortbestaan (The Faithful Gardener: A Wise Tale About that Which Can Never Die, 1996).  Sy skryf immers: "Love and gratitude to those who know the Karina who runs wild with snow leopards."

'n Boek van oorgang en liminaliteite. Letterlik oorgange van ruimtes om bymekaar te wees en later dan die opposisie tussen lewe en dood.

Dit is 'n teks wat 'n mens lees om die eerlikheid en dit behoort vir almal wat in 'n traumatiese aflegging beleef het, van raad te bedien. Daar word gekyk na Brink se siekte en sy gebrek aan selfvertroue teen die einde. En vir die Brink-aanhangers is die teks eweneens van verdere belang. Sy liefde vir lees, sy gewoontes, sjokoholisme, aanhanger van Anna Netrebko word weergegee.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)