Thursday, January 31, 2013

Johann Lodewyk Marais - Diorama (2010)



Johann Lodewyk Marais. Diorama. Protea  Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 365 3.

Resensent: Joan Hambidge

Sedert sy debuut, Die somer is ‘n dag oud, wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys, het die digter Johann Lodewyk Marais omgewingspoësie begin ontgin en ‘n bundel ter viering van Marais se “Winternag” gepubliseer: Honderd jaar later.

Hy skryf gereeld oor die figuur, Eugène Marais, veral op die Versindaba se webruimte. Hy het ‘n doktorale proefskrif voltooi oor Marais se wetenskaplike en natuurprosa.

(Terloops, op die publisiteitspamflet word daar verwys na “Wintersnag”). Daar was ook ‘n reisboek oor Mosambiek en versamelbundel oor ekologiese gedigte: Ons klein en silwerige planeet (saam met Ad Zuiderent).

Die jongste bundel heet Diorama en is ‘n voortsetting van die bundel Aves wat oor voëls gehandel het.

Die outydse voorblad is deur Thomas Baines (Herd of buffalo, opposite Garden Island, Victoria Falls, 1862).

Diorama dan in die sin van die skaalmodel van ‘n landskap of  historiese momente.  Die digter nooi dan ook die leser in die programgedig uit:

Ek wil in my gedig ‘n wildtuin skep 

en jou uitnooi om ‘n besoek te kom bring (13)

En wat ‘n uitnodiging is dit nie! Die leser beleef ‘n springhaas, maar terselfdertyd word dit ‘n meditasie oor die skryf van ‘n gedig. In die vers oor “Streepmuis” (22) word die onmoontlikheid van die proses vergelyk met die vang van ‘n streepmuis en die bladsyverwysings na die boek waarin jy moet blaai, dui op die intertekstuele proses van sowel die skryf as die lees van ‘n gedig. (In “Rooiduiker”, 38 byt die gedig in die stof!) 

Soos dit ‘n goeie digter betaam, is die gebruik van ou patrone nie aan hom onbekend nie soos in die voortreflike, “Gevlekte hiëna” (23), ‘n soort villanelle, met sy herhaling van twee reëls en die gebruik van twee rymklanke. Heel vlot beweeg hy dan na die kwatryn met “Luiperd” (24). Later is daar ‘n handvol haikoes. Marais se digterlike handtekening is om met die gestroopte vers te eksperimenteer en “Wildehond”(27) bewys hoe goed hy dit kan doen. Die “fyn besonderhede” van die optekening is opvallend en die digter maak opwindende poësie oor wilde diere en plante. Daar is toespelings op bekende gedigte en ‘n in-grappie oor die “Okapi” (35) wat bloot as “Aha!” aangegee word.  Met die konkrete voorstelling word ook geëksperimenteer in “Rietduiker” (45) waar die uitgespreide vlerke oor die bladspieël staan.

Marais het in sy debuut, Die somer is ‘n dag oud, aangrypende verse oor sy jeug geskryf. In hierdie bundel keer hy terug na die landskap van sy jeug: nou is daar plaasmoorde en aanvalle. Die tuin van Eden is aangetas. So beskou word die diaroma dan ‘n representasie van sy digkuns én persoonlike ontwikkeling. Die beeldgedigte is suiwer: ‘n mens kry ‘n portret van ‘n bekende soos Jan Smuts, Richard E. Leakey, Jane Goodall, e.a. Dit word egter nie dordroë navorsingsgedigte nie, maar verse wat ontroer en tref. Tobias maak ook ‘n draai hier en selfs Saartje Baartman is verïkoniseer.

Daar is uitstekende verse in hierdie bundel soos “Die brein” (15)

En “Springhaas” (21).  En die volgende juweel het onlangs op die Versindaba se webblad verskyn:

Diego Maradona

Die vlugvoetigste is Maradona
met ’n durende veggees in sy bloed.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

Kleintyd het hy ’n sokkerbal geja
en teenstanders gesystap met sy spoed.
Die vlugvoetigste is Maradona.

Gou het hy met sy flinke rabona
die klubs ’n prys laat betaal vir sy voet.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.
           
Oral in Napoli en Sevilla,
op én af van die veld, was hy verwoed.
Die vlugvoetigste is Maradona.

Sy aangee na Jorge Burruchaga
het die hele Buenos Aires laat toet.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

In ’n stampvol en luide Azteca
erwe hy die Wêreldbeker se soet.
Die vlugvoetigste is Maradona.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

Die gesprek met Van Wyk Louw, soos die debuuttitel en die bundel oor die omgewingsgedigte suggereer, word voltrek in die gedig “Ex unguine leonem” (85). Daar is gestaltes en diere in hierdie voortreflike, netjies-afgewerkte bundel. Die spel tussen verhulling en onthulling word deurgaans goed hanteer.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

P.J. Haasbroek - Kruispunt (2010)



P.J. Haasbroek. KruispuntHuman & Rousseau, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

Die skrywer P.J. Haasbroek het veral as kortverhaalskrywer ‘n besondere bydrae gelewer binne die Afrikaanse letterkunde. ‘n Mens dink hier in die besonder aan bundels soos Heupvuur (wat bekroon is met die Eugène Marais-prys) en Roofvis. Aan sy romans het hierdie leser min erg. Die verhale is uitgesponne en die simboliek dikwels te swaar vir die teks. Maar dit is ‘n persoonlike voorkeur en lees is ten minste ook gekoppel aan persoonlike smaak.

Maar sy kortverhale. Dit is nou werklik iets besonders. Haasbroek vermag in die korter kortverhaal iets magies en dit is asof hy in ‘n bykans poëtiese sfeer inbeweeg en die tegelykertyd-aspek van die gedig laat gebeur. In die openingsverhaal van sy jongste bundel met die titel Kruispunt word ‘n jong seun se ervaring van stereotipering en verlies aan onskuld so netjies saam-vertel dat ‘n mens met elke herlesing ‘n nuwe interpretasie-moontlikheid terugvind in die verhaal. Dit heet “Ahmo se perd” en word geplaas naby die Neretvarivier. Ons beleef ‘n oorloggeteisterde gemeenskap se ervaring van ‘n Kroatiese tenk en die letsels van ‘n oorlog. Die jong seun dink die perd gaan deur ‘n sigeuner dood gemaak word en in sy onskuld, probeer hy die perd red. Die ontknoping van die verhaal is besonder slim weergegee: dit berus op ‘n misverstand; terselfdertyd ontdek die seun die lyk van ‘n soldaat, die broer van Rutko, wat in die oorlog vermis geraak het. Haasbroek se vertelling is besonder gelade: die seun op die drumpel van volwassenheid word gekonfronteer met klas-stereotipes, vooroordeel, die leed van oorlog en geweld. Wat ‘n boeiende verhaal met ongelooflike onderstrominge. 

In die tweede verhaal, “Tilapie”, vang Petrus ‘n wyfiekurper en omdat die “blouweer begin grom het”, neem hy die kurper huis toe en sit haar in die bad. Gewoon omdat hy nie lus het om haar te slag nie. Weer eens: ‘n verhaal oor ‘n vis in ‘n bad wat ‘n ongelooflike analise word van ‘n troebel psige. Uiteraard kan die vis nie daar bly nie (want troeteldiere word nie in die woonstelblok toegelaat nie!) en uiteindelik gooi hy die vis terug in die water.

Iewers het ‘n resensent geskryf dat die slotte van hierdie bundel hom gepla het. Maar lees nou hierdie slot en ek dink ons hoef nie saam te stem nie: “Op pad na die woonstel in Altebella Heights koop Petrus vis en skyfies by ‘n padkafee. Hy voel alreeds beter.” (31) Navrant, sou ek meen. En sterk!

In “Die kap van die byl” word die tegniek van twee vlakke ontgin: die hede/verlede versus liefde/politiek. In hierdie raamvertelling word daar gekyk na jeugdige hartstog en of ‘n mens weer so ‘n verhouding kan hervat? Die liefde in hierdie geval kan nooit weer opvlam nie weens die politieke geweld wat die private binnedring. (Dit is ook ‘n knap spel met die outobiografie: die verteller is ene Piet, maar ondersoek ‘n moordsaak.) Haasbroek is bekend vir sy machismo en dit word sterk ontgin in “Ontmoeting in Bagdad” waar die verteller se wellus gefnuik word. Dit blyk toe nie ‘n vrou in die burka te wees nie, maar ‘n man met ‘n kromlem-dolk.

Elke verhaal in Kruispunt is goed vertel en die skrywer gee die wêreld van die macho-man weer. Machismo is egter dikwels net die masker: agter al hierdie jagstories en grootbek-verhale word ons dikwels getref deur weerloosheid soos in die verhaal, “Saam”, waarin die leser die effek van ‘n man wat sy seun aan die dood afgestaan het, verhaal word. Dit is ook in hierdie verhaal waarin die titel verduidelik word: ’n oog in die kruispunt van die visier” (89). Die skrywer as jagter dus, as waarnemer van pyn en ellende en dit word vir ons verhaal aangrypend weergegee. Daar is min verhale waarin die impak van verlies so dwingend geteken word. Die verlies as leegheid word in hierdie verhaal pynlik-eerlik vertel.

“Die wind waai heen en weer daaroor, maar dit vul nooit met sand nie.

Dit is bar en klipperig en die middaghitte gloei tot ná sononder nog daarin, of in die winter dam die koue daar.

Die holte lê heeltyd daar en wag, en jy kan watter draaie loop, maar bly dit onthou, dat dit op jou wag.”

Daar is verhale van verraad, liefdesverraad spesifiek, soos “Langs die Suiderkruis se onderpunt” waarin Haasbroek nie alleen daarin slaag om die hele Mosambiekse leefwêreld oortuigend weer te gee nie, maar die leser gevange te hou oor hoé die navorser deur sy minnares en opponent die loef afgesteek word. Op ‘n keer word daar vanuit ‘n perd se perspektief vertel in ‘n droom!

Elke verhaal is puik gekomponeer. Dit is ‘n boek wat ‘n mens eenvoudig nie kan neersit nie. Haasbroek se besondere vermoë om jou binne ‘n bepaalde omgewing te plaas, moet vermeld word. Hy ondersoek die duister psige van die mens, wat hier én elders afspeel. Hy ondersoek die onbewuste en dit is ‘n bundel van primordialiteit. Hy gebruik o.a. die cowboy-verhaal en Tarzan, maar dit kry ironiese eggo’s binne ‘n verhaal waarin manlikheid dikwels as broos weergegee word.

Hy word tereg as ‘n deurwinterde skrywer beskou.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Wednesday, January 30, 2013

Melt Myburgh - Oewerbestaan (2010)



Melt Myburgh. Oewerbestaan. Protea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 3690.

Resensent: Joan Hambidge

Om te Lorca of nie te Lorca nie, that is the question…

U sal my ken. Danksy Uys Krige se wonderbaarlike vertalings, nee eintlik herdigtings van my werk. My naam is Lorca. Federico García. Gebore in 1898 in die Andalusiese dorp Fuente Vaqueros naby Granada. Die storie van my sterfte in 1936 ken julle. Nou ontvang ek hier ter hoër orde ‘n digbundel Oewerbestaan van ene Melt Myburgh (uitgegee deur Protea) waarin hy, wil dit my voorkom, buikspreek vir my. Die digkuns, soos die donkie, is ‘n wonderlike ding en kollega Pablo Neruda het mos op ‘n keer opgemerk dat daar geen digters is nie, maar alleen die digkuns.

Oor die “ars moriendi” is daar veel gedig in my taal en in my letterkunde. Daar is vele odes en coplas. Ons dans inderdaad in Spaans. Hierom is daar ook himnes en die duende is eie ons land en tradisie.

Kan ‘n Germaanse taal dit opvang?

Of moet ‘n digter van daardie Suiderland maar liefs hou by beelde soos “John Deere” en “Eskom”?

Jy vra:

hoe skryf ek, dierbare frederik, hiérdie landskap vir jou oop

sonder om reëlreg my eie graf in te loop? (16)

Miskien as jy begin nadink oor beelde soos hoe op aarde kan ‘n telefoon “slank” lui? En werk die begrip mirador binne jou “oewerbestaan”?

Miskien moet jy maar lewers rus in die kameeldoring se koelte en hou by die wêreld wat jy ken..

Dis meer outentiek.

En ja, die sentimentele is die výand van die digkuns nes die gebruik van die plat woord, my vriend (bladsy 36 en 39).

“om federico” heet ‘n afdeling in jou boek. Ja, die omtes van die hart is soomloos soos die verbeelding. Ek dink nie Pablo sal daarvan hou as jy my as die grootste digter uitsonder nie! Hoe klink donker seuns hul kastanjette op my? Jy bedoel seker dat hulle klink ‘n glasie op my, nie waar nie? M-e-l-o-d-r-a-m-a as ‘n bul in my naam sterf en sonbruin plakkers bloed smak”?

Que?

Jy moet my vergewe: in die ruimte van die duende het ek geen blad meer voor my mond nie en werklike ellende moet eers lank staan voordat dit in ‘n gedig opgevang kan word.
En vir Laurie Gaum ‘n gedig: “jesus in vlak water”?

Maar wanneer jy skryf oor jou werklike ervarings en nie afgeleide gedigte pleeg nie, werk dit: soos “privaat skool” of met ‘n minder bloeddorstige hand dig soos “sissy spacek in ‘n kombuistafel”.

“n heuphoogte mantra teen verlies”?

Pace, pace, senor.  

Lank sal die poësie lewe, in al haar glorie!

Lorca

Telepaties versend

Naskrif: Hierdie reaksie deel ek graag met u, liewe leser.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Jeanne Goosen - Plante kan praat (2010)



Jeanne Goosen. Plante kan praatKwela Boeke, 2010. ISBN 978 7957 0300 3.

Resensent: Joan Hambidge

Hiperrealisme gemeng met absurditeit en ‘n gevoel van nihilisme. Gooi ‘n skeutjie gekheid by en jy het Jeanne Goosen se nuwe kortverhaalbundel, na vyftien jaar. Dit heet Plante kan praat.

Digter, dramaturg, romanskrywer, kabarettis, rubriekskrywer, dit is Goosen. Die skrywer van om ‘n mens na te boots (1975) en Lou-oond (1987); die weergalose Ons is nie almal so nie (1990) en die heerlike satire ‘n Paw-paw vir my darling (2002).

Met so ‘n gedugte skrywer is die leser altyd geneig om tekste vergelyk met ‘n hoogtepunt en dan leesplesier te versmaai. Dit sal ‘n fout wees om hierdie boek te wil afspeel teen ander Goosen-tekste. Lees dit eerder as besondere eenvoudige verhale – amper soos die BY-rubrieke – met ‘n eiesoortige blik op die werklikheid en ingeboude satire. Die mens in sy domheid en weerloosheid; in sy geloof in ewigheidswaarde met ‘n gebrek aan humanisme. In hierdie opsig is die slotverhaal ‘n kragtoer-in-die-kleine: dit heet “Nog ‘n dag” en die waansin van die daaglikse joernalistieke werklikhede word aan die kaak gestel en dan word dit die back-drop vir die fantasie van die skrywer wat ‘n verhaal begin vertel (skryf) in ‘n taal tussen Afrikaans / Nederlands / Duits. Dit is skreeusnaaks met die verteller wat ten slotte besluit:”I fall on the floor and I laughs and laughss and laughsss” (156).  Die verkeerde grammatika en die herhaling en vermeerdering van die s-klank, verïroniseer die gegewe. (“Heute Tag kwam ik in mein offies”).

Die titelverhaal, “Plante kan praat” (106) is ‘n oefening in gekheid. Hier is dit die satiriese Goosen aan die woord wat die kits-roem van moderne digters opstuur: ‘n enkele reël, “Plante kan praat” herskryf sy driekeer en omdat Johanna van Huyssteen, die “digter”, dit goed vind, is dit dit goed. Triomfantelik is sy, en Berlioz bloei oor FMR en sy hoor die plante wat praat met haar. Dit is die digter Goosen wat in hierdie verhaal aan die woord is wat met haar besondere (bykans) surrealistiese aanslag die lewe ontmasker as ‘n leuen. In talle verhale is daar verwysings na musiek en mense wat deur musiek wil ontglip uit die werklikheid wat hulle versmoor, verminder of verneder.

Hierom is daar dan dikwels ‘n wrede blik op karakters, bykans asof die vertellende instansie daarop uit is om te ontluister. “Fucked for life” (11) debunk die religieuse dimensie deur ‘n kru-verwysing wat binne die opset van die verhaal aanvaarbaar is. In “Wolwors” (46) word geweld geparodieer en dit wat lesers verwag van seks gekombineer met geweld. Inderdaad het ons hier ‘n pornografie van geweld, maar sekuur in beheer gehou deur die vertelling wat alles sekuur voorberei. Dis bykans asof Goosen hier die voyeuristiese leser wil gee wat hy of sy verwag, en nog meer. Asof sy wil sê: jy het gevra, hier is dit. “Ben Prins se voete”(109) wys op die gebruik van toeval in hierdie verhale en retro-verwysings wat ‘n vervloë wêreld oproep. Wat Harry Kalmer Sondae probeer doen in sy Rapport-rubrieke, kry Goosen hier ongeforseerd reg.

“Hulle noem my Jean’’ (116) wat inspeel op daardie onvergeetlike voorganger waarin Anneli van Rooyen haar klassieke “Aan die einde van die reënboog” sing, betrek die gender-tematiek van die verhale met die refrein: “Ek is ‘n vrou en ek vat kak van niémand nie”. Die man “snak soos ‘n doedelsak” wanneer sy met hom klaarspeel. Eers lag ‘n mens; dan word jy oorval met deernis vir die karakters wat uitgelewer is aan vooroordele en diskriminasie. ‘n Mens sou hierdie verhaal kon benader as ‘n soort fantasie waarin die verteller klaarspeel met almal wat haar al leed aangedoen het.

Goosen skryf oor low-class joints, oor dollas, oor Durbs en Parow, oor mense wat aansuiker, oor verskoppelinge, oor ‘n ou wat soos ‘n Champion spark plug lyk: maar vertel kan sy vertel. Van Spokie Snygans se ervarings of ‘n trassie, Gladys die sex-change, se leed. Wreedheid word afgewissel met hartverskeurende teerheid soos “Begeerte”(87) waarin ‘n simpel mens nie sy begeertes en drome kan verwoord nie en ten slotte die sagte lied van ‘n reënvoël kweel.

Dis ‘n boek wat vele emosies in ‘n mens wakker maak.  Ek was gaande oor die laaste digbundel Elders aan diens (2007) en hierdie verhale vra vir ‘n saam-lees daarmee.
Die donkerkant van die lewe word dikwels gewys asof die verteller buikspreker is van die melancholie. Die verhale lees vlot, maar met elke her-lees, word ‘n mens bewus van die slim komposisie.

Ons noem haar Jeanne Goosen.

Welkom terug, Jeanne.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

André Brink - Other lives: a novel in three parts (2010)



André Brink. Other lives – a novel in three parts. Umuzi, 2010. ISBN 978 1 4152 0127 5.

Resensent: Joan Hambidge

Brink se behendigheid as vertaler word bevestig deur die Engelse weergawe van Ander lewens, ‘n teks waarin die krag van die verbeelding ondersoek word.

Dit is ‘n roman wat die tegniek van die trompe-l’oeil gebruik of die verhaal wat ‘n soort vlakkigheid of oëverblindery veronderstel. Die Afrikaanse uitgawe het indertyd ‘n warm debat ontlok met lesers wat gevoel het dat ‘n bepaalde toneel oor die bad van ‘n kind as “kindermishandeling” gelees kan word. (Die ombudsman, Die Burger, 19.6.2008). Sowel resensente as die uitgewer het hierdie aanklag verwerp. Dit sou interessant wees om te sien of Engelse lesers op dieselfde wyse reageer op hierdie roman. Die roman is metafiksioneel wat ‘n kommentaar tussen wat geskryf en wat beleef word voortdurend bespreek. Die leser is dus voortdurend bewus van vlakke in die teks (die sogenaamde mîse-en-abyme) wat ook aangegee word deur die feit dat ons meegedeel word dat dit ‘n roman in drie dele (of aflewerings) is. Wat is fantasie? Wat is werklik?

Die motto uit Milan Kundera gee ook ‘n aanduiding dat die leser nie alles letterlik moet vertolk nie. Soos ‘n man wat nie sy gesin herken nie…

Op 26 Mei 2008 het ek die Afrikaanse uitgawe vir Die Burger geresenseer. Die Engelse vertaling lees vlot en Brink se besondere vertaalvernuf kan net aangeprys word.
Net soos sy vermoë om te vertel.

Die roman bestaan uit drie novellas wat ook as aparte verhale gelees kan word, te wete The blue door, Mirror en Appassionato. Die triadiese aspek is relevant, aangesien vele beginsels in die literatuurkritiek drievoudig funksionbeer: ego, id, superego (Freud) en Lacan se verbeelde, simboliese en reële dimensies. Verder is die teken (betekenaar en betekende) altyd gekoppel aan ‘n betekenis wat dit saamsnoer. ‘n Man kyk in die spieël en sien ‘n swart gesig wat na hom terugkyk. Hierdie gegewe kan waarskynlik ook gelees word as ironiese selfkommentaar op die werklike skrywer Brink se kunstenaarskap waarin hy met groot drif rasseongelykheid aan die kaak gestel het. 

In Kennis van die aand en ‘n Oomblik in die wind word dit goed gedoen. Ek lees Other lives as ‘n teks waarin self-konfrontasie telkens in die gemoed van die kunstenaar ‘n lotsbepaling is. ‘n Mens skryf immers as ‘n soort regstellende aksie en hierdie teks(te) speel weer in op die onlangse verskene ‘n Vurk in die pad waarin die lewe van die skrywer weergegee word. Maar kan ‘n mens ooit ‘n lewe werklik weergee of word dit alreeds gefiksionaliseer? Elemente in hierdie teks kan terug gveoer na die werklike lewe, maar dit is ‘n boek wat komplekse vrae stel oor die verhouding tussen kuns/lewe, fiksie/werklikheid.

Ek dink wel die voorblad van die Engelse uitgawe deur Umuzi is ‘n bietjie corny. Die Britse uitgawe se voorblad is wel beter.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

John Clare (Ed.) - Captured in time: Five centuries of South African Writing (2010)



John Clare (Ed.). Captured in time: Five centuries of South African Writing. Jonathan Ball, 2010. ISBN 978 1 86842 378 1.

Resensent: Joan Hambidge

Captured in time is ‘n hoogs aanbevole kompendium waarin vyf eeue van Suid-Afrikaanse skryfwerk vir die leser byeengebring word. Vanaf Luis de Camoes, Jan van Riebeeck, Livingstone, Paul Kruger, Winston Churchill tot Antjie Krog, Zakes Mda, Johnny Steinberg en Marlene van Niekerk is hier aan te tref. Natuurlik met die grotes soos Gordimer, Brink, Coetzee…

Die samesteller, John Clare, se rubrieke gee al reeds ‘n aanduiding van hoe die geskiedenis van hierdie land verloop het: die Boesmans en Hottentotte, die reisverslae, slawerny, oorloë, sendelinge, ensomeer.

Dit is ‘n moeilike land om te omhels (embrace): dit is ‘n land van rassespanning en konflik. Ons het die woord apartheid gemunt en uiteindelik beleef ons ‘n demokrasie na onderdrukking en wit oorheersing. (Uiteraard kan so ‘n kompendium nooit alle stemme verteenwoordig nie en moet dit volgens hierdie leser benader word vanuit ‘n persoonlike perspektief. Dit sou ‘n ander kritiek behoef om die hiate uit te wys.)

In my jeug het ek Suid-Afrikaanse geskiedenis bestudeer en waarskynlik soos alle jong mense dit as dor, droog en vervelig ervaar. Wat jammer! Veral gedagtig aan die feit dat groot romans byvoorbeeld gebaseer is op daardie geskiedenis: ‘n mens dink hier aan Coetzee en Brink, byvoorbeeld.

Dieselfde geld die Boereoorlog wat jaar na jaar deel was my skoolkurrikulum en wat vandag eenvoudig fassinerende leesstof is; veral vanuit die perspektief van ouer digters soos Leipoldt byvoorbeeld. Tekste oor hierdie oorlog is gewoon boeiend nie net vanuit ‘n historiografiese perspektief nie, maar eweneens as belydende tekste. Belydenisse vanuit die konsentrasiekampe vertel van ‘n onreg en skending van menseregte wat volledig onaanvaarbaar is en bly.

‘n Mens lees hierdie versameling van tekste as ‘n gesprek en antwoord op verdrukking en ongerymdhede. Nie alleen is daar prosatekste nie, maar selfs gedigte wat vele kwessies soos landskap, die verhouding tussen moederland en kolonie, apartheid, reisjoernale (soos Francois le Vaillant) word hier opgeneem. Waarskynlik moet ‘n mens die verslae van die WVK saamlees met die Boereoorlog-tekste.

Die keuses uit tekste en samevoeging daarvan (onder ander ‘n uittreksel uit Age of iron langs Triomf  bring ander perspektiewe na vore. Inderdaad word die tekste dan in hierdie kompendium ópgevang in ‘n soort “time-warp”. Buite konteks en in samesnoering met ‘n ander vertelling word ironieë uitgelig en skryfstyle se verskille al hoe duideliker. Twee klassieke verse vind ons ook hier: Ingrid Jonker se beroemde gedig oor “Die kind” en Ingrid de Kok se hartgrypende vers or die VWK, “The archbishop chairs the first session” wat so eindig:

There was a long table, starched purple vestment
and after a few hours of ceremony,
the Archbishop, chair of the commission,
laid down his head and wept.

That’s how it began (462).

En hoe kook ‘n mens se bloed nie wanneer jy die verslae oor die Boeroorlog lees nie! Ons lees Conan Doyle oor “the acre of massacre” (en nou lees ons weer Buller se plan (Ingrid Winterbach) hiermee saam) en William Plomer se ironiese gedig “The Boer war” (277) wat so eindig:

They took the hill (Whose hill? What for?)
But what a climb they left to do!
Out of that bungled, unwise war
An alp of unforgiveness grew.

Een van die groot figure van ons land, Jan Smuts, se bydraes is ook hier aanwesig en Guy Butler se gedig “Cape Coloured Batman” (320) som die ellendes van rassevooroordeel op:

Damned from birth by the great disgrace.

Herman Charles Bosman word “whimsical” (?) genoem en Oom Schalk Lourens, sy alter ego, lewer satiriese kommentaar op die vooroordele en sosiale ongeregtighede van die tyd. Wat ‘n wonderlike verhaal en deur middle van oordrywing en grappighede word selfverheerliking aan die kaak gestel.

Taalkwessies kom aan bod soos beskryf deur J.M. Coetzee in Boyhood (372) en hoe die jong kind nadink oor sy identiteit:

“Because they speak English at home, because he always comes first in English at school, he thinks of himself as English. Though his surname is Afrikaans, though his father is more Afrikaans than English, though he himself speaks Afrikaans without any English accent, he could not pass for a moment as an Afrikaner” (372). 

Hoe tydloos bly hierdie problematiek nie, gedagtig aan die taalstryd aan die Universiteit van Stellenbosch en die vrees van die huidige rektor dat die universiteit in die hof mag beland, as die hulle nie verengels nie!

Hierdie lywige boek is besonder mooi uitgegee met kleurfoto’s van meer resente skrywers. Daar was darem sekerlik ‘n meer resente foto van Brink beskikbaar?

Dit is ‘n boek wat vir elke Suid-Afrikaanse leser ‘n aan te beveel is. Ook ‘n moet word die leser van die huidige Afrikaanse romans wat kommentaar lewer op ons geskiedenis.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]