Monday, August 27, 2018

Rubriek | McGregor Poësie-fees (Aug 2018)

In hierdie ysige weer was daar ‘n poësie-fees in McGregor.

Verskillende digters het hier kom saamtrek. Dit is onmoontlik om op elke aspek van hierdie fees te fokus, omdat daar verskillende byeenkomste was in vertrekke en sale in die klein dorpie.

Ek is nie ‘n feesmens nie, maar hierdie onpretensieuse byeenkoms was vir my wonderlik om ‘n paar redes. Uiteraard weens die heerlike kos in die restaurant Tebaldi’s en die goeie wyn wat gevloei het.

Maar hier het ek opnuut onder die indruk gekom van Kelwyn Sole se digterlike beheer en CJ Driver (Jonty Driver) se bekoorlike bundel Before – A Sequence(African Sun Press). En ‘n oggend, op ‘n Sondag waar vier digters hulle gunsteling-verse voorgelees het.

Kom ons gesels eers oor digters se gunstelingverse. Wat ‘n digter lees, het uiteraard ‘n invloed op hoe sy / hy skryf. Douglas Reid Skinner, Michèle Betty, Stephen Symons en die uwe was aan die woord.

My gunstelinge – vir hierdie geleentheid – was Sylvia Plath se “Lady Lazarus”, “Morning Song”, Wislawa Szymborska se “Some like poetry”, Billy Collins se “Taking off Emily Dickinson’s Clothes” – en uiteraard Olga Kirsch se “Illusie”.

Plath se “Lady Lazarus” – met sy skisofreniese afstand – teenoor Collins se aanvanklike speelse vers wat eindig met die sidderende woorde:

So I could plainly hear her inhale
when I undid the very top
hook-and-eye fastener of her corset 

and I could hear her sigh when finally it was unloosed, 
the way some readers sigh when they realize
that Hope has feathers, 
that reason is a plank, 
that life is a loaded gun
that looks right at you with a yellow eye. 

Wanneer ‘n mens voor ‘n gehoor ‘n gedig voorlees en moet verduidelik waarom ‘n vers met jou praat, ontdek jy dikwels iets nuuts in die vers.

Vir my is “Morning Song” van Plath nie net ‘n vers oor die geboorte van ‘n kind nie; dis ook ‘n gedig wat jy kan lees asof dit kommentaar lewer oor die geboorte van ‘n gedig.

Morning Song

Love set you going like a fat gold watch.
The midwife slapped your footsoles, and your bald cry
Took its place among the elements.

Our voices echo, magnifying your arrival. New statue.
In a drafty museum, your nakedness
Shadows our safety. We stand round blankly as walls.

I'm no more your mother 
Than the cloud that distills a mirror to reflect its own slow
Effacement at the wind's hand.

All night your moth-breath
Flickers among the flat pink roses. I wake to listen:
A far sea moves in my ear.

One cry, and I stumble from bed, cow-heavy and floral
In my Victorian nightgown.
Your mouth opens clean as a cat's. The window square

Whitens and swallows its dull stars. And now you try
Your handful of notes;
The clear vowels rise like balloons. 

Tebaldi's

Olga Kirsch se “Illusie” is ‘n liefdesgedig – maar die liefste wat sy ylings tegemoet gaan, kan ook die leser van haar gedigte wees.

Volgens De Stadler se tesourus beteken ylings gejaagd, onbesuis, halsoorkop, pront, brandend, dringend, naarstiglik, urgent, akuut, brandend.

Is dit ook hoe sy haar leser tegemoet gaan?

Illusie

Soms as ek in die silwer skemering stap
met oë half toe, want die ligte reën
prikkel my wange, dans en trippeltrap
verby my lippe en om my oë heen,
dan sak die stilte in ’n klamme vlaag
oor alles, donkergroen en silwergrys
die denne, en ek slaan my jas se kraag
hoër om my nek. Daar’s iets wat eis
dat ek meteens met ligter tred moet gaan,
met tintelende ekstase in my bloed.
Dalk aan die einde van die lange laan
gaan ek jou, liefste, ylings tegemoet?

Hoe gedigte met mekaar praat en bymekaar aansluit, bly een van die ongelooflikste ervarings vir die leser van gedigte.

Soms is ‘n gedig klein, maar die betekenislading enorm soos Douglas reid Skinner dan tereg uitwys in een van sy gunstelingverse “To have Love” van Patrick Cullinan:

To have love and then lose it:
the white hail in the orchard
lying with leaves it has stripped
and the storm moving away.

"‘n Mens kan niks byvoeg of wegvat nie," sê Skinner. "Die gedig is perfek – die impak enorm."

Hier is Johann de Lange se vertaling daarvan:

Om liefde te hê
Patrick Cullinan

Om liefde te hê en dan te verloor:
die wit hael in die boord
lê tussen afgestroopte blare
en die storm beweeg voort.

(Vertaal deur Johann de Lange)

As ‘n mens is wat jy eet, is jy ook dit wat jy lees.

Ons sal volgende keer verder by gunstelingverse stilstaan.

© Joan Hambidge

Monday, August 20, 2018

Resensie | Rudie van Rensburg – Ys (2018)

Rudie van Rensburg – Ys. Queillerie, 2018. ISBN: 978-079-5801501

Resensent: Joan Hambidge

I

Ys is die sesde roman van Rudie van Rensburg, 'n besondere speurverhaalskrywer.

In die filmweergawe van Agatha Christie – doyenne van die speurverhaal – se Crooked House, merk 'n karakter op dat 'n moordenaar koud- of warmbloedig kan wees, sonder enige empatie of morele kompas. So 'n persoon dink veral dat die wette van 'n gemeenskap nie op hom of haar van toepassing is nie. Ons het hier "the smell of blood" wat in Ys geblaker word as "die bloedspoor is warm ..." (Crooked House (film) – Wikipedia. Besoek 19 Augustus 2018).

Die film is geregisseer deur Gilles Paquet-Brennerin 2017.

'n Teefsessie tussen Gillian Anderson en Glenn Close is prima. Bykans so goed as die een tussen Diana Rigg en Maggie Smith in Evil under the Sun

Sulke oomblikke wanneer veteraan-aktrises hulle naels wys in 'n andersins ernstige moordverhaal, is dit om lag te ontlok, wat spanning verlig én die divas toelaat om te wys hulle kán "act". Daar word waarskynlik heerlik geskaterlag agter die skerms, soos in Tomorrow Never Dies wanneer M (Judi Dench) vir James Bond (Pierce Brosnan) opdrag gee om die skobbejak se vrou, en sý voormalige minnares, te pomp vir informasie. (Moontlik ge-ad lib.)

II

Van die vasvang van die Groot Appel in woorde tot die beskrywing van 'n lyk, of hoe dit moet voel as jy agtervolg word en met 'n mes in jou been hardloop, weet die leser dat Ys deur deeglike navorsing onderlê is.

'n Amerikaanse wetenskaplike word in 'n Waterfront-hotel vermoor. Daar is 'n oud-Pollsmoor gevangene. Daar is Kassie en Rooi. En 'n man met 'n kettingsaag.

By elkeen is daar newe-intriges (wat ek nie hier sal verklap nie), maar Kassie se eks daag onverwags op by haar "ou vaalmuis". En Hasie (met sy Tinkie) word onvermydelik deel van die onderwêreld en moet sy gewete sus dat hy dit ter wille van haar moet doen. Hierdie gedeeltes is waarskynlik deur Jeffrey Dahmer geïnspireer.

Met bergies en Willie met Fortuin.

Teenoor Frankie. Pastoor. En Viking, o.a.

Met leuens en vals identiteite.

Ekologie en raspolitiek kom ook aan bod – met Shaheena wat bevele uitdeel (getroud met 'n problematiese Elton). Geweld teen vroue word goed geanaliseer en waarom vroue by sulke mans bly, word hier oortuigend verbeeld.

Kasselman is misdaadtoneelbestuurder (crime scene manager) en ons weet hoe belangrik hierdie taak is. 

Boonop is daar vingerafdrukke gelaat ... (maar hier weet die leser meer as die speurders.)

Met die FBI wat met papierlêers werk, omdat rekenaars altyd 'n digitale spoor laat.

III

Christie is die meesteres van beduimeling en beduiweling. Sy fop jou altyd met vals of te slim leidrade. (Soos 'n Latynse verwysing in 'n Engelse van.) Van Rensburg draai hierdie patroon om. Hy plaas sy leser in 'n oënskynlike posisie van mag. 
  
Ollie Viljoen is hier en die arme Kassie moet sy verslae in Engels skryf. (Nie alleen omdat die FBI dit moet lees nie, maar hier is ook implisiete sosiale kommentaar op die verengelsing van die staats- en polisiediens.)

'n Goed geplaaste interteks is Etienne Leroux se Die derde oogmet die hakkelende kaptein Demosthenes H. de Goede. Anders as die blink Stefaanse van die bedryf, haal Kassie die kromme note. Hoe hy lyk en aantrek, verklap iets van sy karakter.

Nou onlangs was hierdie leser uitermate bekoor met die Maigret-reeks waarin Rowan Atkinson speurder Maigret oortuigend vertolk (Maigret (2016 TV series) – Wikipedia. Besoek 19 Augustus 2018).

IV

Van Rensburg skryf vlot en onderhoudend. Die roman is pakkend geskryf. Bliksis!

Lucky Strike en Creme Soda. 'n Seëlversameling wat 'n kode is vir stiplees.

En daardie referaat oor "Ys"?

Rudie van Rensburg se roman klief sneeu oop soos 'n ysbreker.

Met 'n wonderlike epiloog.

Thursday, August 16, 2018

Rubriek | Arundhati Roy (2018)

Arundhati Roy in 2009 (Photo by Satish Bate)

Tydens ‘n openbare lesing aan die Universiteit van Kaapstad op 13 Augustus 2018 lewer Arundhati Roy die skrywer van The God of Small Things (1997) eweneens kommentaar op die verhouding tussen fiksie en werklikheid.

The Ministry of Utmost Happiness (2017) waaruit sy voorlees, word voorafgegaan deur ‘n film waarin sy verhouding tussen werklikheid en fiksie uitwys – met ‘n voice over.

Roy wys daarop dat die buitestaander of vreemde leser die kodes van Indië dikwels verkeerd begryp. Ons lees dit as anargie, meen sy, terwyl die hele sisteem gebou is op ‘n grid van fyn netwerke wat alles te make het met die kaste-sisteem. Net die verkeer is, volgens haar, chaoties.

Alles verder is fyn verweef en verbind.

In hierdie tersyde van Roy word die leser opnuut bewus gemaak van lesers se soeke na wat agter tekste lê, hetsy ideologie of werklike mense.

Roy se debuut The God of Small Things het in 1997 opslae gemaak en ongeveer 6 miljoen eksemplare verkoop. Dit het die Booker gewen.

Roy is skrywer, ekoloog en aktivis en sy word bemark as Indië se mees uitdagende vrou.

Tydens hierdie lesing het die joernalis Rebecca Davis die vrae gestel en Roy was in gesprek met twee Suid-Afrikaners: Haji Mohamed Dawjee wat Sorry, Not Sorry gepubliseer het, 'n teks waarin haar gender-belewenis en politieke eiesinnigheid weergegee word. Sy representeer die nuwe geslag se onversetlikheid oor gender- en rassekwessies.

No one owns their stories and the telling of them like white male writers. They are given endless opportunities for it. They can write about anything. They can pen rants about white-men problems and white-men wealth. They can wax lyrical about cars and boats and spaceships. They can have reams and reams of motivational articles published about being ‘bosses’. Without, mind you, ever having to refer to sexual harassment, unequal opportunities, discrimination or unequal pay. But the cherry on the vanilla cake is that they also get to write the soft, sensitive, soulful stuff. You know? (From the chapter 'We don’t really write what we like')
Die digter en aktivis Kim Windvogel het eweneens iets hiervan geartikuleer.

Die New Lecture Theatre by UCT was stampvol. Jy moes 'n kaartjie hê. En dit was gou onbeskikbaar.

'n Mens sou meer van Roy wou hoor. Sy lees mooi voor en die kwessies van haar land en hoe sy dit vreesloos takel, moes dieper ingevra gewees het.

Ofskoon vroue- en genderkwessies ooraloor aan bod kom, was die aand se sprekers dalk te divers om 'n werklike, indringende gesprek te verseker. 

Of was die jonger paneelgangers dalk geïntimideer deur Roy wat soms met 'n skewe glimlaggie alles aangehoor het?

Vir my was haar opmerking oor die grid wat onder alles lê, belangrik. Met 'n besoek aan Indië 'n paar jaar terug het hierdie leser iets daarvan ervaar.

My storie is nie jou storie nie.

En die tjap as toegang het herinner aan die ondergrond van gay-klubs in die ou dae.

© Joan Hambidge





Thursday, August 9, 2018

Resensie | Beyers de Vos – Wrok (2018)

Beyers de Vos – Wrok. Penguin, 2018. ISBN 9781485903321.

Resensent: Joan Hambidge

I
Wrok is die debuutroman van Beyers de Vos wat tegelykertyd in Afrikaans en Engels verskyn. Die Engelse titel is Talion. Talion beteken ‘n oog vir ‘n oog. So word die verhaal verpak deur die uitgewershuis:
Pretoria – Vyf mense, vyf dele van die stad. Die tweeling, Ben en Freya, is weeskinders en Freya glo dat hulle alles met mekaar deel. Ben word vermoor en Freya besef hy het geheime van sy eie gehad. Mnr. Oktober is ’n wewenaar-pa, ’n rugby-afrigter by die hoërskool en ’n passievolle Christen. Hy het egter ’n donker verlede wat hom net nie met rus wil laat nie. Die selfsnydende dwelmhandelaar, Slick, het tydens sy gewelddadige mentorskap by Mama Africa geleer dat vergelding en mag hand-aan-hand gaan. En die hardwerkende Nolwazi, ’n inspekteur by die Brooklyn-polisiekantoor, se ondersoek word deur ’n oorwerkte sisteem en korrupte kollegas ondermyn. Hoekom is Ben dood? Wie het hom vermoor? Sal geregtigheid seëvier? En is vergelding die antwoord?
Wrokkigheid, weerwraak, terugkry, ‘n oog-vir-‘n-oog, is die belangrikste kodes van die thriller en speurverhaal. In Golden Eye (1995) – met Pierce Brosnan as James Bond – word 007 gestel teenoor 006 Alec Trevelyan (Sean Bean) wat dood veins. Hierna word hy deel van die Janus-sindikaat. In die spel tussen held en anti-held word al die binariteite, so bekend aan James Bond-films, uitgespeel.

In ‘n stadium tydens ‘n konfrontasie roep Alec uit dat hy eintlik beter is as Bond. Sy gesig is ook geskend in 1986 in Arkhangelsk toe MI6 agente die Sowjet chemiese plant binnegedring het.

Eers dus as vennote; later as opponente. Met Alec se wrokkigheid wat alles voortdryf.
Lesers van hierdie genre ken dus die verskillende skuiwe in die skaakspel.

In die persverklaring word ons vertel dat De Vos alle reëls breek – in die speurgenre waar Ruth Rendell alreeds hierdie loftuiting opeis. (Ons kom hierna terug.)

‘n Resensent verwys ook na die brutaal briljante omgang met taal (Brutaal briljante omgang met taal | Netwerk24. Besoek 6 Augustus 2018).

Vir hom lees die roman soos ‘n versnit van stadsroman, meta-misdaadroman en diepgaande maatskaplike kommentaar.

In James Bond-films word die geweld en politieke kommentaar dikwels gesubverteer met ironiese opmerkings en humor. 

II
De Vos se boek is ‘n debuut en dit werk rondom die raaisel van Ben se dood. In die persverklaring word die leser ook vertel dat die simboliese beskrywings van die stad Pretoria nog nooit so gedoen is nie. In alle James Bond-films is die stad of land ‘n mede-speler.

Istanbul teenoor St Petersburg; Kuba of Londen is die backdrop waarteen verskillende Bond-films geplaas word en politieke of sosiale kommentaar lewer.

In Wrok het ons Inspekteur Nolwazi Mngadi wat Benjamin Rust se dood moet ondersoek. Helaas is daar ook hier korrupte kollegas by die Brooklyn polisiekantoor. En leuens oor die verlede.

III
Rondom die Lady Justice (aan die begin en einde van die roman) word die vertelling ingebed. Die stad is Pretoria, ‘n slim keuse, omdat die opposisie tussen wit / swart sterk gevoelens in hierdie stad oproep met simbole soos die Uniegebou, die Voortrekkermonument, Paleis van Justisie, oom Paul, en ander bakens. 

Die Boereoorlog is ook ingebed in die Jakarandastad en die Vrede van Vereeniging is op 31 Mei 1902 by Melrose Huis onderteken.

Dit is dus ‘n slim keuse om die boek hier te laat afspeel. Die stad se onbewuste is vol spanning, oorlog en regspleging. Daar is immers ook ‘n polisiemuseum in hierdie stad. Die stad word in die roman beskryf as ‘n vreemde en slapende stad (88).

Dit is 'n stad vol stories met storielyne wat verstrengel (218). 

En stede groei, verander, verslind, sterf en reïnkarneer, lees ons verder.

Hier is dan 'n verwysing na Harry Kalmer se goeie stadsroman oor Johannesburg (Woorde wat Weeg/ Harry Kalmer - 'n Duisend stories oor Johannesburg (2014)Besoek 9 Augustus 2018) wat in die Engelse vertaling die Barry Ronge-prys verower as A Thousand Tales of Johannesburg waaroor ek nog sal skryf.

IV
Oor die moord/speur/spanningsverhaal is daar geweldig baie teoretiese tekste geskryf. Tzvetan Todorov se “The typology of detective fiction” (1966) is eweneens opgeneem in David Lodge se Modern Criticism and Theory – A Reader (Longman, 1988). 

Todorov verwys na die dogmatiese werk van S.S. van Dine uit 1928. In hierdie artikel beweer Van Dine dat hierdie soort roman altyd ‘n speurder, ‘n boosdoener (krimineel) en ‘n lyk bevat. Ook is daar nie plek vir liefde in hierdie soort roman nie. Hy skryf verder die “culprit must not be a professional criminal, must not be the detective, must kill for personal reasons.”

Verder het hy ‘n sekere belang in die roman: hy moet immers een van die belangrike karakters wees. Alles moet rasioneel verklaarbaar wees en fantasie is nie toelaatbaar nie. Geen plek vir psigologiese analises nie (wat deur moderne skrywers wel betree word). 
Daar is ‘n verdere homologie aantoonbaar: 

“author: reader = criminal : detective.”

Banale situasies en oplossings moet vermy word (Lodge, 1988, 163).

Hoe breek De Vos hierdie reëls of sluit hy gewoon net hierby aan?

Die lykskouing is ‘n kopknik na Patricia Cornwall en hier is bewys van sterk skryfwerk. Die romanskrywer vermeng hier die kliniese aspek met die emosionele reaksie van die speurder op die dood.

In die afdeling “Die gees van die stad” word die onbewuste van die stad weergegee uit die perspektief van ‘n standbeeld.  Die stad word ook gepersonifieer soos op bladsy 255.

Die teks lewer eweneens kommentaar op die verskil tussen misdaad in die werklikheid en misdaad in krimies wat ‘n spel is en ‘n raaisel wat ons probeer oplos (59). As jy die reëls ken, sien jy die kinkels kom.

V
Die simboliek van voëls word sterk ingebed. Hamerkop. Weerligvoël. Impundulu (222).

Vuur en weerlig (Slick se herinnering) wat weer later met Freya verbind word wat fata uitdaag (en die vader wat waarsku teen bad wanneer daar weerlig is).  (Meneer Oktober, Slick, Lucky, Mama Afrika word goed uitgebeeld.)

Ben en Freya (Hansie en Grietjie) en die dubbelloopaksie van die roman verbreek die streng kodes van die verhaal. Twee wrokkiges neem tegelykertyd wraak en die verhaal bevat emosionele en seksuele beskrywings wat die kodes van die misdaadroman verbreek. Ook die afwisseling van tyd (hede en verlede) met die meta-kommentaar oor hoe die werklikheid van fiksionele tekste verskil.

Beyers de Vos (Foto: Joanne Olivier)

Kyk ook na Nolwazi se genderkontruksie - hier word Trial and Retribution geaktiveer.

Die roman sit vol slim toespelings en dis 'n debuut wat getuig van 'n vermoë om te komponeer.

'n Behendige debuut wat jou as leser saamsleur. Dit staan sy plek vol langs die lang ry van misdaad- en speurverhaalskrywers in 'n land waar misdaad daagliks voorblaaie haal. En moordstories die sub-genre se grense verskuif met wraak en weerwraak, bylmoorde en hangtonele.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, August 5, 2018

Onderhoud | Met Amanda Botha rondom The coroner’s wife (2018)

Foto: Philip de Vos

Sedert die digter Joan Hambige in 1985 met Hartskrif gedebuteer het, het meer as 25 digbundels uit haar pen verskyn.Vier vertalers het meegewerk om ‘n keur uit haar oeuvre in Engels te vertaal. Die bundel, The Coroner’s Wife, het pas by Dryad Press verskyn. Amanda Botha het aan haar uitgevra.

Waarom het jy hierdie bundel met vertalings uitgebring?

Dis 'n projek wat sover strek as 2000. Ek het in die vorige millennium navorsing gedoen in die VSA en was eindeloos bekoor deur die werk van Robert Pinsky wie ek ook ontmoet het. Ofskoon my tekste in die Harvard-biblioteek staan, kan net 'n handvol mense dit daar lees en dit is vir my belangrik om ten minste my werk te kan transporteer na 'n ander taal sodat mense by kongresse my werk begryp. 

Die gedig "In the Garden of Emily Dickinson" het ek vertaal vir 'n kongres in Vergelykende Letterkunde wat plaasgevind het in Wene in 2016. Na my vyf pogings het Douglas Reid Skinner dit reg getimmer. Maar die verskillende weergawes gee tog iets weer van die "lost in translation"-proses.

In Emily Dickinson’s Garden
Every day, Emily D believed
she heard the sounds of birds
in her tree-filled, lush, green garden.
It was here, in her garden of happiness,
as Judith Farr explained,
that she experienced the widest link
between poetry and gardening: from love to hate;
envy against virtue; death and eternity
dug into flowerbeds.
Planted wild fig marigolds, jasmines
and daisies. And picked a bouquet
each day for herself. And each flower
– even the gardenia –
looked up in flower encyclopaedias
– Campanula, Columbine, Aquilegia –
and therafter explored Webster's fields
as a traveller keeps track of her itinerary
in a strange country. Every
symbol precise, exactly understood.
O enigmatic woman in your white dress,
I visited your garden in the spring:
stood there and wondered
if you ever talk in the Garden of Eternity 
with the other gardener of Amherst,
with her, Sylvia, whose death
keeps on blooming like a black arum lily?


In die tuin van Emily Dickinson

In haar boomryke, lowergroen tuin
het Emily D glo daagliks
geluide van voëls ingeklank.
Hier het sy in háár tuin van geluk,
soos Judith Farr beduie,
die ruimskootse verband tussen dig
en tuinmaak beleef: liefde teenoor haat;
nyd teen deugsaamheid; dood en ewigheid
in blombeddings ingespit.
Wildevygies, jasmyne en madeliefies
geplant. En daagliks ‘n ruiker
vir haarself gepluk. En elke blom
– selfs die katjiepiering –
in blomensiklopedieë opgesoek
– klokblom, koningsklokkie, arendklou –
en die Webster se akkers hierna verken
soos ‘n reisiger in ‘n vreemde land
haar direktief opteken. Elke
simbool nougeset, sekuur herken.
O enigmatiese vrou in jou wit rok,
jou tuin het ek in die lente besoek:
hier gestaan en gewonder
of jy ooit in die Tuin van Ewigheid
met die ánder tuinier van Amherst praat,
met haar, Sylvia Plath, wie se dood
soos ‘n swart aronskelk bly blom?

(Uit: Indeks)

Wat verloor en wen 'n mens in vertaling?

My vier vertalers, Skinner, Johann de Lange, Jo Nel en Charl JF Cilliers, het ook bewys hoeveel 'n mens "wen" met 'n vertaling. Goeie vertalers kan iets anders vind. Woordsnyer word "word sleuth".

Hoe het jy besluit op watter gedigte jy gaan opneem?

Daar is geweldig baie verse waaruit ons kon kies. Ek en my uitgewer, Michèle Betty van die Dryad Press, het gedigte rondom temas saamgesnoer: stede, liefdes en familie, ars poeticas, tyd en ewigheid, eerder as om chronologies te werk. So kry gedigte in hierdie bloemlesing in 'n nuwe bundel ander betekenisse. 

Wat wil jy met hierdie bundel bereik?

Ek wil graag wanneer ek na buitelandse kongresse gaan of vreemde plekke besoek ten minste iets vir 'n kennis kan gee. Dit was terselfdertyd vir my 'n intellektuele oefening deur self ook 'n handvol verse te vertaal het wat in hierdie bundel opgeneem is.

Dink jy daar behoort meer vertalings te wees?

Absoluut. Ek was bevoorreg om met vier uitsonderlike vertalers te werk. Hulle was soos buiksprekers vir my. In Afrikaans was daar 'n bloemlesing In a Burning Sea. Petra Müller is vertaal, soos bv. Wilma Stockenström, Krog en Breytenbach. Op die internet sweef daar verskillende vertalings van digters.

Ek dink die wêreld het al hoe meer 'n "global village" geword en digters word al hoe meer blootgestel aan ander (vreemde) landskappe.Die kanon het verander. Ons leef in 'n tyd van onsekerheid (soos Harold Bloom dit tipeer) en daar gaan waarskynlik al hoe meer reise na ander ruimtes wees. Dit is immers 'n proses van dekolonisering/dekanonisering, nie waar nie?

The Coroner’s Wife deur Joan Hambidge kan bestel word by http://dryadpress.co.za/

Wednesday, August 1, 2018

Resensie | Gabeba Baderoon - The History of Intimacy (2018)

Gabeba Baderoon - The History of Intimacy.Kwela Uitgewers, 2018. ISBN 9780795708886

Resensent: Joan Hambidge

I
Gabeba Baderoon se gedigte ontleed die verskillende posisies van liminaliteite: kindwees; man teenoor vrou; geboorteland teenoor nuwe rusplek; Distrik Ses versus Apartheid; Moeslem en Christen.

In 2004 behaal sy dan ‘n doktorsgraad oor die representasie van Islam in Suid-Afrika. Sy het wyd klasgegee in sowel Europa as in die VSA en tans is sy mede-professor in Women’s, Gender and Sexuality Studies and African Studies aan die Universiteit van Pennsylvania.

Baderoon se gedigte het my nog altyd bekoor. In 2005 was ek op ‘n paneel vir die DaimlerChrysler-prys toe sy die eerste plek behaal het teen ‘n handvol ander digters wat tans hul regmatige plek ingeneem het as digters.

A hundred Silences het in 2006 eweneens by Kwela verskyn. Ander titels is The Dream in the Next Body en The Museum of Ordinary Life.

Hierdie jongste bundel word opgedra aan haar moeder: Groundbreaker, Healer, Muse.

Oor die moeder en digterlike taal, dink ‘n mens onmiddellik aan Julia Kristeva se Desire in Language (1980) en die semiotiek: die moederfiguur is ‘n ambivalente figuur in die vroulike onbewuste. Een wat die digter wil uitwis én behou. Trouens, ‘n mens sou hierdie hele komplekse bundel kon lees met Kristeva ter hand: Kristeva oor melancholie; Kristeva oor eensaamheid; Kristeva oor die baarmoeder; Kristeva oor bannelingskap; Kristeva oor vrouwees.

By Baderoon is daar ‘n voortdurende beweging tussen die wet van die vader en die wet van die moeder, oftewel tussen die simboliese orde en die semiotiese orde. Die eie identiteit, soos afgelees in hierdie bundel, is ‘n pynlike een: ‘n wegbeweeg van die “law of the mother” en die vader se ontdekking van seksuele betreding (70) saam met die pynlike raspolitiek wat die jong kind ervaar het. Dit word pakkend weergegee in “The History of Intimacy” (66). Deur oor die moeder se ervaring van die ongelykhede te skryf (sy word hier ‘n buikspreker vir die moeder), word ‘n hele gemeenskap se ervaring weergegee.

Sy bely:

Since the beginning, you have been breath,
and poetry. (67)

“The Law of the Mother” (70) handel oor verlies aan maagdelikheid (op ‘n wrede manier) met die sosiale en psigologiese implikasies wat dit inhou vir vroue. Hierdie sterk gedig analiseer die volledige implikasies van die betreding (met ‘n slim toespeling op Thelma and Louise).

Die terapie-sessie maak haar bewus van die gebrokenheid van die liggaam:

that ‘broken’ is a boundary
and the body is time
as well as place.

II
In “Answering” (69) word raspolitiek en genderpolitiek saamgesnoer. Identiteit, is immers altyd ‘n samesnoering van ras, klas en gender. Hier in ‘n werksonderhoud word sy deur twee manne ondervra met een wat meen hy haat dit wanneer swart vroue oor die voetoorgang stap asof “hulle” al die tyd in die wêreld het; die ander een vra vir ‘n antwoord wat sy nie geleer het by die pinko-liberale plek nie, dus UCT – iets wat hom sal verras.

Die gedig eindig:

I don’t get the job and sometimes
think of what he sees, stalled
at the light, metal drumming
beneath his feet, as a woman cuts
across the world, answering
only to herself (69).

Húlle, die twee regsgeleerdes, waar die digter aansoek doen vir ‘n werk as sekretaresse (met twee grade) word ‘n gedig wat al die gendersake aanspreek via Hélène Cixous (The Laugh of The Medusa, 1975) en June Singer (Androgyny – Toward a New Theory of Sexuality, 1976).

III
Baderoon se gedigte is eweneens fassinerend in die “cross over” tussen Engels en Afrikaans. Onder haar verse roer daar dikwels verwysings na die Suid-Afrikaanse kultuur.

Sy voorsien die leser van ‘n nuttige glossarium soos nuh (nè), doenya se goete (aardse dinge), ja (yes), sloot en tjorrie (o.a.)

Die taalaspek van haar bundel is dus iets wat ondersoek moet word: die gebruik van spreektaal uit ‘n Afrikaanse en Moeslemkultuur wat ons vind in ‘n gedig wat in Engels geskryf is.

“Everything We’ve Said” (30) bly egter net ‘n stelling – dit kon verder gegaan het in die spel tussen tale. “The Blue of the Night Before We Left (39) huiwer om ‘n distigon te word.

IV
In “Cardinal Points” (73) word name van mense genoem (Louise, Jane, David) en die leser wonder of hierdie name werklik relevant is vir die gedig se betekenis? Dalk vir hierdie lesers. Robert Lowell het meer gedoen wanneer hy name in gedigte gebruik het sodat die persone argetipiese status verwerf het. Die aangrypende liefdesgedig “Not You” (90) werk met die inkantatiewe herhaling van “I love” in al sy semantiese duidinge. 

Die gedig eindig:

I think poetry is the flood
for the not-you I’ve prepared for
from the start. (61)

Stilte (silence), tronke, hawestede, oorgange en dus die posisie van liminaliteit, word telkens vanuit verskillende hoeke belig. “Poetry for Beginners” (9) sal ‘n mens nie sommer gou vergeet nie. Hoe iemand iets vra en dit jou terugruk en jou eie aannames oor die digkuns laat ondersoek.

Daar is ‘n lange lys van bedankings wat ook ‘n bietjie af-showerig is. Oor al die vererings en besoeke.

In die geheel gesien, is dit ‘n ryp bundel waarin die ek-spreker vreesloos skryf oor ongeregtighede. Hierdie leser bewonder veral die beskrywing van liggaamlike betredings. Dit moes ongelooflike moed gekos het om hierdie verse te skryf en uiteindelik te publiseer.