Friday, October 13, 2017

Gedig | Joan Hambidge - Ryk Hattingh (2017)

Foto: Le Roux Schoeman

Ryk Hattingh

All of us have a place in history. Mine is clouds.
Richard Brautigan


"My aard, soos 'n vonk,
is ook onkenbaar," beskryf
jy jouself in
Huilboek
'n laaste testament
ongeteken.
Op Monitor
lewer ek 'n kort huldeblyk
oor jou vroegoggend
in hierdie verraderlike paradys
waar ons steeds sing van bomme.
"Skoenmaker hou jou by jou lees!",
sou jy kon uitroep.
"Wat weet jy van verlange
na 'n vaderland
wat klou soos nga
aan 'n kietiekombers?"
My vooraf geredigeerde
afskeidswoorde
verklap helaas nie
hoe ek nie trane kon keer
oor hoe jy
voor sonsopkoms
in 'n ander tydsone
deur 'n tonnel
beweeg
kaalvoet
tot binne-in my grafskrif.

11 Oktober 2017


© Joan Hambidge

Sunday, October 8, 2017

Nuus | Kazuo Ishiguro: Meester van subteks neem Nobelprys huis toe

Die wonderlike nuus van Ishiguro se bekroning het my teruggeneem na twee van sy boeke wat ek goed ken. Sy boeke skep leesversperrings en laat jou nadink oor die styl en sub-teks.

Kazuo Ishiguro (62) se voortreflike roman Remains of the day bly 'n leesplesier vir alle liefhebbers van sub-teks. Dit vertel die verhaal van 'n butler op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog.

Hierdie roman, so het die skrywer self bely, het hy in vier weke geskryf onder toesig van sy vrou. Hy het hierdie periode die “Crash” genoem, ‘n tyd van ysere dissipline waarin hy navorsing gedoen het oor die klassesisteem van daardie tydperk.

Elke dag van 9:00 – 22:30 (behalwe Sondae) het hy homself gedryf om hierdie teks te voltooi, weg van ander eise en uitnodigings.

In ‘n wonderbaarlike onderhoud vertel hy dat hy o.a. beïnvloed is deur Tom Waits se “Ruby’s arms” en hoe die ingehoue emosie hom geïnspireer het. Ishiguro self is ‘n ywerige kitaarspeler.

Die rolprent met Emma Thompson en Anthony Hopkins ontgin hierdie subtiliteite meesterlik. Die storie van Stevens (die butler), Lord Darlington en Miss Kenton handel oor lojaliteit en verspeelde kanse. Die Merchant/Ivory-produksie van 1993 bly ‘n kragtoer. Dit is indertyd genomineer vir 8 Academy Awards. Ons sal altyd die toneel onthou waar Thompson die boek vashou …

Never let me go (2005) - verfilm deur Mark Romanek in 2010 - is 'n aweregse liefdesverhaal wat handel oor kloning en word as wetenskapfiksie of spekulatiewe fiksie beskou. Kathy, Ruth en Tommy se lewe aan ‘n kosskool (Hailsham) word beskryf. Liefde en dood teen die agtergrond van ‘n benoude klasse-sisteem in hierdie distopiese roman wat my as leser ontstig en gekwel het. Dit vra vir ‘n saamlees met Margaret Atwood se Oryx and Crake (2003).

Tyd, herinnering, klasverhoudings en sosiale reëls, distopia, displacement is van die temas wat sy boeke aansny.

Die pittige Sara Danius van die Sweedse Akademie beweer met die bekendmaking van die prys aan Ishiguro: "As jy Jane Austen met Franz Kafka versny en jy gooi 'n skeutjie Marcel Proust by, dan het jy hierdie skrywer. Jy moet roer, maar nie te veel nie!" En ‘n mens sou wou byvoeg: iets van ‘n moderne Boccacio wat met sy tekste subtiele sosiale kommentaar lewer.

Ishiguro is gebore in Japan. Sy vader was 'n oseonograaf en hulle vestig hul in Engeland toe die skrywer 5 jaar oud is. In Brittanje het hy aan die Woking Grammar-skool studeer wat hom uiters bewus gemaak het van klasverskille. Hy het Engels aan die Universiteit van Kent en kreatiewe skryfwerk onder Malcolm Bradbury en Angela Carter aan East Anglia bestudeer. Veral Bradbury se siniese analises van die Britse sisteem moet bepaald as 'n invloed gelees word.

Dit is 'n skrywer wat met sy fantasieryke verhale bekoor. In 2008 is hy deur die Times as een van die beste romansiers bestempel, en in 1989 verower hy die Booker vir Remains of the day. 'n Mens is egter - vir die soveelste keer - bewus van die feit dat Philip Roth nogmaals oorgesien is en Salman Rushdie weer geweeg en te lig bevind is. Beide skrywers het 'n enorme tekskorpus gelewer en Rushdie se jongste, A golden house, is 'n kragtoer. Hier word politieke kommentaar vermeng met mitologie op 'n skouspelagtige wyse. Margaret Atwood was eweneens gekortlys. Haar werk as digter en romanskrywer verdien eweneens akkolades.


Bronne:




Romans:
• A Pale View of Hills (1982)
• An Artist of the Floating World (1986)
• The Remains of the Day (1989)
• The Unconsoled (1995)
• When We Were Orphans (2000)
• Never Let Me Go (2005)
• The Buried Giant (2015)


© Joan Hambidge


Gedig | Joan Hambidge - Namibië: Pierneef (2017)


In hierdie landskap van sonlig en van sterre
hang die wolke dragtig, 'n reënvoorspelling.
Ek onthou haar hande wat troostend toevou:
my trane newel oor my moeder in dié tydsgewrig.

Verbeuselde ervarings, verdrietige afleggings
soos 'n naderende storm, fel en kortstondig;
tot die lug weer helder en skoon oopvou:
op 'n oggend is lug en berge weer in ewewig.

© Joan Hambidge

Thursday, October 5, 2017

Gedig | Joan Hambidge - Salvador Dalí: La persistència de la memòria (2017)


In 'n droom horlosies gesmelt
om tyd gesuspendeer, nutteloos
voor te stel op 'n lessenaar,
'n swart boom langs 'n dooie voël -
op al dié voorwerpe horlosies:
smedig en dus waardeloos.
Ontglippend bly betekenis
soos in 'n droom: 'n chronometer
agter glas waarna ek staar,
om ons tyd op aarde op te som:
my geboorte deur jou dood
in hierdie gedig soos die inham
op die skildery met water en 'n berg.
Onverganklike herinnering versmelt.


© Joan Hambidge

Sunday, October 1, 2017

Gedig | Joan Hambidge - Jerry Lewis (1926 - 2017)

Jerry Lewis kry ’n soen van Criss Angel © Ethan Miller/Getty Images

Rol-oog Jerome Levitch
oftewel, Joseph Levitch
of dan eerder, Jerry Lewis,
bekend dat hy 'n paar sokkies
net één keer dra,
maar altyd gemombakkies.
Bekkig, dog kleinsielig
vir kritiek.
Vereer met die Légion d'Honneur,
hierdie Nutty Professor,
kenner van slapstick
waaroor die Franse roekoek-roekoek.
Dean Martin en Jerry Lewis,
baljaar saam,
ego en id,
lig en skadu.
Verslaaf aan Percodan
betree hy donker tye,
stry met Dean Martin,
sy pendant. Breek
kensketsend weg.
In solo-optredes
pendel
hy
gevaarlik
na
aan
self-
parodie,
wyl
die
applous
van sy vader
en dogter haweloos
uitbly.
Humor, 'n pleganker,
verlaat
die Koning van Komedie
amper nes 'n film maudit.

© Joan Hambidge