Kazuo Ishiguro (62) se
voortreflike roman Remains of the day
bly 'n leesplesier vir alle liefhebbers van sub-teks. Dit vertel die verhaal
van 'n butler op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog.
Hierdie roman, so het die
skrywer self bely, het hy in vier weke geskryf onder toesig van sy vrou. Hy het
hierdie periode die “Crash” genoem, ‘n tyd van ysere dissipline waarin hy
navorsing gedoen het oor die klassesisteem van daardie tydperk.
Elke dag van 9:00 – 22:30 (behalwe Sondae) het hy homself gedryf om hierdie teks te voltooi, weg van ander
eise en uitnodigings.
In ‘n wonderbaarlike onderhoud vertel hy dat
hy o.a. beïnvloed is deur Tom Waits se “Ruby’s arms” en hoe die ingehoue emosie
hom geïnspireer het. Ishiguro self is ‘n ywerige kitaarspeler.
Die rolprent met Emma Thompson
en Anthony Hopkins ontgin hierdie subtiliteite meesterlik. Die storie van
Stevens (die butler), Lord Darlington en Miss Kenton handel oor lojaliteit en
verspeelde kanse. Die Merchant/Ivory-produksie van 1993 bly ‘n kragtoer. Dit is
indertyd genomineer vir 8 Academy Awards. Ons sal altyd die toneel onthou waar
Thompson die boek vashou …
Never let me go (2005) - verfilm deur Mark Romanek in 2010 - is 'n aweregse
liefdesverhaal wat
handel oor kloning en word as wetenskapfiksie of spekulatiewe fiksie beskou.
Kathy, Ruth en Tommy se lewe aan ‘n kosskool (Hailsham) word beskryf. Liefde en
dood teen die agtergrond van ‘n benoude klasse-sisteem in hierdie distopiese
roman wat my as leser ontstig en gekwel het. Dit vra vir ‘n saamlees met
Margaret Atwood se Oryx and Crake
(2003).
Tyd, herinnering,
klasverhoudings en sosiale reëls, distopia, displacement
is van die temas wat sy boeke aansny.
Die pittige Sara Danius van die
Sweedse Akademie beweer met die bekendmaking van die prys aan Ishiguro: "As
jy Jane Austen met Franz Kafka versny en jy gooi 'n skeutjie Marcel Proust by,
dan het jy hierdie skrywer. Jy moet roer, maar nie te veel nie!" En ‘n
mens sou wou byvoeg: iets van ‘n moderne Boccacio wat met sy tekste subtiele
sosiale kommentaar lewer.
Ishiguro is gebore in Japan. Sy
vader was 'n oseonograaf en hulle vestig hul in Engeland toe die skrywer 5 jaar
oud is. In Brittanje het hy aan die Woking Grammar-skool studeer wat hom uiters
bewus gemaak het van klasverskille. Hy het Engels aan die Universiteit van Kent
en kreatiewe skryfwerk onder Malcolm Bradbury en Angela Carter aan East Anglia
bestudeer. Veral Bradbury se siniese analises van die Britse sisteem moet
bepaald as 'n invloed gelees word.
Dit is 'n skrywer wat met sy
fantasieryke verhale bekoor. In 2008 is hy deur die Times as een van die beste romansiers bestempel, en in 1989 verower hy die
Booker vir Remains of the day. 'n Mens is egter - vir die soveelste
keer - bewus van die feit dat Philip Roth nogmaals oorgesien is en Salman
Rushdie weer geweeg en te lig bevind is. Beide skrywers het 'n enorme tekskorpus gelewer en Rushdie se
jongste, A golden house, is 'n kragtoer. Hier word
politieke kommentaar vermeng met mitologie op 'n skouspelagtige wyse. Margaret
Atwood was eweneens gekortlys. Haar werk as digter en romanskrywer verdien
eweneens akkolades.
Bronne:
Kazuo Ishiguro Is Awarded the Nobel Prize in Literature - The New York Times (Besoek 5 Oktober 2017)
Kazuo Ishiguro/ how I wrote The Remains of the Day in four weeks | The Guardian (Besoek 6 Oktober 2017)
Romans:
• A Pale View of Hills (1982)
• An Artist of the Floating World (1986)
• The Remains of the Day (1989)
• The Unconsoled (1995)
• When We Were Orphans (2000)
• Never Let Me Go (2005)
• The Buried Giant (2015)