Monday, December 21, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel IV)

Vicente Huidobro se studeerkamer
Deel IV

In die middel van die nag lui die foon. Toe ek optel, is daar niemand nie. ‘n Muskiet teister my met sy gezoem. In my tas ontdek ek ‘n afweermiddel. Ek stap na buite en die hoor die voëls se aubade.

Om nege eet ek ontbyt. My gids is reeds hier. Drie ure vroeër as beplan. Ek gooi die laaste paar goed in die tas en stort.

My gids is Cesare. Hy word blitsig Julius Caesar. ‘n Lieflike man neffens die laggende bestuurder, Christian. Ons is nou op pad na die huis van Vicente Huidobro, vertaal in Afrikaans deur Uys Krige – daardie digter wat gewaarsku het dat oortolloge byvoeglike naamwoorde in ‘n gedig moord pleeg ...

‘n Gedig draai in my. Die vorige aand maak ek nota’s vir die reis en kyk na my paspoort. Hoe verskil chornologiese tyd tog nie altyd maar van emosionele tyd nie? Ek het die besoeke aan Viëtnam en Kroasië in die herinnering omgedraai. Ek dink aan my beste vriend wat binnekort verjaar ...

Aubade

Meedoënloos die psige se tydhou,
daardie bakens in die gees:
klein oorwinnings, veral verliese
talmend in die herinnering.

In drome, die dagboek van die siel,
beweeg ek tydelik terug in tyd,
terug na jou op ‘n ander vasteland,
waar jy jou verjaarsdag vier sonder my.

Ek tel twee klippe op vir jou, ‘n cadeau,
by Pablo Neruda se huis in Isla Negra.
Die oggendlied van ‘n klein lyster,
vreugdevol oor nog ‘n dag se aanbreek.

In hierdie Plano de Ubicación,
vier ons in woorde saam,
nog ‘n jaar van aftel, optel en tydhou.
Die oggendstond het ‘n gedig in die mond.

Huidobro se huis is in die agterbuurte van San Antonio. ‘n Ou vrou spuit haar rose nat, ‘n hond blaf vir die bussie en twee kinders jaag mekaar in die straat. ‘n Sondagoggend-tafereel.

Die huis is vol dokumente en installasies. Met groot sorg en kundigheid saamgestel, maar sonder hárt.

Die busbestuurder lag toe ek gouer as beplan die huis verlaat. Ons is immers op pad na Neruda se twee huise: in Isla Negra en in Valparaíso.

Ten spyte van die groot aantal toeriste, is die huis in Isla Negra ‘n belewenis. Hier kan jy eers ‘n klein dokkie oor die digter se lewensloop meemaak en daarna van kamer tot kamer beweeg met begeleidende oorfone. Die digter se versamelaarsliefde vir botteltjies, vlinders, skulpe en selfs goggas is aanskoulik. In elke kamer sien ‘n mens hoe gedrewe hy gewerk het. Walt Whitman is duidelik ‘n digterlike vaderfiguur. In die studeerkamer staan ‘n aardbol en ‘n vriendin, Marie Martner, het die sitkamer versier met ‘n klipmuur.

Hier koekeloer ‘n mens in die slaapkamer met die bed wat na die see kyk: ons is immers bewus van Neruda se obsessie met die see en dat die huis in die vorm van ‘n skip gebou is.

Op oorfone word elke kamer nougeset verduidelik. Die agnostiese Neruda se liefde vir primitiewe objekte is opvallend. Onder ‘n tafel se glasblad sien ek ‘n tarotstel.


Die huis in Valparaíso heet La Sebastiana, vernoem na die argitek wat dit ontwerp het. Met klein gangetjies en steil trappe beweeg ‘n mens ook van kamer na kamer. Hierdie huis staan op die Florida heuwel en die argitek het nooit die voltooide huis gesien nie. Omdat die huis te groot was vir hom alleen het hy dit saam met sy twee vriende, Marie Martner en Francisco Velasco, gekoop. Die huis is op 18 September 1961 ingehuldig. Die gedig "La Sebastiana" is vir hierdie memorabele geleentheid geskep.

Daar staan ‘n kroeg in die huis en Neruda was glo ‘n uitstekende kok en gasheer wat nooit gaste in sy kombuis toegelaat het nie.

Dit is huise vol relieke, houtbeelde (selfs ‘n perd!), antieke boegbeelde, skulpe ...

In 1937 het Neruda uit Europa teruggekeer en na ‘n plek gesoek om sy Canto general te skryf, sy digterlike studie oor die geskiedenis van Suid-Amerika (waarvan die eerste publikasie deur Diego Riviera versier is). Die huis in Isla Negra was die ruimte waarin hy hierdie voortreflike werk voltooi het, na my mening een van die grootste prestasies in die wêreldletterkunde.

Dit is bekend dat die politieke situasie na die coup vir Neruda ‘n groot teleurstelling was. Party meen hy het gesterf aan ‘n gebroke hart.

In 1992 is sy oorskot geneem na sy geliefde Isla Negra. Hier rus hy langs sy vrou, Matilda Urrutia, in die Tumba de Pablo y Matilde.

Die opbrengste van alle besoeke gaan na die Fundación Pablo Neruda, ‘n menseregte-organisasie.


© Joan Hambidge

Saturday, December 19, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel II & III)


Alto Atacama Woestynherberg & Spa
Deel II

Die vlugstaking hang soos ‘n wolk oor alles. My reisagent laat weet: as jy wil terug wees in Santiago betyds vir die verdere reise, moet jy eerder nou terug.

Ek sou graag langer in die retreat wou bly met die stilte van die woestyn en die Andes se pienk skynsel met ‘n sonsondergang. Maar bly ek hier, sal al die ander besoeke geaffekteer word.

Ek verlaat die hotel om 11 vm. Die krediet wat soveel opslae gemaak het, is terug op my kredietkaart en dis die lang reis na die lughawe deur die maanlandskap.

 Dit word die maanvallei genoem en is ongeveer 17 km buite San Pedro. Die Atacama-woestyn, vertel ons gids, se ontmoeting met die Andes het hierdie uitstulpings tot gevolg gehad. (Later sal ek uitgebreid nog verslag doen oor die impak van hierdie landskap op my psige.)

By die lughawe hoor jy fluitjies blaas om die staking aan te kondig. Vele vlugte is reeds gekanselleer, omdat die lughawe-werkers eis vir beter pensioen. Ek besluit om ‘n vroeër vlug te neem en daar is uiteraard ‘n waglys.

‘n Groep skoolkinders sit langs my op die vloer. Hulle wil weet waarheen ek op pad is en dit blyk hulle woon in Neruda se geboortedorp.

Hulle vertel vir my hoe hulle sy gedigte sien en is opgewonde dat ek al sy huise gaan besoek.

My naam word oor die luidspreker uitgeroep: Johaaan Hamboesh. Ek het ‘n plek op die vlug en so keer ons terug na Santiago waar die Andes oop en bloot wag - sonder enige troebel wolke. Langs die lughawe wag die Holiday Inn my in soos ‘n ou bekende.

My hotel

Die venster van my hotel
staan oop en bloot
en in die nag sien ek
mense aankom
en vertrek: met ‘n reisplan,
afwagting, ‘n budget,
paspoort...

Rooi ligte.

In die diep nag onthou ek
slapelose nagte in verre hotelle.
Toe geen afwagting, net afwysing
van jou ‘n hartelose, blindelingse een.

Terwyl ek hierdie gedig skryf
op ‘n ander kontinent,
in ‘n ander ruimte,
voor ‘n oop venster

wonder ek oor die blootgestelde
leser, die een wat mag wonder
oor dít wat verswyg word:

ek trek die blindings toe;
die pyn bly onvermeld.

La Casona by die Matetic wingerde

Nou maak my gereed vir ‘n besoek aan die Wynlande en die Casona Matetic.

Die Holiday Inn was ‘n tydelike holte vir die voet en nou is dit al hoe nader aan die doelwit van hierdie reis: Valparaíso, Vinia del Mar en Isla Negra,. Die huismuseum van Neruda, La Sebastiana, waaroor ek al soveel gelees het, met al sy botteltjies en goetertjies wil ek bekyk. En daarna sal ek ook die huis besoek in Santiago. Die huis van “die skipper van die woord” wat oor die oseaan uitgekyk het, terwyl hy skryf.

Hierdie huis het hy vernoem na die bouer en in 1961 hier ingetrek en van sy belangrikste werke in hierdie huis geskryf.

*

Vanoggend is dit ‘n gids en ek, en hopelik sal ons goed opskiet. Gelukkig nie vandag vlieg en intjekkereer met al die spanninge wat dit tot gevolg het nie! Net oorsese vlugte blyk veilig te wees; die res is alles in die weegskaal.

En tyd beweeg vorentoe en agtertoe, terwyl ek wag. Hoe gaan Neruda se huis lyk? En hoe sal ek die woestynlandskap in woorde probeer karteer?

Tyd

Nou dat jy weg is
die verlede in
beleef ek in ‘n staking
tyd gesuspendeer
hoe niks weggaan
ofskoon ons liefde
‘n gekanselleerde vlug
nooit sou opstyg of land
wag ek steeds
in die aankomssaal
op jou in Santiago de Chile
ook in Puerto Mont
oraloor wag ek
my horlosie se wysters
draai agterstevoorom
en in die toekoms
mag ek dalk
die tyd in my hart
sinchroniseer
met jou vertrek
word ek tydloos
in hierdie ontydige
gedig vir jou.


Deel III

In La Casona hotel is dit alweer ‘n geneukery met die proppe wat elke keer anders is. Die bestuurder gee flink vir my ‘n muurprop aan sodat ek die kamera en laptop kan laai.

Ek is nou in die Rosaria vallei by die Matetic landgoed wat ongeveer 16 000h beslaan. ‘n Uur na my aankoms, vertrek ons op ‘n wynproe-ekspedisie. Wat ‘n ervaring om die gids te hoor praat oor organiese wyn en hoe hulle dit maak volgens die siklusse van die maan en die son.

Alles gebaseer op Rudolf Steiner se antroposofiese beginsels waarvan biodinamiese landbou bepaald ‘n belangrike aspek is. In dieselfde tyd lees ek ‘n artikel oor die digkuns van T. T. Cloete en hoe alles in hierdie digter se digkuns saamhang.

Ons word verduidelik hoe alles werk op die plaas. Elke druif word met die hand gepluk deur die werkers. Hierna word daar wel van gesofistikeerde masjinerie gebruik gemaak om wyn te maak. Steiner het immers gepoog om ‘n soort sintese te vind tussen die natuur en wetenskap.

Om so ‘n plaas te begin, moet jy hou by die kodes wat die internasionale raad vasgestel het.  Een seun het glo sy pa oorreed om hom te help met die finansiering toe hy nie sy graad kon voltooi nie. Die suksesverhaal is nou bekend!

 Die EQ wyne (die eq staan vir equilibrium) is uitstekend.

Die 2015 Sauvignon blanc het ‘n tropiese smaak en die 2013 Chardonnay is Franse eik verouder; maar nie oordonderend nie, baie subtiel neus jy die Franse afkoms. Ek was nooit gaande oor Pinot noir nie, maar hier sluk ek my woorde.

Soos hulle indertyd gesing het: “Dis rond, dis vol, dis tralala!”

Die wyne hier in die San Antonia-vallei het al ‘n hele paar pryse ingepalm en staan hul plek vol in die wêreld onder die honderd beste organiese plase. In die Casablanca-vallei word daar uitmuntende wit wyne geproduseer.

Verder is die verskil in temperature ook verantwoordelik vir die uitstekende wyne. Die grond is hier granietagtig en met ‘n kleigrond bo-laag.

Vir verdere inligting oor die wyne, lees gerus Matetic EQ Syrah, San Antonio Valley, Chile.

Ek het ‘n hele versameling van klippe in besit wat ek vir my vriend Johann de Lange ook optel in verskillende landstreke. In my kombuis is klippe uit Macchu Picchu. In my kamer, Turkye en Nagasaki. Ek tel twee ronde spoelklippe op: een vir hom, een vir my.
                                                                                
Te klip om te boom. En al die verskillende klip-gedigte word in die herinnering geroep: D. J. Opperman, Ina Rousseau, Wilma Stockenström, Antjie Krog, T. T. Cloete, Johann de Lange...

Voor La Casona is daar ‘n lieflike tuin amper in die vorm van ‘n labirint. Elke kamer het ‘n wynnaam. Ek gaan tuis in Merlot.

Die kos is verruklik. Ek eet die eerste aand pylinkvis opgestop met calamari. Die voorgereg is ‘n bokmelk-omelet. En ‘n bottel Syrah is deel van die emblemata van verrukking. Die kelner lyk op ‘n haar (of eerder kaalkop) af nes Pablo Neruda. Boonop is hy van Valparaíso. Elke smulgereg verduidelik hy met liefde en kundigheid.

Die oggend eet ek hardgekookte eier vir ontbyt.

“Hierdie eiers proe anders. Dis van onse werf en hulle eet die beste oorskietkos. Wees gewaarsku: dit is geweldig ryk.”

In die tuin is daar ‘n klein voëltjie. Geluksalig is hy. Ek dink opeens aan T. T. Cloete wat soveel lieflike verse oor voëls geskryf het en mis hom opnuut geweldig.

Hy wat ons daaraan herinner het dat Neruda geskryf het dat Chili deur ‘n digter gemaak is.

God die digter

Chili is deur ‘n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur 'n digter gemaak

(Uit: Driepas. Tafelberg, 1989)




© Joan Hambidge