Monday, April 22, 2019

Resensie | Theo Kemp – Strafjaart (2019)

Theo Kemp – Strafjaart. Penguin, 2019. ISBN: 978 48590 388 8

Strafjaart is die tweede publikasie van die skrywer Theo Kemp wat indertyd 'n sterk debuut met Skool gelewer het. Die jongste teks is egter nie 'n konvensionele roman nie. Dit wil meer wees as dit. Dit het 'n verteller-as-navorser as hooffiguur wat besig is met 'n skripsie oor die verdwene skeepswrakke aan die Suid-Afrikaanse kus. Dit plaas die teks dan ook in die ruimte van die faksionele. Sy lewe word onverwags ontspoor deur 'n oproep uit Pollsmoor waar sy tante, Lizette, sy pa se laatlamsuster, haar bevind. Die verteller is veertig; die tante in die tronk, is onkonvensioneel-gay en vyftig jaar oud.

Met besoeke aan hierdie tante kry die leser 'n blik op die onderwêreld van hierdie bestaan. Dit is 'n kloaak, met reëls en regulasies. Trouens, die tronklewe, soos Michel Foucault al uitgewys het in sy studie oor tronke en straf Discipline and punish: The birth of the prison (1979), beheer ook die samelewing daarbuite. En tronksisteme verklap iets van 'n gemeenskap se omgee vir ander. In Strafjaart is die tronke vol en kondisie onmenslik. (Hierom beskryf hy ook betogings teen die sisteem.)

Kemp spreek etlike etiese kwessies aan. Hoekom is die geweldenaars daar? Ofskoon sy tante 'n witboordjie-oortreder is, word sy saamgeplaas met werklike kriminele en selfs 'n moordenaar. Sy skryf – as geletterde persoon – hartverskeurende briewe ter strafversagting aan die regters en landdroste.

Hoe lyk 'n samelewing waar mense dreig om mekaar te verbrand, en 'n broer dan in die tronk gesmyt word? Mense word nie in hierdie tronke gestraf nie; hulle word ont-mens.

Die verteller is wit en bevoorreg. Hy weet hy is 'n voyeur: “Ek kan myself nie weerhou om in die museum van verrotting en verwering te kom loer nie. Die voyeur van die tronk” (164). Maar deur oor sy tante te skryf, kom hy nader aan homself en sy familie – en oor afwesige vaders (ook in gegoede families).

Sy teenspelers is eweneens almal in 'n krisis. Sy vrou, M is swanger en naar; Esmarie, die buurvrou, die goeie mens wat ander help by die kerk, het 'n seun wat buite die huwelik verwek is; Edith is vasgevang op die Kaapse Vlakte en behoef hulp.

Daar is Hans die kroegman wat ellende begryp. Wilson wat raad gee. Frederik du Toit wat werk vir die Instituut vir geregtigheid en versoening.

Nes die staatsadvokaat wat sy insigte deel.

Die teks lewer kommentaar op 'n rotteplaag in die tronk. Is mense dood aan leptospirosis of is hulle doodgeslaan?

Mabel Jansen se uitspraak oor verkragting wat as rassisties geïntepreteer is, kom aan bod; nes die moord op Hannah Cornelius en die dood van haar moeder.

Tronke is ruimtes wat liminaliteite aktiveer. Al die karakters wat teenspelers is, beleef 'n krisis of 'n oorgang. Wat met die buurvrou gebeur, is skokkend en vir die leser wat al soiets beleef het, des te meer skokkend. Die gegewe wil ek nie verklap vir die leser wat sélf die geweld moet beleef.

Die toneel met die kleine Moses wat opgetel is in 'n sak en versorg word deur Nomsa met haar silweroorbelle word aangrypend weergegee. Hierdie sake staan opgeteken in ons dagblaai: daagliks. 

Slim intertekste, soos verwysings na Johnny Steinberg (The number) en Tertius Kapp (Rooiland), laat die teks oopwaaier verby die fiksionele. Don Pinnock se Gang town en Denise Ackerman, die teoloog se studie Surprised by the man on the borrowed donkey is eweneens hier aanwesig. En: Frankl se Man's search for meaning, o.a. Mandela word teenoor Zuma geplaas. Die Bybel is hier nes hallelujaliedjies. Die karakters praat outentiek.

Die skrywer gebruik die skeepsvaart-navorsing as 'n soort raam om die gegewe te beheer. Die boek eindig op 'n hoopvolle noot met die geboorte van M se kind.

Hierdie boek is soos Eybers se dubbelswaan: fiksie teenoor die harde werklikheid. Dit is 'n boek wat my sprakeloos gelaat het. 

'n Mens bewonder die skrywer se gedurfdheid en eerlikheid. 'n Mens moet uiteraard dink aan Truman Capote se In cold blood (1966), daardie baken van die New Journalism, en Norman Mailer se The executioner's song wat in 1979 verskyn het. Capote, soos alombekend, het sy roman geskryf sonder om aan die etiese aspek van sy besoeke te dink.

In hierdie hibriede teks van Theo Kemp het jy 'n skrywer wat vrae vra oor die ongelykhede van ons samelewing wat mense uitsigloos maak. En geweldenaars. Hopelik sal Korrektiewe Dienste kennis neem van hierdie boek se aanklag.

Die voorblad is alreeds 'n klein tekensisteem: 'n groen ID-boekie, tandeborsel en sakkie binne-in 'n plastiekbakkie. Is dit vetkryte onder in die bakkie?

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)