Tuesday, March 7, 2023

Resensie | Salman Rushdie – Victory City | 2023

Salman Rushdie – Victory City. Jonathan Cape, Londen: 2023. ISBN 978 1 787 3345 1

Resensent: Joan Hambidge

 

Die omstrede Salman Rushdie is onlangs aangeval en met ‘n mes gesteek in die oog. Gelukkig verskyn daar ‘n  roman Victory City, ‘n komplekse en aangrypende roman van hierdie skrywer, wat al vele storms beleef het. The Satanic Verses het ‘n fatwa tot gevolg gehad en Rushdie moes skuil. Selfs ‘n vertaler van hierdie roman is om die lewe gebring. Dit het begin 1989 toe die Ayatollah Ruhollah Khomeini hom beskuldig het van blasfemiese uitsprake.


Oor hierdie kwessie is daar baie sieninge. Diegene wat meen dat hy onsensitief, selfs moedswillig,  was oor die Moslem-kultuur; ander wat beweer die spel tussen fiksie en werklikheid is nie genoegsaam verdiskonteer nie. Ook nie die magies-realistiese aspek en opsetlike verdraaiing van feite is in ag geneem nie.

 

Sekere boeke het wél ‘n politieke of sosiale impak en skrywers kan dit nie altyd voorspel of navigeer nie.

 

Verlede jaar in Chautauqua, New York word hy weer aangeval, wat beteken daar word steeds jag gemaak op hom. In alle waarskynlikheid deur mense wat nie eens die boek gelees het nie. Rushdie, 'n gebore Moslem, is nou egter ‘n uitgesproke ateïs. ‘n Man met verskillende “identiteite” en wat die moderne romankuns verryk het met sy verskillende stylsoorte.


Met sy jongste roman Victory City sien ons weer Rushdie op vol toere. Enorme taalbeheer, kennis van die geskiedenis en natuurlik, sy reeds bekende fantasie. Hierdie roman sou ‘n mens ten beste as historiografiese fiksie kan beskryf, in terme van Linda Hutcheon in A Poetics of Postmodernism (1988): ‘n vermenging van metafiksie (of selfbewuste vertelling) geplaas binne ‘n herkenbare historiese ruimte(s). Hutcheon se studie verwys na History, Theory, Fiction en J.M. Coetzee maak ook etlike spronge in sy roman The Master of Petersburg (1994) wat Dostojefksi as gegewe gebruik waarop die skrywer verder uitbrei en verander. Die dood van Dostojefski se stiefseun Pavel wat verander en aangepas word teenoor die lotgevalle van die werklike outeur.

 

En bekend aan historiografiese fiksie is dat die geskiedkundige dikwels frons oor die skrywer wat die gebeure aanpas en selfs opsetlik verdraai. Die leser moet die oomblikke of oorgange snap tussen werklike gebeure en fantasmagoriese inkleding. Die skrywer speel met die leser en Umberto Eco se Baudolino (2000) is so ‘n teks oor die Middeleeue. Christoffel Coetzee se Op soek na Generaal Mannetjies Mentz (1998) verander die Anglo-Boereoorlog en historiese feite.

 

Daar is vier afdelings in Victory City: Birth; Excile; Glory; Fall. Haar laaste woorde word in ‘n gedig weergegee op die ouderdom van 247 jaar.

 

Die storie handel oor Pampa Kampana, digter, profeet en moeder van die Ryk van Bisnaga, wie se lewe met vuur begin. Sy lewe om 247 jaar oud te word en berg ongeveer 24 000 van haar gedigte wat later ontdek word. Gedigte oor die geskiedenis van die stad en die Ryk. Op negejarige ouderdom sien sy hoe soldate hul stad vernietig en sy word deur ‘n godin met bo-natuurlike kragte vereer.

 

Met die soldate se beleg sterf al die vroue aan selfverbranding.

 

Maar dis ook die verhaal van Hakka en Bukka, konings van Vijayanagar.

 

Hulle ontmoet Pampa Kampana en sy gee aan hul opdrag om die sade wat hulle as ‘n geskenk gebring het, te saai sodat daar ‘n gelukkige stad kan ontstaan met vryhede op alle vlakke waar vroue veilig sal wees. Die feministiese aspek is opvallend. Soveel manlike skrywers gee tans uiting aan vroue se lot en maak hulle stemhebbend.

 

Die veertiende-eeuse ryk word deur Rushdie herbesoek in ’n vertelling wat tussen werklikheid en mite beweeg. Twee vertellers. Pienk apies en slange en ongediertes bevolk hierdie boek. Daar is ‘n bronnelys wat die speurende leser kan gebruik om vas te stel wat hy verander en behou het. City of Victory deur Ratnakar Sadasyula, ‘n amateur-geskiedkundige, is tersaaklik.

 

Hierdie roman moet saamgelees word met The Peacock Throne (1984) van Sujit Saraf en Vikram Seth se An Equal Music (1999), treffende boeke wat al die fasette van ‘n meervlakkige gemeenskap aanspreek. Dit is ‘n teks wat verder resoneer met V.S. Naipaul se Bend in the River (1979) en Arundhati Roy se The God of Small Things (1996).

 

Die lewe en romans van Rushdie – wat buite Indië leef – neem ‘n mens immer terug na E.M. Forster se A Passage to India (1924). ‘n Buiteblik teenoor diegene wat van binne skryf oor ‘n meervoudige gemeenskap.

 

Op 14 jarige ouderdom gaan Salman Rushdie na Rugby waar hy skoolgaan. Hierom is sy Engels absoluut uitstekend.

 

Hy woon eers in Londen en nou in New York.

 

Die impak van die Iranese doodsvonnis kan geen leser van hierdie teks miskyk nie. Met ‘n reis deur Indië was hierdie leser voortdurend bewus van subtiliteite wat jy as Westerling nie begryp nie. Boonop is die outeur Indies-Brits-Amerikaans met ‘n hibridiese identiteit. Só word hy op die internet beskryf:

Sir Ahmed Salman Rushdie (Hindi: अहमद सलमान रुशदी (Devanagari), lanati احمد سلمان رشدی (Nastaʿlīq); born 19 Juin 1947) is a Breetish Indie novelist an essayist. 

‘n Mens benader hierdie roman as buiteleser: die wêreld wat hy skep in fiksie met al die verwysings vra vir dieper lees en bestudering.

 

Nietemin, ‘n hoogs tersaaklike roman van ‘n skrywer wat bewonder word nie alleen om sy fantasmagoriese verbeelding nie, maar veral om sy vermoë om te oorleef.

 

‘n Skrywer wat magies-realistiese tekste lewer en ook postmodernistiese romans met verskillende narratiewe wat mekaar ondermyn en weerspreek. Hierdie een behoort tot die sub-genre van historiografiese fiksie.

 

Die slotwoorde van die gedig van Pampa is belangrik:

All that remains is this city of words. Words are the only victors (338).

Al is Rushdie blind in sy regteroog, kyk hy diep in die lotgevalle van die mensdom in.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)